In ʼn tyd waarin die wêreld vinnig verander, en waardes en tradisies voortdurend uitgedaag word, word die unieke plek van vrouwees ook betrek. Die volle rol wat ʼn vrou in die gemeenskap speel, kom ter sprake. Dit sluit al die skakerings van die vrou as gawe in – ook vir haar man, die rol van mawees, huisvrou en tuisteskepper as die hoekstene van ʼn gesonde en Godvresende samelewing. Die verantwoordelikheid wat aan vroue toevertrou word om nie net kinders groot te maak nie, maar ook om ʼn kultuur van geloof, familie en kulturele erfenis oor te dra, is van onskatbare waarde.
Die Bybel en die vrou
Die Bybelse riglyne rakende die rol van die vrou in die gesin is nie net tydlose waarhede nie, maar ook ryk aan betekenis en betekenisvolle verantwoordelikhede wat elke Christenmoeder moet omhels.
Titus 2:3-5 gee duidelike riglyne oor die rol van die vrou in die gesin:
Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is, sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie (Bybel, 1953).
Die teks maak dit duidelik dat ouer vroue ʼn sleutelrol speel in die onderrig en begeleiding van jonger vroue. Hierdie idee van mentorskap is van groot belang omdat dit nie net die oordrag van praktiese kennis behels nie, maar ook die handhawing van ʼn lewenswyse wat in ooreenstemming met Bybelse beginsels is.
In ʼn era waar die invloed van sekulêre wêreldbeskouings al hoe sterker word, is hierdie onderlinge leerproses onontbeerlik. Ouer vroue, wat self in die vrees van die Here geleef het en die uitdagings van die huwelik en moederskap ervaar het, het ʼn diepgaande rol om die jonger geslag te lei. Hierdie rol is tweeledig: eerstens om die jonger vroue te leer om hul huishoudings met wysheid te bestuur en tweedens om hulle aan te moedig om in gehoorsaamheid aan God te leef. Hierdie praktiese en geestelike begeleiding help om ʼn gemeenskap van geloof en deug op te bou wat ʼn kragtige teenwig is teen die invloede van die wêreld.
Christus en sy kerk
Die verwysing na die onderdanigheid van die vrou aan haar man in Titus 2 moet in die lig van die breër Bybelse konteks verstaan word. In Efesiërs 5:22-33 word die huwelik voorgestel as ʼn afskaduwing van die verhouding tussen Christus en sy kerk. Hierdie verhouding is nie een van blinde gehoorsaamheid of onderdrukking nie, maar een van wederkerige liefde, respek, en opoffering.
Die rol van die vrou om aan haar man onderdanig te wees, soos die kerk aan Christus is, moet gesien word as deel van ʼn heilige, ordelike struktuur wat deur God ingestel is. Dit is nie ʼn ontkenning van die vrou se waardigheid of vermoëns nie, maar eerder ʼn erkenning van die verskillende rolle wat God aan mans en vroue in die huwelik gegee het. Hierdie struktuur is bedoel om vrede, harmonie en geestelike groei in die huishouding te bevorder.
Wanneer ʼn vrou haar man in liefde dien en hom ondersteun in sy rol as hoof van die gesin, help sy om ʼn omgewing te skep waarin die kinders ʼn voorbeeld van Christelike dissipelskap kan sien. Dit is ʼn lewende getuienis van die evangelie binne die huishouding, wat ʼn diepgaande impak op die kinders sal hê.
Die vrou se heilige roeping
Die idee dat die vrou huislik moet wees, soos dit in Titus 2 uitgespel word, impliseer dat sy ʼn bewaarder van die huis is. Dit beteken nie net om die huishoudelike take te verrig nie, maar ook om ʼn atmosfeer van liefde, veiligheid en geestelike groei te skep. As die man die hoof van die huis is, dan is die vrou heel beslis die hart van die huis. Hierdie verantwoordelikheid sluit in die morele en geestelike opvoeding van die kinders, die instandhouding van die gesin se geloofslewe en die bou van ʼn Christelike gemeenskap binne die gesinseenheid.
In Spreuke 31:10-31, wat die loflied van die deugsame vrou besing, sien ons ʼn beeld van ʼn vrou wat haar huishouding met wysheid en toewyding bestuur. Sy is nie net hardwerkend nie, maar ook vroom, en haar invloed strek tot ver buite die grense van haar huis. Haar kinders noem haar geseënd, en haar man loof haar. Hierdie beskrywing van die ideale vrou beklemtoon dat die rol van die vrou as tuisteskepper in die oë van God en die samelewing van groot waarde is.
