Die koninkryk van die hemele en die gesindheid van geestelike armoede

Lees Matteus 5:1-12 en Psalm 34

Fokus: Matteus 5:3 en Psalm 34:18

Die koninkryk van die hemele kan alleen in ontvangs geneem word deur hulle wat arm van gees is. So leer Jesus in ons Skrifgedeelte. Hy is daarin besig met sy dissipels, die eerste leerlinge van sy koninkryk. Hy het hulle pas geroep. Hulle het sy volgelinge geword. In ons Skrifgedeelte leer Hy hulle aangaande die koninkryk. Ons sou eintlik kon sê ons hoor die grondwet van Christus se koninkryk.

Christus begin hierdie preek, sy bergrede, met die Saligsprekinge. Dit is ’n beskrywing van die burgers van God se koninkryk. Hierdie saligsprekinge as geheel wys vir ons iets van die ware kinders van God, die burgers van sy ryk, se karakter. Daarin word die kinders van God duidelik van die wêreld onderskei. Die eienskappe wat Jesus hier lys is almal waar van elke ware kind van God. Niemand sou dus byvoorbeeld kon sê: “Al is ek nou nie ’n vredemaker nie, is ek darem een wat treur”. In ’n mindere of meerdere mate is al hierdie dinge van die koninkryksburgers waar. Dit is ook sake waarin die kinders van God deur die werking van die Heilige Gees groei.

Christus begin dan deur te sê: Salig is die wat arm van gees is. Die woordjie wat deurlopend in hierdie gedeelte gebruik word om die burgers van die koninkryk te beskryf is “salig”. Dit sou ook vertaal kon word met “geseënd”. Iemand wat geseënd is leef in die Here se persoonlike liefdevolle teenwoordigheid. Ons sou kon sê hulle leef ’n lewe wat die Here heel maak. In die bewoording van die Ou Testament leef hul in die lig van God se aangesig.

Maar, dan volg die onverwagse woorde: “die wat arm van gees is”. Dit klink eintlik asof dit nie pas nie. Hoe kan seën en enige armoedigheid op een lyn gestel word? Dit sou inderdaad die skare wat hierdie woorde van Jesus gehoor het geskok het. Hulle het immers baie anders gedink oor die mense wat die koninkryk van die hemele sal erf. Hulle sou destyds gedink het dat diegene wat uitblink in hul wetsgehoorsaamheid en hulle belydenis van die Here as die enigste God hou die burgers van die koninkryk is.

Hulle wat in eie krag die juk van die wet kon dra. So het die Fariseërs en die Skrifgeleerdes hulle immers geleer. Maar nou sê Christus dat die burgers van sy ryk se eerste eienskap is dat hulle “arm van gees” is. Dit beteken nie dat hulle noodwendig materieël arm moet wees nie. In die Bybel sê die begrip “arm” eintlik meer.

Die “armes” was diegene wat deur die tugtigende en besoekende hand van die Here hulle ware kleinheid voor Hom besef het. Daarom voeg Matteus ook by dat hulle arm “van gees” is. Dit gaan hier eintlik oor hulle gesindheid of ingesteldheid. Hulle is geestelike bedelaars. Hulle weet dat hulle in hulleself behoeftig en afhanklik is. Die Here het hulle deur sy bestuur en deur die werk van sy Gees gelei om hulle eie hulpeloosheid te besef. Hulle het hulle eie gebrokenheid raakgesien. Hulle het gesien hoe klein hulle is. Hulle het gesien hoe sondig hulle is. Hulle ken hulle eie ellende. Die indruk van gebrokenheid in hulle omstandighede, maar eerstens die gebrokenheid in hulleself dryf hulle na die Here toe. Hulle kyk na Hom op vir hulp. Hul hartsbelydenis is as’t ware: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat die hemel en die aarde gemaak het”. Hulle soek hulp buite hulleself by die Here van die leërskare. Hulle soek ook hulle redding en saligheid buite hulleself in Christus. Hulle het ’n gesindheid wat sê: “Ek is leeg in myself. Ek het Christus nodig om my in sy genade vol te maak”. Ek het sy offer nodig om my skuld voor die Vader weg te neem. Ek moet deel hê aan sy opstanding om in ewigheid vry van die dood en ellende te leef. Dit is die gesindheid van hulle wat die koninkryk van die hemele in ontvangs sal neem. Mag dit deur die werk van die Heilige Gees ook ons as Afrikaners se gesindheid wees. Mag dit so wees dat ons nie vertrou op ons verlede, op onsself, of op enige iets of iemand anders as Christus self nie!

Theuns de Bruyn (Medewerker van Begrond)

Foto: RDNE Stock project deur Pexels