Volke voor die troon van God

Die opskrif “Volke voor die troon van God” kan dadelik ʼn wenkbrou of twee laat lig, en wel om twee redes: die term “volk” se baadjie sit deesdae maar styf om die skouers, en om dié term enigsins positief te gebruik ten opsigte van die troon van die Here klink sommer uit die staanspoor verkeerd. 

Herstelling

Hierdie artikel wil pleit vir die herstel van die Bybelse gebruik[1] van die begrip “volk” en wil die wonderlike profesie uit die Bybel laat spreek oor hoe positief die Bybel eintlik oor volke praat wat God gelowig wil dien. Voordat aan die Bybelse riglyne aandag gegee word, moet  ʼn kort uiteensetting eers gegee word oor waarom die term “volk” tans so negatief beleef word.

Onbruik en onguns

Die term “volk” het bykans geheel en al in onbruik geraak en in algemene onguns verval, soveel so dat ʼn mens die term amper nie in “ordentlike geselskap” mag gebruik sonder ʼn hele rits kwalifikasies nie. Die rede hiervoor is redelik eenvoudig, soos hieronder bespreek.

Opkoms van neoliberale teologie

Ná die Tweede Wêreldoorlog is die gruwelike misdade van die Nazi’s in Duitsland oopgevlek. Die oorlogsmisdade en veral die Joodse slagting, die Holocaust, het die meeste mense met afsku vervul. Daar is ook gevra watter ideologie tot sulke verskriklike vergrype kon lei. Die nasionaal-sosialisme en die verheerliking van die Duitse volk as “Herrenvolk”, as die heersersklas en ras, het tereg afkeer by baie gewek.  Ook vanuit die Christendom is gevra hoe dit moontlik is dat in ʼn oorwegend Luthers- protestantse land soos Duitsland nie kon voorkom dat hierdie ideologie gedy nie.  Natuurlik is daar baie antwoorde asook baie vrae gegee.

Een van die uiteindelike oplossings waarop besluit is om te verseker dat dié gruwel nie weer herhaal mag word nie, is om die klem net op die individu te laat val. Teenoor die fascisme, die kommunisme en die nasionaal-sosialisme het die Westerse Christelike kerke, veral binne die Protestantisme, gekies vir die neoliberale raamwerk. Dit het daartoe gelei dat die term “volk” gedegradeer is, en het dit al meer mode geword om met een haal van die kwas die term “volk” altyd te verbind aan onaanvaarbare selfsugtige nasionalisme en onchristelike ideologieë.

Verskyning van nasiestate

Die feit dat individuele regte so beklemtoon is, en ook dat demokrasie stewig uitgebou en gehandhaaf is as dié norm vir die mensdom, het daartoe gelei dat daar spoedig ʼn nuwe soort nasiestate ontstaan het. Hierdie nasiestate het dan binne hulle geografiese grense ʼn nuwe identiteit vir hulleself geskep wat by hierdie groot struktuur van die staat inpas. Weereens het die Christelike kerke ook op hierdie tendens gereageer – nou met ʼn bykans ongenuanseerde aanvaarding van nasiestate as ʼn korrekte en verantwoordelike manier om die gemeenskaplike lewe van mense te rig. Die kerke het dan ook baie meer geneig geword om minder standpunt in te neem vir wat hulle glo en meer gedefinieer te word op grond van waar hulle bly – veral binne die grense van die nasiestate.

Invloed op Suid-Afrika

Hierdie twee groot tendense – die opkoms van die neoliberalisme wat die individu op die voorgrond plaas, en die opkoms van territoriale nasiestate, het wêreldwyd sy invloed al hoe meer laat geld. Ook Suider-Afrika is nie hierdeur onaangeroer gelaat nie. Sonder om ʼn moeilike en ingewikkelde ontwikkeling in die geskiedenis te ontken, kan ʼn mens tog aantoon dat die twee groot golwe ook Suid-Afrika aangeraak het. Die twee golwe het eintlik in ʼn kort tydjie saamgeval en ʼn super golf gevorm  met die aftakeling van apartheid en die vestiging van die demokratiese Suid-Afrikaanse nasiestaat in 1994/95, en met die aanvaarding van die nuwe Suid-Afrikaanse Grondwet.

Hierdie super golf het ingrypende veranderings teweeggebring. Een daarvan was hoe die term “volk” hanteer en gesien is. Die term het so in onbruik verval, en die oordrewe klem is só op die individu geplaas, dat enige verwysing na ʼn gemeenskap, hetsy kultureel of andersins, gesien is as ʼn vergryp en ʼn hunkering om die bose stelsel van apartheid te laat herleef.

