Waarom is erfenisbewaring belangrik?
Nasionaal en internasionaal bly erfenis ʼn aktuele saak. In Maart 2021 is ʼn internasionale konferensie aanlyn vanuit België aangebied met die tema, “National forgetting and memory: the destruction of ‘national’ monuments from a comparative perspective.”[1] Dit is deur meer as 130 kundiges uit Suid- en Noord-Amerika, Brittanje, Europa en Afrika bygewoon, wat bewys dat die vraagstuk van hoe erfenis bestuur moet word, werklik tans ʼn internasionale brandpunt is.
Interessant genoeg was die deelnemers aan hierdie konferensie se ervarings redelik eenvormig – elke gemeenskap het op een of ander tydstip in die verlede op ʼn wyse opgetree wat vandag kontroversieel is (hetsy geregverdig of nie) en daardie historiese gebeure is met erfenisbakens herdenk. Nou staan die gemeenskappe voor die vraag of die bewaring daarvan onveranderd moet voortgaan, in ʼn hedendaagse konteks verduidelik moet word, verskuif moet word, of selfs vernietig moet word. Die betrokke gemeenskappe is onderling en intern uiters verdeeld oor wat die beste praktyk sal wees.
Voorbeelde van erfenisskendings wat genoem is, strek van terreur wat teen gemeenskappe en hulle erfenis gepleeg word, byvoorbeeld hoe die Islamitiese Staat (Isis) as deel van sy etniese suiweringsbeleid gemeenskappe soos die Yezidi se plekke van aanbidding en kulturele erfenisterreine stelselmatig verdag gemaak, toe geplunder en vernietig het, tot by die sogenaamde dekolonialisasie-optrede van gemeenskappe, die herontdekking van Frantz Fanon (1925-1961) se filosofie en die sogenaamde cancel culture-optrede wat eis dat standbeelde en monumente verwyder moet word omdat dit een of ander groepering aanstoot gee.
Soms word erfenis blatant gekaap – so het ʼn deelnemer aan die konferensie byvoorbeeld vertel hoe die inskripsies op monumente wat in die voormalige Joego-Slawië vir oorlogshelde opgerig is, afgekap word en nuwe inskripsies bo-oor gegraveer word, wat nuwe helde vereer en die geskiedenis sodoende probeer herskryf (of eintlik verdraai). Hierdie “herwinning” van standbeelde en monumente kom al uit die antieke tyd. Daar is dus helaas niks nuuts onder die son nie.[2]
Wat wel nuut is en wat groot gevaar vir die toekoms van erfenis in ons tyd inhou, is dat vandale en filosowe wat vandalisme aanwakker of aanprys, in die verlede tot ʼn groot mate deur plek en tyd beperk was. Daarteenoor kan enige oproep om erfenis aan te val vandag deur middel van sosiale media letterlik binne sekondes wêreldwyd gehoor word en steun werf.
Omdat erfenisbakens ook vir die gemeenskap wat dit opgerig het, sterk emosionele betekenis inhou, beteken dit dat ʼn aanval op erfenis gewoonlik dadelik heftige reaksie ontlok, wat weer mediabelangstelling prikkel en dus deur politici en joernaliste aangegryp word om aandag vir hulle doelstellings te trek.
Aan die een kant mobiliseer dit diegene aan albei kante wat die heftigste daaroor voel en aan die ander kant vind ʼn groot deel van die samelewing hierdie omstredenheid onsmaaklik en hulle onttrek hulle dus van erfenisbewaring, wat ewe noodlottig vir erfenis kan wees. Vir erfenis om te oorleef en gedy, moet die gemeenskap daarby betrokke wees en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
Die wyses waarop erfenis weergegee kan word, strek baie wyd – van monumente, standbeelde en museums, soos reeds genoem, tot die mondelinge getuienis van mense, weergawes in klank en beeld, publikasies, plekname, voorwerpe, rituele en talle ander voorbeelde.
Die bewaring van die verskillende soorte erfenis skep natuurlik ook unieke uitdagings. Monumente en standbeelde word byvoorbeeld op ʼn bepaalde tyd, op ʼn bepaalde plek en in ʼn bepaalde formaat opgerig, met ʼn baie spesifieke doelstelling in gedagte. Dit kan eerbetoon, magsvertoon, of selfs verootmoediging wees, of die waardes van ʼn huidige bestel vergestalt. Dan bly die baken staan, maar mettertyd word dit ʼn anachronisme. Terwyl die wêreld daaromheen verander, bly dit onveranderd – as’t ware gevries in die oomblik.
