God en die volke

God en die volke

Ons het so geoefend geraak om net “ek” te sê dat ons omtrent alles daardeur tregter. Die idee dat ʼn mens alles aan jouself wil meet, kom al ʼn hele rukkie met ons saam. Dit was veral ná die Tweede Wêreldoorlog dat ekstreme indiwidualisme hand oor hand toegeneem het. In die 80-gerjare van die vorige eeu het die inligtingsrewolusie met al sy tegniese innovering boonop allerhande nuwe moontlikhede vir die individu oopgesluit. Die gebruik van die persoonlike rekenaar, asook die vloei en sif van inligting – wat op die indiwidu se belange spesifiek teiken – is tot ʼn groot kuns en wetenskap verfyn.

Geprivatiseerde waarheid

Saam met die postmodernisme het ʼn nuwe fase in die mensdom se lewe aangebreek: die subjektiewe waarheid as maatstaf vir enige menslike optrede en die privatisering van godsdiens. Dit het uiteraard ook sy merk op die teologie en kerklike lewe gelaat. Baie kerke het eintlik al hoe meer na binne gerig begin lewe, en die kerke wat nog enigsins aan die “buite-wêreld” wou aandag skenk, het dit op so ʼn politiek korrekte manier begin doen dat groot dele van wat as wesenlik evangelies is, begin vervaag het. Dikwels lyk die kerke se uitreik-agenda meer soos ʼn wêreldse omgewingspolitieke agenda wat met toepaslike Bybelversies versier– ʼn mens kan selfs sê “versuur” – is.

In die Afrikaanse wêreld het hierdie tendens ook na vore getree, maar met ekstra beklemtonings as gevolg van die verdwyning van apartheid en die opkoms van ʼn nuwe soort Suid-Afrikaanse sosiale kontrak waarvolgens burgers as enkeles gestel word as die somtotaal wat ʼn Suid-Afrikaanse nasie saamstel. Die idee van ʼn sosiale kontrak het die waarheid van die verbond van God met die volke verdring.

Nasie staat

Nasiebou en Suid-Afrika as territoriale nasiestaat is ná apartheid as ideaal voorgehou en is kerklik vertaal dat “die nasiestaat” die wettige owerheid[1] vanaf God oor alles verteenwoordig en volgens Romeine 13 (altans volgens baie Afrikaanse teoloë se huidige verstaan daarvan) voor die voet gehoorsaam moet word. Dit skreiendste voorbeelde hiervan is die sluiting van die eredienste en nagmaalstafels in die Covid-19-tyd – selfs toe dit nie meer om gesondheidsredes gegaan het nie, maar om die blote brute mag van ʼn nasiestaat wat sy burgers se lewe in alle besonderhede wil reguleer. Die vergrype van die magshonger nasiestaat is die eenkant van die munt, maar die gebrek om ʼn geloofwaardige alternatief te bied is die anderkant. Hierin het die Afrikaanse kerke lelik gefaal en het hulle stilswye opgegaan as ideologiese meelopery. In die huidige Suid Afrikaanse nasiestaat kom baie meer vergrype voor – ook teenoor tale en kulture. Het die Bybel enigsins iets daaroor te sê en hoe behoort Bybels oor “God en die volke” gedink word?

Wat het in die slag gebly?

Hierdie ietwat langer inleiding dek die tafel vir die vraag: Wat leer die Bybel ons oor God en die volke? Wat nou volg, gaan kortliks die breë lyne skets wat die Skrif se deurlopende lyn oor die temas is. Die artikel sluit dan af met ʼn vraag oor die huidige stand van sake op die Afrikaanse geestelike terrein en oor die dieper vraag na ʼn gesamentlike roeping. Maar eers moet die vraag gestel word: Wat het dan nou presies in die slag gebly?

