Bela gaan voor ons oë ons kinders ontvoer.
Met hierdie sosialistiese optrede skep die Suid-Afrikaanse staat ‘n kulturele gyselaars situasie. Bela sê ons kinders is net welkom as hulle kultuur nie meer aan hulle oorgedra word nie.
Die Rots waarop ons ons kultuur wil bou en oordra is die Here Jesus Christus. Hy is die Hoof van alle dinge, ook van ons kinders se onderwys. Dit is waar nie omdat Christene so sê nie, maar Christene sê so, omdat Hy die Waarheid is.
God se beloftes en bevele is aan ons kinders verbind. Die verbond van God bind geslagte aan mekaar. Dit is ons lewensaar.
Hierdie gyselaarsdrama gaan op een van drie plekke eindig – soos alle gyselaars situasies: òf die gyselaar word bevry, òf die gyselaar sterf, òf die afgeperste losprys word betaal – waarmee net nuwe gyselaars ontstaan.
Bella trap op die bloedrooi lyn van ons lewensaar. Ons is nie van plan om ons kinders aan die staat op te offer nie.
Ons is woedend oor Bela, en gaan nie gou afkoel net met paaiery nie.
Nou is die tyd vir geloofsmoed.‘n Nuwe onderwys eksodus moet plaasvind.
Die Waarheid Wie ons bely sny skerp in twee rigtings:
- Aan die Suid-Afrikaanse staat sê ons: ons kinders behoort nie aan julle nie, maar aan God.
- Aan die Afrikaner gemeenskap sê ons: wee die volksgemeenskap wat sy kinders aan enige ideologie offer.
Jesus Christus het klaar die ware losprys betaal. Ons wil in diè vryheid lewe en ons kultuur juis sò oordra. Bela dring die gewetensvraag by ons op. Wat is die Suid-Afrikaanse staat werd, sonder ons kinders?
Ek dank u.
Bella perskonferensie, 4 November 2024, Klein Kaap Boutique hotel.
Begrond se persverklaring ter ondersteuning van die Bela protes optog van 05 November.