Eerder norme as vorms

Wanneer ons die Bybel nader, kan ons ’n groot verskeidenheid vrae vra. Die belangrikste wat ons van die Bybel kan weet is hoe ons God ken en hoe ons die Here moet verheerlik in die verlossing wat daar vir ons belowe is deur die Here Jesus Christus. ’n Tweede saak wat ons kan weet is wat is die mens, met ander woorde, hoe het die Here ons geskep? Wat het met ons gebeur dat ons nou in sonde lewe en hoe werk die Here se verlossingswerk in elke lewensterrein van die mens in.

Wanneer ons spesifiek kyk hoe die Bybel ons lei en wil leer oor die owerheid moet ons begin deur te weet dat die Bybel is nie ’n boek vol voorgeskrewe regeringsvorme nie, maar eerder ’n boek vol norme. Dit wil sê ons vind norme en beginsels wat rigting gee aan hoe die owerheid in lyn met God se wil moet funksioneer.

Dit beteken dat ons nie in die Bybel ’n spesifieke regeringsvorm soos demokrasie, monargie of aristokrasie vind wat as die enigste stelsel voorgeskryf word nie. Wat ons wel vind, is norme en beginsels wat ’n regverdige, Godvresende regering behoort te kenmerk. Hierdie beginsels geld deur alle tye en kulturele omstandighede heen en bied ’n raamwerk waardeur ons regering en owerheid kan beoordeel.

In ons Afrikaner konteks, en met die lesse vanuit die geskiedenis, is die voorkeur owerheid vir die Afrikaner ‘n republiek of met ander woorde – Die Republiek van Orania. Die rede daarvoor is omdat die Afrikaner baie slegte ervarings in die geskiedenis beleef het met verskeie ander owerheidstipes. Dink byvoorbeeld vinnig aan die Britse monargie. Buiten dat die monargale stelsel ’n afsku vir Afrikaners was omdat dit die vryheid van die volk weg geneem het, was die monargie ’n sentralistiese stelsel soos Suid-Afrika se regering vandag is. Die probleem met sentralisme is dat dit eers as sleg beskou word deur die meerderheid wanneer die staat oneffektief raak om alles sentraal te beheer.

So die Afrikaner hou nie van ’n monargie nie en in hierdie laaste tyd het die Afrikaner geleer dat die sentrale staat van die NP regering wat oorgegaan het na die ANC regering eintlik nie reg is nie, en bo dit ook nog oneffektief.

Daarom dat ons vandag pleit vir ’n republiek. Ons pleit is eerstens aan Afrikaners wat vashou hou aan die reënboog nasiestaat idee, en dan tweedens aan elke ander volksgroep. Ons bepleit ’n republiek vir die Afrikaner maar daarmee saam is die pleit ook ’n begeerte dat ander volke dieselfde strewe sal hê.

Genesis 1:26-28

Die eerste beginsel van owerheid word reeds in Genesis 1:26-28 gevind. God skep die mens na Sy beeld en gee aan hom die opdrag om oor die aarde te heers, dit te vul en dit te onderhou. Hierdie opdrag staan dikwels bekend as die kultuur opdrag en dui daarop dat heerskappy en regering nie ’n menslike uitvindsel is na die sondeval nie, maar ’n Goddelike instelling. By dit moet ons die woord kultuur baie mooi verstaan in die benaming van ‘kultuur opdrag’ – dit beteken wat die mens maak wat die Here aan hom toevertrou het. Daarom dat ons die vryheid in die Here se skepping ontvang en ook in sy Woord in hoe ons byvoorbeeld ’n owerheid saamstel, of die ekonomie saamstel of selfs onsself uitdruk in kuns. Ons het vryheid in hoe dit lyk en gestruktureer word. Daar is vryheid daarin solank dit altyd gebonde en in gehoorsaamheid is aan die Here se Woord. Met ander woorde, ons kan die vorm bepaal solank as wat dit gehoorsaam is aan die Here se norme. Die owerheid behoort dus in diens van hierdie skeppingsopdrag te wees – om ’n gemeenskap te bevorder waarin mense volgens God se ordening floreer.

Die implikasie hiervan is dat die owerheid nie net daar is om wette af te dwing nie, maar ook om ’n omgewing te skep waar die skepping kan floreer en mense volgens God se bedoeling kan lewe. Hier moet die punt beklemtoon word tussen oorleef en leef. Burgers van ’n land onder ’n owerheid moet nie oorleef nie, maar hulle moet lewe – dit is die skeppingsorde van die Here. ’n Regverdige owerheid moet daarom ’n beskermende en voorsienende rol speel, wat geregtigheid, orde en die algemene welsyn bevorder.

Die koning onder God se wet

In Deuteronomium 17:14-20 gee God spesifieke riglyne vir ’n koning wat oor Israel sou regeer. Hier sien ons ’n duidelike beginsel: ’n owerheid moet onder God se wet staan. Die koning moes nie op sy eie mag en rykdom staatmaak nie, maar moes die wet van die Here bestudeer, daarvolgens regeer en getrou bly aan God se verbond. ’n Owerheid wat nie ’n diennaar van God is nie, is dus ongehoorsaam aan dit wat die Here beveel. 

