Lees Matteus 5:1-12 en Psalm 38
Fokus: Matteus 5:4a en Psalm 38:3-5
Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Ons bely as antwoord op hierdie vraag dat ons in lewe en sterwe, na liggaam en siel, aan Christus as ons Verlosser behoort. Dit is ons enigste troos. Maar die feit dat ons getroos moet word wys daarop dat ons oor iets treur. Ons sou dus eintlik ook kon vra: Waaroor treur jy in ten opsigte van lewe en dood? Watter saak in die werklikheid maak jou die diepste hartseer? Ons Skrifgedeelte leer ons dat ware gelowiges treur.
Christus is in ons Skrifgedeelte besig om die evangelie van die koninkryk aan sy dissipels, maar ook aan ’n menigte van mense te preek. Hy het nadat Hy sy dissipels geroep het wonders begin doen onder mense wat in nood is. Hy het mense wat ly gesond gemaak. Dit is dan vir hierdie skare wat Hy preek. Dit is hulle wat onderrig oor die koninkryk wat Hy bring ontvang. Die inleiding van sy preek is dan ’n beskrywing van die burgers van sy koninkryk. Dit is hulle wat die ryk van ewige volkome gemeenskap met die Koning sal erf.
Aangaande die ware burgers van God se ryk leer ons ook: Salig is die wat treur. Die Here noem die volgende eienskap van ware gelowiges: Hulle is mense wat treur. Dit is mense wat hartseer is, mense wat rou bedryf. Hierdie “treur” hang ten nouste saam daarmee om “arm van gees” te wees. Iemand wat arm van gees is sien die sonde en die wonde van die sonde, al die dood en gebrokenheid en lyding in die wêreld, en neem dan sy toevlug tot God. So iemand weet hy of sy het die Here nodig in alle nood. Maar wanneer so iemand God gevind het dan sal so ’n persoon ook oor die sonde en gebrokenheid in en om homself treur. Hoe sal jy immers beter die droefheid van jou sonde insien as wanneer jy die driemaal Heilige God leer ken? Hoe sal jy beter die hartseer van die sonde kan insien as wanneer jy besef wat dit God gekos het? Wanneer jy arm van gees besef jy het Christus se verlossing nodig, dan sal jy mos ook begin besef wat die prys van daardie verlossing was. Christus het jou nie goedkoop verlos nie. Die prys wat Hy betaal het sodat jy in sy ryk mag leef was nie goud of silwer nie, dit was sy kosbare bloed. Hy moes die hoogste prys betaal, want ons het teen die hoogste Here gesondig.
Iemand wat arm van gees is sal uiteindelik ook treur. Hy sal treur oor die sonde wat in homself is. Hy sal treur wanneer die Heilige Gees hom deur die Woord daarmee konfronteer. Daarom, vra jouself af: Is jy hartseer oor jou sonde? Iemand wat nog nooit hartseer was oor sy sonde nie, het nog nooit besef hoe ernstig sy sonde is nie. Maar, broer en suster, die hartseer van die ware gelowige stop ook nie net by hom of haarself nie. Want sonde en die verskriklike gevolge daarvan stop nie net by onsself nie. Die hele skepping is by die val van Adam aan lyding, verganklikheid en vloek onderwerp. Boonop het alle mense ook in Adam gesondig. Die gelowiges se harte word ook ontroer deur die gebrokenheid en lyding in die wêreld. Die gelowiges treur ook oor die sonde van ander, die sonde van die kerk, en selfs die sonde van die samelewing. Ware gelowiges word in Esegiël 9:4 beskryf as die manne wat sug en steun oor die gruwels wat in die stad bedryf word. Hulle sien die sonde, hulle sien die gebrokenheid en hulle treur daaroor. Hulle sien dit wanneer wetteloosheid bedryf word. Die skrywer van Psalm 119:136 treur ook daaroor wanneer hy sê: “My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.” Iemand wat werklik treur oor die sonde treur wyer as homself.
Hartseer en rou kan baie maklik baie selfsugtig raak. Mense kan reg en verkeerd hartseer wees oor dieselfde saak. As jy hartseer is oor jou sonde, omdat dit sonde teen God is, dan is jy reg hartseer. Maar as jy net daaroor hartseer is omdat dit vir jou slegte en ongemaklike gevolge het, dan is jy selfsugtig hartseer. Dieselfde geld vir jou hartseer oor die sonde in die wêreld. Is jy hartseer omdat die oorloë en gerugte van oorloë getuig van die verwoestende effek van die sonde? Of is jy daaroor hartseer omdat dit vir jou ekonomiese gevolge het?
Om geseënd te treur, is om te treur vanuit die beloftes van die Here. Dit is om te treur, omdat jy weet dat daar in die Here soveel meer soveel beter is. Dit is om te treur omdat jy sien hoe die Here en sy verbond geminag word. Dit is om te treur aan die hand van die salige werklikheid wat die koninkryk van die hemele vir jou meebring. Jy treur omdat jy na die volheid van daardie koninkryk verlang.
Theuns de Bruyn (Medewerker van Begrond)