Kerke ook beïnvloed

Ook die kerke in Suid-Afrika is deur hierdie twee golwe getref en wesenlik beïnvloed. Skielik is enige verwysing na volke, tale en nasies uit die publieke domein gedryf en het dit ook vir alle praktiese doeleindes vanaf die kansels verdwyn. Die Afrikaanse Christen-kerke het ook vreemd  op hierdie super getygolf gereageer.  Afrikaanse kerke het die Suid-Afrikaanse nasiestaat se raamwerk al meer nie net as hulle eie verwysingsraamwerk begin gebruik nie, maar selfs verder gegaan en dit binne Bybelse konteks probeer stel. Baie kerke en teoloë kan nie die diepliggende onderskeid tref tussen Suid-Afrikanisme en die Koninkryk van God nie.

Verkleinde woordeskat

Kortliks het die volgende gebeur: Afrikaanse gemeentes wou nie meer openlik erken dat hulle binne ʼn breër Afrikaanse kultuurgemeenskap lewe waar taal en tradisies, geloof en meelewing op ʼn bepaalde manier ervaar word nie. Die Suid-Afrikanisme het ook teologies die nuwe goudstandaard geword. Vrae soos watter taal in die eredienste by aanbidding gebruik word, is beantwoord – nie soseer met Bybelse gegewens nie – maar met die Suid-Afrikaanse ideologie van die vereistes van ‘n reënboognasie.  Die term “volk” het bykans heeltemal uit die kerklike woordeskat verdwyn, en word net gebruik as die alarms afgesit word om te waarsku teen kollektiewe selfsug en oninskiklikheid teenoor die medemens. Die kerke het aanvaar dat die Bybelse term “volk” ook afgegradeer en genegativeer word; trouens, die kerke het aanvaar dat die term “volk” vervang moet word met die begrip tipies van ʼn nasiestaat, naamlik “minderheidsgroep”.

Bybelse riglyn oor volke

In die tweede deel van hierdie artikel word nou die vraag gestel: mag ons maar weer die term “volk” begin gebruik? En indien wel, hoe behoort ʼn mens dit reg en Bybels te gebruik, sonder om weer die deur eers op ʼn skrefie oop te maak vir ou en nuwe ideologieë?

As ʼn mens Bybels wil redeneer, dan moet ʼn mens tog seker die Bybel self laat hoor. Die Bybel gee ʼn hele klomp riglyne oor die regte en verkeerde manier van die gebruik van die term “volk”.

Laat ons eerste die positiewe gedagtegang stel, juis om daarmee aan te toon dat die neoliberale gedagtegang op hierdie punt verkeerd is. Die neoliberale gedagtegang sien alle gemeenskapslewe, en dus ook ʼn volk se lewe, bloot as ʼn toevallige gebeurtenis van ʼn klomp individue. Enige erkenning of uitbouing van gemeenskapslewe, soos om jou volk se tradisies te ken en daaraan deel te neem (bv. deur Geloftedag te vier) word beskimp en gesien as eintlik iets onchristelik en onbybels.

Die Skrif is baie duidelik daaroor dat God volke ook in die Nuwe Testament as deel van sy raad sien. “Luister na My, my volk, en neig die oor tot My, my nasie! Want ʼn wet sal van My uitgaan, en Ek sal my reg vasstel as ʼn lig van die volke.” Jes. 51:4

Trouens, in die boek Openbaring staan duidelik dat daar volke voor die troon van God sal wees.  Volke is dus nie iets wat vreemd is aan die Skepping van God nie, en volke is nie iets wat behoort te verdwyn net omdat hulle volke is nie.  Daar staan in Open 21:24-27: “En die nasies (ethnos in die Grieks) van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. En bedags – want nag sal daar nie meer wees nie – sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.”

Die Here wil dus basies twee dinge met die tale, volke en nasies doen. Die nasies van die wat gered word, dus ook die volke in hulle gelowiges, wil God in sy heerlikheid laat deel – nie net op individuele basis nie, maar juis ook as volke. Die rede daarvoor is omdat God se majesteit so groot en goed is dat dit die volheid van God se Skeppingswerk omsluit.  Die kerke het juis ʼn profetiese taak van God teenoor die volke, tale en nasies. So staan daar in Open 10:11: “En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.”

God se heerlikheid

Slegs in die persoon en werk van Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees kan enige iemand aanvaarbaar wees voor God. Dit geld vir individue en groepe, en dit geld vir enkelinge en volke.  Die neoliberalisme – en die kerke wat hulle deur dié ideologie laat verlei het – weerspreek nie net God self nie, maar verkleineer God. Die neoliberalisme binne die teologie impliseer dat God se heerlikheid en grootheid genoegsaam na vore gebring word net deur ʼn klomp losstaande individue.  Die neo-liberalisme weerspreek God as hulle beweer as iemand ʼn Christen is of word, hy of sy hulle volkskap moet prysgee. Inteendeel, God is so groot dat alle dele van die Skepping, ook die hele kultuurlewe van ʼn volk, God se grootheid en heerlikheid na vore moet bring.

