Neem uit die verlede…

President Paul Kruger, een van die grootste leiers van die Afrikanervolk, het diepgaande woorde nagelaat

Neem uit die verlede wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms.”

Hierdie woorde is nie bloot ’n historiese mantra nie, maar ’n lewenswysheid wat direk verband hou met Kruger se siening oor vryheid en sy strewe om ’n selfstandige toekoms vir sy volk te verseker.

Kruger se Vryheidstrewe

President Paul Kruger se passie vir vryheid was diep geanker in sy geloof in God. Hy het geglo dat vryheid ’n Godgegewe reg is wat nie maklik prysgegee moet word nie. Vir Kruger was die stryd om politieke, kulturele en Godsdienstige vryheid nie bloot ’n mensgemaakte ideaal nie, maar ’n geestelike roeping wat gelei het tot ’n diepe afhanklikheid van die Here. Hy het geglo dat slegs met God se hulp ware vryheid vir sy volk moontlik is.

As president van die Suid-Afrikaanse Republiek (Transvaal), het hy ’n leidende rol gespeel in die weerstand teen Britse imperialisme, veral in die aanloop tot en tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy strewe om die volk se onafhanklikheid en selfbeskikking te beskerm, was nie net vir politieke oorlewing nie, maar vir die behoud van ’n manier van lewe en geloof wat hom na aan die hart gelê het. Dit was vir die behoud van die Afrikaner. Die Bybel was vir hom die riglyn vir regverdige regering. Hy het geglo dat as ’n volk se leierskap Goddelike beginsels volg, dat daardie volk voorspoedig sou wees.

Die rol van geskiedenis in ons begrip van vryheid

Kruger se beroemde woorde “Neem uit die verlede wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms” verwoord ’n fundamentele waarheid oor die rol van geskiedenis in ons begrip van vryheid. Geskiedenis is nie net ’n versameling van gebeurtenisse nie. Dit is eerder ’n versameling van lesse wat geleer kan word en gebruik kan word om ’n beter toekoms te bou. Deur die geskiedenis van die Afrikaner se stryd om vryheid te bestudeer, kan ons insig kry in wat dit beteken om ’n volk se selfbeskikking te handhaaf te midde van uitdagings.

Goeie geskiedenisstudie wys op die dinge wat ’n volk sterk en vry gemaak het, asook op die foute wat gemaak is. Dit sluit die verhale van opoffering, heldhaftigheid, maar ook teleurstellings en verliese in. Wanneer ’n volk kennis dra van sy verlede, word hulle in staat gestel om nie net te leer uit vorige foute nie, maar ook om die beginsels wat hulle voorouers vry gemaak het, te identifiseer en daarop voort te bou.

Soos Spreuke 22:28 sê: “Die ou grenslyne wat jou vaders gemaak het, moet jy nie verlê nie.” Hierdie Skrifgedeelte leer oor die belangrikheid van eerbied vir die nalatenskap van die verlede, om dit nie te verwaarloos nie, maar eerder daarop voort te bou en dit te eer. Vryheid wat gebaseer is op ’n bewustheid van geskiedenis, is ’n volhoubare vryheid.

Die belang van ’n grondige kennis van die verlede

Om ’n volk se geskiedenis te verstaan, is om hulle identiteit en bestemming beter te begryp. Die kennis van die verlede is ’n gids wat ons wysheid bied oor hoe om met die toekoms te werk. Wanneer ons verstaan wat in die verlede gebeur het, kry ons beter perspektief op wat tans van ons verwag word om ’n beter gemeenskap te bou. Dit is noodsaaklik om vir die volgende geslag die geskiedenis oor te dra, sodat hulle kan voortbou op wat goed en edel is.

Die neiging om geskiedenis te vergeet of te herskryf, kan lei tot die verlorenheid van vryheid. Wanneer ons historiese lesse minag, verloor ons die wysheid wat nodig is om huidige en toekomstige uitdagings te oorkom. Daarom is dit noodsaaklik dat ons ’n eerlike en deeglike kennis van ons geskiedenis behou. Dit stel ons in staat om te verstaan watter beginsels en waardes noodsaaklik was vir ons vryheid, sodat ons dit aan ons kinders kan oorlewer en hulle bemagtig om ’n sterker en vryer toekoms te bou.

NEEM UIT DIE VERLEDE PODSENDING

Die “Neem uit die Verlede” Podsending

In lyn met hierdie waardes, bied Begrond Instituut die nuwe “Neem uit die Verlede” podsending aan. ’n Platform waar geskiedenis, kultuur en politiek deurdag bespreek word. Die aanbieding word hanteer deur Alistair van Heerden, ’n medewerker van die Begrond Instituut, en Dr. Pieter Mulder. Dr. Mulder bring ’n skat van kennis na die tafel as ’n voormalige dosent en Professor aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO, sowel as ’n ervare politikus en politieke kommentator. Hy is ook ’n stigterslid van die Orania Beweging en het vir meer as 26 jaar ’n aktiewe rol gespeel in die gemeenskap.

Hierdie podsending poog om die lesse uit die verlede te herontdek en te ontgin, om dit weer toepaslik te maak vir ons tyd. Dit bied ’n platform vir gesprek oor hoe ons, deur die wysheid van ons geskiedenis, ‘n toekoms kan bou wat gegrond is op vaste beginsels van vryheid en selfbeskikking.

Met elke episode van “Neem uit die Verlede” word luisteraars genooi om saam te dink oor die geskiedenis en hoe dit ons lewens vandag beïnvloed. Dit moedig ’n hernude waardering vir die verlede aan, sodat ons uit dit wat goed en edel is, kan bou aan ’n toekoms wat gegrond is op die bestendige fondamente van ons erfenis.

Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)

Foto: Kruger op Kerkplein