Die Bybelse waarheid dat Christus heers oor alle nasies en volke is ’n fundamentele leerstelling in die Christelike geloof. Hierdie heerskappy van Christus het nie net te doen met individue nie, maar ook met nasies en hul verhouding met mekaar. ’n Belangrike element van hierdie heerskappy is die vraag of ware versoening en eenheid tussen volke moontlik is sonder Christus. Die geskiedenis, sowel as die Skrif, leer ons duidelik dat enige poging om mense of nasies te verenig buite Christus om, in wese ’n rebellie teen God se orde is en gedoem is tot mislukking. Die artikel poog om te ontleed hoe Christus se heerskappy oor die nasies en die noodsaaklikheid van versoening in Hom as ’n fundamentele vereiste vir enige ware eenheid tussen volke verstaan moet word.
Versoeningsfondasie vir volke
In Psalm 82:8 lees ons “Want Ú het erfbesit van al die nasies”. Die Skrif leer dat Christus se heerskappy universeel is en alle nasies insluit. In Psalm 2:8 gee God aan die Messias die belofte: “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.” Hierdie belofte dui aan dat Christus oor elke nasie en volk heers en dat geen deel van die wêreld uitgesluit is van Sy gesag nie. Die groot opdrag in Matteus 28:18-20 is ’n bevestiging van hierdie gesag, waar die Here Jesus Christus sê: “Alle mag in die hemel en op aarde is aan My gegee.” Hy stuur sy dissipels om na al die nasies te gaan en hulle in Sy naam te doop en te leer. Hierdie universele gesag beteken dat alle nasies onder Christus se heerskappy val en aan Hom verantwoordelik is. Eenvoudig gestel, die volkere moet gekersten word, d.w.s. alles moet val onder die naam van Christus.
Volgens Efesiërs 1:22-23 het God alles onder Christus se voete onderwerp en Hom as Hoof oor die kerk aangestel, wat beteken dat Christus oor die ganse kosmos en geskiedenis regeer. Ons lees die pragtige gedeelte in Kolossense 1:15-16 “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” Hierdie heerskappy van Christus is nie net ’n simboliese idee nie, maar ’n werklike realiteit waarin Hy Sy reg en gesag oor alle volke uitoefen. Deur hierdie mag kan ware eenheid en versoening tussen nasies slegs in Hom gesoek en gevind word.
Versoening as God se werk deur Christus
Die konsep van versoening tussen mense en tussen nasies moet verstaan word as ’n gawe van God. Die Skrif leer dat versoening nie uit mense self kom nie, maar ’n daad van God is. In 2 Korintiërs 5:18-19 sê Paulus dat “God…ons met Homself versoen het deur Jesus Christus.” Hierdie versoening is volledig gefokus in die werk van Christus en is ’n gevolg van God se inisiatief, nie menslike pogings nie. Dit is alleen omdat ons met God versoen is deur Christus wat God vir ons die bediening van die versoening gegee het. Deur die bloed van Christus aan die kruis het God vrede tussen Homself en die wêreld bewerk (Kolossense 1:20). Hierdie versoening is egter eksklusief in Christus; geen ware vrede of eenheid kan bereik word sonder Hom nie. Dit kan nie duideliker gestel word nie. Dit is Christus alleen. Dit is alleen net Christus.
Die Heidelbergse Kategismus, wat een van die drie belangrike gereformeerde belydenisskrifte is, beklemtoon hierdie waarheid. In Sondag 1 verklaar dit dat ons “met liggaam en siel…aan ons getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort”. Dit is nie alleen net die gereformeerde se belydenis nie, maar elke Christen sin. Hierdie oortuiging gee aan ons ’n vaste troos en anker in die wete dat ons versoening en vrede by Christus self gegrond is en nie in ons eie kragte nie.
Die gevaar van magsblokvorming
Samesmelting van geloof en ongeloof – dit wil sê ’n soort samewerking en eenheid tussen volke wat nie op God se gesag en orde gebaseer is nie, maar op menslike magshonger en ambisie, is verkeerd. In die Bybel kan ons kyk na byvoorbeeld na Nimrod, die eerste persoon in die Bybel wat poog om ’n wêreldryk te vestig deur volke saam te snoer onder een magstruktuur. Volgens Genesis 10 en 11 het Nimrod, wat bekend was as ’n “geweldenaar” en tirannieke leier, gepoog om die grense wat God gestel het, te vernietig deur nasies onder sy beheer te dwing. Hy ignoreer die gebod om die aarde te vul (Genesis 9:1) en verenig eerder volke in ’n magstruktuur wat God se skeppingsorde ondermyn.
