My erfenis is vir my mooi

Voor en ná ’94

Om jou eie erfenis na waarde te skat moet ’n mens eintlik weet watter waarde God self daaraan heg. ’n Mens kan natuurlik op twee uiterste maniere jou eie erfenis verkeerd waardeer.

  • Ten eerste, en dit het nogal deesdae veld in populariteit gewen, moet jy jou eie erfenis onderwaardeer. Baie mense, selfs Afrikaanse Christene, dink dit is selfsugtig of oneerbiedig teenoor ander om jou eie erfenis te waardeer. Ons hoor hierdie standpunt baie in gesprekke oor erfenisbewaring op ’n nasionale vlak. Dan is die onbewoorde argument dikwels om nie aandag op jou eie kultuur te probeer trek nie, maar eerder stil-stil jou gang te gaan. Dinge soos die herdenking van die Reformasie, Afrikaans in die erediens, of die bewaring van monumente, of die bywoon van kulturele byeenkomste word dan beskou as iets wat nie eintlik tuishoort by hoe ’n Christen, wat die Here en sy naaste wil liefhê, tuis hoort nie.
  • Tweedens kan die pendulum natuurlik heeltemal na die anderkant toe oorswaai. Dit is waar die aanhang van ’n sportspan, of die siening van die eie kultuur só beklemtoon word dat dit inderdaad tot nadeel van die naaste is en tot oneer van die Here strek. Ons kry ook hierdie siening in die huidige samelewing waar daar net klem op die kollektiewe eie-ek gelê word.

Is daar ’n balans tussen hierdie twee uiterstes? Hoe moet ’n Christen hom- of haarself teenoor onderwaardering en oorwaardering van sy of haar erfenis posisioneer? Vir die doel van hierdie artikel fokus ons op geestelike erfgoed en kulturele erfenis. Die argument sou egter goedskiks uitgebrei kon word oor alle vorms van erfenis.

Die Bybel leer vir ons wonderlike goed oor erfenis. Ons lig hier vier hoofsake uit:

Die Here se keuse

Die Bybel leer dat erfenis vir die gelowige altyd gaan oor God se keuse en sy beloftes daaroor. Die sprekende voorbeeld hiervan is die Here se keuse van Abraham en Sy belofte aan hom. In Genesis 15 begin die Here beskryf hoe Hy van sy kant af na Abraham toe kom en aan hom en sy vrou wonderlike beloftes maak. Die Here sê dat Hy vir Abraham baie kinders en kleinkinders sal gee en ook vir hom en sy nageslag die beloofde land sal gee. In kort sê die Here vir hom dat God hom kinders en grond sal gee.

Abraham kry deel aan hierdie belofte wat die Here aan hom maak net omdat hy in God geglo het en geglo het dat God die waarheid praat en dit sál doen. In God se oë was dit reg dat Abraham die Here op sy Woord vat. Die apostel Paulus wys in die Nuwe Testament daarop dat ons nog steeds op dieselfde manier deur God hanteer word: slegs as ons werklik glo in Christus, kry ons regtig deel aan die erfenis wat Hy vir ons belowe. So staan daar: “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang…” Heb. 11:8.

Die Here deel uit

’n Besondere kenmerk van God se keuse oor erfenis is dat Hyself die indeling doen. Hy deel sy erfenis uit op grond van sy eie indeling. Die bekende voorbeeld hiervan is hoe die Israeliete die beloofde land bewoon het. Die Here het aan Abraham en sy kleinkinders dié spesifieke land beloof.  Toe hulle uiteindelik na eeue by die bepaalde stuk aarde uitkom, was hulle al ’n paar honderdduisend. Tog gaan God deur met sy belofte en Hy deel self die land, wat Hy aan hulle beloof het, vir hulle in kleiner stukke. Dan deel Hy die land aan elke stam uit soos wat Hy dit wil gee. So sing die Psalm: “Hy kies ons erfdeel vir ons uit…” Ps. 47:5.

Die Here deel in en die Here deel uit.  Hy doen dit binne sy verbond wat Hy aangegaan het. God se verbond is die basis van alles wat gelowiges erf. Dit is besonder mooi om in te sien dat die Here vir die enkeling én die groep gee. Elkeen en almal kry hulle regmatige aandeel soos wat God dit ingedeel het.

God sit hierdie manier van werk met die Heilige Gees voort in die Nuwe Testament met die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 en met die uitdeel van verskeidenheid gawes aan gelowiges en gemeentes. So leer Paulus die beginsel as hy sê: “Maar al hierdie dinge werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil.”  1 Korintiërs 12:11.

Die Here gee jou aandeel

Dit is ’n ryk gedagte dat God self jou aandeel aan jou verskaf. Die Here wil dat hierdie aandeel wat Hy aan elkeen van sy erfenis gee, ook in Christus verstaan word. Slegs wanneer ’n mens deur geloof en deur die vervulling met die Gees van God jou aandeel wat jy van God gekry het erken, kan jy jou aandeel na volle waarde skat. Hierdie aandeel gee aan jou vreugde omdat jy mag deel hê en deelneem aan dit wat God doen, maar dit lê ook ’n groot verpligting op jou.

Die erfenis waaraan jy aandeel het, mag jy in besit neem. Dit gaan egter gepaard met ’n verantwoordelikheid om dit wat God met die erfenis wil bereik nie te verhinder nie.  Jy moet met jou erfenis deelneem aan dit wat God daarmee wil bereik. God se keuse het altyd meer as een mens of geslag op oog. God het immers erfbesit van al die nasies soos Ps. 82:8 sê. As God erfenis uitdeel het Hy altyd ander mense ná jou ook onder oog. Die verbond van die Here leer ons duidelik dat God geslagte op hierdie manier aan mekaar verbind deurdat elke geslag op die naam af hulle deel kry, maar dat dit nooit in hulle eie tyd die somtotaal is nie. God werk in die geheel en in die dele.

