Man-wees volgens die Bybel

Daar sal seker nie vanuit baie kante beswaar aangeteken kan word teen die volgende uitdagende stelling nie: “Afrikaanse mans het tans ʼn identiteitsprobleem.” Navorsing toon toenemend aan dat seuns tans in hulle vormingsjare onder druk kom oor wie hulle nou eintlik is en wat hulle nou regtig mag wees.

Identiteitskrisis by mans

Die identiteitsprobleem by Afrikaanse mans kom eintlik al ʼn hele ruk voor. Dit is te verstane dat daar soveel verwarring bestaan. Oplossings en skynoplossings word ook gereeld aan die hand gedoen. As ʼn mens die probleem eerlik en ernstig wil benader, behoort ons te kyk na wat die probleem veroorsaak.  Ons kan verskeie ideologieë opnoem wat ʼn rol in hierdie identiteitskrisis gespeel het. Die drie belangrikste hiervan is die patriargie, die feminisme en apartheid

  • Die patriargie is waar die samelewing en huishoudings so deur ʼn bepaalde siening van manlikheid oorheers word dat daar ʼn skeeftrekking en teenreaksies ontstaan wat enige vorm van manlikheid wil afkraak en verdag maak.  Mans sonder innerlike gesag is die gevolg.
  • Die feminisme is juis gebore uit die teenreaksie teen die patriargale samelewing.  Die feminisme, veral in sy ekstreme vorm, oorskry verreweg die lyn om net vir vroue gelyke beregtiging te beding. Radikale feminisme staan in wese die ontmanning van die hele werklikheid voor.  ʼn Sigbaar manlose samelewing is die gevolg.
  • Die derde ideologie wat ʼn wesenlike rol speel in die identiteitskrisis van Afrikanermans was apartheid – of meer korrek gestel, die post-apartheidbedeling. Alhoewel die verskynsel van apartheid ʼn baie komplekse werklikheid was, moet vir die doel van hierdie artikel wel een ding uitgelig word wat ʼn wesenlike invloed op identiteitsontwikkeling by Afrikaanse mans het. Met die val van apartheid het die nuwe regime dit goed gevind om by uitstek Afrikanermans uit te sonder as sondebokke. “Wit” Afrikaanssprekende mans is afgemaak en afgekraak as die verpersoonliking van alles wat sleg en boos is.

Nuwe diskriminasie

Ongemerk het daar ʼn nuwe sosiaal aanvaarbare diskriminasie ontstaan wat Afrikanermans  as onderdrukkende, selfsugtige oorblyfsels van die patriargie uitbeeld. Ten spyte van wat die werklikhede in baie gevalle behels het, het dit die gangbare omgang geword.  “Wit” Afrikanermans het ʼn nuwe bedreigde spesie geword.

Dit het veral twee reaksies tot gevolg gehad. Ten eerste het die “ouer ooms” begin stilbly. Hierdie generasie se stilte is egter deur die jonger geslag gehoor as ʼn dawerende stelling oor skuld en skaamte. Die tweede gevolg was dat die “wit” Afrikanermans nóg harder en langer begin werk het. Teen die agtergrond van swart ekonomiese bemagtiging en inmenging van allerlei kante af met indiensneming het die druk net vererger. Die vrees vir werkloosheid het aanleiding gegee tot die vlug in oorwerktheid in.

Vaderloos in Afrikaans

Die onsigbare gevolg is ʼn nuwe “vaderloosheid” in die Afrikaanse samelewing. Kortliks kom hierdie verskynsel daarop neer dat Afrikanermans so geteiken is dat hulle enigste gevoel van veiligheid in hulle beroepe self geleë is. Wat egter nie hardop gesê word nie, is dat die tradisionele rol van mans in die gemeenskap, die “ooms” in die buurt, nie meer funksioneer soos in die verlede die geval was nie. Mans se betrokkenheid by hulle huisgesinne, by skoolbeheerrade, by kerkrade, by verskeie ander kultuur- en gemeenskapsake het ʼn baie drastiese ander patroon begin inneem as in die verlede.

Hierdie tendense, naamlik die vaderlose of manlose gemeenskap, het op sy beurt weer verskriklik baie druk op vroue begin plaas. Dit is ook op sy beurt iets wat ongesê en ongesiens in ons gemeenskap kop uitgesteek het: vroue wat moeg geword het – nie omdat hulle nie hulle plek in die samelewing kan volstaan nie, maar omdat hulle ervaar dat hulle daaglikse pakkie net swaarder gelaai word. Almal is so beïndruk met bevryding en gelykheid dat niemand eintlik vra of die lading werklik regverdig tussen mans en vroue verdeel is in ons huidige samelewing nie.

Bestaan “manswerk” regtig?

