Vir wie gee ek my werk? Wie vat my werk?

Die noodsaak van ’n nuwe Christelike ekonomiese stelsel

Elke ekonomiese stelsel gaan gepaard met sy eie woordeskat. So byvoorbeeld gee die Marxiste baie aandag aan woorde soos “werker” en “beheer van produksie”. Die kapitalisme weer ken woorde soos “produktiwiteit”, “werkgewer” en “werknemer”. As Christene leef ons elke dag in ’n wêreld waar hierdie woorde as teenstrydige ideologieë met mekaar bots.

Woorde het betekenis en dui iets aan. Christene behoort dus ook in hulle ekonomiese lewe na te dink oor die verskillende woorde se betekenis. Die vraag is dan: dui die woorde die regte ding aan, of kan ons dalk anders praat? Dit gaan natuurlik nie net oor die gebruik van woorde nie, maar oor die harde praktyk.

Nuut dink

As ons oor die ekonomiese lewe dink – en die woordeskat wat daarin gebruiklik is – moet ons die woorde onthou wat die apostel Paulus in die algemeen leer oor die verband tussen “dink” en “doen”; die verband tussen woorde en die betekenisaanduiding.  Paulus sê: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer –  dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:1-2.

Nuwe vorm van werk

Paulus stel dat ons godsdiens veral met ons liggame te doen het – die liggaam waarmee jy en ek “werk toe” ry en ons werk doen. Verder sê hy dat Christene nie aan die wêreld gelykvormig moet wees nie.  Ons moet anders doen – deur ons liggame waarmee ons die werk doen – omdat ons anders dink.  Waar kom hierdie “anders-dink om anders-te-doen” vandaan? 

Paulus sê deur die vernuwing van julle gemoed.  Die woord “gemoed” is jou intellektuele lewe [in Grieks is dit die woord “nous” en dit word in Engels vertaal met “mind”]. Die vernuwing is iets wat die Heilige Gees bewerk. Die Heilige Gees doen dit deur wie Christus is en wat Hy gedoen het te verbind aan die gelowige se lewe – ook sy ekonomiese handeling. Die woord vir vernuwing is die woord vir metamorfose. ʼn Mens sou dit letterlik kon vertaal met “saam-vorm”. 

Die Heilige Gees wat in die gelowige woon, vorm dié persoon se denke só dat dit al hoe meer die vorm aanneem van wie Christus is en wat Hy dink. Dis nogal ’n interessante vraag: aangesien Christus deur die Heilige Gees in ons woon, hoe dink Hy self oor die ekonomie?  Ons liggame moet as offers aan God gestel word wat vir Hom aanneemlik is, ook as ons ekonomies besig is.  Hy leef in ons deur die Heilige Gees, en daardeur verander hy ook ons gedagtes en vernuwe ons om al hoe meer soos Hyself te dink en te doen.

Wanneer ons die woordeskat van verskillende ekonomiese stelsels teëkom en hulle betekenis en wortels nagaan, moet ons dus in gedagte hou dat Christus deur die Heilige Gees ons gedagtes wil vernuwe.  Nuwe gedagtes lei tot nuwe dade.  Om hierdie beeld duidelik te maak, kan ons na die verskynsel van metamorfose kyk in die plante- en diereryk. 

Wanneer die son op plante skyn, word daar ’n proses aan die gang gesit waar die energie van die son nuwe fases in die plant na vore bring. Ons ken ook die verskynsel van ’n reeks veranderings wat byvoorbeeld larwes deurmaak om tot volwassenheid te kom. Wanneer die Woord van God in ons werk, en dus ook die lig van die Heilige Gees in ons skyn en werk, bring dit ’n reeks veranderings by ons te voorskyn.

Drie kern-‘werk’-woorde

Om hierdie aspek nou spesifiek te fokus op hoe die lig van God se Woord en Gees ons ekonomiese lewe kan beïnvloed, kyk ons na drie sake ter verduideliking.

Ten eerste, wat is die kerngedagte rakende werk in die Bybel? Tweedens, wat leer die Bybel oor verskillende gawes? Derdens, watter invloed het dit op die idee van vryheid en verslawing in die ekonomie?