Assosiasie met die erfenis wat op enige van die bogenoemde wyses uitgebeeld word, skep ʼn gemeenskap se identiteit omdat dit ʼn gedeelde verlede uitbeeld. Dit is dan ook waarom erfenis kwesbaar is – dit kan deur enigeen met ʼn ideologiese agenda ingespan en verdraai word om die identiteit of beeld van die gemeenskap wat daardeur verteenwoordig word te probeer verander.
In 2016 is ʼn saak in die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland, oor die vernietiging van godsdienstige monumente in Timboektoe, Mali, aangehoor. Dié vandalisme het plaasgevind toe magte van Al-Kaïda-verwante groepe die stad in 2012 beset het. Die aangeklaagde, Ahmad al-Faki al-Mahdi, is daaraan skuldig bevind dat hy opdrag gegee het dat hierdie monumente vernietig word. Ten spyte van betoë ter strafversagting, is hy tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis. In Augustus 2017 is verder beslis dat skadevergoeding ten bedrae van bykans drie miljoen euro aanvullend tot Al-Mahdi se straf aan die plaaslike gemeenskap in Timboektoe betaal moet word.[3]
Dit was die eerste keer wat iemand op klagte oor die skending van erfenishulpbronne deur die Internasionale Strafhof verhoor is – ʼn reg wat die Statuut van Rome aan die hof verleen. Dié statuut bepaal onder meer dat die vernietiging van historiese geboue en monumente met godsdienstige betekenis ʼn oorlogsmisdaad is.[4]
Die aanklaer in die saak, Fatou Bensouda, het in haar betoog tydens die verhoor op 22 Augustus 2016 gesê:
Vandag se verhoor is inderdaad histories. En dit is des te meer histories gesien in die lig van die vernietigende woede wat ons era kenmerk, waarin die mensdom se gesamentlike erfenis onderwerp word aan herhaaldelike en beplande vernietiging deur enkelinge en groepe wat hulleself ten doel stel om die verteenwoordiging van enige wêreld wat van hulle sʼn verskil, uit te wis en te verdelg deur die fisieke manifestasies daarvan wat aan die hart van gemeenskappe lê. Die verskille en waardes van hierdie gemeenskappe word sodoende eenvoudig ontken en uitgewis.[5]
Maar is hierdie woede waarvan sy gepraat het, asook maatreëls om dit te probeer voorkom, werklik net eie aan ons tyd?
Helaas nie, want internasionale beleide ter bewaring van kwesbare erfenisbates, veral in tye van konflik, is veel ouer as hierdie saak.
Reeds in 1899 en 1907 is Haagse Konvensies geskep om onder meer erfenis te probeer beskerm. As die gevolge van die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918) in gedagte gehou word, kan ons met reg oordeel dat dit nie juis sukses behaal het nie.
Die Russiese advokaat, skilder en skrywer, Nicholas Roerich (1874 – 1947), wat getuie was van die vernietiging van kulturele bates in Rusland tydens die Oktober-revolusie (1917), asook tydens die Eerste Wêreldoorlog, was verantwoordelik vir die Roerich-verdrag van 1935. Dit het gepoog om meer omvattende beskerming aan kulturele bates gedurende gewapende konflikte te bied.[6] Grootskaalse vernietiging het helaas weer in die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 1945) gevolg.
Tydens die Neurenberg-verhore, ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog, is mense in 1946 wel vir die vernietiging van erfenishulpbronne aangekla.[7] Die sukses van dié vervolgingsprosesse het in 1954 aanleiding gegee tot die Den Haag-Konvensie vir die Beskerming van Kulturele Eiendom in die Geval van Gewapende Konflik.[8]
Daarna het die Statuut van Rome in 1998 gevolg.[9] Dit het die reeds genoemde vervolging van Al-Mahdi deur die Internasionale Strafhof moontlik gemaak, maar steeds duur die vernietiging voort.