Hierdie kort inleidende opmerking oor die probleem t.o.v. identiteit by Afrikaanse mans en die taakverdeling wat dááruit voortvloei en die verwagting wat vandag daarmee saamgaan, bring ons (weereens) by die uitdagende en miskien polities inkorrekte vraag: is daar dan so iets soos manswerk en vrouewerk?  Voordat ʼn mens dalk die vraag as oudmodies afklits, dink maar aan die etiese vraag vandag of daar regtig nog so iets is soos man-sport en vrouesport.

Hoe behoort ʼn Afrikaanse Christen vandag oor hierdie identiteitsvrae te dink – veral as ʼn mens regtig Bybels aan die saak wil aandag gee? Ons kan ʼn paar handvatsels gee waarvolgens hierdie gesprek sinvol aangepak kan word.  Hier volg ʼn paar.

Vader-metafoor

Vaderskap is meer as ʼn metafoor. Dit beteken as God van Homself praat as Vader, soos wat Hy inderdaad doen, is daar meer op die spel as wanneer God net sou praat dat Hy soos ʼn aardse pa sou wees.  Dit is iets wat nie eintlik deur die post-moderne manier van dink in berekening gebring word nie. 

God se Vaderskap is onties, wat beteken Hy vergelyk Homself nie maar met aardse voorbeelde nie, maar Hy is die Vader self.  Hierdie implikasie is verreikend vir ons verstaan van wat Vaderskap is.  God wil met ander woorde dat ons oor vaderskap dink vanuit wie Hy self regtig is as hemelse Vader. God wil ook metafore gebruik, maar dit volg uit die feit dat Hy is Wie Hy is. 

Alfa-Woord, nie alfa-man nie.

Ons kan dieselfde punt ook verduidelik vanuit Joh. 1:1: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God.”  Die betekenis van menslike woorde (soos om van pa-wees en man-wees te praat) is nie bloot in menslike konvensie geleë nie, met ander woorde dat ons as mense met mekaar ooreengekom het wat dit nou eintlik beteken om ʼn “pa” te wees nie. 

Die betekenis van woorde lê ten diepste veranker in die Woord van God. Die Woord van God was in die begin.  Die Woord van God is gerig op God. Die Woord van God is God self.  Menslike woorde, en dus ook metafore, is nie bloot arbitrêr nie.  Dit is juis wat die post-moderne taalteorieë beweer.  Hulle sê daar is nie ʼn “alpha”-woord nie.  Hulle sê daar is nie ʼn beginpunt van taal nie.  Die Bybel leer anders. 

Daar is ʼn “begin”-Woord.  Dit is God se eie uitspraak oor Homself.  God se Seun is die alpha.  Dit beteken dat die betekenis van woorde nie deur die mens (kultureel) toegeken word nie, maar dat betekenis ten diepste verbind is aan die bestaan van God self.  Ons kort die terugkeer na die alfa-Woord, en nie die herrysing van die alfa-man nie.

God maak Homself volgens sy eie taal bekend as Vader. Sy taal is sy Seun. Sy Seun leer ons om reg te praat. Sy Seun leer ons deur die Heilige Gees om te kan sê: “Vader”.  Meer nog, Hy leer ons om te kan sê: “ons Vader”.  Dit beteken Jesus Christus se Vader, en ons Vader.

Manlike mens

As ons hierdie selfde manier van dink nou toepas op “man-wees” dui die Skrif aan dat God die Vader, die mens, Adam, as sy seun geskep het. Ons lees dit onder andere in Lukas 3:38 “…Set, die seun van Adam, die seun van God”.

Adam is ʼn mans-mens, maar juis uit sy seunskind-wees van God.  Die eerste mens is juis geskep in ʼn pa-seun-verhouding, naamlik God die Vader en die mens, Adam, sy seun. Hierdie verbintenis word in die Bybel die verbond genoem.  God bind Homself aan die eerste mens as Vader.

Hierdie posisie van seunskind van God wees behels ʼn liefdevolle dienswerk wat Adam vir en voor sy Vader moet verrig.  Dit word ampsdiens genoem.  Adam is aangestel as hoof van die mensdom.  Hy kry – saam met sy vrou – verskeie opdragte van God, sy Vader en Skepper.

Vroulike mens

Die Here wys dat Hy die man-wees van Adam, as sy seun, ook verbind aan die vrou-wees van Adam se eie vrou, Mannin.  Ons is gewoond om van Adam en Eva te praat, maar “Eva” was die tweede naam van die eerste vrou.  Haar eerste noemnaam was Mannin.  Ons kry dus verskeie benamings vir haar: Mannin, vrou, Eva. 

Vir ons gesprek oor man-wees volgens die Bybel is dit belangrik om te weet dat God die mens(dom) geskape het as man en vrou.  Manlike mens en vroulike mens.  Die twee hoort bymekaar.  Dit beteken dat die man, Adam, as die eerste mens en verbondshoof nie waarlik mens kan wees of waarlik sy taak voor God kan uitvoer sonder sy vrou nie.  Die man het die vrou nodig om regtig mens te wees. 

Man-wees volgens die Bybel dra dus ʼn baie ryk en diep simboliek met hom saam.  Die man word deur God geskep om veral twee dinge uit te beeld. 

