My kind en Covid-19: ‘n jaar later – skep asem, Christen-ouer

Covid-19 het ons lewens die afgelope jaar geweldig verander. Volgens alle aanduidings gaan dit in die afsienbare toekoms steeds ʼn invloed hê. Almal is deur Covid-19 geraak, maar ouer persone en kinders word in die besonder geraak. Baie van die gevolge wat Covid-19 veroorsaak het, kan ʼn mens dadelik raaksien. Ander dinge is nie so opsigtelik en aantoonbaar nie. Covid-19 is en bly ʼn redelike traumatiese ervaring vir ʼn groot deel van ons gemeenskap. As ons na die invloed van trauma op ons as gemeenskap kyk, is dit belangrik om dieper te delf in wat genoem word “generatiewe trauma.” Dit is trauma wat op iemand anders oorgedra word, spesifiek op ʼn teikenpopulasie of groep. Ons kan ná ʼn jaar dus ernstig vra: Watter invloed het Covid-19 op ons kinders? Belangriker nog, hoe moet Christen-ouers hul kinders in hierdie tyd reg ondersteun?

Kenners meen dat die Covid-19-pandemie baie nadelige gevolge vir kinders ingehou het. Verskeie aspekte is betrokke. Een daarvan is skolastiese agterstande. Dr. Marietjie Bruwer, departementshoof vir Grondslagfase-onderwys by Aros, som die jaar goed op: “Die 2020-skooljaar was weens die inperking baie ontwrig en baie onderrigtyd het verlore gegaan, met die gevolg dat ons kinders op die oomblik agterstande het om in te haal. Dit is belangrik dat ons as ouers ons kinders sal ondersteun deur baie geduldig te wees, tyd saam met hulle deur te bring en hulp te verleen met huiswerk en leerwerk,” meen Bruwer.

Die een ding wat kinders egter die meeste geknou het, was hul gevoel van sekuriteit wat bedreig was. Hierdie emosionele behoefte van kinders moet hanteer word. Christen-ouers behoort in hierdie situasies gepas op te tree om hul kinders se gevoel van sekuriteit te herstel.

“Ons kinders het die afgelope jaar baie dinge gehoor en gesien, dinge waarop niemand van ons voorbereid was nie. Gesinne en families is geraak deur moeilike omstandighede en verliese. Ons kinders is intens bewus van die spanning en hartseer wat hul ouers ervaar en worstel dalk met vrae oor hoekom dit alles gebeur het. Gesels met jou kinders daaroor en maak seker dat hul gevoel van sekuriteit herstel word,” brei Bruwer uit.

Dr. Wikus Buys van Begrond gee ʼn paar Bybelse riglyne wat Christen-ouers in gedagte kan hou om kinders in die verband te ondersteun, spesifiek deur ʼn gevoel van sekuriteit in hul wêreld te herstel. Dit is belangrik vir ouers om te weet dat hulle ander kan help as hulle self gehelp is. Ouers wil goed na hul kinders omsien, maar voel soms sélf so oorweldig dat hulle self ook sukkel om kop bo water te hou. Hier volg ʼn paar Bybelse handvatsels om te gebruik sodat ons met nuwe krag na ons kinders kan omsien.

Die impak van Covid-19 op ons kinders se lewe moenie onderskat word nie. Ons moet nou reeds op die uitkyk wees vir moontlike langtermyngevolge wat die inperking op ons gesinne gehad het. Soms is ons almal so besig om net kop bo water te probeer hou dat ons nie agterkom dinge is al buite beheer nie. Alhoewel dit van kritieke belang is om te weet hoe jy self moet optree, is dit net so belangrik om professionele hulp in te kry as dit nodig is.

Liesel Brummer, ʼn dosent in Lewensvaardighede by Aros, gee ʼn paar handige wenke om die tekens van Covid-19-verwante stressors by jou kind raak te sien. Dit is belangrik om die omvang van die situasie te besef sodat ʼn mens na die gedrag in konteks kan kyk.

Daar is sekere vaardighede wat ouers en onderwysers kan toepas om die situasie te hanteer, of jou kind tekens van Covid-19-verwante stressors toon, al dan nie. Daar is verskillende vaardighede wat geld vir voorskoolse en skoolgaande kinders, asook vir tieners. Sy wys ook op die belangrikheid daarvan om betyds hulp te kry.

In die Covid-19-tyd het baie mense swaar gekry deurdat hulle self of hul ouers siek geword het of deurdat mense na aan hulle gesterf het. Hoe moet ʼn Christen in hierdie tye optree, veral as ʼn mens in ag moet neem dat jou geloof ʼn voorbeeld vir jou kind moet wees? Dit is nie so eenvoudig as daar soveel druk op ouers is om die huishouding aan die gang te hou, nuwe werkswyses te oorkom en boonop onderwysers se skoene op sommige dae moet volstaan nie. Christen-ouers kan krag daaruit put om te weet dat die Here belowe dat Hy ons nooit bo ons krag sal beproef nie. Christene moet daaraan vashou dat die Here deur sy Woord en Gees altyd by hulle is en hulle bystaan.

Ons het nou al almal van die nuwe normaal gehoor. Wat dit egter is, weet niemand presies nie. Wat wel vasstaan is dat die Here in beheer is. Dit is ons troos. Ons moet uit hierdie hoop en troos lewe. Daarom moet ons ook aan ons kinders die vastheid gee wat uit opregte vertroue in die Here straal.

Ons moet die balans in ons lewe terugkry. Balans tussen hoe om ons ons liggame op te pas sodat ons en ons kinders nie die virus opdoen nie. Daarbenewens moet ons die sielkundige en geestelike uitwerking van die virus, en ons reaksie daarop, nie gering ag nie.

Dr. Liesl Harding, ʼn mediese praktisyn van Pretoria, bied ʼn paar riglyne oor hoe om ʼn balans te behou tussen fisieke en emosionele/geestesgesondheid deur na regte teenoor voorregte te kyk. 

Dr. Harding meen ons kan dalk meer skade as wat ons dink aan ons kinders aanrig deur die inperkings té streng te handhaaf. Sy beantwoord ook die vraag of ons kinders van sosiale interaksie tydens inperking moet weerhou en of hulle veilig is by die skool.

Begrond is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap wil bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Bly in kontak met Begrond deur ‘n epos te stuur aan admin@begrondinstituut.co.za of registreer op ons webblad om die elektroniese nuusbrief te ontvang.