Ons het in die inleiding gestel dat indiwidualisme aanleiding gegee het tot ʼn geprivatiseerde manier om met die waarheid om te gaan. Dit kom na vore in stellings soos “vir my persoonlik is die waarheid dat …” Gekoppel aan die optrede van die nasiestaat het dit tot gevolg dat baie dinge – wat nog altyd waar was – nie net agterweë gebly het nie, maar eintlik vergete geraak het. ʼn Mens sou hier talle voorbeelde kon noem, maar hierdie artikel wil fokus op die tema “God en die volke.”

Die mode en gangbare manier van praat (ook kerklike praat in die Afrikaanse gemeenskap) is dat die twee sake eintlik ver uitmekaar gehou moet word. Enige teologiese verwysing na sekere temas word gou beskimp asof dit die ideologiese wortels van rassisme, apartheid of selfs nazisme dra. Dit sluit in temas soos:

volk, taal[2] of grond

– of grense[3]

– of die geskape eenheid[4] van die mensdom

– of die persoon en werk van die Heilige Gees[5] en taalverskeidenheid

– of kultuurheiliging[6] en aanbidding

ʼn Mens kan seker die voorbeelde nog vermenigvuldig. Waar dit enigsins nog toegelaat word – as troosprys – word dit net bespreek as ʼn mens die postmoderne invalshoek van “my gemeenskap se perspektief” mag gebruik.

Voordat die tema “God en die volke” bespreek word, moet eers stilgestaan word by ʼn duwweltjie in die skoen, die term “ras.” Dit is nodig aangesien sowel die voorstanders as teenstanders van die tema voorhand, ongekwalifiseerd en soms heeltemal sonder Skrif-inhoud met dié term omgaan.

Woord-herwinning

Die Skrif ken nie die term “ras” nie. Woorde en begrippe wat die Skrif wel deurlopend gebruik, is “nasie, volk, geslag en taal.” Dit is baie belangrik om die regte woorde in die aanduiding van hierdie saak te gebruik. Ons het aangeleer om onbybelse woorde in hierdie kwessie te gebruik, en nou draai ons dikwels vas in ʼn knooppunt waarin ons bly vassteek. Om dit reguit te stel – dit is vir ons so normaal om terme soos “blank” en “nieblank” as ʼn geldige manier te gebruik om onsself en ander mense mee te identifiseer dat ons dikwels nie twee keer daaroor dink nie. Die terme kom al so lank met ons saam dat ons aanneem dat dit die werklikheid korrek aandui. Tog is die Bybelse lyn die een van “taal, volk en grond” en nie een van “ras” nie.

Woord-roof

Ongelukkig het woord-roof hier plaasgevind. Die feit dat ons van “rasse” in die meervoud praat, veroorsaak dat ons uit die staanspoor gaan sukkel om verder op ʼn Bybelse lyn oor die saak te redeneer. Die Bybelse gebruik van die woord “volk” is onder verdenking geplaas en vervang met rassistiese terme soos “blank” en “nieblank,” gekleurdes ensovoorts. Hierdie identifikasie is dikwels meer as net ʼn self-identifikasie; dit het ook ʼn afgeforseerde identiteit geword. Elke ID-boekie in die RSA verwys op een of ander manier in jou persoonsnommer na jou ras. Die denkfout wat egter hier gemaak word het enorme implikasies. 

Ras as identiteit in ʼn nasiestaat

Die feit dat die onbybelse begrip rasse (in die meervoud) gebruik word, lei daartoe dat die identiteit wat nasionaal aangeneem en toegeken en bevorder word, baie keer op ʼn hoogs kunsmatige manier geforseer word. Die vraag is al gevra of daar regtig so iets soos ʼn Suid-Afrikanisme as gedeelde identiteit is, of is dit eerder ’n gemeenskap van gemeenskappe binne ʼn bepaalde geografiese ruimte met die begrensing van ʼn historiese nasiestaat. Dit is dus nodig – om orde in sake te kry en opklaring in terme te bekom – dat die normaliteit van terme soos “blanke Suid-Afrikaner” ernstig bevraagteken moet word.

Hoe noem jy jouself?

