Sosiale geregtigheid – nuwe uitdagings vir Christene vandag

Die debat oor sosiale geregtigheid is vol slaggate – veral as Christene ook daaraan wil deelneem. Deur al die eeue was daar verskeie denkers wat nagedink het oor hoe presies mense in ʼn groep, in ʼn samelewing, hulle behoort te gedra. Die gesprek oor sosiale geregtigheid gaan in wese oor die bou-blokke van ʼn gemeenskap se instellings in ʼn samelewing.

Waaroor gaan dit eintlik?

Die idee en gesprek oor sosiale geregtigheid kan nie vermy word nie. Dit behoort trouens ook nie vermy te word nie. Waarvoor ʼn mens as Christen egter wel waaksaam moet wees, is dat die agenda van die gesprek nie eensydig en skeefgetrek bepaal word nie. Die onderliggende idee oor presies wat elkeen verstaan onder sosiale geregtigheid bly dikwels ondeurdag en onbespreek. ʼn Mens word dikwels (skielik) gekonfronteer met ʼn aanspraak of optrede van iemand anders wat voorgee dat dit in belang van sosiale geregtigheid is.

Om ʼn paar praktiese voorbeelde te noem:

–              Die kwessie oor manlikheid en vroulikheid word uitgedaag as daar in openbare ruimtes, soos ʼn winkelsentrum, aangedring word dat toiletgeriewe nie net een van die twee geslagte as opsie moet bied nie. Die vraag is of dit sosiale geregtigheid is om ʼn derde soort ablusiegerief te hê.

–              In sekere lande duik die kwessie oor geslag ook deesdae op wanneer ʼn geboortesertifikaat by die geboorte van ʼn baba ingevul moet word. Mag die ouers by geboorte invul “seun/dogter” of moet die keuse van geslag aan die kind self oorgelaat word om eers later met ʼn geslag te identifiseer? Is dit sosiale geregtigheid om die vraag oor geslag op geboortesertifikate weg te laat?

–              Op ekonomiese gebied het die saak van sosiale geregtigheid baie toepassingspunte. So kan gevra word of swart ekonomiese bemagtiging as sosiale geregtigheid eties verantwoord is. Dieselfde kan gevra word oor dekolonisasie en historiese skuld en restitusie, om enkele voorbeelde te noem.

–              Die vraag oor of ʼn mens voor ʼn sportbyeenkoms móét kniel is kenmerkend ʼn vraag oor wat presies sosiale geregtigheid is, of nie is nie.

Christene – opreg of naïef?

Christene word dikwels met ʼn slap riem gevang. Ons behoort te onderskei tussen opregtheid en blote naïwiteit. Dit is naïef as ʼn Christen die voorafbepaalde definisie en bestekopname van ʼn teorie net so oorneem en dan daarna probeer om met ʼn vreemde woordeskat sinvol en Christelik te praat.

Die definisie van wat as “sosiale geregtigheid” aanvaar word, is dus uit die staanspoor baie belangrik. Die Engelse begrip “social justice” lei ʼn mens ʼn bietjie van die spoor af, aangesien daar – soos aangetoon gaan word – ʼn onderskeid is tussen regverdigheid en geregtigheid. Die eerste regstelling lê dus reeds in die benaming “geregtigheid”, wat daarop dui dat dit oor veel meer gaan as net oor regverdigheid. Hoe belangrik regverdigheid ook al is, kan dit in geen opsig van geregtigheid losgemaak word nie.

Wie of wat is die standaard?

Die vraag in die ondersoek ontstaan dus nou duidelik: Wat is die standaard waaraan gemeet word of iets regverdig is of nie? Die meeste denkers reg oor die spektrum stem ten minste oor een punt saam en dit is dat regverdigheid meer behels as ʼn wetlike uitspraak of aanspraak. Regverdigheid het meer om die lyf as om te bepaal of iets wetlik reg of verkeerd is. Enige uitspraak oor of iemand se optrede eties en moreel regverdigbaar is, vereis ʼn breër raamwerk. Die kernvraag vir Christene is dus volgens watter reël ons meet of iets regverdigbaar is of nie.

God of die mens?

Ons moet maar versigtig wees vir “Christelike perspektiewe” of “Christelike waarhede” aangesien die gevaar bestaan om die standaard nog steeds juis in die mens te soek (al sou dit nou die getal Christene wees). Die Griekse filosoof Protagoras het al gesê: Die mens is self die maatstaf van alle dinge, van die werklikheid wat bestaan en van die onwerklikheid van wat nie bestaan nie. Hiermee kan Christene nie saamstem nie.