Definisie van werk

Die Bybel leer veral dat werk drie aspekte het. Hierdie drie aspekte kry ons in die woorde wat daarvoor gebruik word in die vierde gebod wat lui: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.” Eks 20:8-10.

  • Arbeid

Arbeid dui veral op die dienskneggestalte wat werk het. Hierdie “diens” in die werk kan op ’n negatiewe of positiewe manier ervaar word. Op sy slegste is “diens” dan slawediens, waar ’n mens gedwing word om iets te doen en daar bykans geen vervulling in die werk is nie. In die huidige ekonomiese stelsels kom daar baie sulke werke voor wat as “slawe-diens” beskou kan word. Dit is werke wat so dwangmatig is dat dit mens-onterend is. Ons dink hier nie soseer aan fisieke slawerny soos in die geskiedenis baie bekend is nie (en nog steeds op talle plekke in die wêreld voorkom), maar ʼn mens dink eerder aan versteekte en sluipende “slawediens”-werke.

Soms is ’n werk so repeterend en vervelig dat dit die mens oneer aandoen. Die Bybel leer ook dat die werk van die mens swaar en verdrukkend en vernederend geword het ná die sondeval.

Die bevryding in Christus bring egter ’n verandering ook ten opsigte van hoe arbeid as dienswerk gesien en beleef word. Die Hebreeuse word arbeid [‘âbad] dui ook op ’n seunskind wat gewillig en uit liefde sy dienswerk aan sy vader doen. Dit is juis wat Christus herstel met sy kruisdood en opstanding. Die vloek op die werk word weggeneem en die gewillige liefdesdiens keer terug. Arbeid as dankbare dienswerk, ten eerste aan God, is ’n wonderlike bevryding van slawediens-werk aan een of ander ideologie as slawedrywer.

Regstelling van die woordeskat

Ons as Christene het ons dikwels laat verlei om oor “arbeid” te praat asof dit ’n abstraksie is. Selfs in begrotings- en ekonomiese verslae word “arbeid” as hierdie onpersoonlike element hanteer. As Christene behoort ons weer daarop klem te lê dat “die arbeider” – as mens met ’n liggaam wat aan God ’n offer moet bring – nie van “sy arbeid” en dan veral van Christus se arbeid los gedink mag word nie. Die arbeider se liggaamlike offer in en deur Christus wat in Hom woon, is baie meer as bloot “die arbeidkomponent” in die begroting en bepanning.

  • Doen

Hierdie woord dui op effektiewe afhandeling van ’n gestelde taak. Dit is een van die drie woorde wat God ook gebruik as Hy sy eie skeppingswerk van die mens aandui (skep, formeer en doen, of afgehandel maak). God is baie ingestel daarop dat sy bedoeling met sy skepping bereik word. Hier is dit van belang om te meld dat die mens se werk (arbei, doen en jou werk) gerig is op die groot rusdag van God.

Die kapitalisme en die marxisme het die rusdag uit die werker se “doen” gehaal. Daarin sondig die twee stelsels baie ernstig teen God se bedoeling.  God wil dat mense hulle werk doen – as liggaamlike offers aan Hom – en dat hulle die doel bereik om in hulle werke te kan rus soos God in sy werke rus (Heb. 4:9-10).

Die kapitalisme stel die doel (die “doen”-teiken van “arbeid”) om produktiwiteit te verhoog. Alhoewel daar opsigself nie iets verkeerd is daarmee om meer produktief te werk nie, is dit egter ’n groot sonde as produktiwiteit losgemaak word van die rusdag.  Dit is in wese niks anders as om God se skepping by Hom te probeer steel nie.  Die mens moet sy arbeid doen; hy moet dit produktief doen en effektief uitvoer wat dit moet oplewer: die bedoeling is om saam met God te rus in sy skeppingswerk.

Regstelling van die woordeskat

Hier is baie aspekte wat moet aandag kry. Rus en werk se verband en ritme is deur die kapitalisme en sosialisme erg versteur.  Dit is deesdae hoogstens ’n persoonlike saak, maar die gesamentlike “saam-werk” om uiteindelik saam in die werke van God te rus, het heeltemal verdwyn.

Een van die groot sondebokke hierin is die sogenaamde multinasionale maatskappye. Die vraag is of Christene nie eerder moet saam-werk en saam-spaar en saam-span om Christelike maatskappye op die been te bring wat hierdie beginsel van werk-om-te-rus saam met God en mekaar te verwerklik nie.