Hoe sou ʼn mens dan te werk gaan om die identifikasie te beoordeel, natuurlik van jouself, maar ook van ander mense van jou? Dit is veel meer as ʼn intellektuele oefening, veral as ʼn mens as ʼn gelowige Christen werklik ernstig daaroor is om eerlik en opreg voor die Here en met ander mense om jou te wees. Kortom is die vraag: Is die naam waarmee ek myself noem – dit wil sê my identifikasie – Bybels verantwoord? Want die naam waarmee ek myself noem, is die identifikasie wat ek saamdra. ʼn Eenvoudige Bybelse voorbeeld: Volgelinge van die Here Jesus is in die stad Antiochië vir die eerste keer deur ander mense “Christene” genoem. “En hulle het ʼn hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ʼn aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.” (Handelinge 11:26) Die band en verband tussen Christen en Christus het by die omstanders nie ongemerk gebly nie. Jou naam verbind jou aan iets en iemand. Nou is die vraag: Na watter werklikheid verwys ons selfidentifikasie (byvoorbeeld as blanke en as een van die rasse) as ons so benoem word in benamings? Die term ras – in die meervoud geneem – moet afgewys word as ʼn onwerklikheid wat die Skrif nie ken nie.

Praat die waarheid

Maar kan ʼn mens die waarheid praat oor “God en die volke” sonder om verskraal daarna te kyk slegs vanuit ʼn persoonlike, subjektiewe hoek, en allermins vanuit ʼn geprivatiseerde waarheidsbegrip? Die waarheid is immers net geldig as waarheid wanneer dit alle mense en alle omstandighede insluit en omsluit. “My waarheid” bestaan immers nie as dit nie die hele waarheid insluit nie. Die waarheid – ook oor volke – is nie maar persoonlike opinies of vergete menslike herinnering nie. Die waarheid – ook oor volke – is ʼn Persoon, die Seun van God, Jesus Christus. Die Here Jesus Christus is die waarheid. Die waarheid maak Homself bekend – ook oor volke en aan volke.

God het besitreg op volke

God se Seun as Waarheid is neergeskryf, in die boek van die skepping en in die boek van die Bybel. God skep, onderhou en regeer – ook in sy wil en werke met volke. Deur die geskiedenis en in die Bybel opgeteken, leer ons baie oor wat God en die volke met mekaar te doen het. Ons gaan vervolgens ʼn paar aspekte uitlig wat in die huidige tydsgewrig vergete geraak het en wat dringend en noodsaaklik weer na vore gebring moet word. Jesus Christus is die waarheid – en Hy het alles te make met die volke.

In die boek van die Psalms word daar baie dinge oor die volke en hul band met God gesê. ʼn Sentrale lyn daaroor is dat God self erfbesit het oor die volke. So staan in Psalm 82:8: “Staan op, o God, oordeel die aarde! Want U het erfbesit van al die nasies.” [Beklemtoning dié van die outeur]

God oordeel ook die volke

Aangesien God erfbesit het oor die volke mag en sal Hy hulle ook oordeel. Dit is ʼn verskriklike gedagte wat baie ernstig opgeneem moet word, deur volke en hul leiers. God oordeel volke. Hoekom doen Hy dit? Want Hy besit die volke. Hy het erfreg op hulle. God sal die volke oordeel na aanleiding van hul optrede en werke. God sal volke oordeel of hulle beantwoord aan dít wat Hy van alle volke en van elke volk verwag. 

Binne die geprivatiseerde godsdiensidee dink mense dat jy alleen vir jou eie sondes verantwoording sal doen. Die verlossing word dan (deesdae omtrent uitsluitlik) toegepas op die individu. Tog is die Skrif baie duidelik daaroor dat God volke sal oordeel. Dit beteken dat God sy reg as Eienaar sal handhaaf oor dit wat Hy geskep het. Sy vastigheid as die ewige waarheid sal enduit bly bestaan. Die Here se optrede oor die volke sluit dus sy regering, sy oordeel en sy straf in. Ons het deesdae afgeleer om enigsins oor God se straf in die kollektiewe sin te praat. As ʼn ramp of iets tref, word dit doodgewoon wetenskaplik wegverklaar uit die hand van God uit. As beproewings en straf van God se kant uitgedeel word – juis op volke soos die Skrif op baie plekke leer – dan preek die kerke bykans niks daaroor nie. Inteendeel, die teenoorgestelde word dikwels gesê.

