Christene onderskei gewoonlik tussen beroep en roeping. Die roeping van ʼn gelowige het te doen met God se roepstem en die lewensopdragte wat God vir elkeen gee. Die beroep wat ʼn mens as gelowige volg, is dan meer as net die plek waar jy geld kry. Jou beroep behoort die plek te wees waar jy jou Godgegewe roeping kan uitvoer. Gelowiges behoort mekaar ook hierin by te staan. Roeping en beroep staan in noue verband met mekaar.
Dit is uiters noodsaaklik dat arbeid in die algemeen hervorm moet word. Hervorming of reformasie beteken om iets weer te vorm. As ons arbeid nou weer kan vorm, waarvolgens sal ons dit doen? Ons aanvaar eintlik maar net dat verskillende werke en beroepe gevorm word deur die tegnologiese innovasie en die markkragte wat alles daarop inwerk. Natuurlik het dit ʼn belangrike rol te speel, maar Christene kan ook binne hierdie huidige werksomgewing vra: hoe wil God hê dat ons nou te werk moet gaan? ʼn Paar riglyne kom duidelik uit die Skrif na vore hoe Christene mekaar as roeping in hulle beroepe kan bystaan.
Stelsel van Christelike gawes
Die Christelike Gawe-stelsel is belangrik binne die huidige ekonomie. Dit is ʼn kragtige middel waardeur die reformasie van arbeid kan plaasvind. Ons kan ons werk en werkplekke al hoe meer omvorm na wat die Bybel ons leer. Die Christelike Gawe-stelsel gaan van die standpunt uit dat elke mens unieke gawes het en dat hierdie gawes in diens van God gestel moet word. Die gawes wat ʼn mens ontvang, is dan die dinge wat jou in staat stel om iets te kan verrig of uitvoer. Wat jy uitvoer en wat jy verrig behoort gerig te wees deur die roeping wat jy van die Here gekry het. Die koninkryk van God sluit natuurlik meer in as net een mens of een groep se werk. Dit is daarom nodig dat Christene mekaar moet bystaan en help dat hulle beroepe wel roepingsgedrewe is en dat die gawes wat hulle ontvang het, juis aangewend word om hulle roepingsopdrag uit te voer. Binne die Christelike Gawe-stelsel speel gildes ʼn baie belangrike rol.
Gildes is in Suid-Afrika nie so bekend en gevestig soos wat dit byvoorbeeld in Wes-Europa die geval is nie. Daar is baie historiese redes hoekom dit die geval is en daar word nie nou daarop ingegaan nie. ʼn Gilde is iets anders as ʼn beroepsvereniging. ʼn Beroepsvereniging lewer bepaalde dienste aan betalende lede soos elke beroep sinvol vind om te doen. ʼn Gilde doen dit ook, maar gaan vanuit ʼn breër raamwerk te werk. Christelike gildes wil dan veral die noue band tussen beroep en roeping vashou en bevorder.
ʼn Gilde, binne die Christelike Gawe-stelsel , het bepaalde eienskappe wat dit onderskei van ʼn beroepsvereniging. Ons lig vyf eienskappe uit en noem dit sommer die vyf B’s van ʼn Christelike gilde wat noodsaaklik is om arbeid reg te reformeer. Die vyf B’s is: bekwaam, bevoeg, behoort, belowe, betroubaar.
Bekwaam
Die Christelike gilde onderskei tussen bekwaamheid en bevoegdheid. Deesdae word in die breë ekonomie eintlik net klem gelê op bekwaamheid en nie soseer op bevoegdheid nie. Hierdie twee begrippe dui juis op die mooi onderskeid tussen beroep en roeping.
Bekwaamheid beteken eintlik maar net dat jy iets kan doen, en dat jy daarop getoets is en ʼn bewys het dat jy dit kan doen. Bykans alle beroepe vereis een of ander vorm van kwalifikasie. Of dit nou jou matrieksertifikaat, jou N-sertifikaat of een of ander graad of diploma is, al hierdie kwalifikasies het ʼn vermoë by jou gemeet en gesê dat jy in staat is om die vereiste bekwaamheid te toon. Ons kan dit met ʼn maklike beeld verduidelik. Dit is soos om te wys dat jou byl skerp gemaak is en dat jy wel ʼn hout stomp middeldeur kan kap. Jy het die vermoë, en jy is getoets en bekwaam verklaar: jou byl is skerp vir die werk.
