Christelike beginsels vir die waarde van ʼn taal

Soos enige iets in die Skepping kan ʼn mens ʼn taal oorskat of onderskat. Dit is vir Christene belangrik om die waarde van taal, en dan in die besonder die waarde van jou eie taal, reg te verstaan. Binne die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap is dit steeds noodsaaklik om teen twee uiterstes te waak.

Oorskat

As mens jou eie taal oorskat, dan heg jy meer waarde daaraan as wat voor God reg is. Wanneer ʼn taal se waarde oorskat word, dink ʼn mens eintlik jou eie taal is die beste en verdien die meeste aandag. Dit gebeur dikwels dat een taal ʼn ander taal wegdruk en selfs onderdruk. Hierdie taaloorskatting is eintlik niks anders as afgodery en hoogmoed nie. Geen taal het die reg om ten koste van ʼn ander taal te bestaan nie. Dit is ʼn aaklige werklikheid dat sekere tale altyd aspireer om die wêreldtaal te wees of te word. In die globale wêreld is dit tans o.a. Engels, Spaans en Mandaryns wat vir hierdie titel meeding.

Die Afrikaanse taal en sy kultuurgeskiedenis ken die verwonding wanneer daar met ʼn imperiale houding gepoog word om ʼn kleiner taal oorheers of selfs om dit uit te wis. Dit is steeds ʼn besondere verskynsel dat Afrikaans, naas byvoorbeeld Hindi en moderne Hebreeus, daarin kon slaag om binne ʼn  relatief kort tyd en met relatief min getalle as ʼn hoë-orde-taal gevestig te kon word. Om jou taal as ʼn hoë-orde-taal te kan gebruik, beteken dat jy die volle werklikheid wat jy beleef in al sy fasette kan verwoord. Dit vraag bly egter steeds tergend: wanneer waardeer ʼn mens jou eie taal behoorlik en wanneer oorskry jy die grens en begin ander tale verdruk en minder ag, eintlik minag?

Onderskat

Die teenhanger is natuurlik dat ʼn mens jou eie taal se waarde kan onderskat. Die Afrikaanse taalgemeenskap is nie arm aan voorbeelde oor hierdie verskynsel nie. Daar is verskillende motiewe wat agter hierdie onderwaardering skuil. Dit is baie keer ʼn kulturele onverskilligheid, ʼn materiële selfsug wat ter wille van ekonomiese voordeel toegee aan die groter taal se aansprake. Vandag, soos wat ook in die verlede gebeur het, stuur baie Afrikaanse ouers hulle kinders na Engelse skole met die verduideliking dat hulle juis hulle kinders goed voorberei om in die Engelse (ekonomiese) wêreld goed te presteer.

ʼn Mens kry dikwels gewoon ʼn siening van ʼn soort fatalisme of toevalligheid oor taal. Dit beteken dat baie mense dit as bloot toevallig beskou dat ʼn mens binne ʼn sekere kultuur en taal gebore word. Hier kom ʼn blote pragmatisme voor deurdat geargumenteer word dat taal bloot ʼn kommunikasiemiddel is. Die taal wat  in ʼn ekonomiese sin die meeste voordeel bring, word dan gebruik al sou dit tot die verswakking of verdwyning van ʼn sekere taal lei.

Balans

Hoe behoort ʼn Christen die balans te handhaaf? Wanneer moet ʼn mens briek aandraai en wal gooi as taal en kultuur so opgehemel word dat ʼn skeeftrekking uiteindelik die gevolg is? Wanneer moet ʼn mens jou stem dik maak en opstaan sodat jy ʼn taal se regte plek in die Skepping kan beklemtoon?

Hierdie kwessie is allermins ʼn teoretiese argument. Dink maar hoeveel vergaderings word outomaties in Engels gehou as die mees logiese taal vir die omstandighede. Dit is selfs in baie gemeentes wat wil sending doen, die kwessie dat hulle gekonfronteer word met die aanklag dat hulle in die erediens nie meer Afrikaans mag besing nie, aangesien dit selfsugtig is as ʼn mens daarop aandring om ook in jou eie taal te aanbid.

Om die regte balans te vind, behoort ʼn Christen uit die aard van die saak na die Bybel te gaan vir leiding oor die saak. Hier volg ʼn  paar kerngedagtes van wat die Skrif oor taal leer. Hierdie beginsels kan in die debat oor die oor- of onderwaardering van ʼn taal handig te pas kom.

Christelike beginsels oor die waarde van taal.
  1. God skep met taal

Uit die eerste bladsy van die Bybel is dit duidelik dat God deur uitsprake skep. Dit is wesenlik belangrik om die verband en onderskeid in te sien tussen God se Woord en die mens se woord. Die onderskeid is belangrik aangesien die Woord van God, God se skepping-sê, voorrang het bo die mens se woord.  Hier is Joh. 1:1 baie rigtinggewend: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God.” God se Woord kom eerste, daarna volg die mens se woorde. God se Woord maak dit moontlik dat die mens ook woorde kan gebruik.