Die aard van militêre en ander soorte konflik wat erfenis bedreig, het tot gevolg dat die sukses van enige ooreenkoms ter beskerming daarvan, gebrekkig is. Organisasies soos Geneva Call kom selfs tot stand om die belang van erfenis onder die aandag van sogenaamde gewapende niestaatlike rolspelers te bring. Hulle 2018-publikasie, Culture under Fire: Armed Non-state Actors and Cultural Heritage in Wartime, wat deur Unesco geborg is, probeer byvoorbeeld bewusmaking in dié verband skep.[10]
Van die ergste voorvalle van erfenisskending in die onlangse verlede het aan die hand van Isis plaasgevind. Op 26 Februarie 2015 het lede van die groep ʼn video-opname vrygestel wat toon hoe hulle artefakte in die Mosul-museum doelbewus vernietig. Hulle doelstellings was volgens hulle onder meer om duidelik te maak dat niks en niemand wat voor hulle bestaan het, van enige betekenis was nie. Dié optrede is beskryf as “ʼn poging om die wêreld se gesamentlike geheue te vernietig.”[11]
Van die voorwerpe wat vernietig is, was faksimilees, ander was oorspronklik en onvervangbaar. Dit is moontlik dat die video-opname ʼn rookskerm was, en dat sommige van die items nie vernietig is nie, maar gesteel is[12] ‒ moontlik om wapenaankope te finansier.
Hierdie skokkende voorval het aanleiding gegee tot ʼn uitstalling wat in 2019 deur die Imperiale Oorlogsmuseum in Londen aangebied is. Die tema daarvan was Culture under attack.
In hierdie uitstalling is die verskynsel van erfenisskending in fyn besonderhede ondersoek. Daar is onder meer gesê dat dit ʼn verwerping van diversiteit is wanneer enige gemeenskap se erfenis geteiken word, asook ʼn grafiese manier waarop ʼn skrikwekkende boodskap oorgedra word, naamlik: “Gee toe aan ons, of verloor alles wat vir julle kultuur van betekenis is.” Erfenis word dus as’t ware gyselaar gehou om die geteikende gemeenskap tot oorgawe te dwing.
Sodanige optrede kan egter die teenoorgestelde uitkoms hê, omdat dit iets raak wat só kosbaar vir ʼn gemeenskap is dat dit juis groter weerstand teen die skender kan aanmoedig.
Die uitstalling het verder daarop gewys dat mense ongelooflike stappe sal doen om kulturele erfenis te red. Soms sal hulle selfs bereid wees om daarvoor te sterf.[13] ’n Voorbeeld in dié verband is die “Monumente van die Skone Kunste en Argiewe-program” wat in 1943 van stapel gestuur is as teenvoeter van die Nazi’s se sistematiese veldtogte van vernietiging en plundering, asook van die Geallieerde Magte se optrede wat soms ewe vernietigend vir erfenis was. Die deelnemers aan die program staan in die volksmond as die “Monumente-manne” bekend.
In 2013 is ʼn rolprent, The Monuments Men, met onder andere George Clooney, Matt Damon en Cate Blanchett oor hulle avonture vrygestel wat opnuut die kollig op hulle besondere bydrae tot die behoud van erfenis laat skyn het. In hierdie geval is die ware gebeure waarskynlik selfs meer spannend, interessant en opwindend as die silwerdoekweergawe daarvan – twee lede van die groep het inderdaad gesneuwel in pogings om erfenis te red.[14]
Die Imperiale Oorlogsmuseum se uitstalling het ook verwys na ʼn verskynsel wat “die uitwissing van geskiedenis” genoem word. ʼn Byskrif definieer dit as ’n “deel van doelbewuste pogings om mense uit te wis: hulle verlede, sowel as hulle hede en toekoms.”[15]
Hierdie aspek hou ʼn belangrike waarskuwing vir ons in Suid-Afrika in, soos later verduidelik sal word.
In die Verenigde State van Amerika word deesdae voortdurend debat gevoer oor gedenktekens wat met kolonialiste en ondersteuners van slawerny verband hou. Dit is ook die geval in Europa waar standbeelde toenemend onder vandale deurloop.
