Die noodsaak van ‘n Afrikaner-Republiek

Suid-Afrika verkeer tans in ’n diepgaande krisis. Ons het die laaste jaar of wat te make met die Nasionale gesondheidswetgewing, die wysiging van basiese onderwyswette (Bela), en nou meer onlangs die Onteieningswet sonder vergoeding. Dit is die laaste wet wat internasionale nuus gemaak het en selfs die Amerikaanse president betrokke gekry het. 

Maar buite die onlangse drakoniese wetgewings, en ongeag die ander meer as 140 rassediskriminasie wetgewings (https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201903/national-action-plan.pdf). Het die land nie net uitdagings op ’n politieke en ekonomiese vlak nie, maar veral op ’n kulturele en waarde-georiënteerde vlak.

Die verskeidenheid van volke, tale, en kulture wat binne hierdie SA grense bestaan, het daartoe gelei dat die land nie ’n duidelike en samehangende nasionale identiteit het nie. Nou al ‘n hele entjie by die pad af sien ons die reënboog idee werk nie so goed nie. Inteendeel, Suid-Afrika is ’n land waar volke met verskillende historiese agtergronde en waardestelsels in ’n konstante stryd verkeer oor wie se erfenis, waardes en taal die vernaamste plek behoort in te neem. Hierdie fundamentele verskille maak dit byna onmoontlik om ’n gesentraliseerde regeringstelsel te handhaaf wat vir almal regverdig en effektief is.

Daarom is daar ’n groeiende besef onder Afrikaners dat selfbeskikking nie net ’n ideaal is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir die oorlewing van hulle kultuur, taal en geloof. Wanneer ons nader na die Suid-Afrikaanse wetgewing kyk, sien ons in artikel 235 oor selfbeskikking (https://www.gov.za/documents/constitution/constitution-republic-south-africa-1996-chapter-14-general-provisions-07-feb). Wanneer ons praat oor selfbeskikking kan ons nie daarvan los maak die noodsaaklikheid van eie-arbeid nie. Om oor jouself te kan beskik beteken eenvoudig dat jy jou eie arbeid moet doen. As jy nie deur vreemdes regeer wil word nie, moet jy nie toelaat dat vreemdes vir jou werk nie.

Die verdeelde Nasie-Staat

Suid-Afrika word gekenmerk deur ’n reeks diepgaande probleme wat voortspruit uit die verskeidenheid van volke en hulle onderskeie waardestelsels. Hierdie probleme sluit in as ons hulle kortliks stel:

  • Die taal probleem

Hoewel Suid-Afrika amptelik elf tale erken, word Engels de facto as die hooftaal van regering, onderwys en besigheid gebruik. Wat het die bekende Afrikaanse taalstryder geskryf?

Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor

Dit beteken dat Afrikaanse instellings en kulturele uitdrukkings toenemend minder word. Hierdie neiging word verder versterk deur die feit dat skole en universiteite Afrikaans afskaf as medium van onderrig, wat tot die ontworteling van Afrikaners se akademiese en intellektuele nalatenskap lei.

  • Wie se waardes word gekoester?

Die Suid-Afrikaanse regering dryf ’n sekulêre en liberaal-demokratiese agenda wat in skrille kontras is met die Christelik-konserwatiewe waardes wat die Afrikaner aangeneem het. Aspekte soos regstellende aksie, transformasie, en ’n morele revolusie rondom geslagsideologieë en gesinswaardes bots met die tradisionele Afrikaanse wêreldbeskouing.

Die Afrikaner waarde stelsel wat oor die algemeen, soos ons sien op Orania staan teen onregverdigheid, onbillike lone, vreemde-goedkoop arbeid, aborsie, prostitusie, kinders as eiendom van die staat ens. Die liberale ideologie wat tans domineer in Suid-Afrika, dryf Afrikaners en ander konserwatiewe gemeenskappe verder na die kantlyn.

  • Wie se kultuur word bevorder?

Suid-Afrika se amptelike narratief het dit duidelik gemaak dat Westerse en Europese invloede as “koloniaal” en “onderdrukkend” beskou word. Dit het gelei tot die verwerping en soms selfs vernietiging van Afrikaner-monumente, geskiedenis en erfenis. Terselfdertyd word sekere kulture bo ander geag, wat verdere verdeeldheid en antagonisme skep. Want dit gaan in Suid-Afrika nie om die baie kulture nie. Dit gaan oor die een kultuur wat bevorder word.

Verder sien ons dan die onverdraagsaamheid van die reënboognasie idee. Die valse beeld wat voorgehou word, is hoe almal ingesluit word en almal kan saam leef. Maar in realiteit is dit nie waar vir die Afrikaners nie. Hy moet opoffer terwyl alles wat in stryd is met ons leefwyse floreer.

  • Wie se geskiedenis word onthou?

Die herskryf van geskiedenis het beteken dat Afrikaner- en Boere-geskiedenis grootliks uitgevee of verdraai word om in die heersende politieke narratief in te pas. Standbeelde en monumente word afgebreek, skole en strate se name verander, en Afrikaner-geskiedenis word as ’n blote voetnota behandel.

