‘n Stukkende gemeenskap is dikwels die gevolg van ʼn stukkende band met God. Die afgelope paar dekades het die Afrikaanse gemeenskap gesteier onder verskeie traumatiese gebeure en toestande. ʼn Mens sou inderdaad van ʼn getraumatiseerde gemeenskap kan praat. Dié feit is ongelukkig nie aldag vir almal so sigbaar nie.
Die rede daarvoor is dat ʼn mens ongelukkig aan trauma gewoond kan raak en dat dit naderhand jou normaalkurwe word. Hoe ʼn mens die trauma verwerk en vermy, en hoe die trauma ʼn gemeenskap permanent beïnvloed en skend, word mettertyd deel van die alledaagse bestaan en kultuur. ʼn Gemeenskap wat gesond wil lewe moet weer rekenskap kan gee van wat normaal is.
Watter maatstaf moet Christene hê om hulle gemeenskap te help normaliseer? Die antwoord lê opgesluit in die geheim van gesamentlike hoop. Ons lig drie sake hieroor kortliks uit.
- Hoop vir die toekoms as geskenk
Christene het altyd hoop vir die toekoms. Die rede is nie omdat Christene minder probleme en beproewings het as ander mense nie. Inteendeel, soms lyk dit asof Christene selfs swaarder kry as ander (vgl. Ps. 73:12-14). Christene het altyd hoop omdat Jesus Christus opgestaan het uit die dood. Die toekoms is nie maar net iets wat met ons gebeur nie.
Die toekoms is vir ons as Christene ʼn geskenk wat na ons toe kom. God gee aan ons die belofte van lewe, ʼn lewe selfs na die dood. Die oop graf van Jesus Christus verkondig aan ons dat God se goedheid elke môre vir ons nuut is. Al word ons diep beproef en bedroef, al wil ons soms moed en hoop verloor, kan ons telkens moed skep deur wie Jesus Christus is en wat Hy deur die Heilige Gees in ons doen.
God gee deur hierdie hoop vir die toekoms aan ons ʼn onblusbare troos. So sê Paulus ook in 2 Kor. 1:3-5: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons dié wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus.”
2. Die geheim van gesamentlike geloof
Hierdie lewende hoop in ons het ʼn wonderlike effek as dit gedeel word; trouens, dit is juis bedoel om gedeel en uitgedeel te word. Die groot geheim wat God deur sy kinders se lewens bekend maak, is juis dat Christus in hulle lewe, en dat hierdie feit hulle onblusbare hoop gee. Hierdie hoop is saamgevat in die woorde: Christus onder ons. So leer Paulus dit in Kol. 1:26-27 “…naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.”
Hierdie geheim word juis in ʼn gemeenskap bekend gestel as daar gesamentlike geloof is. Die gemeentes moet die gemeenskappe leer hoe dit lyk en wat dit alles behels as mense saam glo, wat beteken dat Christus onder hulle lewe en dat hulle ʼn heerlike toekoms het wat nader kom na hulle toe. So kom daar weer bemoediging en krag terug in ʼn gemeenskap. Genesing geskied een vir een, maar is nooit beperk net tot een mens alleen nie. Om saam te glo, is om saam moed te skep in die feit dat Christus onder ons lewe. “…dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my.” Rom. 1:12.
3. Hoop verbreek wanhoop
Wanneer Christene só die gemeenskaplike geloof deel en meedeel met ander, werk die krag van God op wonderbaarlike maniere. So begin gemeenskappe dan ook genees. Genesing vir die Afrikaanse gemeenskappe sal onder andere die volgende beteken:
- Geen slagoffermentaliteit nie
Een effek van trauma wat verwoestende gevolge vir ʼn individu en ʼn gemeenskap inhou, is ʼn sindroom wat genoem word “die slagoffermentaliteit”. Dit beteken kortliks dat iemand dink hy of sy verdien ʼn sekere behandeling en het moed opgegee om self enige oplossing of uitkoms te soek. Die persoon se identiteit word naderhand gekenmerk deur die wond in hulle psige. ʼn Geskende en stukkende gemeenskap wat hulleself slegs as slagoffers sien (van geweld, diskriminasie, armoede ens.) doen naderhand niks aan hulle situasie nie.
Die geheim van Christus, ons hoop wat ʼn toekoms aan ons skenk, deurbreek hierdie slagoffer- mentaliteit. Nooit mag ons oorgee of opgee dat ons gedoem is tot ʼn bepaalde toestand nie. Dit sal juis die opstandingskrag van God se Seun in ons gemeenskapslewe ontken. Planne en bemoediging moet voortvloei vanuit ʼn gesamentlike geloof oor die toekoms. Een ding wat spreek van ʼn hoop op die toekoms is onderwys en opleiding. Die spreuk bly waar: “Wys my wat jy jou kind leer en ek sê jou wat jy oor die toekoms glo.”