Die mens se woord staan altyd in verband met die Woord van God. Dit beteken dat die sin van woorde geskep is deur God se uitspraak. Woorde het betekenis en Christene behoort hulle te verset teen die gedagte dat betekenis op ʼn bloot toevallige manier aan woorde geheg word. Dit is juis wat die postmoderne taalteorieë beweer – dat woorde nié self betekenis het nie, maar dat betekenis aan woorde toegeken word. Christene weet dat God eerste praat, dat sy uitsprake gesag het, en dat op grond van wat Hy sê, die mens op aarde die moontlikheid het om ook te kan praat. Maar die mens ken nie betekenis toe aan God se uitsprake nie. Die mens is juis veronderstel om die betekenis van God se uitspraak te herken op grond daarvan te praat.

2. Taal is meer as kommunikasie – dis openbaring

God se Woord is nie maar net kommunikasie nie. God maak Homself bekend deur sy Woord. God se Woord openbaar wie Hy is en wat sy wil is. Sy Woord, sy uitspraak, is ten diepste sy bekendmaking. Dit is die groot fout van al die huidige postmoderne taalteorieë wat beweer dat alle tale eintlik maar net ʼn blote kommunikasiemiddel is. Christene stel dit baie duidelik in enige taaldebat dat die Woord van God en die woord van die mens van mekaar onderskei moet word. God maak Homself bekend deur wat Hy sê. Die mens openbaar ook iets van homself deur te praat. Met ʼn mens se taal orden jy die werklikheid. Jy gee blyke daarvan of jy God se uitspraak verstaan en aanvaar en of jy dit verwerp en teëspreek.

3. Sê en sien

Dit is aangrypend om te besef dat dit wat God sê, dit wil Hy ook sien. Hierdie patroon is baie duidelik in die Skrif raak te sien. ʼn Mens kan net die volgorde nagaan van die werkwoorde wat God in Genesis 1 gebruik om dit raak te sien.

1Gen 1:1God skepברא 
2Gen 1:2Gees van God sweefרחפ 
3Gen 1:3God אמר 
4Gen 1:4God sienראה 
5Gen 1:4God skeiבדל 
6Gen 1:5God noemקרא 
7Gen 1:5God noemקרא 

Al die patrone word nie nou hier bespreek nie, maar twee word uitgelig.

  • God se “sê” staan duidelik in verband met God se “sien”. Hier in Genesis word alreeds profeties gestel dat die Woord van God vlees sal word. Klank en beeld in God se woordeskat hoort bymekaar. Daarom word die Woord van God juis ook die Beeld van die onsienlike God genoem:  “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;  want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” Kol. 1:15-16.
  • God benoem deur name te gee. In Genesis skei God verskeie dinge van mekaar. Hierin is reeds ook die profesie oor wat uit God is en wat nie van God is nie.

4. Gees se voorbereiding vir die Woord

Dit is verder baie opvallend dat die Heilige Gees telkens voorbereidend optree ten opsigte van die Woord se koms. Die Gees wat “sweef” en die Gees wat Maria “oorskadu” is sprekende voorbeeld hiervan. Aangesien hierdie punt nie so ooglopend en bekend is by baie Christene  nie, moet dit bietjie nader omskryf word.

Daar is ʼn Geestelike aspek van die Woord van God. Die hemel en die aarde hoort bymekaar. God se Woord uit die hemel op die aarde het ʼn duidelike band. Die Gees doen voorbereidingswerk sodat die Woord juis op aarde “kan grondvat”.

5. Die aarde vol van heerlikheid

God wil dat die Woord ʼn mens word. Dat die mens op die aarde praat oor die werke van God het juis te doen met die Gees wat in die mens woon en die mens se tong en taal aanraak om God te verheerlik.  Die mens is geskep juis om God se heerlikheid uit te spreek.

Dié beginsel vind ʼn mens reeds in die kultuuropdrag wat God aan die mens gee: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die aarde.” Die mens is veronderstel om reg rondom die aarde te bly en blywend God se heerlike werke bekend te maak.

6. Taal en grond

Hieruit volg ʼn ontsaglik belangrike Bybelse beginsel, naamlik dat die Skrif ʼn verband lê tussen taal en grond.  God beveel die mens om te verdeel en oral oor die aarde te bly. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, dui op ʼn riviermonding of ʼn boom se vertakking.

Die mensdom, bedoel as die boom van die lewe, moet oral oor die aarde vertak. Die belangrike knooppunt hier is dat hierdie vertakking geskied deur taal. In Gen. 10:20 kom hierdie refrein duidelik voor:  “….volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, in hulle nasies.”