  • Wie se regering word gevolg?

Demografie is die bepalende faktor in enige demokrasie, en die Suid-Afrikaanse politieke bestel is grotendeels gebaseer op meerderheidstem. Dit beteken dat ’n bepaalde volk of kultuurgroep, ongeag hoe hulle belange bots met die meerderheid sin, altyd die mindere gaan wees in die politieke stryd. Hierdie werklikheid is duidelik sigbaar in hoe Afrikaners vandag onder ’n regering staan wat blatant vyandig is en die waardestelsel van die Afrikaner glad nie verteenwoordig nie.

2. Die oplossing

  1. ’n Republiek waar Afrikaans nie net bewaar word nie, maar groei

Die vestiging van ’n Afrikaner-Republiek sou beteken dat Afrikaans as die amptelike taal van regering, onderwys en ekonomie erken en ontwikkel word. Dit sal verseker dat toekomstige geslagte Afrikaners in hul moedertaal kan studeer, werk en bestuur, sonder vrees vir gedwonge assimilasie.

  • ’n Gemeenskap gegrond op Christelike waardes

’n Afrikaner-Republiek sal nie net ’n plek wees waar mense Afrikaans praat nie, maar ook waar die Afrikaners die vryheid het om die Christelike geloof sentraal te laat staan tot die regering, regstelsel en opvoeding. Dit beteken ’n samelewing gebou op Bybelse beginsels, eerder as op die relativistiese en sekulêre norme wat tans Suid-Afrika oorheers.

  • Die bewaring van Afrikaner-erfenis

’n Eie republiek sal beteken dat Afrikaner-geskiedenis, erfenis en kulturele uitdrukkings aktief beskerm en bevorder word, in plaas daarvan om as iets van die verlede afgemaak te word. Monumente, museums en akademiese instellings sal ’n sentrale rol speel in die oordra van die Afrikaner-identiteit aan toekomstige geslagte.

  • ’n Onafhanklike, selfonderhoudende eskonomie

’n Afrikaner-Republiek hoef nie ’n isolasionistiese staat te wees nie, maar eerder ’n volhoubare gemeenskap wat ekonomiese bande met sy buurlande en ander onafhanklike volkstate bou. Dit sluit in samewerking op gebiede soos landbou, vervaardiging en tegnologie.

  • ’n Model vir ander volkere in Suid-Afrika

Die idee van selfbeskikking behoort nie net tot Afrikaners nie. Die sukses van ’n Afrikaner-Republiek kan as ’n voorbeeld dien vir ander volke in Suid-Afrika wat dieselfde strewe het—of dit nou Zoeloes, Xhosas, of ander groepe is wat hul eie outonome gebiede wil hê. Orania se filosofie is juis gebaseer op hierdie beginsel: dat elke volk die reg het om sy eie toekoms te bepaal. Nie net is die Orania se filosofie nie – maar dit is Orania se begeerte vir elke ander volksgroep.

3. Die realistiese weg vorentoe

Die strewe na ’n Afrikaner-Republiek is nie ’n blote idealisme nie, maar ’n projek wat reeds in wording is. Orania is ’n voorbeeld van hoe ’n selfstandige Afrikaner-gemeenskap suksesvol gevestig kan word sonder inmenging van die staat. Die vraag is nou hoe hierdie dorp uitgebrei kan word sodat dit werklik as ’n republiek kan funksioneer.

Hoe kan dit gebeur?

  1. Ekonomiese selfstandigheid: Die ontwikkeling van plaaslike nywerhede, tegnologie, en ’n volhoubare ekonomiese model moet prioriteit geniet.
  2. Demografiese groei: Afrikaners moet die geleentheid kry om na hierdie gebied te trek en deel te word van die gemeenskap.
  3. Politiese strategie: Die internasionale reg en die idee van volkereg moet benut word om erkenning vir selfbeskikking te kry.
  4. Gemeenskapsontwikkeling: Onderwys, infrastruktuur en gesondheid moet in die gemeenskap self bestuur word.

Gevolgtrekking

Die hedendaagse Suid-Afrika is eenvoudig te divers en verdeeld om as ’n eenheidsstaat te funksioneer. In plaas daarvan om in ’n oneindige stryd met die huidige stelsel te bly, behoort Afrikaners eerder ’n realistiese en volhoubare toekoms te bou deur middel van selfbeskikking en onafhanklikheid. ’n Afrikaner-Republiek met ‘n eie taal, geloof, erfenis, eie-arbeid en selfbeskikking, is nie net wenslik nie, maar noodsaaklik vir die voortbestaan van die Afrikaner as ’n vrye volk. Maar vir dit om te kan gebeur is nie die werk van enkelinge in die Karoo son nie. Die begeerte vir ‘n Afrikaner-Republiek moet die Afrikaner se begeerte wees.

Foto: Oranje Vrystaat Volksraad