Dit sal natuurlik ’n hele reeks nuwe dinge tot gevolg hê, maar as ons daaraan dink dat die Moslems aandring op ’n Sharia-bankwese – en dit kry – waarom kan ons Christene nie ook Christen-maatskappye stig wat Christelike ekonomiese reëls uitleef nie? Die monopolie wat multinasionale maatskappye dikwels onwetend beset, hoef nie as ʼn gegewe aanvaar te word nie. Ons as Christene kan ook ’n nuwe ekonomiese stelsel begin bedink en doen, wat Christus se inwoning in ons respekteer en verder “uit-werk” in ’n omvattende ekonomiese stelsel.

Werkgewer of werknemer?

Ons moet mooi daaroor nadink of die manier hoe “werkgewer” en “werknemer” tans gebruik word, nie dalk andersom gebruik moet word nie.  Dit sal die vraag: “Wie vat my werk?” met heeltemal nuwe antwoorde oplewer. Christene glo dat God bepaalde roepings en gawes aan mense gee. Hy stel ons onder opdrag en stel ons in staat om te werk. As ek die Here se groot opdrag nakom, dan gee ek mos my werk. 

Die een wat van my diens gebruik maak, vat of ontvang my werk. As ek werk (arbei, al my werk doen) dan is ék die werk-gewer. Die een wat my werk benut, is die werk-nemer, want hy vat of ontvang my werk. Woorde het mos betekenis. Daarvoor is nodig dat ons ons woorde tel en weeg as ons oor onsself praat en hoe ons aangedui word.

  • Al jou werk

Hierdie woorde het die betekenis dat jy aan die koningswerk moet deelneem deurdat jou arbeid as effektiewe werk ’n bepaalde boodskap saamdra. Roeping in jou werk beteken nie maar net om pligsgetrou hard te werk nie. Natuurlik dit ook, maar “al jou werk” beteken dat die Here spesifieke gawes aan spesifieke mense gee om op ’n bepaalde tyd en plek sy boodskap van verlossing en verheerliking – in die werkplek – na vore te bring. Ten diepste verkondig die werk wat jy doen wie jy regtig in jou wese is. Dit is ’n aangrypende gedagte dat ons diepste kenmerke na vore kom uit wat ons doen.

Regstelling van die woordeskat

Dit is belangrik dat elkeen sy eie werk gekry het. Ons mag nie iemand anders se werk doen nie. Baie van die samelewing se huidige kwale is omdat nie almal hul kant bring nie. ’n Mens wat sy lewenswerk sien as ’n roeping om juis in vervulling te bring die boodskap wat God self aan sy arbeid koppel, is baie meer as ’n “salaris-trekker” of “verbruiker”. 

Daar is baie mens-onterende begrippe in die woord wat vir mense in hulle ekonomiese lewe gebruik word. Deur dieselfde verskynsel net met nuwe woorde aan te dui, sal nie deug nie. Dink maar aan die naamsveranderings wat die kontemporêre begrip “huiswerker” ondergaan het. Om bloot woorde te verander sonder om die beginsel van “anders-dink en anders-doen” toe te pas, is om maar net die stukkende heining weer bietjie af te wit. 

Ons as Christene moet die waarde wat God in Christus aan ons skenk, waardeer en self hoog ag. Ons moet weet dat ons godsdiens ook ’n liggaamlike kant het, veral hoe ons ons eie werk en ander mense se werk sien. Ons moet besef dat slawerny nie net die outydse slawerny beteken nie, maar dat enige vorm van arbeid waar ek my naaste daarvan weerhou om sy arbeid te doen sodat dit die boodskap van God vir sy lewe kan uitdra, in wese slawediens is.

Nuwe ekonomiese stelsel

Naas die brute kapitalisme en naakte sosialisme behoort ons ’n Christelike gawestelsel verder te bedink en te doen – waarbinne ons godsdienstig liggaamlik kan arbei en al ons werk kan doen. Dit is inderdaad ’n geweldige groot onderneming; dit is egter nie onmoontlik nie, want Christus het uit die dood opgestaan en Hy werk in ons.

Foto: Photo by Jackson David on Unsplash