Die gelofte wat die Voortrekkers in 1838 gemaak het, is een van die mees betekenisvolle oomblikke in ons geskiedenis. Op daardie dag het hulle belowe om ’n dag aan die Here toe te wy as ‘n rusdag indien Hy hulle die oorwinning oor die Zoeloe-leër sou gee. Hierdie gelofte, wat op 16 Desember herdenk word, is nie net ’n historiese gebeurtenis nie, maar ’n handeling wat diep gewortel is in wat die Bybel leer oor geloftes.
Kom jou geloftes na
Die Bybel gee duidelik riglyne oor geloftes. Deuteronomium 23:21-23 sê: “As jy aan die Here jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die Here jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.” Hieruit leer ons dat geloftes ’n ernstige saak is, iets wat nie ligtelik gemaak of gebreek mag word nie.
Die boek Prediker waarsku verder dat dit beter is om nie ’n gelofte te maak as om een te maak en dit dan nie na te kom nie (Prediker 5:4-5). Dit wys vir ons die heilige aard van ’n gelofte teenoor God. Dit mag nie as ’n strategiese ooreenkoms of pligpleging beskou word nie, maar moet gesien word as ’n daad van diepe afhanklikheid en gehoorsaamheid aan Hom.
Geloftes is nie beloftes nie
Die Bybel onderskei duidelik tussen geloftes wat mense aan God maak en die verbondsbeloftes wat God met Sy volk sluit. Byvoorbeeld, Jakob maak ’n gelofte in Genesis 28:20-22 waarin hy verklaar dat die Here sy God sal wees as die Here hom beskerm en seën. Dit is ’n daad van geloof, maar dit hang van God se voorsiening af.
God se beloftes is altyd standvastig en seker soos 2 Korintiërs 1:20 ons herinner: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” God se verbondsbeloftes aan Abraham, Moses, en Dawid is ewige tekens van Sy getrouheid en onveranderlike liefde. God maak nou nog aan elke gelowige beloftes. Beloftes oorspan selfs geslagte.
Geloftes in Christus
Alhoewel die Boeregelofte dikwels in die lig van volksidentiteit beskou word, moet ons besef dat alle geloftes slegs waarde en betekenis kry in die lig van God se verbondsluiting. Die Here het Homself in genade aan sy kindersverbind deur die verbond, en hierdie selfbinding maak dit vir gelowiges moontlik om geloftes in afhanklikheid aan Hom te maak. Hierdie diepe verbondsverhouding is alleen moontlik deur Christus, die Hoof en Middelaar van die verbond, soos Hebreërs 9:15 verklaar: “En daarom is Hy Middelaar van ’n nuwe testament, sodat ons … die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.”
Christus, as die Hoof van die verbond, is die fondament waarop elke gelofte rus. Sonder Hom sou enige gelofte ’n kortstondige menslike poging wees, maar deur Christus kry dit ewigheidswaarde. Geloftes wat gemaak word, is daarom onlosmaaklik gebind aan Hom wat die vervulling en sekerheid van God se verbond is. In Hom ontvang ons nie net die voorreg om geloftes te maak nie, maar ook die krag en genade om dit na te kom, tot eer van God en tot die opbou van Sy koninkryk.
16 Desember
Die gelofte van onsvolk herinner ons aan die Here se voorsienigheid in die geskiedenis. Dit wys ons die noodsaaklikheid om dankbaar te wees en toegewyd aan God te lewe. Gelowiges vandag, moet erken dat enige belofte wat ons maak, nie ons eie planne of vermoëns kan weerspieël nie, maar volledig gegrond moet wees op die soewereiniteit van Christus en sy heerlikheid.
Die erfenis van 16 Desember is daarom ’n geleentheid om nie net ons volk segeskiedenis te herdenk nie, maar ook te besin oor ons eie band met God. Ons moet daarom soos die gelowiges van vroeër, ons lewens en geloftes voor God bring, en alles doen in gehoorsaamheid aan Christus, tot Sy eer.
Geskryf deur Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)