Die kerke wat deesdae byvoorbeeld nét aan die een taal, Engels, aandag gee in hulle lofprysing en aanbidding en in hulle erediens-aanbidding en sending, gee ʼn groot stuk van God se heerlikheid prys. Dit het tyd geword dat dié kerke hand in eie boesem slaan, en hulleself afvra of hulle nie juis in die strik getrap het waarteen hulle ander gewaarsku het nie. ʼn Mens is steeds nie met die volle evangelie besig as jy die een ideologie ingeruil het vir ʼn ander een nie.

Volke sal geoordeel word

Volke sal egter ook voor God se troon staan om geoordeel te word: juis as volk.  Die volke wat teen God gedraai het, sal regverdig geoordeel word. Trouens, dit is wat die diep betekenis van die woord “heiden” is in Hebreeus. Sonder geloof in God het hulle rugdraaiers geword [gôy, gôjim in die meervoud]. Die kerke wat deesdae amper uitsluitlik hulle prediking en sending nét op individue rig, versaak juis hulle profetiese roeping teenoor volke, tale en nasies. Hulle sê nie vir die volke dat die volke voor God se troon geroep sal word in die oordeel nie. 

Rugdraaiers

Die kerke wat die neoliberalisme aanhang, doen daardeur die eer en heerlikheid van God skade aan. Hulle tree juis nie in naasteliefde op nie, want God gáán die volke oordeel. En die volke, tale en nasies, van dié wat gered word, sal hulle eer en heerlikheid na die troon van God bring. Daardeur word God se heerlikheid en eer gedien – ook deur die volke. Die permanente rugdraaiers, dié wat in aktiewe en konstante teenstand teen God lewe, sal die ewige oordeel ontvang. Daar sal ook verwoeste volke in die hel wees. Daar sal ook geheiligde volke in die hemel wees.

Daar rus ʼn groot taak op Christene oor hierdie saak. Vir te lank het ons geswyg hieroor. Vir te lank is ons die monde gesnoer. Ons moet die volle evangelie van Jesus Christus verkondig. Elke knie moet voor Hom buig. Tans gebeur dit nie in Suid-Afrika nie.  En die kerke se dawerende stilte hieroor is selfveroordelend. Bekering moet intree. Die kerke moet weer die term “volk” deel van hulle kanseltaal maak. Die kerke moet die volke leer en lei hoe om God te dien. Dit beteken dat die kerke wat die neo-liberale teologie aanhang, tot bekering moet kom en moet ophou om kulture en volke te vernietig.

Wat is die verskil tussen ʼn Nazi-gaskamer vir die Joodse volk en om ʼn volk te laat doodgaan voor jou kansel-oë deur die toorn van God te verswyg? As jy swyg en iemand sterf, dan is sy bloed op jou, sê Esegiël 3:17-18: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ʼn woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.”

Die neoliberale kerke het baie volksbloed aan hulle hande.  God sal sy oordeel vel; Hy gaan die volke regverdig oordeel. Baie volke kan sterf en uitgewis word omdat hulle nie gewaarsku is nie.

Kerk se stilte

Die kerke is geroep om altyd die waarheid te praat. Ons mag nie van iets weet en dit nie sê nie. Ons is nie geroep om polities korrek te wees nie, maar om suiwer evangelies te lewe. Die volke sal staan voor die troon van God. Wat gaan die Afrikaanse kerke antwoord as die Afrikaner-volk aan die beurt kom om geoordeel te word?

Wat preek die Afrikaanse kerke tans vir die volk? Preek hulle kulturele selfmoord en verwoesting of preek hulle kulturele heiligheid?  Waaroor waarsku die kerke die volke van die kansels af? Die volke gaan immers almal voor die troon van God staan. Mag daar inkeer wees en mag die term “volk” weer sy Bybelse plek inneem in ons kanselkultuur en in ons volk se kulturele lewe. Mag die kerke se tonge deur die Heilige Gees losgemaak word, sodat ons ook kan sê: hoe hoor ons – in ons eie taal – die groot dade van God (Hand 2:11).

Die Afrikaner-volk – in julle geslagte – gaan voor die troon van God verskyn om geoordeel te word. ʼn Groot deel van die volk wat nou leef, is nie besig om God se heerlikheid te soek in die volkslewe nie.  Is die Afrikaner tans as volk besig met die roeping wat God aan ons as volk gegee het? Die Afrikaner staan hierin tans onder die vlammende oordeel van God – en die kerk se skuld is medepligtigheid.


[1] Vgl. hiervoor ʼn standaardwerk oor die onderwerp – Coetzee, J.C. 1964 Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament: ʼn eksegetiese studie. NWU.

Foto: Photo by mahyar motebassem on Unsplash