Louter vreugde in beproewing

Jakobus 1:2-4 (1953 Vertaling)

Jakobus open sy brief met ’n gedagte wat vreemd klink vir die natuurlike mens: “Ag dit louter vreugde.” Hierdie vreugde word egter verbind aan beproewinge, ’n situasie wat ons eerder as ongemaklik of pynlik ervaar. Om Jakobus se bedoeling ten volle te begryp, moet ons die beproewinge verstaan en dit onderskei van versoekings, aangesien beide in Jakobus 1 bespreek word, maar verskillende betekenisse en bronne het.

Beproewing:

In Jakobus 1:2 verwys beproewinge na eksterne uitdagings en swaarkry wat die gelowige tref. Hierdie beproewinge is deel van God se soewereine plan en word gebruik om die geloof van Sy kinders te toets, te suiwer en hulle geestelike groei te bevorder. Dit sluit moeilike lewensomstandighede in, soos finansiële nood, siekte, of vervolging. Die doel van beproewing is om lydsaamheid (volharding of standvastigheid) in die gelowige te kweek en uiteindelik geestelike rypheid en volwassenheid te bring.

Versoeking:

In dieselfde hoofstuk wys Jakobus egter daarop dat versoeking nie van God kom nie: “Laat niemand sê as hy versoek word: Ek word deur God versoek nie; want God kan nie verlei word tot die kwaad nie, en Hy self versoek niemand nie” (Jak. 1:13). Versoeking ontstaan binne die mens, vanuit sy sondige begeertes, en word deur die duiwel gebruik om hom te laat struikel. Terwyl beproewinge bedoel is om geloof te bou, het versoekings ten doel om dit af te breek. Ons moet egter besef dat nie eers die versoekings wat die mens mislei is buite die Here se beheer nie. Uiteindelik gebruik die Here dit ook om alle te goede te laat meewerk.

Hierdie onderskeid help ons verstaan dat God nie die oorsaak van ons sonde is nie, maar dat Hy ons toelaat om deur beproewinge te gaan om ons te suiwer en te versterk. Beproewinge lei tot lydsaamheid en geestelike volmaaktheid, terwyl versoekings weerstand verg deur die krag van die Heilige Gees en God se Woord.

Die einddoel van hierdie beproewings, sê Jakobus, is dat ons “volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.” Hierdie volmaaktheid verwys nie na absolute sondeloosheid nie, maar na ’n volwasse geloofslewe wat God verheerlik en ons roeping in Christus ten volle uitleef.

Hierdie teks nooi ons uit om ons perspektief op swaarkry radikaal te verander. Die natuurlike reaksie op beproewinge is om dit te vermy of daaroor te kla. Jakobus herinner ons egter dat beproewinge die weg is waardeur God ons vorm. In jou persoonlike lewe moet jy vra: “Hoe kan ek deur hierdie situasie groei en God se doel daarin raaksien?” Leer ook om versoekings te onderskei en te weerstaan deur gebed, geloofsvertroue, en die bestudering van God se Woord.

Beproewinge kan spanning bring in ’n huwelik of gesin, maar dit is ook ’n geleentheid vir groei. Leer om as gesin of egpaar saam te bid en mekaar aan te moedig om God se doel in moeilike tye te soek. ’n Gesin wat biddeloos met mekaar omgaan kan nie mekaar bemoedig in moeilike tye nie. Vermy die versoekings van skuldtoerekening of bitterheid en fokus eerder op hoe beproewinge julle nader aan mekaar en aan God kan bring. Dit leer ook kinders die waarde van volharding in geloof in uitdagende tye.

As ’n volk met ’n geskiedenis van swaarkry, kan Afrikaners Jakobus se boodskap opnuut omhels. Beproewinge moet nooit as ’n teken van God se afwesigheid gesien word nie, maar as Sy hand van loutering. Hierdie perspektief moedig ons aan tot ’n houding van hoop en volharding in die bou van ’n gemeenskap wat God eer, selfs te midde van politieke, ekonomiese, en kulturele uitdagings.

Jakobus 1:2-4 is ’n kragtige herinnering dat beproewinge nie ’n teken van God se verwerping is nie, maar ’n bewys van Sy werk in ons lewens. God gebruik beproewinge om ons geloof te suiwer, ons standvastig te maak, en ons volmaak voor Hom te stel. Tegelykertyd leer hierdie teks ons om versoekings te onderskei en te weerstaan deur die krag van die Heilige Gees. Ons moet beproewinge met vreugde omarm, met die wete dat ons deur God se genade in niks kort sal kom nie, en dat Hy ons bring tot ’n lewe van ware geestelike volheid!

Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)

Foto: Aaron Burden op Unsplash