Daar is drie belangrike norme vir regering in hierdie teks:

  1. Die regering moet deur God aangewys wees – Die koning mag nie ’n selfaangestelde despoot wees nie, maar moet as ’n instrument van God se wil dien.
  2. Die regering moet onderworpe wees aan die Woord van God – Die koning moes ’n afskrif van die wet hê en dit daagliks lees sodat hy volgens God se voorskrifte regeer.
  3. Die regering moet nie korrup of selfgesentreerd wees nie – Die koning moes nie mag, rykdom en militêre krag ophoop nie, want sy rol was om die volk te dien in nederigheid en geregtigheid.

Ons kan eintlik die hele gedeelte saamvat met die gedagte dat die koning, of anders gestel, die owerheid die gesag van die Here bedien, omdat hulle ’n diennaar van die Here is.

Die toepassing hiervan op moderne owerhede is duidelik: ’n regverdige owerheid behoort nie buite morele beperkinge te werk nie. Dit moet onder gesag van hoër norme funksioneer, en leiers moet dienende gesindhede hê eerder as om selfverrykend te wees.

Die owerheid as God se dienskneg

In Romeine 13:1-7 leer Paulus dat die owerheid ’n dienskneg van God is. Hy gebruik die Griekse woorde diakonos (bedienaar) en leitourgos (liturgiese dienaar), wat aandui dat die owerheid nie net ’n burgerlike instelling is nie, maar ’n instrument van God se regverdige orde.

Volgens hierdie teks het die owerheid twee primêre take:

  1. ’n Burgerlike funksie in die bediening van die Here se gesag – Die owerheid is geroep om reg en geregtigheid te bevorder, wet en orde te handhaaf en die bose te straf deur die swaard te dra.
  2. ’n Liturgiese handeling as werklike dienaar van God – Dit beteken dat die owerheid nie net ’n burgerlike instelling is nie, maar aktief moet meewerk aan die handhawing van die Here se orde, insluitend die beskerming van die kerk en die preekstoel teen aanvalle en verdorwenheid.

Die implikasie hiervan is dat ’n owerheid nie onafhanklik van God se wil kan funksioneer nie. Wanneer ’n owerheid sy rol misbruik deur korrupsie, onreg of tirannie, is dit nie meer ’n getroue dienskneg van God nie, maar ’n rebel teen Sy gesag. So ’n owerheid het homself dan vergryp aan God se gesag en bedien dit nie meer nie.

Dit beteken egter nie dat Christene sommer net ongehoorsaam aan die owerheid moet wees in alle opsigte nie—maar dit beteken dat ’n owerheid wat reg en geregtigheid minag, sy gesag van God vervreem. Daar is bepaalde Bybelse stappe wat geneem kan word teenoor owerhede wat hulself vergryp aan God se gesag en tiranne word. Die Bybel leer dat die volk van God het reg om hulleself te verset teen enige tiranne.

Die regte vertrekpunt

As ons begryp dat die owerheid deur God ingestel is vóór die sondeval—soos gesien in Adam se gesag oor die skepping (Gen. 1:28) en die ordening van menslike samelewing—dan verstaan ons dat die staat nie net ‘n noodsaaklike rem teen sonde is nie, maar ‘n dienskneg van God vir die goeie (Rom. 13:4).

Dit beteken dat die owerheid, in sy burgerlike pligte, geregtigheid moet handhaaf volgens God se wet en in sy liturgiese erkenning die eer van God moet soek, soos Dawid en ander vroom konings gedoen het.

As ons egter die owerheid slegs as ‘n ná-sondeval instelling sien, dan verval ons in ‘n negatiewe beskouing van die staat as bloot ‘n noodsaaklike euwel, ‘n blote magsmeganisme om chaos te verhoed, eerder as ‘n Godgegewe instrument om sy regverdige ordening in die wêreld te weerspieël.

Gevolgtrekking:

Die Bybel gee nie ’n presiese regeringsvorm voor nie, maar wel duidelike norme vir hoe die owerheid moet funksioneer:

  1. Dit is nie ’n blote menslike kontrak nie, maar deel van God se skeppingsordening.
  2. Owerhede moet morele verantwoordbaarheid hê en mag nie absolute mag uitoefen nie.
  3. Die rol van owerhede is nie om selfverrykend te wees nie, maar om die gemeenskap te dien.
  4. Die owerheid is ’n dienaar van God wat moet help om ’n gemeenskap te skep waarin mense God kan dien en floreer met ander woorde, die owerheid moet die preekstoel beskerm.

Wanneer enige owerheid hierdie beginsels ignoreer, raak dit nie net onregverdig nie, maar vervreem dit homself van sy Godgegewe roeping. Dit is dus die verantwoordelikheid van owerhede en leiers om hulleself te meet aan hierdie Bybelse norme en van gelowiges om aan te dring op Godvresende leierskap wat Sy geregtigheid handhaaf.

Foto: Die Volksraad