Christus alleen was die slagoffer (Heb. 10:2). ʼn Gemeenskap wat permanent op ʼn slagofferstatus hamer en konsentreer, verdring die unieke plek van God. Hy alleen het die offer gebring, Hy alleen is verwerp en gebreek. Hy het egter opgestaan en sit nou aan die regterhand van die Vader. ʼn Geheiligde kultuurgemeenskap gaan in geloof gebalanseerd óm met die begrip “offer”. Ons lyding is geen eie offer nie, maar deelname aan Christus se groot en enigste offer. Slegs in Christus kan ons ʼn blywende slagofferstatus vermy en verbreek.
- Geen geprivatiseerde godsdiens
Godsdiens is ʼn saak van die gewete, maar dit is geen geprivatiseerde saak nie. Ongelukkig het die gemeenskaplike aspek van saam glo en saam hoop – ook vir ʼn gemeenskap – die afgelope tyd op die agtervoet gekom. Geloof in God is persoonlik maar nie individualisties nie. Dit beteken dat om die Here saam te aanbid en te dien – ook as kultuurgemeenskap – nie maar net op ʼn persoonlike vlak gedoen behoort te word nie.
Daar is ongelukkig tans twee sake wat nie goed onderskei word nie. Ten eerste is daar ʼn onderskeid tussen samelewing (“society”, in Duits Gesellshaft) en gemeenskap (“community”, in Duits Gemeinschaft) en dit lei tot ʼn verdere verwarring en verdringing tussen gemeente en gemeenskap. ʼn Gemeente, as gemeenskap van die heiliges van God, is self dus ʼn gemeenskap, maar is ook deel van ʼn breër gemeenskap. Kortliks het hierdie twee verwarrende begrippe ondergeploeg geraak, met die gevolg dat die gemeentes (kerke) nie altyd hulle profetiese rol teenoor die volke goed vertolk nie.
Die Christene is die nuwe mensdom van God, daarom moet die gemeentes juis profeteer en uitwys en aanwys hoe ʼn geheiligde kultuurgemeenskap lyk waar God in gesamentlike geloof gedien word. Geprivatiseerde godsdiens doen baie skade, nie net in die gemeentes nie, maar ook in die gemeenskappe waarbinne hulle is. God se werke is ʼn eenheid, en daar is plek vir individue en die gemeenskaplike.
Om in hoop te lewe beteken om uit te sien, as eie persoon en binne al die verbande soos God dit wil, na die heerlikheid van God waarin ons sal wandel – dit sluit ook ʼn geheiligde kultuurlewe in, en is baie meer as my eie persoonlike geloof, en dit sluit ʼn geprivatiseerde dien-van-God heeltemal uit: “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van dié wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.” (Open. 21:23-24).
- Darem nie….
Deel van ons trauma as gemeenskappe is dat ons dikwels afskaal en rasionaliseer. ʼn Oorbekende voorbeeld is die volgende: wanneer ons geroof en besteel is, sal ons dikwels vir mekaar sê dat dit darem nie lewensverlies was nie. ʼn Mens verstaan hoekom ons dit sê, want ons probeer die trauma hanteerbaar maak, maar eintlik verklein ons God se bevele en beloftes. Ons normaliseer dan byvoorbeeld roof as ons alledaagse belewenis terwyl ons dankbaar probeer bly oor ons lewe wat ons darem nog oor het.
So mag ons as gemeenskap nie met God se guns en genesing omgaan nie. Ons moet dus as ʼn kollektiewe gemeenskap trauma-hantering van stapel stuur, wat die abnormale nié normaliseer nie. Dit sal ʼn omvattende en volhoubare projek moet wees, maar anders gaan ons as gemeenskap nie kan begin genees nie. God se genesing is ook vir gemeenskappe bedoel.
God genees
Dit is juis die aangrypende van die genesing van God. Die Hebreeuse woord [râphâh] wat die meeste hiervoor gebruik word, dui ook op wonde van nasies wat genees wanneer herstelde guns voor God gemeenskaplik ervaar word. Die ware nuwe mensdom van God is nie maar net ʼn klomp kultuurlosse en kultuurlose individue nie.
Die hoop van Christus onder ons is juis ook bedoel dat God se heerlikheid tot die genesing van die nasies – as nasies – deurdring. So profeteer Esegiël en Johannes dit: “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan—uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.” (Eseg. 47:12),
en in Openbaring 22:1-2: “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.”