Onmiskenbare rol
Die rol van moederskap en tuisteskepping het wyer implikasies vir die samelewing in die geheel. As die moeder haar rol verwaarloos, is die risiko groot dat die geloof en kulturele waardes van die volk verlore gaan. Die oordrag van geloof van een geslag na die volgende is ʼn kritieke komponent van ʼn samelewing se voortbestaan en welvaart. Sonder hierdie oordrag, wat dikwels by die huis begin, kan ʼn volk geestelik en moreel uitdor.
Kultuur is meer as net tradisies en gebruike; dit is ʼn lewende realiteit wat deur geloofsopvoeding, gesinsgebede, en ʼn Christelike lewe onderhou word. As moeders nie daarin slaag om hierdie kultuur aan hul kinders oor te dra nie, sal die volgende geslag ʼn leemte ervaar wat moeilik gevul kan word. Hierdie oordrag van kultuur en geloof is nie net ʼn plig nie, maar ook ʼn voorreg wat die Here aan moeders toevertrou het.
Moeders in die volkslewe
Die grootmaak van kinders is nie bloot ʼn taak wat verrig moet word nie, maar ʼn roeping en ʼn baie belangrike bediening. Moeders het die voorreg en verantwoordelikheid om die volgende geslag op te voed, nie net in basiese lewensvaardighede nie, maar ook in Bybelse morele waardes wat hulle lewenslank sal dra. In Spreuke 22:6 word ons geleer:
Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie (Bybel, 1953).
Hierdie opdrag beklemtoon die belangrike rol wat moeders speel in die vorming van ʼn kind se karakter en wêreldbeskouing. Deur kinders met sorg en toewyding groot te maak, verseker moeders dat die volk se kernwaardes, soos geloof, eerbaarheid en werksetiek, aan die volgende geslag oorgedra word.
Die behoud van kultuurskatte
Kultuur is nie net ʼn abstrakte konsep nie; dit is iets wat deur die geslagte heen geleef, ervaar en oorgedra word. As moeders versuim om hul kinders op te voed in die waardes en tradisies van hul volk, dan word hierdie kultuurskatte bedreig. In Deuteronomium 6:6-7 kry ons die opdrag om die Here se gebooie, wat ʼn volk se belangrike skat is, aan ons kinders te leer:
En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan (Bybel, 1953).
Hierdie teks dui daarop dat die opvoeding van kinders in die geloof en die oordrag van waarheid kritiek is, maar hierdie beginsel geld ook ten opsigte van ʼn volk se kultuurskatte. Dit is ʼn lewenslange proses wat nie ligtelik opgeneem moet word nie.
ʼn Moederlose volk
Wanneer moeders hul rol as tuisteskeppers en opvoeders versaak, ly die gesin en uiteindelik die samelewing daaronder. Sonder die invloed van Godvresende moeders, kan kinders afvallig raak van die geloof en van die waardes wat ʼn samelewing staande hou. Dit lei tot die verval van kulturele identiteit en die verlies van ʼn gedeelde erfenis.
Dit is belangrik om te besef dat moeders die draers van kultuur is, en sonder hulle toewyding om hierdie kultuur aan hul kinders oor te dra, sal dit mettertyd vervaag. Gesinne sal vervreem raak van hul wortels en van die gemeenskap waaraan hulle behoort.
Om nie van die wêreld te wees nie
In ʼn wêreld waar individualisme en materialisme dikwels die botoon voer, is dit noodsaaklik dat vroue hul rol as moeders, huisvroue en tuisteskeppers ernstig opneem. Vroue moet veral waak teen die familie-vernietigende feminisme, wat vroue sal wil laat glo dat die roeping wat aan hulle opgelê is, nie waardig is nie. Die feminisme slaag daarin om die vroulikheid van die vrou te vernietig en om van haar ʼn man te maak.
Die roeping van die vrou is nie minderwaardig nie; dit is van fundamentele belang vir die voortbestaan van ʼn gesonde en Christelike samelewing. Deur kinders op te voed in die vrees van die Here en deur ʼn tuiste te skep waar geloof, hoop en liefde heers, dra moeders by tot die bou van ʼn volk wat God eer.
As die moeders van ʼn volk versuim om hierdie rol te vervul, sal daar niemand wees om die kulturele en geestelike skatte oor te dra nie, en die volk sal in geestelike en morele armoede verval. Kortom, die rol van die moeder, huisvrou en tuisteskepper is nie net ʼn belangrike een nie, maar een wat sentraal staan tot die voortbestaan van die geloof en die kultuur van ʼn volk. Wat kan verlore gaan?
ʼn Jong taal wat verlore gaan
Afrikaans is meer as net ʼn kommunikasiemiddel; dit is openbaring wat ʼn draer van kultuur, geskiedenis en identiteit is. As moeders nie Afrikaans aktief aan hul kinders oordra en in die huis bevorder nie, kan die taal kwyn. Die alledaagse gebruik van Afrikaans in gesinne, veral in die onderrig van kinders, help om die taal lewendig te hou. Wanneer Engels of enige ander tale voorkeur in die huis kry, verloor kinders die ryke idiome, gesegdes en dieper betekenisse wat Afrikaans uniek maak.
