My plek: die troos van die hemelvaart

“En as Ek gegaan en vir julle plek berei het,kom Ek weer en sal julle na My toe neem,

sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Johannes 14:3

Die Here Jesus het met sy dissipels gepraat oor wat met Hom gaan gebeur in die laaste week wat Hy op aarde was.  Hy het hulle reguit gesê van sy kruisdood en opstanding.  Hy het hulle ook vertel van die feit dat Hy hemel toe gaan opvaar. Hy praat daaroor as die huis van sy Vader. Ons ken die bekende woorde van die Here Jesus waar Hy sê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. Ek gaan om vir julle plek te berei.”

Ons moet fyn onderskei tussen die kruisdood, die opstanding en die hemelvaart. Alhoewel die drie nóú verweef is, is daar ook ʼn duidelike onderskeid.  Die hemelvaart het veral daarmee te maak dat God se Seun vir ons plek voorberei by die Vader se huis. Die kruisdood van die Here Jesus lê klem op die feit dat Christus in ons plek die straf op die sonde gedra het, en die opstanding bring weer sterk na vore dat die nuwe lewe en nuwe moontlikhede ʼn werklikheid is.

Watter troos kan ons daaruit put as die Here Jesus vir ons sê: “Ek gaan om vir julle plek voor te berei”?

Om al die drade mooi bymekaar te hou, moet ons na drie aspekte kyk: gaan, plek en berei.

Gaan

Dié spesifieke woord wat die Here Jesus gebruik, dui op vooruitgaan of na die anderkant toe oorgaan. Met hierdie woord sluit die Here Jesus aan by wat die Heilige Gees voor sy koms na die aarde toe laat verkondig het deur die Pasga. Die woord Pasga is in Afrikaans ʼn woord wat ons ken, veral uit Eks. 12 met die slag van die paaslam. Dit alles dui op die verlossing wat Christus bewerk en wat Hy laat profeteer het deur die verlossing van die Israeliete uit Egipte.

Die Engelse vertaling gee egter iets weer wat ook in die Hebreeuse woord [“pesach”] opgesluit lê, naamlik “pass over”.  God se straf slaan die Israeliete oor wat met die bloedteken van die paaslam gemerk is. So verkondig die Here dat Hy deur die bloed van die Here Jesus, die eintlike Paaslam, die straf afkeer of afwend van sy kinders deurdat Hy dit self verduur.

Hierdie woord het egter ook die betekenis van “bo-oor beweeg” soos wat ʼn mens jou bakhand beskermend bo-oor iets sal hou. Op baie plekke in die Bybel sê die Here dat Hy sy hand oor ons sal hou. Dit sluit ook die beeld van die Pasga in.

As die Here Jesus vir sy dissipels sê “Ek gaan” en in die volgende vers “as Ek gegaan het”, dan verwys hierdie woord juis na die Pasga en die diep betekenis daarvan. Die Here gaan vooruit, Hy gaan ook oor na die Vader se huis. Hy beweeg na die anderkant omdat Hy juis sy spesifieke werk ook in die hemel moet afhandel. Op die aarde het Hy as pasga-lam betaal; nou neem Hy die offer verder.

Hy gaan op grond van sy betaling verder om ook in die hemel die effek van die betaling te bewerk. Ons kan dus getroos wees dat God se Seun die weg vir ons na die Vader se huis baan, en dat Hy waarborg dat die eindpunt van ons pad op aarde in die hemel eindig. Maar die pad waar ons opeindig is nie maar net sommer in die algemeen nie. Die pad eindig op ʼn spesifieke plek.

Plek

Om te verstaan wat die Bybel oor “plek” leer, moet ons veral na twee woorde in die Ou Testament kyk. Albei hierdie woorde word in Afrikaans vertaal met “plek”, maar die Hebreeuse woorde dui tog op sekere nuanses.

  • Plek as staanplek vir dienswerk

Die een Hebreeuse woord wat baie vir plekaanduiding gebruik word, is [‘âmad]. ‘n Goeie voorbeeld is En die sangers, die seuns van Asaf, was op hulle plek volgens die bevel van Dawid en van Asaf en Heman en Jedútun, die siener van die koning, en die poortwagters by elke poort; hulle het nie nodig gehad om van hulle diens af weg te gaan nie, want hulle broers, die Leviete, het dit vir hulle bereiDie hele diens van die HERE is toe op dié dag gereëlom die pasga te hou en brandoffers te bring op die altaar van die HERE volgens die gebod van koning Josía.” 2 Kron. 35:15.

