‘n Gebed vanuit die dieptes

Dit bly verbasend hoe die Here werk. Nadat Jona opsetlik weggeloop het van God se opdrag,
sou ’n mens verwag dat God hom aan sy verdiende loon oorgee. Maar dit doen die Here nie.
In plaas daarvan red Hy Jona. Hy stuur ’n groot vis om Jona in te sluk, en dáár, in die
donkerte van die vis se maag, begin Jona se hart verander.

Die Bybel sê nie presies hoe lank Jona in die water was voordat die vis hom ingesluk het nie,
maar ons weet dat hy nie onmiddellik gebid het nie. Hy het eers tot die besef gekom dat hy
nie gaan sterf nie – dat hy nie verteer word nie, dat hy leef. En toe besef hy: die Here het hom
gered. Dít is waarom sy gebed, opgeteken in Jona 2, klink soos ’n lofpsalm.

Die struktuur van Jona 2 is besonder interessant. Die gedeelte rondom die gebed vertel die
verhaal – wat met Jona gebeur het. Maar tussen hierdie verhalende gedeeltes is Jona se gebed
ingeweef, amper soos die hart van die verhaal. En hierdie gebed is ryk aan woorde en frases
uit die Psalms self. Jona gebruik die Psalms om sy dankbaarheid teenoor die Here uit te druk.
Dit is asof hy, sonder sy eie woorde, die Here se eie Woord aan Hom teruggee – as lof en
erkenning.

Hieruit leer ons iets besonders: Die Psalms is gegee vir mense soos ons. Vir mense wat soms
nie weet wat om vir die Here te sê nie. Mense wat nie altyd die regte woorde het wanneer die
donker oor ons toesak nie. In die Psalms kry ons woorde wat die Heilige Gees self gegee het
– vir elke denkbare situasie. Lyding, depressie, vrees, vreugde, skuld, vergifnis – daar is ’n
Psalm vir elke oomblik.

Selfs in die maag van ’n vis was daar ‘n gepaste Psalm waarmee Jona die kon Here aanbid.
Ons sien dan in Jona se gebed dat dit nie ‘n smeekgebed is nie, nie ’n klaaglied nie, maar ’n
loflied. Hy sê self: “Ek wil aan U offer met ’n stem van lof.” Hierdie gebed is dus ’n
lofpsalm. Jona loof die Here vir Sy verlossing.

Wat hierdie gebed besonders maak, is dat Jona nie net tot die Here roep nie – hy roep tot “die
Here, sy God.” Terwyl ander vroeër in die verhaal ook bid (die heidense matrose), is Jona se
gebed uniek omdat dit uit ’n gevestigde verhouding met die Here gebore is. Hy is deel van
die volk van God, afgesonder vir die Here, en in daardie verhouding roep hy na Hom. Jona is
gered, maar hy verstaan dat dit die Here self is wat hom in benoudheid gebring het. Sy eie
ongehoorsaamheid het die storm oor hom gebring, en dit is die Here wat hom in die see laat
gooi het. Maar dit is ook die Here wat hom hoor wanneer hy, uit die maag van die doderyk,
roep. Dit is juis hierdie besef wat Jona laat lof sing. Hy sê: “Uit my benoudheid het ek die
Here aangeroep, en Hy het my verhoor.”

En dan volg een van die aangrypendste beskrywings van God se redding: “Ek het afgesak tot
by die wortels van die berge… maar U het my lewe uit die graf opgetrek, Here my God!”
Hier hoor ons eggo’s van ons eie verlossing. Want wat met Jona gebeur het, is meer as net ’n
persoonlike verhaal – dit is ’n voorafskaduwing van iets groters.

Soos Jona neergedaal het na die dieptes van die aarde, het Christus ook neergedaal – tot in die
doderyk, soos ons elke Sondag bely. Nie omdat Hy ongehoorsaam was nie, maar omdat óns
dit was. Christus het die volle oordeel van God aan die kruis gedra, die helse smart beleef, en
die aangesig van Sy Vader van Hom afgewend gesien. Dit is dít wat “neergedaal na die hel”
beteken – die volle gewig van God se toorn. En tog, soos Jona uit die vis se maag verlos is, is
Christus ook opgewek. En daarom kan ons, saam met Jona, uit die dieptes roep: “Maar tog
het U my lewe uit die grafkuil opgetrek, Here my God!”

Ons is nie oorgegee aan die dood nie. Nie omdat ons dit ons loon is nie, maar omdat Christus
ons verdiende loon namens ons gedra het. Jona se gebed word dus ook óns gebed. Sy
lofgebed is ons lofgebed. En die Here se barmhartigheid teenoor Jona is ‘n afskaduwing van
die barmhartigheid wat Hy aan ons bewys in Christus.

Wanneer daar nie woorde is om te bid nie, gee die Here self vir ons woorde – in die Psalms,
in die Skrif, en selfs in die getuienis van ’n profeet wat eers moes leer hoe diep God se
genade werklik is. Daarom kan ons saam met Jona sê: “Verlossing is van die Here.”

Deur Johann de Waal (Medewerker van Begrond)

Foto: Unsplash