Bevoeg
Bevoegdheid, daarenteen, het daarmee te maak of jy iets wel mag doen. Die feit dat jy wel ʼn stomp met jou skerp byl middeldeur kan kloof, beteken nie dat jy sommer enige boom mag gaan afkap nie. Jy moet eers ʼn aanstelling en opdrag kry dat jy bepaalde bome of houte met jou skerp byl mag kap. Die bevoegdheid dui op die roepingsaspek in die lewe. Christene glo dat hulle deel het aan die Here Jesus Christus deur die geloof en Heilige Gees. Dit werk soos volg: toe Jesus in die Jordaan-rivier deur die profeet Johannes gedoop is, het die Heilige Gees soos ʼn duif op Jesus neergedaal. Jesus is met die Heilige Gees gesalf. Hierdie woord “gesalf” is juis waar die naam “Christus” vandaan kom. Jesus, die Seun van God, is met die Heilige Gees gesalf. Hy is Jesus – die gesalfde met die Heilige Gees – Hy is Jesus, dié Christus. Om ʼn Christen te wees, moet iemand in die Christus glo. Daarom word gelowiges ook Christene genoem – hulle deel in Jesus se salwing. Die Heilige Gees woon en werk in Christene. Wanneer ʼn gelowige nou sy of haar gawes as deel van die liggaam van Christus aanwend onder die gesag van Jesus as Koning, dan juis kom God se Goddelike krag en energie na vore.
Waar God jou plaas en roep om met jou Godgegewe talente en vermoëns jou opdrag uit te voer, is waar jy dan juis jou bekwaamheid (jy kan) ook bevoeg uitvoer (jy mag). Dit lyk na ʼn klein onbeduidende verskilletjie, maar dit maak die wêreld se verskil. Om met jou roeping besig te wees, is om deel te neem aan die krag van God in jou lewe. God wil ook dat Christene mekaar hierin help en ondersteun.
Prakties dui dit op die volgende:
- ʼn Christelike gilde wil dan ook help dat ʼn mens bekwaamheid verwerf. ʼn Voorveronderstelling is goeie Christelike onderwys. Enige Christelike gilde sal Christelike onderwys voorstaan, aangesien dit die boublokke oplewer waarmee ʼn mens verder kan bou.
- Dit beteken ook dat daar geld deur beurse en lenings toegestaan word aan voornemende persone binne die beroep.
- Dit beteken dat die gilde ook waghou oor die standaard van die bekwaamheidstoets.
- Dit beteken ook dat roeping deel uitmaak van die hele opset deurdat ʼn mens nie maar bloot rondval tussen werkstasies nie, maar dat die sin van jou werk gedurig op die voorgrond is. Hoe neem jy deur jou werk deel sodat die koninkryk van God se Seun op aarde gevestig word?
- Dit beteken ook dat beroepsgeleenthede ontsluit word vir toekomstige mense binne die beroep.
- Dit beteken ook dat ʼn Christelike voorbeeld in die beroep ook belangrik is. ʼn Christelike gilde wil ook meesters as voorbeeld hê wat nagevolg kan word, maar wat ook die bekwaamheid en bevoegdheid aan die volgende generasie kan opdra en oordra.
Deur so klem te lê op bevoegdheid word die beroepe self en mense in die beroepe juis bemagtig om sinvol aan arbeid deel te neem. Waar bekwaamheid met ʼn byl verduidelik is, kan bevoegdheid met ʼn sleutel vergelyk word. Die regte sleutel maak moontlikhede oop wat andersins geslote sou bly.
Behoort
Die derde pilaar van ʼn gilde binne die Christelike Gawe-stelsel is die woord “behoort”. Dit dui twee dinge aan. Aan die een kant wys dit na jou plek waar jy hoort, en tweedens dui dit op wat behoort te gebeur. Wanneer beide bekwaamheid en bevoegdheid aandag kry, dan kom mense ook op die regte plekke om hulle roepingswerk te vervul. Christene behoort aan God; Christene bly by God en is deel van die liggaam van Christus. Die Bybel leer duidelik dat een mens nie alles kan doen of hoef te doen nie. God deel aan verskillende mense verskillende gawes uit. Ook gee Hy nie aan almal dieselfde opdragte nie. God se werke toon egter altyd ʼn eenheid. As ʼn mens jou werk doen waar jy dit behoort te doen, dan kry ʼn mens deel aan die werk wat God self besig is om uit te voer.