Vir Christene is hierdie lyn baie belangrik, naamlik dat die vertakking van die mensdom geskied deur ʼn verskeidenheid van tale (letterlik staan daar “tonge”). Die Skrif is ook duidelik daaroor dat daar nie net slegs persoonlike eiendomsreg bestaan nie, maar dat “volke, tale en nasies” ook grond en “hulle lande” het.

Moderne nasiestate het hierdie beginsel vernietig en slegs persoonlike eiendomsreg na vore gebring. Die Skrif leer egter dat gemeenskappe, volke, deur hulle onderskeie tale, hulle grondgebied begrens.

7. Die Heilige Gees en tale

As ʼn mens die vorige punte goed vashou, begin dit duideliker word wat die Heilige Gees ná Christus se Hemelvaart doen. In Handelinge 2 word die uitstorting van die Heilige Gees beskryf. Daar is tale en volke intiem by betrokke. So staan daar dan ook: “… ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek”. 

Hierdie nuwe ding wat die Heilige Gees doen, kom eintlik vanuit God se oorspronklike bedoeling met die mens. Die mens moet oral oor die aarde verspreid woon. Die hele aarde moet vol wees van die heerlikheid van God. Die mens moet versprei en uitsprei volgens tale. Daarin lê die vertakking van die boom van die lewe, die nuwe mensheid. 

8. Een taal is te min

God se veelkleurige wysheid is te groot, sy heerlikheid in lig is te geskakeerd, dat een mens, een taal, of een geslag dit na behore kan benoem en besing. Die hele mensdom se tonge is daarvoor nodig. God wil dat sy heerlikheid in ʼn verskeidenheid tale besing en groot gemaak word.

Daarvoor gee God plek en genade aan grotes en kleintjies. Daarin skenk God uniekheid. Dit is juis hierin waar die profesie na vore kom dat die konings van die aarde uit die nasies van dié wat in Christus gered word, hulle eer en heerlikheid na die troon van God bring. 

9. Moedertaal en meertaligheid

Die idee van die belangrikheid van moedertaalonderrig en die beginsel van meertaligheid, soos hierbo verduidelik, is dus wesenlik belangrik in enige taaldebat. Om jou kinders te onderrig in jou moedertaal, sodat hulle die groot dade van God in hulle eie taal kan uitsê, is nie hoogmoed nie.

Dit is nederige erkenning van die genade wat God self gegee het. God wil dat ʼn klomp tale sy werke beskryf en besing. Daarom mag een taal ook nie oor ʼn ander taal probeer heers nie. God se guns en genade is groot, juis om aan almal plek te gee.

10. Heilig jou kultuur en taal

As ʼn mens al die vorige punte in ag neem, kom ʼn mens uit by die diep en omvattende idee van kulturele heiliging. As jy jou taal nie oorskat nie, en ewemin onderskat, dat wil jy die regte waarde aan jou taal heg. God se eer is op die spel. Dan weet jy dat God taal skep en mét taal skep. Jy is daarvan bewus dat taal meer is as kommunikasie; dat God se openbaring direk aan taal gebind is. Dan weet jy dat die mens se woord nie God se Woord vervang nie.

Jy weet woorde het betekenis, omdat God se Woord betekenisvol is. Jy weet dat God ʼn bedoeling het met tale, en dat verskeie tale nodig is om die grootsheid van God se werke te beskryf en te prys. Jy weet dat die Heilige Gees deur die mense wat gered is, juis in hulle kultuur, ook dit na vore wil bring dat jou kultuur nie maar toevallig is. Die mens se kultuur is belangrik omdat dit afgesonder word, geheilig word deur God, juis om sy grootheid na vore te bring. Jy weet dat jou kultuur deel van die wêrelderfenis is, omdat dit in Christus deel uitmaak van die nuwe mensdom.

Kulturele heiliging word dan ʼn heerlike plig. Dit vraag is dan kort en kragtig: as Afrikaanse mense ook grond mag hê, wat wil jy met daardie grond maak as jy nie God op daardie grond wil aanbid en dien nie? So is dit duidelik dat die stryd om ware godsdiens en valse godsdiens, afgodery, ook dwarsdeur ʼn gemeenskap se taaldebat loop.

Ons behoort ons taal behoorlik te waardeer.  Ons mag dit nie hoogmoedig hanteer asof dit beter is as enige ander taal nie. Ons mag dit nie minag en verkwis asof dit nikswerd voor God is nie. Ons moet ons taal en kultuur heilig. God se groot dade moet ook in Afrikaans gesê word. God se heerlikheid is gebind aan die veelheid en heiligheid van tale – ook ons taal. Wat sê ons hiervan: wil ons oorleef of wil ons lewe? Laastens, ons as Christene is gered om in Afrika te lewe, om ook in Afrikaans te praat oor die groot dade van God.