Hierdie woord vir plek dui op staanplek, opstaan, gereedstaan, aangestel om ʼn spesifieke werk te doen, in die diens staan, om jou roeping te vervul en jou plek in diens van God vol te staan.

  • Plek as woonplek met inwoning van die Gees

Die tweede woord vir plek, wat altyd in samehang met die eerste een gelees moet word, is die woord [mâqôm] of [qûm] Hiervan is Deut. 12:5 ʼn goeie voorbeeld: “ … maar die plek wat die HERE julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom.” Deut. 12:5

Hierdie woord dui veral op die plek wat God uitkies waar Hy sy Naam laat woon, of dan “laat regop staan”. Die betekenis word veral gebruik vir die profesie oor die inwoning van die Heilige Gees, wat eers aangedui is deur die heerlikheid van God wat met ʼn wolk die tabernakel en tempel betrek, en later natuurlik die doop van Jesus Christus by die Jordaanrivier deur Johannes toe die Gees op Jesus gekom het. Plek dui dus hier daarop dat daar bewoonde spasie is, waar God se Naam aangeroep en aanbid word.

Wanneer die Here Jesus dus sê: “Ek gaan om vir julle plek te berei”, dan sluit dit albei hierdie twee betekenisse van die Ou Testament in, naamlik staanplek as dienswerk en inwoningsplek van die Heilige Gees waar God se Naam aangeroep word.

Die Here Jesus gaan dus met die hemelvaart “oor” na die Vaderhuis; daar berei Hy wonings vir elkeen van ons voor om staning voor God se oë te hê en die lieflike nabyheid van God te beleef in sy liefdesnaam.

Berei

Die Here maak hierdie plek so vir ons gereed. Dit beteken Hy doen dit in sy voorsienigheid –  sy liefde verseker en veroorsaak alles wat nodig is sodat ons die regmatige plek bereik as ons sy pad volg. Die pad loop uit op ʼn bepaalde plek wat Hy vir ons voorsien.  Hy gee dit, maar Hy sien ook toe dat ons voor Hom verskyn en loflik leef.

Dis wonderlik om daaraan te dink dat ons nie “maar net doodgaan” nie, maar dat ons dood as kinders van die Here gebeur binne en deur sy persoonlike voorbereiding. Hy maak alles reg en gereed sodat ons ons bestemde plek kan inneem in sy heerlike liefde. Dit is besonder troosryk as ʼn mens in ag neem dat die Here ons dus nie net as ʼn groep “in die bondel” ontvang nie, maar persoonlik na ons woonplek neem (die “wonings” van die vorige vers). 

Hy verseker ons unieke plek by Hom en sy Vader in liefde deur die Heilige Gees. Die woord “voorberei” dui ook op dit wat paslik is. Hy maak vir ons plek sodat ons – deur Christus se Persoon en dienswerk – inpas by Hom.  Die tuiskoms is volkome omdat ons dan belewe dat ons volkome is wat Hy nog altyd voorsien het ons gaan wees.

Hierdie wonderlike belewing kan skaars met aardse woorde beskryf word omdat die sonde en effek daarvan ons soms so ver van dié voorbereide plek verdryf het, dat ons ons skaars kan indink hoe dit sal wees om te leef soos God dit vir ons in die vooruitsig gestel het.

Die hemelvaart troos ons dat ons ʼn plek by God het. God is die Skepper van die hemel en die aarde. Ons het reeds by God hierdie plek in Christus en word verseker deur die Heilige Gees daarvan. Ons hemelse Vader se liefde het aarde toe gekom deur die koms van Jesus Christus en die Heilige Gees se uitstorting. Ons moet daarom nie God se beloftes en versekering van ons plek by Hom geringskat nie, nie in die hemel nie, en ook nie op die aarde nie. Ons het plek by God in die hemel en op die aarde.

Foto: Photo by Pixabay