Verskillende oplossings word hiervoor aangebied. In September 2019 het die Amsterdamse Museum byvoorbeeld besluit om met die benaming “die Goue Eeu” vir die 17de eeu weg te doen omdat dié tydperk volgens die museum nie “goudkleurig” vir slawe en gekoloniseerdes was nie. Daarteenoor het die Ryksmuseum besluit om die benaming te behou.[16] Onlangs, in September 2021, is weer aangekondig dat ʼn nuwe adviesraad moet sorg dat Amsterdam se straatname meer inklusief is. Skynbaar staan eeue oue historiese name soos Herengracht lede van die stadsbestuur nie aan nie omdat dit té pertinent na mans of na Christene verwys.[17]
Al meer mense en gemeenskappe word in die naam van inklusiwiteit en groter verdraagsaamheid uitgesluit en daar word al hoe onverdraagsamer opgetree.
Dit is ook die geval wat Suid-Afrika se eie “beeldestorm” aanbetref, ʼn stryd wat veral met die #RhodesMustFall-protesbeweging in Maart 2015 momentum gekry het.
Nadat die landswye #MustFall-veldtog oor standbeelde gaandeweg deur die stryd vir gratis tersiêre onderrig oorskadu is, het dit momentum verloor, maar voordat dit gebeur het, het gemoedere só hoog geloop, dat die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, op 17 April 2015 ʼn beraad oor die transformasie van erfenis gehou het. Daaruit voortspruitend is ʼn taakspan aangewys wat riglyne vir so ʼn transformasieproses moes skep.[18] Die skrywer het AfriForum en/of Afrikaners op die taakspan verteenwoordig.
Die span het aanvanklik landswyd openbare raadplegingsessies met bewaringskundiges en ander gemeenskapsleiers onderneem. Daarna is met die opstel van ʼn verslag en aanbevelings begin – baie hiervan aanvegbaar en hoegenaamd nie vir my of vir AfriForum aanvaarbaar nie, maar voorlopig eers meer oor die raadplegingsessies.
Die een feit wat in alle provinsies duidelik was, is die verstommende onkunde onder Suid-Afrikaners oor die geskiedenis. In KwaZulu-Natal het een deelnemer byvoorbeeld verklaar:
Niemand praat oor die rol van swart mense in die Tweede Wêreldoorlog nie; in stede daarvan word ons vertel dat die Tweede Wêreldoorlog oor die vergassing van Jode gegaan het, net omdat die Jode die ekonomie besit en bepaal het wat in die media gesê word.[19]
Wat wel interessant is, is dat min mense uiteindelik gevra het dat enige standbeelde verwyder moet word.
In die Oos-Kaap het diegene wat ten gunste was van die oprig van meer standbeelde wat die breër gemeenskap verteenwoordig, bloot gevra dat nuwe beelde dan net so groot en van dieselfde gehalte as die bestaande monumente moes wees om nie teen bestaande beelde en monumente wat van vóór 1994 dateer, af te steek nie.
In die Vrystaat het die een na die ander deelnemer aan die raadplegingsproses dit eenvoudig gestel: “Gee vir ons werk en hospitale en skole. Meer of minder standbeelde maak aan ons geen verskil nie.”
Bykans sewe jaar later het ek uiteenlopende herinneringe aan die proses, maar ook aan die spanlede met wie bande van wedersydse erkenning en respek gesmee is, al het ons ooreengekom om te verskil. Ek bly egter steeds wonder oor die vraag of dit ʼn eerlike soeke na oplossings was, of bloot ʼn noodmaatreël om die vandalisme te probeer stop, of ʼn ideologiese verskoning om van die laaste spore van die koloniale Afrikaner- en/of wit erfenis ontslae te raak.
ʼn Voorstel wat deurgaans in konsepverslae en later in die finale weergawe opgeduik het, is dat alle standbeelde wat “aanstoot gee”, met ander woorde wat uit die eras voor 1994 dateer, in temaparke uitgestal moet word[20] – ʼn voorstel wat sy ontstaan aan die Muzeon Park of Arts in Moskou[21] te danke het.
Die verwydering van enige erfenisstuk uit die openbaar omdat dit aan een of ander segment van die gemeenskap aanstoot gee, kan as ʼn vorm van geskiedenisuitwissing beskou word, selfs al sou so ʼn stuk steeds bewaar word, of elders toeganklik wees. Die historiese voetspoor wat ʼn vorige geslag nagelaat het, word daardeur gemanipuleer.