Stel tyd en grens vas

God het reg op die volke – wat hulle doen en nie doen nie. Trouens, God stel self vooraf die bepaalde tye en grense en tye van hul woonplekke vas. So stel Paulus dit: En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,  sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.(Hand. 17:26-28) [Beklemtoning dié van die outeur]

Eenheid in ontplooiing

Daar is reeds genoem dat die Bybel nie die term “ras” ken of van die mensdom in die meervoud praat nie. Ons verwys hier kortliks na kerngedeeltes uit die Skrif wat dit mooi aandui. Paulus sê hier in sy Areopagusrede, toe hy met die Grieke in Athene praat, dat God die mensdom uit een bloed geskep het. Die mensdom is ʼn eenheid. Dit leer die eerste boek van die Bybel baie duidelik. God het een man geskep, Adam. Uit die rib van Adam het God vir hom ʼn vrou gemaak wat by hom pas. God het hulle as manlike mens en vroulike mens geskep. Hy het hulle na sy beeld en gelykenis geskape. 

Eiesoortig

Die mens is uit een bloed geskep en die mens is eie-soortig. Toe God die diere en plante gemaak het, verwys die Skrif telkens dat hulle “volgens hulle soorte” gemaak is. Hierdie verwysing kom nie by die mens voor nie. Daar is net een soort mens. Daar is dus net een ras (as ʼn mens nou die term moet gebruik) en dit is die menslike ras. Die mensdom is uit een bloed geskep. God het uit een mens, die manlike mens met die naam, Adam, die res van die mensdom laat kom. Hy het vir hom ʼn vrou gegee en albei is na die beeld en gelykenis van God gemaak. 

Vermeerder en vul die aarde

God het die twee ook geseën en vir hulle ʼn spesifieke opdrag gegee om meer mense te word. “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde …” (Gen. 1:28) Hierdie opdrag van die Here om meer mense te word, is nie maar net ʼn demografiese imperatief nie. Daar is ʼn Goddelike bedoeling daarmee. Die beeld van die boom van die lewe is hier baie gepas. God wil dat die mensdom soos ʼn boom groei met baie takke en ʼn klomp vrugte. Hy wil dat hierdie opbrengs van die boom ook geniet word. God self verlustig Hom daarin en deur die paradysbeeld verwys God daarna dat Hy hierdie vreugde wil deel en meedeel (Spr. 8:31)

Patroon van verspreiding

Die manier hoe God die takke van die boom van die stam af laat groei, is deur taal en nie deur “ander” bloed nie. Dit is duidelik in Genesis 5 en 10: “Dit is die seuns van Sem volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, volgens hulle nasies. Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed.” (Gen. 10:31-32) [Beklemtoning dié van die outeur] Deur taalverskeidenheid moet die mens oor die aarde versprei. Soos die takke van ʼn boom moet hulle hierdie verspreiding bewerk. Die vrugte wat opgelewer word, is juis die volle verskeidenheid wat na vore tree.

Vervullingsdoel

Die Here het egter ʼn nog dieper betekenis gekoppel aan hierdie verspreiding, waarvan Hy die tye en grense self vasgestel het. Die heerlikheid van God is op ʼn besondere manier verbind aan die mens wat na die beeld en gelykenis van God gemaak is. Die heerlikheid van God is ʼn omvattende werklikheid en dui op die ligglans van God. God as lig wat sy majesteit en krag en roem laat blyk in die hemel en ook op die aarde. Die heerlikheid van God is bedoel om die aarde daarmee vol te maak. In aansluiting by dit wat gesê is oor die individuele aspek wat deesdae so eensydig beklemtoon word: God se heerlikheid kan nie net deur ʼn klomp individue getoon word nie. God se heerlikheid is so groot en omvattend dat dit ook volke in hul geslagte insluit, hul geboorte, lewe op aarde en ook hul uur van afsterwe. 