In die Nuwe Testament het dit baie implikasies vir ons. Ons kan seker wees, troos vind en weet dat die Here ook aan ons geslag ’n aandeel in sy erfenis gegee het. Hy doen dit in Christus en verseker ons deur die Heilige Gees daarvan. Hierdie erfenis is in die hemel en op die aarde. Ons moet egter ook gewaarsku wees dat ons nie ons aandeel mag verkwansel, verwaarloos of agterlosig mag weggee nie. Elke gelowige en elke geslag het die verantwoordelikheid om hulle aandeel van die erfenis ook deur te dra en oor te dra aan die volgende groep d.w.s. die nageslagte wat nog gebore gaan word. God gee en God eis verantwoording oor hoe ons met ons erfenis omgaan.

Die Here is die deel van ons erfenis

Wanneer ’n mens verstaan dat jy in Christus en die Gees van Christus juis deel aan God se verbond en sy erfenis goedere kry, dan eers kan ’n mens jou erfenis na die volle waarde skat. Dawid sê in Psalm 16:5 “My erfenis is vir my mooi.”  Hierdie woordjie “mooi” beteken nie maar net esteties mooi of sentimenteel waardevol nie. “Mooi” beteken in die Hebreeus dat iets glinster of skitter en dat dit pragtig vertoon en vreugde verskaf. Om te sê: “My erfenis is vir my mooi” beteken dus om die heerlikheid van God daarin te sien skitter – die glans van sy ryk beloftes en die glinster van sy getrouheid as Hy dit werklik aan jou gee. Dit beteken egter ook dat jy en ek die aandeel aanvaar om die “mooi” op te pas en te bewaar. Die woord “bewaar” in die Ou Testament slaan juis daarop dat die inwoning en werk van die Heilige Gees erken word sodat God se bedoeling daaruit ten volle na vore kan kom. Dit wat God self daarin geplaas het, trouens God se heerlike nabyheid en sy heiligheid is wat die erfenis sy unieke skoonheid verleen.

Kulturele erfenis van die Gelofte

Elke jaar hierdie tyd hoor ’n mens dieselfde ou argumente rondom Geloftedag van 16 Desember 1838.  Een van die argumente lui as volg: “Ek is ’n Christen en ek wil graag die Here dien, maar my voorouers het nie eintlik die reg gehad om my aan ’n belofte te verbind wat verwag dat ek jaarliks die dag moet gedenk nie, want ’n voorgeslag mag nie ’n nageslag so bind nie.” Mense wat só redeneer verstaan juis nie hoe God self met sy erfenis omgaan nie. Hy kies. Hy deel uit. Hy deel in én Hy verwag verantwoording oor jou aandeel. 

In die verbond kán en mág een geslag juis namens ’n ander geslag tot hierdie verbintenis toetree. Die rede daarvoor is duidelik: omdat jou erfenis vir jou mooi is. As jy die hand van God in die geskiedenis sien, en God se voorsienige liefde leer waardeer in die aandeel wat byvoorbeeld jou oupa en oupagrootjies van God ontvang het, dan was hulle geskenk ook jóú geskenk uit die Here se hand. Prakties beteken dit oor Geloftedag dat God wat daar die oorwinning gegee het, juis dit so moontlik gemaak het dat Sy heerlikheid ook in jou leeftyd na vore kon tree. Wanneer ons nie net met die Gelofte nie, maar met ons hele kulturele lewe weer God se erfenis, wat Hy uitdeel, begin waardeer en na Sy waarde skat, dan kan ons weer kultureel in geloof sê: “My erfenis is vir my mooi.”

Die verlede en die toekoms is deel van ons erfenis

Maar baie mense gooi wal teen hierdie soort van geloofsberedenering en sê: “Ja, maar wat van die verkeerde en lelike dinge van die verlede? Hoe kan ons sê dat dit mooi is?” Hier kom juis na vore dít wat God belowe Hy in Christus gee. Ons erfenis is vir ons mooi, nie omdat die voorgeslag in alles korrek en volmaak opgetree het nie, maar die mooi is geleë dat daar aan Christus vasgehou is. Daarom kan ons as gelowiges ook ons hele geskiedenis as erfenisdeel beskou. God se versoening in Christus en die skoonmaak en reiniging van die Heilige Gees is wesenlik deel van die erfenis.

My erfenis is vir my mooi, dis pragtig, dis skoon – nie omdat daar geen sonde was nie, maar omdat dit as deel van my erfenis in Christus en die Gees skoongemaak is, mooi gemaak is en pragtig geword het.  Slegs wanneer ’n gemeenskap weer leer om só met jou eie erfenis om te gaan sal ons die twee slaggate vermy. Ons sal nie in sorgelose nalatigheid die erfenis wat God gegee het versmaai, of verag nie. Ons sal egter ook nie in hoogmoed en skynheiligheid die erfenis uit God se hand probeer klap asof dit nie Hy is wat dit uitdeel nie.

My erfenis is vir my mooi. In Christus kan ek dit ook vanuit my kultuur op Geloftedag weer sê sonder die pyn van skaamte, of heiligheid met skyn.

Foto: Photo by HannesThirion from https://www.istockphoto.com/portfolio/HannesThirion?mediatype=photography