Taal wys wie jy is

Taal is meer as net ’n middel van kommunikasie; dit is om oop te maak. Die Bybel leer ons dat taal is nie bloot ’n menslike uitvinding of ’n kommunikasiemiddel nie. Dit is ’n goddelike gawe waardeur God Homself aan die mensdom bekendmaak. Met die fokus op Orania se Taalweek kyk ons na die oorsprong en doel van taal.

God maak oop

God openbaar Homself deur sy Woord. Die selfopenbaring van God begin reeds by die skepping. In Genesis 1 sien ons hoe God die wêreld tot stand bring deur te spreek: “En God het gesê: ‘Laat daar lig wees!’” (Gen. 1:3). Die woorde openbaar die krag en gesag van die Here. Ons leer dat wanneer God praat, Hy nie net die werklikheid vorm nie, maar ook sy eie karakter en wil openbaar.

Die selfopenbaring van God deur sy Woord kom tot vervulling in die Here Jesus Christus. Hebreërs 1:1-2 vertel ons hoe God deur die geskiedenis op verskeie maniere gespreek het, en toe in die volheid van die tyd, die volmaakte openbaring van Homself gegee het deur sy Seun, die Here Jesus Christus.

Die Here Jesus Christus is die vleesgeworde Woord van God (Johannes 1:14). In Christus is die volheid van God se openbaring tot ons gebring – nie net deur sy woorde nie, maar ook deur sy lewe, sy dade, en uiteindelik sy offer aan die kruis. In Hom het ons die finale en volmaakte selfopenbaring van God, waar ons die Vader ten volle kan leer ken.

Sê wie: God of mens?

Mense sien taal dikwels as ’n blote hulpmiddel vir kommunikasie. Hoewel menslike taal ook iets van onsself openbaar, is dit beperk en dikwels onvolmaak. Ons woorde is onderhewig aan misverstande en misbruik. Dit word ook gebruik word om God se waarheid te verdraai en verwerp. Ons lees in Jakobus 3:8-10, die tong het die mag om groot skade aan te rig, maar dit kan ook gebruik word om God te loof.

Aan die ander kant, God se Woord is volmaak. Dit openbaar vir ons wie God is en wat sy wil is vir ons lewens. Hierdie Woord het na ons gekom deur die verkondiging van die Evangelie, waarin Christus, die vleesgeworde Woord, sentraal staan. Christus, die Woord, kom self na ons toe om ons te red, te verander, en te lei in die weg van die waarheid. God het in sy groot genade verseker dat sy Woord ook tot ons gekom het. Deur die inwoning van die Heilige Gees word die Woord lewend en kragtig in ons harte, sodat ons Hom kan ken en in sy lig kan wandel.

Taal getuig van verbinding

Ons gebruik van taal openbaar baie oor ons verhouding met God. Deur ons woorde en dade toon ons of ons God se openbaring aanvaar en daarop reageer, of ons dit verwerp en teëstaan. Wanneer ons taal gebruik, of anders gestel, wanneer ons oopmaak om waarheid te verkondig en God te verheerlik, bely ons dat ons verstaan wie Hy is en wat Hy van ons verwag.

Daarom is taal ’n weerspieëling van ons geestelike toestand. Dit is ’n openbaring van onsself. Ons taal vertel aan ander waaraan ons onsself bind. Daarom moet ons, as dissipels van Christus, daarna streef om ons taal tot instemming te bring met die waarheid van God se Woord (1 Tim. 6:3-5).

koerania.co.za

Foto: deur Ivan Samkov