Dit beteken allermins dat ons alle gebeure of individue uit die verlede hoef te vereer, of dat gebeure uit die verlede bo kritiek verhewe moet wees – geskiedenisbeoefening laat ons immers met die ruimte om dié persone en gebeure se invloed opnuut te herinterpreteer (maar ook in die lig van hul eie tyd te verstaan). Om dit te kan doen en die openbare debat daaroor lewendig en gesond te hou, moet hierdie spore egter in konteks sigbaar bly.
Persoonlik vra ek: As my voorvaders se standbeelde soveel pyn veroorsaak dat hulle uit die openbaar moet verdwyn om nie aanstoot te gee nie, hoe lank is ek en my nasate dan nog hier welkom?
Hierdie risiko word ook deur die Imperiale Oorlogsmuseum se uitstalling beklemtoon.
Daar word uitgewys hoe volksmoorde, soos die Holocaust of gebeure in die voormalige Joego-Slawië, telkens deur erfenisvernietiging voorafgegaan is. Die optrede is deel van pogings om groepe mense met ʼn bepaalde nasionale, etniese, rasse- of godsdienstige identiteit te vernietig. Daardeur word die vermoë van oorlewendes om hulle identiteit uit te druk en te behou, verswak. Uiteindelik word dit pogings om alles wat van hulle bestaan getuig, uit te wis.[22]
Hierdie gevaar is ook beklemtoon deur dr. György Tatár van die Boedapest Sentrum vir die Internasionale Voorkoming van Volksmoord en Massagruweldade. In 2014 het hy in ʼn voorlegging aan die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede gewaarsku dat die verdraaide uitbeelding van ʼn volk se verlede direk tot geweldpleging teen hulle kan bydra.[23]
Dit is beslis nie (of nog nie) waar ons tans staan wat erfenis in Suid-Afrika aanbetref nie, maar dit is ʼn risiko waarvan ons bewus móét bly in ons hantering van erfenisbakens en die boodskap wat die verskuiwing daarvan oordra.
In gesprekke met dr. Maarten van Alstein van die Vlaamse Vredesinstituut in Desember 2015 het hy aan my genoem dat erfenis in konteks uitgebeeld moet word, met inagneming van alle standpunte daaroor, maar dat dit nie uit die openbare oog verwyder moet word nie. Hy meen verskuiwings demp debat oor die verlede, verander geen werklikhede nie en mag selfs daartoe bydra dat waar vergrype plaasgevind het, ontkenning kan volg, in plaas van die bevordering van wedersydse begrip en respek.
Deelnemers aan die Belgiese Konferensie het tot ʼn soortgelyke gevolgtrekking gekom ‒ soms kan die verwydering of vernietiging van ʼn erfenisbaken dit baie meer sigbaar en prominent maak as wat dit sou wees as dit sou bly waar dit oorspronklik was en mettertyd dalk selfs in die vergetelheid sou wegsink.
In November 2018 het ek die kwessie ook met dr. Amy Strecker, ʼn deskundige oor erfenisskendings tans verbonde aan die Universiteit van Leiden, bespreek. Sy meen gemeenskappe behoort seggenskap oor hulle eie erfenis te behou. Waar besluite namens hulle daaroor geneem word, kom dit volgens haar op ʼn ernstige skending van hulle menseregte neer.
Die gevolge strek selfs wyer. Die kernboodskap van die Internasionale Strafhof se uitspraak was dat wanneer erfenis geskend word, dit nie net ʼn enkele gemeenskap benadeel nie, maar die mensdom in die geheel.
Hopelik sal ʼn tyd van meer genuanseerde standpuntinname en respek vir die menseregte wat ook in erfenis gesetel is, tog mettertyd in Suid-Afrika en elders aanbreek. Tans lyk dit egter of dit nog ʼn ver pad daarheen mag wees.