Hierdie patroon van magshonger word herhaal in latere ryke soos Nebukadneser se Babilon en Augustus se Romeinse Ryk. Hierdie ryke het probeer om mense en volke saam te snoer deur kulturele en religieuse eenwording wat uiteindelik uitgeloop het op afgodediens en menseverafgoding. Die Babiloniese keiser het byvoorbeeld ’n goue beeld opgerig en alle onderdane gedwing om dit te aanbid, wat ’n duidelike voorbeeld is van hoe ’n “kulturele fees” in ’n staatskultus verander het (Daniël 3:1-6). Hierdie tipe gedwonge eenheid was nie ’n uitdrukking van goddelike vrede nie, maar eerder van ’n magsbehepte ideologie wat mense onder een vals godsdienstige en politieke stelsel gebind het.
Verder kan ons opmerk dat die moderne konsep van ’n “reënboognasie” in Suid-Afrika – hoewel dit menslike gelykheid voorhou – dikwels by dieselfde rebellie uitkom: ’n mensgesentreerde eenheid sonder Christus. Hierdie soort eenheid bring onwillekeurig die vorming van magsblokke en die vernietiging van nasionale identiteit mee, wat ook gesien word in die armoede en onderdrukking wat in die naam van “eenheid” en “gelykheid” gebeur.
Hierdie geskiedenis van Babel is nie net ’n historiese beskrywing van nasie-vorming en taalverwarring nie, maar dien as ’n voorskrif oor die gevare van eenheid sonder God. Om te argumenteer dat Babel slegs beskrywend is, is om die fundamentele lering van die Skrif mis te lees. Die ware vloek van Babel was nie die verwarring van tale nie, maar dat die Here die mense oor die wêreld versprei het sonder Homself. Die verhaal van Babel wys vir ons dat enige vorm van selfgesentreerde eenheid sonder God se teenwoordigheid uiteindelik sal lei tot verwarring en skeiding.
Die omgekeerde hiervan vind ons by Pinkster. Deur die uitstorting van die Heilige Gees bring Christus weer ware eenheid tussen mense van verskillende tale en kulture. By Pinkster is die mense se tale nie uitgewis nie, maar versoen binne die lig van Christus se verlossing. Hierdie verhaal van Pinkster leer ons dat ware versoening en gemeenskap slegs moontlik is in Christus, en nie deur magstrukture of politieke alliansies wat mense op ander gronde verenig nie.
Die kerk se oproep tot getrouheid in Christus
Die Bybel waarsku teen deelname aan magsblokke en die samesmelting van geloof en ongeloof wat God se orde ignoreer. Deur die geskiedenis sien ons hoe goddelose samesmelting dikwels gekoppel is aan geestelike afvalligheid. Hierdie tipe geloof en ongeloof verbinding beïnvloed selfs die kerk. In sy oorgawe aan die wêreldse mag van tiranne, word die afvallige kerk soms ’n werktuig van goddelose magstrukture. Dit bevorder ’n vals vrede wat slegs uiterlik bestaan, en uiteindelik lei dit die kerk self tot vervolging en verdrukking van sy ware lede.
In die lig hiervan moet die ware kerk waaksaam bly en onthou dat enige ware eenheid tussen mense en volke slegs in Christus gevind kan word. Die ware versoening, soos gesien by Pinkster, is ’n eenheid in die Gees deur Christus, waar verskillende tale en kulture nie vernietig is nie, maar in gemeenskap met mekaar versoen is. Die kerk moet dus Christus as sy fondament behou en die versoening wat Hy bied, bevorder as die enigste ware bron van vrede en eenheid.
Enigste fondasie vir versoening tussen volke
Christus se regsbesit oor die nasies impliseer dat alle mense en volke aan Hom verantwoordelik is. Sy reg as Koning oor alle nasies beteken dat enige eenheid wat buite Hom gesoek word, teenstrydig is met God se skeppingsorde en gedoem is tot mislukking. Die geskiedenis van Babel en Babilon leer ons dat magsblokvorming, wat gebaseer is op magshonger en afgodery, uiteindelik sal misluk omdat dit in opstand teen God se soewereiniteit staan.
Die Skrif roep ons op om die heerskappy van Christus te erken as die enigste weg na ware versoening. Enige poging om volke en mense buite Christus te verenig, is ’n duiwelse illusie van eenheid wat nooit ware vrede sal bring nie. Die kerk moet getuig van Christus as die enigste bron van versoening, en ons moet waak teen enige pogings tot eenwording wat Christus en Sy gesag ignoreer. In Christus alleen, en nie in menslike magstrukture of politieke alliansies nie, lê die hoop op ware vrede en eenheid vir alle nasies en mense.
Geskryf deur Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)