Oordenking – menseregte

Menseregte of regte mense?

As die wêreld God wil na-aap kom vreemde dinge te voorskyn. Dit was onlangs Menseregtedag. Vir baie beteken dit maar ʼn vakansie- en familiedag. Wat beteken Menseregtedag eintlik? Vir Christene is dit belangrik om te weet hoe ons oor Menseregtedag behoort te dink. Daarvoor is dit nodig om weer te vra wat “regte mense” is.

Die Bybel wys in die begin op die hoë aansien van die mens voor God. Die mens is na die beeld van God geskep. Die mens is die kroon van God se skepping wat dit moet bewerk en bewaak.

Die Bybel leer ons dat die mense nie met die hoë posisie voor God tevrede was nie. Onder aanhitsing van die duiwel kom die eerste mense, Adam en Manin, later Eva genoem, in opstand teen God. Die wortel van hierdie opstand teen God is hoogmoed. Ontevrede met die posisie en plek wat God aan hulle gegee het, begin die mens God weerspreek.

Wat skeefgeloop het met die eerste huwelikspaar word later voortgesit in hoe die hele mensdom mettertyd begin dink het. Dit is belangrik om die berugte geskiedenis van die bou van die toring van Babel te ken in ons vraag na regte mense se regte. Die wêreld wat in opstand teen God kom, maak God se spraak na. Toe die mensdom by die toring van Babel hul planne beraam, sê hulle: “Kom laat ons vir ons ʼn stad bou en ʼn toring waarvan die spits tot aan die hemel reik.” Genesis 11:4. Hulle sê: Kom laat ons …

Dit klink amper soos wat God self gesê het toe Hy die mens gemaak het: “Kom laat Ons mense maak.” Die bou van die stadstoring tot aan die hemel is nie so onskuldig soos dit klink nie. Die mensdom maak God se spraak na. Die mens wil God nadoen sonder om aan God erkenning te gee. God wil dat die mens in liefde aan Hom en mekaar gebind lewe. Die ontevrede mensdom wat van God wegbreek, wil nie so lewe nie. Hulle wil hul eie beeld nastreef. Hulle wil hul eie stad bou, hul eie samelewing skep wat self hemelwaarts reik.

Dit is die kernverskil tussen wat ons vandag as menseregte ken teenoor regte mense. Regte mense weet dat God eerste praat. Regte mense weet dat die beeld van God in hul lewe herstel is deur God se Seun, die Vader se eie ewebeeld, en deur sy Gees wat in hulle woon. Die menseregte van vandag wil eintlik hierdie bouwerk van God omvergooi.

Die huidige menseregte sê eintlik maar nog steeds wat die Babel-bouers gesê het: “Kom laat ons.” In ons eie bouwerk aan ʼn toekoms moet ons dus vra: Gaan ons die huidige menseregte volg wat God in die rede val en Hom probeer doodpraat, of gaan ons regte mense wees wat leef uit dit wat God gesê het: “Kom laat ons mense maak.” Ons reg as regte mense is by God.

Foto: Photo by Ben White on Unsplash