Alle reg is God se saak

Alle reg is ʼn saak van God. Die Bybel leer ons baie duidelik dat God self bepaal dat sy geregtigheid deurslaggewend is. Dit geld vir die mens wat Hom ken én vir diegene wat Hom selfs nie erken nie. Die eerste twee hoofstukke in die brief aan die Romeine maak dit baie duidelik: Geregtigheid is ʼn Goddelike deug. Dit beteken dat ons as Christene nie kan toegee dat die mensdom self die standaardbepalers is nie. Dit is ongelukkig juis ook die achilleshiel van die menseregtegodsdiens tans.

Die mens, selfs al die mense as die mensdom saam, kan nie bepaal wat regverdigheid is nie want geregtigheid, waaruit regverdigheid voortspruit, is ʼn deug van God self. Paulus benadruk hierdie punt in sy gesprek met die Jode en die Grieke. Vir sinvolle debattering oor “sosiale geregtigheid” moet die definisie dus goed omlyn wees deur te stel dat dit meer insluit as sosiale billikheid of medemenslike regverdigheid.

Iemand sou nou redeneer dat jy as Christen egter nie daarop kan aandring dat jóú eie definisie die oorhand kry nie. Alle mense is tog nie Christene nie. Hoe kan jy die bestaan van God en sy geregtigheid deel maak van ʼn gesprek met iemand wat juis nie in God en sy geregtigheid glo nie? Dit is juis die punt om ʼn Christen te wees. ʼn Christen getuig van die Christus. Sonder die geregtigheid van God in Jesus Christus het geen Christen enige iets sinvols vir die wêreld te sê nie.

Dit beteken dat die Christene wat in debatte die afgelope jare vanuit ʼn “Christelike perspektief” aangevoer het, of ʼn saak daarvoor probeer uitgemaak het dat hulle as Christene óók ʼn reg op regverdige behandeling het, eintlik in ʼn valstrik getrap het. Alle reg is ʼn saak van God self – ook vir die samelewing. Geen reformasie, trouens geen behoud van ʼn samelewing, is moontlik sonder hierdie fondament nie. Christus word nie deur die kerk tot Koning van die wêreld gekroon nie. Christus ís die Koning van alle konings en word in die kerk as sodanig erken: “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”(Efesiërs 1:22-23)

Reg, geregtigheid en regverdigheid

Sosiale geregtigheid is dus ten diepste ʼn navraag oor die geregtigheid van God in die samelewing. Die Skrif onderskei duidelik drie sake hierin, naamlik:

1.            Die reg (as wet). Dit word breër omskryf as die wet van God, as sy regsaanspraak op sy skepping, en die reg (wette) van die mens, wat daaraan ʼn positiewe formulering moet gee. Die volgende dien as ʼn eenvoudige voorbeeld hiervan: God se wet eis dat jy nie jou naaste mag doodmaak nie. Daarom kan die verkeersowerhede ʼn wet maak wat sê jy mag slegs 60 km per uur in ʼn dorpsgebied ry.

2.            Die geregtigheid van God. Dit is ʼn deug van God en is soos al sy ander deugde volmaak. God is altyd reg en altyd regverdig. Hierdie erkenning of miskenning van wie God self is, is waar die paaie in die samelewing uiteengaan.

3.            Regverdigheid voor die aangesig van God en regverdigheid tussen mense onderling.

Die volgende verteenwoordigende Bybel gedeeltes toon aan dat daar ʼn onderlinge verband tussen reg, geregtigheid en regverdigheid is.

In die wydingsgebed van die tempel word al die lyne saamgebind:

Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom ʼn eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer, wil U dan hoor uit die hemel en handel en aan u knegte reg verskaf deur die skuldige te vergelde en sy wandel op sy hoof te lê, en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid. (2 Kron. 6:21-23).

God is reglynig

Die geregtigheid van God kan op sy mees populêre manier beskryf word as God se reguit lig. Hy is die Lig en meet alle doen en late van die mens aan wie Hy self is. God se geregtigheid is sy reg-lynigheid.

Die kritieke punt in die debat oor sosiale geregtigheid is dat God se geregtigheid alleen in Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees toeganklik word. Die begrip “sosiaal” wys ten diepste op ʼn saam-lewe, ʼn gemeenskaplike bestaan. Die begrip “sosiaal” is dus ten eerste nie ʼn menslike term nie, maar ʼn goddelike term. God self bepaal en fundeer wat “sosiaal” is, wat gemeenskaplik-lewe is. Die band wat God die Skepper met sy skepping het, die band wat God die Vader met sy kinders het, die band wat die twee nature van Christus is, die band wat Christus as Hoof van alle dinge met sy kerk het, as Hoof van sy liggaam, is die diepste fundering van wat “sosiaal” is.