Heerlikheid versprei

God se heerlikheid vereis dat volke ook daarvan bewus moet wees dat hul plek en tyd gekoppel is aan die verwagting dat God se heerlikheid reg oor die hele aarde moet versprei. God wil dat individue en ook volke, tale en nasies voor sy troon verskyn. God het reg op sy skepping, God het erfbesit op die volke en wat hul opbrengs is, dit wat hulle na vore bring in die tyd en plek wat God aan hulle gun. Die vergadering om die troon van God is van almal wat geskep is, en God se oordeel gaan oor almal heen. Die wat in Jesus Christus is, wat deur sy Heilige Gees in God glo, het vergewing van hul sondes – ook hul volksondes – ontvang. Dié wat hardnekkig weier om Christus te herken en as waarheid te aanbid bly onder die troon van God en kan nie in sy koninkryk inkom nie. ʼn Volk kan ook verlore gaan as gevolg daarvan dat hulle geslagte lank weier om God se reg op hul volkslewe en arbeid te erken. Dit is om van te sidder – God gee nooit sy aanspraak prys nie. God laat nooit sy reg vaar nie. God voltrek sy oordeel.

Onder een Hoof

God wil alles in die hemel en op die aarde onder een Hoof[7] in Christus verenig (Ef. 1:10). Dit sluit letterlik alles in. Die hel is ook onder God se bevel, en nie net individue nie, maar ook volke wat Christus verwerp, kan onder die helse oordeel van God kom. God red gelowiges, en Hy red ook volke in hul gelowiges. Dit bring die volheid van God se heerlikheid na vore. Vir aktuele sake van die dag is hierdie punt – dat God volke oordeel en dat God volke ook in Christus red – baie belangrik. Dink maar aan sake soos taal en moedertaalonderrig. Die bestaan van tale is nodig om God se heerlikheid op die aarde na vore te bring want Hy wil juis die verskeidenheid van sy skeppingswerke deur tale laat benoem tot die eenheid van sy heerlike Naam. Hy wil sy groot dade in tale laat verkondig en daartoe is die mens juis verlos en maak die Heilige Gees juis tale diensbaar daaraan (Hand. 2:11). Die aarde moet vol word van die heerlikheid van die Here. Daarvoor is individue nodig, maar ook volke, tale en nasies. Hulle moet aan Hom die eer en heerlikheid en lof bring wat Hom toekom, as Skepper en Verlosser. Dit reik so ver as die aarde en die hemel.

Die afgryslike breuk

Ons het nou ʼn bietjie uitgebrei oor wat God se bedoeling met volke is. Hy wil volke hê. Hy het hulle uit een bloed geskep. Hy bind sy heerlikheid aan die mens. Hy wil dat hulle onder sy Seun se Hoofskap lewe en die offers en lof bring wat by Hom pas.

Maar wat is die stand van sake? Wat gebeur, is dikwels nie wat moes gebeur het nie. Die ramp van die sonde waarin die mens verval het, het geweldige en gewelddadige gevolge gehad. Satan was ʼn engel van die lig om die troon van God. Hy was egter nie tevrede met sy stand en posisie nie. Hy kon dit in die besonder nie uitstaan dat God die mens uit die stof van die aarde gemaak het en dat God sy heerlikheid aan hulle gebind het nie. Satan het dit onuitstaanbaar gevind dat God die mensdom uit een bloed gemaak het. Satan het van die begin af die mens gehaat omdat die mens na die beeld en gelykenis van God geskape is.

Rugdraaiers

In die dae van die kinders van Enos het die mense begin[8] om die Naam van die Here aan te roep (Gen. 4:26). Daar het ʼn breuk in aanbidding gekom. ʼn Groot deel van die mensdom het hul rug van die Here af weggedraai, soos wat Kain gedoen het. Die Hebreeuse woord vir nasies het juis die nuanse dat jy iemand die rug toekeer. Die Here toon dan aan dat die mensdom in sy eie bedinksel in duisternis vasgestrengel raak, en dit wat nie-god[9] is nie, juis tot (af)god wil verklaar.

