Boekbespreking – Hemelvaart

deur Prof Alwyn Swanepoel, Begrond Instituut medewerker

The Ascension of Christ: Recovering a Neglected Doctrine, 2020, deur Patrick Schreiner

Een van die dae is dit weer tyd vir Christene se herdenking van Hemelvaart. Dit is ook die Christelike vakansiedag wat in Suid-Afrika reeds gesneuwel het. In baie Europese lande word die dag verbasend genoeg nog steeds as vakansiedag herdenk, maar dikwels is die werklike betekenis daarvan reeds lankal verlore. Dit is daarom heel gepas om naby die herdenking van Hemelvaart weer te hoor hoe belangrik hierdie aspek van ons geloof is en waarom dit verdien om weer ingestel te word.

Patrick Schreiner, medeprofessor in die Nuwe Testament en Bybelse Teologie in Kansas City, Missouri, VSA, het in 2020 ʼn belangrike bydrae hieroor gelewer in die bondige Snapshot-reeks in teologie. Schreiner skryf in ʼn behoorlik Bybelbelaaide publikasie oortuigend oor die belang van die Hemelvaart-gebeure vir ons lewe en ons teologie.

Hy begin heel gepas met ʼn aanhaling van die behoudende Douglas Farrow van Kanada, die teoloog wat in die onlangse tyd geweldig baie gedoen het om die belang van Hemelvaart weer op die agenda te plaas: “Dit is opmerklik hoe min Hemelvaart deesdae genoem word. Eens was dit gesien as die hoogtepunt van die verborgenheid van Christus … Vandag is dit ʼn verleentheid.”

Diegene wat dieper wil delf, kan gerus Farrow se klassieke werk, Ascension and Ecclesia, ter hand neem, of sy meer populêre Ascension Theology. Laasgenoemde word egter sterker met Rooms-Katolieke sentimente gekleur en daarom word sy groter werk eerder aanbeveel. Op populêr-protestantse vlak is hierdie werk van Schreiner egter sterk aan te beveel.

Saam met Tim Chester en Johnny Woodrow se werk oor die Hemelvaart, The Ascension: Humanity in the Presence of God, verteenwoordig Schreiner se publikasie waarskynlik die mees kragtige onlangse uiteensetting waarom die Hemelvaart van Christus so belangrik is.    

Reeds aan die begin wys Schreiner op vyf redes waarom Hemelvaart verwaarloos word, en daarna waarom dit nie verwaarloos behoort te word nie. Hy wys onder meer daarop dat Hemelvaart die geboorte van die nuwe verbond inlei en daarom die nuwe era met Christus op die troon by die Vader aandui.

Dit laat ʼn mens besef dat enige ou of nuwe praatjies oor ʼn nuwe era troontruuks is wat eintlik in opstand is teen die Hemelvaart en die bestyging van die hemelse troon wat reeds die bepalende nuwe era ingelei het. Schreiner gaan dan voort om aan te dui hoe die ampte van Christus as profeet, priester en koning nuwe betekenis kry ná die Hemelvaart.

Op uiters boeiende wyse lê hy ook verbande tussen die ampte in die Ou Testament en hoe dit vervul is in Christus, asook watter betekenis dit vir die Kerk vandag het. Skrifgedeeltes wat handel oor Eden en die tabernakel word byvoorbeeld direk met die Hemelvaart in verband gebring. Dan. 7:13-14 wat handel oor die Seun van die Mens wat by die Vader aankom, asook Psalm 2 word met baie meer diepte waardeer.

Schreiner toon oortuigend aan dat die Hemelvaart van kardinale belang is indien Christene hulle ampte as profete, priesters en konings effektief wil uitleef. Dit gee sin aan ons belydenis en vorm selfs die hoogtepunt voor die wederkoms van Christus.

Hierdie publikasie beslaan net meer as ʼn 100 bladsye en is baie bevatlik geskryf. Daarom kan die werk van harte vir enige Christen aanbeveel word wat begeer om die diepte en implikasies van hulle geloof beter te begryp.  

Foto: Photo by Aaron Burden on Unsplash