Veral in September, ook bekend as Erfenismaand, doen die Suid-Afrikaanse minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, jaarliks die een of ander omstrede aankondiging. In 2020, terwyl al wat museum in ʼn stryd om oorlewing was ná die Covid-19-inperkings, het hy nie met ʼn verbeeldingryke reddingsplan vorendag gekom om hulle by te staan nie, maar eerder weer die temaparkidee verkondig. In 2021 was die fokus daarop om Brandfort na Winnie Mandela te vernoem. Die woede van die inwoners van dié dorp oor die bedenklike toestand van munisipale dienslewering het dié aankondiging egter oorskadu.[24]
Insgelyks het die EFF in die aanloop tot die munisipale verkiesings in November 2021 vir die soveelste keer geëis dat die Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria verwyder moet word. Toe dit minimale mediareaksie ontlok het, het die stof weer daaroor gaan lê.[25]
Tog sal aanslae van die aard aanhou en helaas soms ook sukses behaal. ’n Voorbeeld in dié verband is die onverkwiklike stryd van die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat en ʼn klein groepie aktiviste om die standbeeld van pres. M.T. Steyn van hulle kampus te verwyder. Die groep het in 2020 eindelik sukses behaal ten spyte van oorweldigende openbare steun vir die behoud daarvan op die kampus – steun wat op die universiteit se uitgebreide openbare-deelnameproses gevolg het, deeglik gedokumenteer is en deur die universiteit as geldig erken is. Tog is daar op die verskuiwing daarvan aangedring. Die motivering was weereens dat dit harmonie en inklusiwiteit op die kampus sal bevorder.[26] Ironies genoeg is pres. Steyn se beeld nou weg, maar die onrus op die kampus nie …[27]
As ons dus erken dat erfenisbedreiging plaaslik en internasionaal vir die afsienbare toekoms ʼn werklikheid gaan bly, moet ons aan kreatiewe wyses dink waarop ons dit kan bewaar, selfs wanneer vernietiging reeds plaasgevind het.
Een opwindende wyse is deur kuns. Die Irannese kunstenaar, Morehshin Allahyari, het byvoorbeeld ʼn projek van stapel gestuur om die vernietigde erfenisskatte van die Mosul-museum te herskep. Sy maak 3D-uitdrukke daarvan en binne-in die voorwerpe word geheuestokkies geplaas wat afbeeldings, dokumente en video’s bevat wat met die oorspronklike voorwerp verband hou. Inligting daaroor word ook aanlyn gedeel en die publiek is genooi om by die projek, Material Speculation: ISIS, betrokke te raak.[28]
Tegnologie skep ook ander wyses waarop erfenis bewaar kan word, soos deur die digitalisering van dokumente, skandering van monumente en standbeelde, of die inspan van hommeltuie om opnames van erfenisterreine te maak. Die FAK se projek met betrekking tot die Kruger-standbeeld op Kerkplein is ʼn verbeeldingryke plaaslike voorbeeld in dié verband.[29]
Só kan ons tog iets behou wanneer ideologiese optrede, misdaad, ontwikkeling, natuur- of ander rampe die oorspronklike bakens laat verdwyn, dit beskadig of vernietig.
Op die vraag oor waarom soveel moeite met erfenis gedoen moet word, wil ek aansluit by die standpunt geopper in die uitstalling in die Imperiale Oorlogsmuseum, naamlik dat erfenisbewaring aangepak word sodat hierdie kosbare en geliefde plekke en skeppings aan toekomstige geslagte oorgedra kan word in die hoop dat die mensdom steeds deur die bestaan daarvan geestelik verryk sal word.
Verder beskou ek dit ook as deel van ons Christelike roeping – God vertrou ʼn bepaalde identiteit aan ons toe en dit sluit ons geskiedenis en erfenis in. Ons is slegs die rentmeesters daarvan en ons plig is om dit aan die geslagte wat ná ons kom, oor te dra. Dit beteken nie dat ons mense vereer nie, maar wel dat ons erkenning gee aan die Vader wat ons lot deur alle tye heen beskik.
Mag dit wat aan ons toevertrou is, en dit wat ons daarby voeg, ook vir hulle wat ná ons kom ʼn kragtige getuienis van feilbare mense se inspanning en die Here se genade wees.
Die Pleingesprek word deur die Begrond Instituut vir Christelike Grondslagstudies aangebied. Met hierdie gespreksforum fasiliteer die Begrond Instituut filosofiese gesprekke wat die Afrikaner se toekoms raak. Die bedoeling is om ’n platform te voorsien waar ons in ’n gemaklike ruimte mekaar se denke kan slyp en verder stimuleer. Inhoud is geplaas met die goedkeuring van die skrywer.