Verskeidenheid word geskeidenheid

Wat God saamgevoeg het, probeer die satan uitmekaar skeur. God het die bestaan van die mens aan sy eie heerlikheid verbind. God wil dat die mens sy heerlikheid dra en vertoon. Soos ʼn boom wil God dat die lewe – wat Hyself skenk as uniek aan die mens – versprei en sy heerlikheid moet reg oor die aarde vertak. 

Die satan staan God in al sy bedoelings teen. Die verskeidenheid wat God ge-wil het, word nou deur die satan in geskeidenheid omgesit. Alles wat bymekaar hoort – in eenheid en verskeidenheid – dit breek die satan en versteur die heilige verbintenisse wat God self daargestel het. Die verskeurdheid loop regdeur die skepping. Die band tussen God en sy skepping word ontken. Die band tussen die mens en sy vrou word verander in vyandskap en alewige kompetisie vir dominansie. Maar ook volke, tale en nasies word van hulle bedoeling losgeskeur en teenoor mekaar opgestel.

Die een wil die ander uit sy plek druk. Die een wil die ander verslaaf en verneder. Die een wil die ander verwoes en uitdelg. Hierdie geskeidenheid kry telkens nuwe gestalte of dit nou nasionalisme, fascisme, kommunisme, nazisme of rassisme is, die kern van die breuk bly telkens dieselfde. Wat God saamgevoeg het om sy heerlikheid eendragtig in verskeidenheid te laat glans, word verdraai en die breuklyne loop diep sodat daar selfs eeue se verwydering tussen volkere ontstaan, breuke en klowe wat menslik gesproke bykans onoorbrugbaar blyk te wees.

Ware eenheid verwoes

Die ware eenheid dat die mensdom as individue, volke, tale en nasies eendragtig onder een Hoof in Christus voor God se troon moet wees, is omgedraai en vervang. ʼn Vals eenheid verskyn in die plek van dít wat God wil. Dit word in die Skrif met baie dinge aangedui, maar van die bekendste beelde is dié van Babel, die groot, ongelowige wêreldstad Babel waar die mens sy eie eenheid soek en los van God vasstel. Dié vals eenheid sluit saam in die ooreenkoms dat God sy erfbesit ontsê word en dat sy aangestelde Koning, sy Gesalfde, sy Seun, Jesus Christus, onttroon wil word. Dit wat God sê word Hom ontsê. Definisies (naamgewing volgens die Bybel) word op hul kop gedraai en nek omgedraai. Dink maar aan die verregaande vergrype van die sogenaamde “woke” kultuur, waar die absolute individualisme tot ekstreme gedryf word, dat enige individu se identifisering die aanspraak op geldende waarheid mag hê. Die mensdom wil “wakker” word (‘woke’-wees) waar die droom en nagmerrie van ʼn (g)od nie meer vir hulle enigsins geld nie.

‘Woke’ nagmerrie

Die “woke” kultuur se golwe tref ook reeds die Afrikaanse kultuur met ʼn harde slag. Definisies en indelings wat geslagte lank standgehou het, word skielik verdag gemaak en as verkeerd en onmenslik voorgehou. Deesdae lyk dit of enige iemand met enige iets kan “identifiseer” en dan daarop kan aandring dat sy identifikasie-definisie geldig moet wees vir hoe ander mense se reëls op jou van toepassing is, of nie is nie.

Net ʼn eie konstruksie?

Die “woke” kultuur is eintlik net die logiese uitvloeisel van wat al dekades bekend staan as sosiale konstruktivisme. Dit beteken kortliks dat alle maniere waarop die sosiale lewe van die mens gesien word, eintlik geen basis in die werklikheid het nie, maar bloot ʼn menslike gedagte, ʼn konstruk in jou kop is.