Ek kan nie mamma se liedjies onthou nie
Die Psalms en Gesange vorm die geestelike ruggraat van Afrikanerkerk- en kultuurmusiek, veral binne die volk se sterk Christelike herkoms. Die Psalms is direkte uitdrukkings van die Bybel. Dit bied ʼn ryk spektrum van emosie en troos, terwyl die Gesange Bybelse aan waarhede vorm gee in musiek. Die FAK-sangbundel, ʼn belangrike deel van Afrikanerkultuur, bewaar en bevorder hierdie liedere, sowel as tradisionele volksliedere wat die geskiedenis en identiteit van die Afrikanervolk weerspieël. Saam versterk hierdie musiekvorme die Afrikaner se geloof en kulturele verbondenheid.
Om ‘Oom’ en ‘Tannie’ te sê
Die Afrikaner se kultuur is histories geskoei op sterk gesinswaardes soos respek vir ouers, eerbied vir die gesin as instelling en die belangrikheid van ʼn gesonde huwelik. Hierdie waardes word binne die huis gesmee en versterk, en moeders speel ʼn sleutelrol in die instandhouding hiervan. Wanneer vroue hul prioriteite buite die huis plaas en nie doelbewus tyd bestee aan die oordrag van hierdie waardes nie, kan dit lei tot ʼn geslag wat minder verbind voel aan hierdie tradisies en wat meer beïnvloed word deur individualisme en sekularisme. Dit kom basies daarop neer, dat daar dan ’n geslag is wat “jy” en “jou” in plaas van die oue mooi taal van “oom” en “tannie”.
Wie was Van Riebeeck en De Wet?
In die geskiedenis was die moeders die bewaarders van familiegeskiedenis en stories wat help om kinders in hul identiteit en erfenis te anker. As hierdie stories en geskiedenisse nie meer oorgedra word nie, verloor die nuwe geslagte die kontinuïteit en verbintenis met hul voorouers en verstaan hulle nie hul plek in die breër narratief van die Afrikanervolk nie. Dit lei tot ʼn verlies aan volksidentiteit en trots, wat op sy beurt ʼn volk kwesbaar maak vir kulturele assimilasie.
Ons het ouma se brei- en naaldwerk verloor
Die oordrag van vaardighede soos naaldwerk, breiwerk, kookkuns en ander tradisionele handwerk was eens die domein van moeders en vroue. Hierdie kunsvorme het nie net praktiese waarde nie, maar dra ook die volk se stories en estetiese waardes oor. As kinders nie meer hierdie praktiese vaardighede aangeleer word nie, gaan ʼn deel van die Afrikaner se kreatiewe erfenis verlore. Hierdie kuns- en handwerk het ook dikwels ʼn manier van gesinsbinding en sosiale interaksie geskep wat bydra tot die gevoel van gemeenskap.
Moet ons beskuit vir die bure gee?
Ons oupas en oumas kan vir ons ure lange stories vertel van hulle jongdae en hoe hulle in mekaar se huis gekom het. Hierdie stories van bymekaar kuier en heeltyd saam te wees, is iets wat ons al hoe minder van sien. Ons verlang eintlik na hierdie stories, al ervaar ons dit baie min of glad nie. Dit gaan eenvoudig oor gasvryheid. Die woord in die Nuwe Testament beteken in sy letterlike vorm “vreemdelings liefde”. Die Afrikanerkultuur is sterk gewortel in gemeenskap en ʼn kollektiewe identiteit. Wanneer moeders nie hul kinders leer om betrokke te wees by hul gemeenskap en die breër Afrikaneridentiteit nie, kan hierdie sin van gemeenskaplike solidariteit en samehorigheid afneem. Hierdie afname in gemeenskapsgevoel lei tot ʼn geslag wat meer geïsoleerd is en minder verbind voel aan die voortbestaan en welsyn van die Afrikaner as ʼn unieke volk.
Boerekos en koeksisters
Boerekos en koeksisters verteenwoordig die hart van die Afrikaanse koskultuur en tradisie, diep gewortel in die geskiedenis van die Afrikanervolk. Boerekos, met geregte soos bobotie, potjiekos en melktert, weerspieël die eenvoud, vervulling en geselligheid van die boerelewe, met plaaslike bestanddele en ʼn sterk gemeenskapsfokus. Koeksisters, aan die ander kant, is ʼn ikoniese soethappie wat Afrikaanse gasvryheid en kultuur simboliseer en gereeld gebak word vir spesiale geleenthede. Hierdie geregte en lekkernye is nie net heerlike disse nie, maar dra ook die erfenis en tradisies van die Afrikaner van geslag tot geslag oor.
