Taal is meer as net ’n kommunikasiemiddel; dit is om jouself oop te maak. Die Bybel leer ons dat taal nie bloot ’n menslike uitvindsel of ’n kommunikasiemiddel is nie. Dit is ’n goddelike gawe waardeur God Homself aan die mensdom bekendmaak. Met die fokus op Orania se Taalweek kyk ons na wat die Bybel ons leer oor die oorsprong en doel van taal.
God maak oop
Taal het sy oorsprong in God self, en Hy gebruik taal as ’n middel om Homself aan ons bekend te maak. Reeds in die skepping gebruik God taal om die werklikheid te vorm: “En God het gesê: ‘Laat daar lig wees!’” (Gen. 1:3). Hierdie eenvoudige uitspraak wys vir ons dat taal nie net ’n toevallige verskynsel of ’n menslike uitvindsel is nie. Dit is ’n fundamentele deel van hoe God besluit het om sy skepping te bewerkstellig en sy wil te kommunikeer.
In Hebreërs 1:1-2 word dit verder duidelik gemaak dat God deur die eeue heen deur die profete gespreek het, maar dat Hy in die laaste dae deur sy Seun, die Here Jesus Christus, gespreek het. Christus is die volmaakte openbaring van God, die vleesgeworde Woord (Joh. 1:14). Dit beteken dat die grootste en mees volmaakte kommunikasie van God in persoon na die mensdom gekom het as die Here Jesus Christus. Hy is nie net die boodskapper nie, maar ook die boodskap self.
Hieruit leer ons dat taal, vanuit ’n Christelike wêreldbeskouing, die instrument is waardeur God sy waarheid oordra. Dit is die manier waarop Hy sy heilige wil, sy karakter en sy plan vir die wêreld aan ons bekendmaak. Sonder taal sou ons nie in staat wees om die openbaring van God te ontvang of te verstaan nie. Daarom is taal heilig, want dit dien ’n goddelike doel.
Sê wie: God of mens?
Terwyl God se Woord volmaak is, is menslike taal gebrekkig en beperk. Ons woorde kan maklik verkeerd verstaan word, en ons is dikwels nie in staat om ons gedagtes en emosies duidelik oor te dra nie. Dit is ’n gevolg van die sondeval, waar menslike kommunikasiemiddels verdraai en verwar is. Ons sien dit duidelik in die verhaal van die toring van Babel (Gen. 11:1-9), waar God die mens se gemeenskaplike taal verwar het om hul trots en selfverheerliking te beperk. Die verwarring van taal by die toring van Babel is ’n spesifieke teken van die gevolge van sonde op die menslike neiging om eenheid buite God se wil te soek. God het die taalverskeidenheid daar gebruik om die mense se selfverheffing te beperk en hulle gedwing om sy oorspronklike opdrag, om oor die aarde te versprei, uit te voer.
Maar, te midde van hierdie beperkinge het God sy volmaakte Woord aan ons gegee deur die Skrif, wat die waarheid bevat, en wat ons nodig het vir ons redding en heiligmaking. Psalm 119:105 sê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Dit dui daarop dat God se Woord, ten spyte van ons beperkings, ’n onfeilbare gids vir ons lewe is.
Jakobus 3:8-10 waarsku ons egter dat ons tong, en dus ons gebruik van taal, groot skade kan aanrig. Dit kan gebruik word om te seën en te vloek, om waarheid te verkondig of om te lieg. Die potensiaal van taal om goed sowel as kwaad te doen, onderstreep die belangrikheid daarvan om ons woorde te onderwerp aan die leiding van die Heilige Gees.
Ons taal moet dus ooreenstem met die waarheid van God se Woord. Ons moet bewus wees van die mag van ons woorde en hoe dit gebruik kan word om God se waarheid te verkondig, maar ook om daardie waarheid te verdraai. Dit is ’n oproep tot verantwoordelike taalgebruik, waar ons as Christene moet streef om ons woorde te gebruik om God te verheerlik en ander op te bou in die geloof.
Taal getuig van verbinding
Ons gebruik van taal openbaar baie oor ons verhouding met God. Die Here Jesus sê in Matteus 12:34 dat “uit die oorvloed van die hart praat die mond.” Dit beteken dat ons woorde ’n refleksie is van wat in ons harte leef. As ons harte gevul is met die waarheid en liefde van God, sal ons woorde dit weerspieël. Aan die ander kant, as ons harte verhard is of vol is van onreg en sonde, sal ons taal ook dienooreenkomstig wees.
Taal is dus meer as net ’n kommunikasiemiddel; dit is ’n getuienis van ons geestelike toestand. Dit is waarom Paulus in Efesiërs 4:29 ons oproep en sê dat ons woorde “geen vuil taal” moet wees nie, maar eerder moet gebruik word om ander op te bou volgens hulle behoeftes, sodat dit genade kan bring aan dié wat hoor.
Verder is ons taal ook ’n belydenis van dit wat ons glo en waaraan ons onsself verbind. Wanneer ons God loof, die evangelie deel en ander bemoedig, bely ons dat ons Christus as Here erken en dat ons sy dissipels is. Dit is ook waarom dit belangrik is dat ons taal en gedrag in ooreenstemming moet wees met die waarheid van die evangelie. Ons kan nie sê dat ons God ken en liefhet, maar dan met ons woorde en dade iets anders kommunikeer nie.
Daarom moet ons as Christene lewe om ons taal te heilig. Dit wil sê, om ons woorde te gebruik in ’n manier wat God eer en sy waarheid weerspieël. Dit beteken ook dat ons sensitief moet wees vir die manier waarop ons ons taal gebruik, sodat dit die liefde, genade en waarheid van Christus in elke situasie weerspieël.
Samevatting
Taal is ’n diepgaande aspek van ons menswees, gewortel in die goddelike openbaring en geskep vir die doel om God te ken en Hom bekend te maak. Dit is meer as net ’n kommunikasiemiddel; dit is ’n weerspieëling van ons verhouding met God en ander. Deur ons taal getuig ons van ons geloof, en daarom moet ons streef om ons woorde te rig volgens die beginsels van God se Woord, in die krag van die Heilige Gees, sodat ons lewens ’n duidelike en kragtige getuienis van die ware Evangelie mag wees.
Geskryf deur Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)