Simbool van Skepper

Ten eerste: Die man dra die simbool van God die Vader as Skepper met hom saam.  Hy dra die simbool liggaamlik, geestelik en as siel.  Die man-mens moet dus in die Skepping die Vader-wees van God duidelik maak. 

Simbool van Hoofskap van Christus

Tweedens: Die man dra die simbool van Christus as die Hoof van die kerk, die gemeente.  Hierin word die huwelik as instelling betrek.  Die misterie is dat twee mense juis een kan word in ʼn huwelik waarin God ʼn geheimenis oor wie Hyself is as God bekendmaak.  Die man moet dus die simboliese uitbeelding uitleef van Christus wat die Hoof is van sý vrou, sy bruid, die kerk.

Die stryd tussen mans en vroue in alle eeue en alle kulture spruit juis voort vanuit die versteurde verhouding wat die sonde tussen God en die mens gebring het.  Waar die band met God breek, daar begin die man juis ʼn drogbeeld wys van wat hy veronderstel is om te wees. Twee uiterstes is al duidelik merkbaar in die geskiedenis. 

Eerstens, soos vroeër genoem, tree die man in sy sonde dikwels op as die onderdrukker en ondermyner van die vrou.  Tweedens, wat ook deesdae besig om as die absolute maatstaf aanvaar te word, is die manlike mens se waarde slegs geleë in die ontkenning, onderdrukking en ondermyning van homself as man. Die anti-held en die feminisering van manlikheid in die post-moderne kultuur is hiervan sprekende voorbeelde.

Die man-wees en vrou-wees van God die Vader se oorspronklike bedoeling in die skepping word slegs herstel deur die koms van Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees.  Jesus Christus is die eintlike en ware man.

“So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ʼn lewende siel geword; die laaste Adam ʼn lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.” 1 Kor. 15:45-49.

Hierdie paar Bybelse lyne is gegee as handvatsels vir die man wat deesdae onder so veel druk verkeer.

Wat beteken dit egter prakties?

Die man is simbool van die beeld en heerlikheid van God.  Die beeld van God is nie gender-neutraal nie. Inteendeel – die man kan slegs man wees in verhouding tot die geskapenheid van die vroulike mens. So wys God dat Hy as Skepper nie wil bestaan of bekend staan sonder sy skepping nie. 

God die Vader is geen kinderlose God nie. Dit is juis wat van ʼn man ook ʼn pa maak: kinders.  God die Vader wil bekend staan, en bekend gemaak word, deur sy kinders.  Dit doen Hy deur sy eie Seun, Jesus Christus, en die Heilige Gees wat die gelowiges juis weer kinders van God maak deur in hulle te kom woon.

Uitstel van debat

Afrikaanse Christene moenie die genderdebat probeer vermy of uitstel nie. Ons kan met geloof en vertroue aan die debat deelneem.  Die Christenmans moet ook praat en gehoor word. Ons mag – en moet – sê dat die sonde ook ons man-wees en vrou-wees aangetas het. Ons moet dit nie probeer wegsteek of verbloem nie. 

Die twee uiterstes van patriargie en feminisme is ook kultureel by ons te vind. Maar, en dit kan ons ook sê, maar Goddank – in Christus hoef ons nie slagoffers van sondige tradisie of nuwe ideologie te wees nie.  In Christus kan ʼn man(s)-mens sy naam, sy roeping, sy plek en plig weer ontdek en uitleef.  Afrikaanse mans moet hulle veral daarop toelê dat die man die simbool van die Vader as Skepper dra – asook die simbool van Christus as Hoof. 

Wees vir ʼn slag weer die hoof

Hoofskap is nie oorheersing (dominansie) nie.  Hoofskap is nie verbloemde en beledigende selfsug nie.  Hoofskap is nie iets om te vermy of om verskoning voor te vra nie.  Hoofskap is ʼn geskenk. Dit is ʼn gawe, maar dit is ook ʼn opgawe.  Slegs deur hulle eie hoofskap ernstig op te neem, deur Jesus Christus se hoofskap simbolies in die samelewing en gemeenskap uit te leef, kan die Afrikaanse Christenman weer sy regmatige plek voor God en sy vrou, voor mede-mans en mede-vroue as medemense inneem. 

Dit is nie nou die tyd om stil-stil jou hoofskap te ontken nie. Dit is juis nou die tyd om jou hoofskap weer op te neem. Om juis nou – in hierdie oorverdowende geraas van ideologieë – die stem te wees wat weer man-mens wil wees.  Die Afrikaanse gemeenskap, ja die hele wêreld, kort weer manlike mense wat hulle ampsdiens in Christus ernstig opvat om hoof te wees. Dis die man se werk om hoof van sy vrou en huis te wees (Efesiërs 5).

Sonder verskoning. Sonder beskuldiging, maar met vertroue op God die Vader, wat juis só deur sy kinders bekend wil staan.

Foto: Photo by Juan Pablo Serrano Arenas from Pexels