Boekbespreking – Gnostisisme

deur Prof Alwyn Swanepoel, Begrond Instituut medewerker

Gnostic America: A Reading of Contemporary American Culture & Religion according to Christianity’s Oldest Heresy, 2014 deur Peter Burfeind

Waarom lyk dit deesdae of alles skielik inmekaar tuimel? Waarom is daar sulke definitiewe optrede om alles wat voorheen aanvaarbaar was nou te bevraagteken en te vervang? Waarom kan ʼn universiteit byvoorbeeld nou selfs begin voorskryf dat studente nie eers meer as dames en here aangespreek behoort te word nie?

Peter Burfeind, ʼn leraar in die Lutherse tradisie, het ʼn baie definitiewe antwoord. Soms kry ʼn mens die gevoel dat hy ʼn hamer gevind het en dat alle kwessies nou spykers is wat hy daarmee kan slaan. En tog is daar net te veel spykers wat wel raakgeslaan word wanneer Burfeind die hamer optel.

Burfeind het jare lank – sedert die middel van die 1990’s – ondersoek ingestel na die ou dwaalleer van die Gnostisisme wat telkens nuwe gedaantes in die geskiedenis gekry het. Om die waarheid te sê, Burfeind wys daarop dat hierdie donker dwaalleer reeds in die Bybelse tye (vgl. 1 Johannes) na vore getree het en dat dit die Kerk soos ʼn skaduwee deur die eeue heen agtervolg.

Burfeind reflekteer onlangs oor sy publikasie, Gnostic America, wat uiteindelik in 2014 verskyn het, en noem dié dwaling die duiwel se teologie. Hy stel dan dat hy geleidelik met sy navorsing begin besef het dat die probleem groter is as wat hy gedink het. Daarom wys hy uiteindelik in hierdie werk die invloed van die Gnostisisme in Amerika op godsdiens, kultuur en politiek. Sy toepassings toon egter duidelik aan dat dit nie net ʼn probleem in Amerika is nie, maar ook in baie ander eertydse Westerse lande.

Waaroor gaan dit in die Gnostisisme en hoe is hierdie ou dwaling vandag steeds springlewendig? Burfeind identifiseer 14 kenmerke van hierdie dwaling: (1) God se Naamloosheid as fundamentele uitgangspunt; (2) ʼn universalisme van volheid; (3) geskeidenheid as kosmiese euwel; (4) anti-gesag; (5) oorstyging van geslagtelikheid; (6) die verwerping van Logos; (7) die argetipiese rol van Sophia as ʼn spesifieke soort wysheid; (8) mistisisme, ekstase en “wedergeboorte”; (9) gnostiese elitisme; (10) die reis van die self teen die argontiese owerhede en magte; (11) antinomianisme (wetteloosheid); (12) liefde as eros en as ʼn kosmiese “bungee”-koord; (13) die gnosties-magiese konneksie; en (14) die “New Age” en paradigmas van “emergence”.

Daar kan nie hier op die verduideliking van elke kenmerk ingegaan word nie, maar enkele uitsprake wat op die oog af sterk verbande met onlangse nuusgebeure toon, kan wel genoem word om ʼn idee te gee. Geskeidenheid word in die Gnostisisme beskou as die primordiale euwel en dit sluit ook Eva in wat van Adam geskei is.

Die verdeling van geslagtelikheid is daarom volgens die “Gnossies” ook een van die fundamentele euwels van ons wêreld. Die manlike/vroulike onderskeiding roep weer in gnostiese opvattings allerhande ander “verdeeldhede” en “diskonneksies” na vore, soos die verdelings van rasse en nasies, en wat in die Gnostiek as sleg geag word.

Die Gnostisisme is ook sterk gekant teen respek vir instellings wat betrokke is by die oordra van die verlede, soos familie, gemeenskap, kultuur, tradisies in die kerk, en selfs staatsrituele. In die Gnostiese denke is hierdie instellings alles skeppings van ʼn vreemde God, stelsels van hierdie valse en bose wêreld wat oorstyg moet word.

Die Gnostiese opvatting is dat daar rewolusionêr of oorstygend (“transcending the past”) beweeg moet word, sê Burfeind.  Die mees onlangse gonswoord vir laasgenoemde benadering is “ontluikend” of “opkomend” (in Engels, “emergent”).

Die respek vir tradisie het van die standpunt uitgegaan dat ontwikkeling plaasvind op grond van die verlede, maar in die gnostiese denkwyse gaan dit oor ʼn revolusionêre opstand teen die verlede of “opkomende” oorskryding van die verlede. Revolusionêr en opkomend het soortgelyke doeleindes, maar dit verskil in middele, sê Burfeind.

Eersgenoemde is bereid om die saak te dwing, terwyl laasgenoemde glo dat gedagtes eers sal verander deur die heidense trekkrag van gnostiese ikone, en dan daarna deur ‘n stortvloed van samelewingsveranderinge.

Dit klink alles net te bekend. Op die vraag waarom dit lyk of alles van die verlede skielik inmekaar tuimel, het hierdie publikasie van 418 bladsye baie konkrete antwoorde wat roep om arm daarteen te druk. Die genuanseerdes mag reken dat die hamer net te kwistig geswaai word, maar dit is juis ook waar die krag daarvan lê.

Die Griekse digter Archilochus het die bekende woorde uitgespreek dat die jakkals baie dinge weet, maar dat die krimpvarkie een groot ding weet. Dit beteken onder meer dat sommige mense baie strategieë het en met kontraste kan saamleef, maar dat ander na die groot prentjie kyk en onderliggende organiserende beginsels naspeur. Burfeind is ʼn krimpvark.

In ʼn era waar te veel mense dink dat die postmoderne tydvak net jakkalse benodig, toon Burfeind sy unieke waarde. Hy maak ʼn mens daarvan bewus dat net te veel dinge verklaar kan word aan die hand van ʼn baie ou dwaling. Dit behoort ʼn standaardwerk te wees vir voorgraadse studente in teologie en filosofie. Daarna kan daar na meer gesofistikeerde en omvattende studies soos Eric Voegelin se Science, Politics and Gnosticism en Hans Jonas se The Gnostic Religion gekyk word.

Foto: Photo by Aaron Burden on Unsplash