[1]. http://www.nise.eu/wp-content/uploads/2020/11/CfP-2021_Destruction-of-National-Monuments-FIN.pdf.
[2]. Sien byvoorbeeld https://historyofyesterday.com/damnatio-memoriae-a1facb4b249e en vir nog vreemder voorbeelde https://blog.oup.com/2016/03/sculptural-transformation-roman-london/.
[3]. Vir die volledige rekord van die saak, sien https://www.icc-cpi.int/mali/al-mahdi.
[4]. https://www.icc-cpi.int/sites/default/files/RS-Eng.pdf, pp.4-5.
[5]. https://www.icc-cpi.int/news/statement-prosecutor-international-criminal-court-fatou-bensouda-opening-trial-case-against-mr.
[6]. https://ihl-databases.icrc.org/ihl/INTRO/325?OpenDocument; https://en.wikipedia.org/wiki/Roerich_Pact.
[7]. https://www.ohchr.org/sites/default/files/Documents/Issues/CulturalRights/DestructionHeritage/ NGOS/A.P.Vrdoljak_text1.pdf.
[8]. https://en.unesco.org/protecting-heritage/convention-and-protocols/1954-convention.
[9]. https://www.icc-cpi.int/sites/default/files/RS-Eng.pdf.
[10]. https://www.genevacall.org/wp-content/uploads/2019/02/Cultural_Heritage_Study_Final_HIGHRES.pdf.
[11]. https://www.theguardian.com/world/2015/feb/26/isis-fighters-destroy-ancient-artefacts-mosul-museum-iraq; https://mg.co.za/article/2015-04-09-the-war-waged-on-human-history/.
[12]. https://www.aljazeera.com/features/2015/3/9/the-full-story-behind-isils-takeover-of-mosul-museum.
[13]. https://www.iwm.org.uk/history/culture-under-attack; https://artsandculture.google.com/story/fwUhIjhAi6AwKA.
[14]. https://slate.com/culture/2014/02/the-monuments-men-true-story-fact-checking-the-george-clooney-matt-damon-movie.html.
[15]. https://www.iwm.org.uk/history/culture-under-attack; https://artsandculture.google.com/story/fwUhIjhAi6AwKA.
[16]. https://nos.nl/artikel/2301505-kritiek-op-ban-gouden-eeuw-rijksmuseum-handhaaft-de-term.
[17]. https://www.telegraaf.nl/nieuws/199952984/nieuwe-adviesraad-moet-amsterdamse-straatnamen-inclusiever-maken.
[18]. https://www.gov.za/speeches/minister-nathi-mthethwa-hosts-successful-heritage-transformation-consultative-meeting-18.
[19]. Interne verslag van ministeriële taakspan, Pretoria, 2015.
[20]. https://www.capetalk.co.za/articles/396126/govt-to-create-theme-parks-for-statues-linked-to-apartheid-and-colonialism.
[21]. https://park-gorkogo.com/en/muzeon.
[22]. https://www.iwm.org.uk/history/culture-under-attack; https://artsandculture.google.com/story/fwUhIjhAi6AwKA.
[23]. Persoonlike notas, Sewende sitting van die Forum vir Minderheidsaangeleenthede, Genève, Switserland, 25 tot 26 November 2014.
[24]. https://businesstech.co.za/news/trending/511554/another-name-change-announced-for-south-africa/; https://www.ofm.co.za/article/centralsa/312272/brandforts-name-change-will-not-improve-service-delivery-residents.
[25]. https://www.iol.co.za/pretoria-news/news/eff-renews-calls-for-removal-of-paul-kruger-statue-on-church-square-71975f62-d824-46c5-9ce4-dff5ca884bc1.
[26]. https://www.ufs.ac.za/about-the-ufs/mt-steyn-statue-public-consultation.
[27]. Bygewerk in April 2022: https://www.ufs.ac.za/templates/news-archive-item-more/campus-news/2022/february/update-situation-on-the-bloemfontein-campus-23-february-2022.
[28]. http://www.morehshin.com/material-speculation-isis/.
[29]. https://rekord.co.za/368147/fak-beloof-om-paul-kruger-standbeeld-te-bewaar/.