Afrikaners het ook met die pendulum van hierdie argument oor hul eie gemeenskapslewe te doen gekry. Ouer mense sal onthou dat die term “volk” dikwels in algemene gesprekke oor en verwysings na die sosiale kant van die mens se lewe gebruik is. Daar was ook ʼn groot debat oor die kwessie of apartheid in die Bybel staan, of nie. Die paaie het ver uitmekaar geloop. Met die val van apartheid het die een kant van die argument die alleenreg verkry om definisies te bepaal. Dit het daarop neergekom dat terme soos “volk” uitgekryt is as ʼn onderdrukkende en verleidelike term. Die term “volk” is doelbewus aan ideologieë soos nasionalisme, fascisme en nazisme gekoppel.

Die tydperk tydens en direk ná die val van apartheid was ʼn baie moeilike en verwarrende tyd vir Afrikaners, veral vir gelowige Christene. Aan die een kant wou daar nie meer voortgegaan word met die onhoudbaarheid wat die apartheidstelsel teweeg gebring het nie, maar aan ander die ander kant is weer ervaar dat die kind met die badwater uitgegooi is. Niemand het eintlik die vrymoedigheid gehad om enigsins die term “volk” of “Afrikaner” te gebruik nie. Allerhande vervangingswoorde soos “Afrikaanses” en “gemeenskap is bedink.

Langsamerhand het die Afrikaner egter weer sy balans herwin en tot verhaal begin kom. Deur kulturele innovering en gemeenskapsaksies het kulturele selfvertroue weer begin intree. Die debat is egter nie oral ewe ver gevoer nie. In amptelike kerklike debatte en taalgebruik het die balansherstelling eintlik nog glad nie plaasgevind nie. Die Afrikaanse kerke handhaaf oor die algemeen ʼn tipe stilswye oor die saak en die klank wat uitgespreek word, is erg beïnvloed deur die liberalistiese individualisme. Kerklik vertaal kom dit daarop neer dat die Afrikaanse kerke, horend en stilweg by implikasie die lyn volg dat God eintlik net individuele gelowiges red. Indien iemand ʼn Christen is of word – so word dit voorgehou – verwag God dat ʼn gelowige omtrent al sy verbintenisse op aarde moet prysgee aangesien ʼn koninkryksburger nie meer met aardse dinge soos taal, volk en grond te doen mag hê nie. Die Afrikaanse kerke preek en pas tans merendeels ʼn vergeestelikte liberalisme toe wat net plek maak vir individuele Christene wat hemel toe gaan. Enige verwysings na of positiewe opmerkings oor terme soos “volk” word verdag gemaak en afgewys, asof dit ’n ideologie indra wat nie met die evangelie van Jesus Christus te rym is nie.

Versoen – onder een Hoof

Tog het gelowiges baie troos, ook dié wat weet wat God se wil met volke, tale en nasies is. Die troos geld ook vir diegene wat dalk vergeet het of skaam is oor die feit dat die Here volke ook wil red. Die versoening van Jesus Christus is omvangryk. Alhoewel dit uiters belangrik is dat individue ook persoonlik hiervan hoor en dit glo, mag die versoening wat God skenk nie gesien word as net tot enkelinge beperk nie. Dit sal die grootheid van God minag en minder maak as wat dit in werklikheid en waarheid is.

Laat ons as Afrikaanse Christene weer getroos word deur die evangelie van Christus en die reikwydte daarvan.

Kol. 1:17  En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. 

Kol. 1:18  En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. 

Kol. 1:19  Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon 

Kol 1:20  en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis – ek sê deur Hom – die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.

Laat die Woord weer sy regmatige posisie by ons inneem, en laat ons weer woorde soos “volk” met die versoening van Christus vereenselwig. Om “volk” te sê beteken nie “afgod” nie – maar dan moet dit gesê word met die belydenis van Christus op jou lippe; dit moet geuiter word met die vervulling van die Heilige Gees.