Die gawe van Godvresende vroue in ʼn gemeenskap kan nie genoegsaam beklemtoon word nie. In hulle lewe en optrede ervaar nie net huisgesinne nie, maar ook ʼn hele gemeenskap God se omgeeliefde op ʼn unieke manier.
Die boosheid van die tyd
In die moderne tyd het feminisme en kapitalisme saam ʼn diepgaande invloed gehad op die rol van vroue, veral met betrekking tot moederskap en hul plek in die huisgesin. Hierdie veranderinge het nie net vroue se deelname aan die arbeidsmark versnel nie, maar ook die manier waarop ons oor moederskap en huisgesin dink, verander. Waar die rol van die vrou as moeder en huisvrou eers as die hoeksteen van ’n gesonde, Godvresende samelewing gesien is, het dit nou dikwels die indruk gekry dat dit minder waardevol is as ekonomiese bydraes buite die huis.
Die invloed van feminisme en kapitalisme het vir baie vroue, wat eens hul vervulling in die huis en in die grootmaak van kinders gevind het, ’n nuwe soort las geplaas. Feminisme, met sy strewe na gelykheid en onafhanklikheid, het vroue aangemoedig om uit die huis te beweeg en hul identiteit meer in hul loopbane as in hul gesinne te soek. Kapitalisme het op sy beurt hierdie sentiment versterk, aangesien dit ’n samelewing skep waarin beide ouers dikwels verplig is om te werk om die gesin te onderhou.
Dit is egter nie eenvoudig nie. Baie vroue voel dat hulle tussen twee wêrelde gevange is. Aan die een kant is daar die druk van feminisme wat hul oortuig dat om tuis te bly en kinders groot te maak, ’n vermorsing van potensiaal is. Aan die ander kant is daar die natuurlike roeping van moederskap— ’n roeping wat diep gewortel is in die Bybel. Soos Titus 2:3-5 ons leer, is die vrou geroep om haar man en kinders lief te hê, huislik te wees en ’n veilige hawe vir haar gesin te skep. Hierdie taak word dikwels gesien as die heilige plig van ’n vrou, nie net om kinders groot te maak nie, maar om hulle ook te leer om in die vrees van die Here te wandel.
Kapitalisme het hierdie uitdaging vererger. Vroue wat vroeër die vryheid gehad het om hul kinders tuis groot te maak, vind nou dat hulle gedwing word om ekonomiese verantwoordelikhede op te neem. Dit is nie altyd uit vrye keuse nie, maar dikwels uit noodsaak. Die samelewing waardeer nou meer die bydrae wat ’n vrou buite die huis maak as die onmeetbare waarde wat sy binne die gesin het. Die lang ure wat vroue weg van die huis deurbring, veroorsaak dat hulle minder tyd het om in die morele en geestelike vorming van hul kinders te belê.
Die effek hiervan op ’n volk kan nie onderskat word nie. Soos Deuteronomium 6:6-7 ons leer, lê die primêre verantwoordelikheid vir die opvoeding van kinders in die huis. Dit is in die gesin dat die wette en gebooie van die Here oorgedra word, nie net deur formele onderrig nie, maar ook deur die daaglikse ritmes van gesinslewe. Wanneer hierdie opvoeding nie meer sentraal in die huisgesin staan nie, begin ’n volk se geloof en kultuur te verswak.
Gevolgtrekking
Die gevolge van hierdie veranderinge strek ver buite die individuele gesin. Wanneer vroue hul rol as moeders en huisvroue nie ten volle kan vervul nie, lei dit tot ’n gemeenskap wat geestelik en moreel verarm. Kinders wat grootword sonder die konstante invloed van ’n toegewyde moeder wat hulle lei en onderrig in die maniere van die Here, sal dikwels swaarkry om ’n vaste morele en geestelike anker in die lewe te hê. Die risiko is dat hierdie kinders later vervreem raak van hul geloof en kultuur, wat uiteindelik lei tot die verarming van die hele volk.
Ons moet begrip hê vir die uitdagings wat baie vroue in die gesig staar. Dit is verstaanbaar dat hulle nie altyd die luuksheid het om voltyds in die huis te bly nie. Tog moet ons versigtig wees om nie die langtermyngevolge van hierdie veranderinge te ignoreer nie. Die gesin is die hart van die samelewing, en moeders speel ’n onmisbare en sentrale rol in die bewaring van geloof en kultuur. Indien hierdie rol verwaarloos word, loop ons die gevaar om nie net ons Christelike identiteit nie, maar ook ons kulturele erfenis te verloor.
Geskryf deur Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)