Ons mag dus nie iemand anders se werk vat nie, en ons mag ook nie toelaat dat iemand anders sy werk deur luiheid of wat ook al op ons afskuif nie. Elkeen behoort hulle eie deel te doen binne die groot geheel waartoe God ons verbind het. Die Bybel leer ons duidelik dat ons nie mense moet behaag nie, maar al ons werk moet doen asof ons dit vir God self doen. Ons behoort aan die Here, daarom behoort ons ook ons werk as roeping getrou te doen. Elkeen het ʼn unieke plek en bydrae – ons behoort dit te erken en ook ruimte te maak vir mekaar om dit gesamentlik te doen. Ons behoort saam te werk om elkeen se roeping uit te voer. So behoort ons ook ons gesamentlike roeping aan te pak. Soos wat ʼn vlot op ʼn rivier uit verskillende planke en toue bestaan wat aanmekaar vasgebind is, so bind die Here ook ons werke aanmekaar sodat iets groters tot stand kom as net ons eie lewe en werk.
Belowe
Ons behoort op mekaar te kan reken dat ons mekaar sal help om hierdie denkbeeldige vlot te bou. Daarvoor behoort ons beloftes aan mekaar te maak oor hoe ons te werk gaan. Christelike gildes funksioneer almal op ʼn belofte; ʼn mens kan dit voorstel met iemand wat sy hand op die Bybel sit en ʼn belofte-eed aflê. So ʼn belofte is meer as ʼn blote menslike onderneming wat twee mense aan mekaar maak. Binne die Christelike Gawe-stelsel is God die groot Werkgewer. Hy gee die gawes en Hy gee die opdrag as roeping. Ons kan dus nie ons werke doen sonder om Hom in gedagte te hou nie. Binne ʼn beroepskring, waar Christene ooreenkom om mekaar te help in hulle roeping, maak hulle dan ʼn belofte aan God en mekaar. Een van die meganismes wat ons dringend nodig het om werk te reformeer, is hierdie belofte-aspek. Die Wes-Europese Christelike gildes het almal hierdie aspek in hulle aanpak van die saak. Tans funksioneer ons net met kontrakte. Kontrakte is belangrik om sake tussen twee partye te reël, maar ʼn kontrak is eintlik kil en kan nie die volle saak dek nie. Christene binne ʼn gilde moet ook in wedersydse belofte met mekaar lewe. Dit beteken hulle moet op hulle eie manier die volgende sê: “Ons belowe teenoor mekaar voor die Here om mekaar te help met ons roepingswerk.” Dit moet dan natuurlik ook gevolge inhou as iemand nie sy belofte nakom nie en eintlik die hele gilde-groep se naam en werk in gedrang bring.
Betroubaar
Slegs wanneer daar werklik hierdie diep vertroue ontstaan, kan daar werk na vore kom waarop ander mense verder kan bou. As ʼn mens gedurig in wantroue leef, kry jy nie eintlik gebou of gewerk nie. Vertroue is eintlik niks anders as om gerusgestel te wees deur die waarheid nie. ʼn Mens kan dit voorstel met ʼn veiligheidstou wat jou in staat stel om jou doel veilig te bereik.
Daar is tans ʼn geweldige groot wantrouegat in die samelewing en gemeenskap. Dit veroorsaak talle probleme, en die gevolg is dat almal op die een of ander manier daaronder ly. Vertroue moet weer terugkeer in die werkplekke. Dit kan alleen geskied as daar weer verbintenisse aangegaan word wat op beloftes geskoei is. Beloftes gaan oor iets wat jy vir seker vashou, maar dit moet nog eers in die toekoms plaasvind. Die grootste uitdaging in die Afrikaner-gemeenskap tans is dat vertroue wat op allerlei maniere geskend is, weer blywend herstel moet word. Christelike gildes kan ʼn groot bydrae lewer om hierdie gapende wond in die gemeenskap te help genees. As ʼn mens voel jy is op jou eie en niemand help jou met jou roeping nie, lei dit tot moedeloosheid en ontrouheid. ʼn Mens begin naderhand self nie meer so getrou werk nie. Dit bring weer nuwe probleme, en die dam se wal kraak net al hoe meer.
Vertroue in jou werk is ʼn wesenlike eienskap van ʼn Christelike gilde. Betroubare werk kan slegs gedoen word deur mense wat self betroubaar is en vertrou word. Goeie diens, betroubare vakmanskap ensovoorts vloei alles voort uit hoe met die waarheid self omgegaan word. Christene bely dat die Waarheid ʼn persoon is – Jesus Christus self. As ʼn mens in sy diens staan met die gawes en opdragte wat Hy gegee het, dan moet dit ook uit die werkresultate blyk dat die waarheid betrokke is. Vaste en betroubare werk is ʼn voorvereiste vir ʼn groeiende en gesonde gemeenskap. God is aan die werk in ons lewe. Ons lewe moet wys dat God ons laat werk. Dit is ware hervorming van arbeid. Christelike gildes kan ʼn groot bydrae lewer om arbeid in ons gemeenskap te hervorm.