Oordenking – bestiering

Bestuur en bestiering

Ons is so gewoond daaraan om dinge altyd self te bestuur dat ons dikwels God se bestiering uit die oog verloor. Ons ken die Afrikaanse uitdrukking: Die mens wik, maar God beskik. In hierdie onseker tye van die pandemie kom die vraag weer by ons op: Wat is dit wat God alles doen en wat is die mens se aandeel in alles?

Almag en verantwoordelikheid

God se almag en die mens se verantwoordelikheid – wat is die balans tussen die twee sake? Sommige ongelowige wêreldlinge beweer die mens kan nie eintlik enige iets beheer nie en ons moet maar die beste van ʼn wilde, woeste lewe maak.

Ander weer trap in ʼn slaggat deur te beweer dat die werklikheid wat ons sien net skyn is. Hulle sê eintlik daar sit ʼn geheime mag agter alles wat al die detail rig en reël. Wie is regtig in beheer, en wat is jou eie aandeel in gebeure?

Die Bybel wys ons duidelik wat die verband tussen bestuur en bestiering is. Christene wil hê dat God self hulle lewe bestuur. So bid Dawid in Psalm 31:4: “Want U is my rots en my bergvesting; en om U Naam ontwil sal U my lei en my bestuur.” God die Vader bestuur sy kinders se lewe deur sy Seun te stuur.

Die gestuurde Messias bestuur die lewe van die kinders van God. Hy is die Koning van alle konings. Hierdie Hebreeuse frase “U bestuur my” beteken letterlik om as gids vir iemand op te tree sodat daardie persoon by die regte bestemming uitkom. God stuur sy Woord en Gees en daardeur bestuur Hy sy kinders se lewe. So ervaar hulle sy bestiering in liefde met wat Hy bedoel. 

Bedoeling

Die Here se manier van bestuur verloop volgens sy ewige bestiering. Dit wat God wil, voer Hy volkome uit. Niemand kan aan Hom voorskryf of Hom verhinder nie. So sê die profeet Jesaja (40:13) as hy oor die skeppingsdaad van God praat: “Wie het die Gees van die Here bestier en as sy raadsman Hom onderrig?” [Eie beklemtoning]Hier beteken “bestier” om iets na waarde te skat en dit op die regte manier uit te balanseer. Dit beteken ook “uitmeet” en “afmeet”.

God se bestiering het te make met God se balans wat Hy vir die hemel en die aarde uitwerk. God gee soos Hy wil. God meet die dae van mense af soos Hy dit liefdevol goedvind. God rig sy skeppingswerk so dat dit uiteindelik met die hemel ook uitbalanseer. Dit beteken dat God se werke op aarde altyd in balans is met wie Hy ewig is en wat Hy wil bereik.

Hoe word mense bestuur?

Soms wonder ons in hierdie deurmekaar wêreld: Wat het van God se bestiering geword? Soms dink ons diep na oor ons eie verantwoordelikheid voor God in sy bestuur van die wêreld. Ons kan getroos wees deur twee dinge: God se Seun is sy Koning wat met die Heilige Gees gesalf is.

Hy is ewig in beheer en staan aan die hoof van die bestuur van alle sake. Ons moet dus altyd sy wil in alle dinge soek. Christene wat ander mense bestuur, moet dít die hele tyd in gedagte hou. Bestuur ek die mense met God se bedoeling, met my oog op sy bestiering? Is Christus my gids wanneer en hoe ek mense bestuur?

So sal God se bestiering van alle dinge al duideliker vir ons word. Die Here regeer. Die Here is in beheer. God self bestuur deur sy Woord en Gees. God rangskik alle dinge om in balans met sy wil te wees. Dit troos ons. Dit maak ons juis meer verantwoordelik voor God. Hoe bestuur jy jou lewe? Hoe bestuur jy ander mense? Ons moet volgens God se bestiering bestuur.

Foto: Photo by Ben White on Unsplash