Volk se roeping

Eers dan sal weer opreg gepraat kan word van ʼn volk se roeping. Die idee van roeping en die feit dat God iemand persoonlik roep en met gawes toerus om ʼn bepaalde opdrag uit te voer, is baie sterk in die Afrikaanse kultuur. Daarvoor mag en moet ons die Here dankbaar wees. Ons moet egter onthou – die Here red en roep nie net individue nie. ʼn Volk het ook ʼn roeping. God gee ʼn bepaalde tyd en begrensde plek om daardie roeping te soek en te vervul. Soos met individuele mense is dit ook met volke – God gee nie aan almal presies dieselfde roepings-taak en amp nie.

Volk se offer

Wat vir individue geld, geld egter ook vir volke – elkeen sal geoordeel word na gelang van jou werke. ʼn Volk se werk, ook die manier hoe ʼn volk te werk gaan, sal onder die oordeel van God kom. Dit moet ons ernstig stem oor ons kultuur en ons kultuurpraktyke, ook oor ʼn volk se voorgangers en die gawes wat God gee. Dit moet ons biddend maak. Dit moet ons laat nadink oor watter soort offer ons as kultuurgeskenk voor die troon van God gaan bring.

Christus en kultuur

Die Afrikaners het nog ʼn belangrike lewensroeping voor God. Ons is tans besig om ons geslag se offers voor te berei om voor God te bring.

As dit nie geheilig is met die bloed van Christus nie, sal dit verbrand.  So waarsku Paulus ons.

Daarom moet ons Christus opnuut soek – nie net een-een nie, maar ook as volk. Ons moet die evangelie glo en versprei, aan alle mense. Die volle evangelie – ook die bedoeling van God met volke, naamlik om sy heerlikheid te vergroot voor sy troon. In geloof en dankbaarheid moet ons ons kultuur heilig vir God en voor God. Dit beteken ons mag nie kollektief iets doen of aanhou doen wat Hy nie wil nie en wat voor sy aangesig nie sal staan nie. Hoe lyk die Afrikaner se eer en heerlikheid tans – en kan dit voor God gebring word?

deur dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van die Begrond Instituut


[1]Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang;  want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.”

Rom. 13:1-5 

[2] Vgl. “Dit is die seuns van Sem volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, volgens hulle nasies. Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed.” Gen. 10:31,32

[3] Vgl. “Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.” Deut. 32:8

[4] Vgl. “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.” Hand. 17:24-28

[5] Vgl. “En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galiléërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.” Hand. 2:6-11

[6] Vgl. “En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. En bedags – want nag sal daar nie meer wees nie – sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.” Op. 21:24-26

[7] In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenigin Hom in wie ons ook ʼn erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid. (Efes. 1:7-14)  Die Griekse woord is anakephalaiomai. [Beklemtoning dié van die outeur]

[8] Vgl. “En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ʼn seun gebaar en hom Set genoem. Want, het sy gesê, God het my ʼn ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.  En ook vir Set is ʼn seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.” (Gen. 4:25-26) [Beklemtoning dié van die outeur.]

[9]Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ʼn verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.” Rom. 1:22-25

Hulle het ook die kosbare land versmaad, sy woord nie geglo nie; en hulle het gemurmureer in hul tente, na die stem van die HERE nie geluister nie. Toe het Hy sy hand teen hulle opgehef om hulle neer te slaan in die woestyn, en om hulle nageslag te versprei onder die nasies en hulle te verstrooi in die lande. Ook het hulle hul aan Baäl-Peor gekoppel en die offerandes aan die dooies geëet; en hulle het die HERE geterg deur hul dade, sodat ʼn plaag onder hulle uitgebreek het.” Ps. 106:24-28

Daarom sal Ek nog met julle twis, spreek die HERE; en met julle kindskinders sal Ek twis. Want gaan oor na die eilande van die Kittiërs, en kyk; en stuur na Kedar, en gee daar goed ag op; en kyk of so iets gebeur het: of ʼn nasie sy gode verruil—wat nie eers gode is nie. Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie.”  Jer. 2 -11

Foto: Photo by Shane Rounce on Unsplash