Die Skrif bied twee duidelike uitsprake in die verband:

• Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe – en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is – wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. (1 Johannes 1:1-3)

• En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. (Genesis 1:26-27)

Die vraag in die debat oor sosiale geregtigheid is dus glad nie waar die Christene se God in die samelewing inpas nie, maar of die mense in hul saam-lewe reg by God en by mekaar inpas. Die verskil is fundamenteel en die uitslag ook uiteenlopend.

Wat staan ons nou te doen?

Watter opsies laat dit nou vir Christene in die hantering van die vraagstuk oor sosiale geregtigheid?

•             Daar wag ongelukkig nog groot ontnugtering op die Afrikaanse Christene wat gedink het hul godsdiensvryheid is gewaarborg in die sogenaamde Suid-Afrikaanse regstaat. Waar die mens as maatstaf geneem word, word daar nie met God se geregtigheid gemeet nie. ʼn Grondwet is nie die Bybel nie. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal egter dat waar die Grondwet en die Bybel verskil, die Grondwet reg en die Bybel verkeerd is. Dit is die wet. Dít is die harde reg van die nasiestaat, Suid-Afrika. Die gevolg hiervan sal hom in al die samelewingsinstellings uitspeel. Hierdie onsosiale gedrag sal deur landswette afgedwing word totdat die samelewing vir die huidige Christen-oog haas onherkenbaar word. 

•             Verder lê die oplossing nie in verstelling van die sosiale kontrak nie. As Christene ʼn plek(kie) vir God op die sosiale geregtigheidsleer probeer beding, sal hulle agterkom dat hulle altyd maar op die onderste sport te staan kom. Die huidige debat in die Suid-Afrikaanse samelewing – ook die aandrang op die hernuwing van die sosiale kontrak – hou dus groot gevaar vir Afrikaanse Christene in. Die sosiale kontrak maak net voorsiening vir individuele regte en nie vir ware gemeenskapslewe met God en voor God nie. Daar moet nie aan die hernuwing van die sosiale kontrak deelgeneem word nie.

•             Wat die Afrikaanse Christene tans te doen staan, is om ʼn nuwe gemeenskapshandves in die plek van die sosiale kontrak daar te stel – een wat die reg, die geregtigheid van God en regverdige optrede teenoor medemense as vertrekpunt het. Vanuit dié handves moet ʼn nuwe gemeenskaps-ruimte bedink en beding word – een waar die gemeenskaplike akkoord óók gemeenskapsruimte insluit. Die manier van dink oor sosiale geregtigheid sal bestaande instellings (en nuwes wat nog moet volg) die ruimte bied om die reg regverdig te handhaaf. Ten diepste beteken dit egter dat ons ʼn nuwe grondwet kort – ʼn nuwe wet (reg) gegrond op die geregtigheid van God, wat regverdig toegepas kan word.

Die debat oor wat sosiale geregtigheid behels, bied talle uitdagings vir Christene in die algemeen, en vir Afrikaanse Christene in die besonder. Die tyd het nou aangebreek om die debat te verdiep en om die rigting van die debat te bepaal.

Vryheid met geregtigheid

Mense wat regverdig met hul medemense wil leef, kan dit slegs doen as hulle die regverdigheid van God in Jesus Christus in elke deel van hul lewe ernstig opneem – ook in hul saam-lewe met ander mense. Mense wat die geregtigheid van God in Christus wil uitleef is opregte mense. Dit is opregte mense wat belyn met die Lig wil leef. Mense wat die reg wil handhaaf, moet die waarheid in liefde praat. “As julle weet dat Hy regverdig is, dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is.” (1 Joh. 2:29)

As Christene egter leef wat hulle is, deel van die liggaam van Christus wat ʼn aandeel uit guns gekry het in die geregtigheid van God, dan is die optrede ook anders. God se reg en sy geregtigheid word dan nie ʼn “Christelike bymiddel” nie, maar die primêre bestanddeel. 

Ons as Christene het dus ʼn groot taak voor ons. Ons mag nie verder deelneem aan die vestiging van onreg in die samelewing onder die dekmantel van wat tans as “sosiale geregtigheid” deurgaan nie.

Ons moet die Bybelse definisie van sosiale geregtigheid gebruik en dit konsekwent toepas. Dit sal vir ons as Afrikanergemeenskap, soos N.P. van Wyk Louw al gesê het, vryheid met geregtigheid bring.

Foto: Photo by Sora Shimazaki from Pexels