Vrouwees volgens die Bybel

Vroue verenig[1] onder Christus

Ons begin sommer maar met die olifant in die voorkamer: Bestaan geslagsgelykheid? Die maklike antwoord is nee, in praktyk bestaan dit nie.

Wat van geslagsgelykheid?

Die moeilike vraag is egter: Moet daar so iets soos geslagsgelykheid wees? Om die vraag bloot só te stel, kan dadelik die gevaar inhou om as verwerplik oor te kom. ʼn Mens sou immers kon redeneer die Donker Middeleeue en die prehistoriese era van vroue-onderdrukking is mos darem lankal verby.

Die vraag of geslagsgelykheid moet bestaan, is ʼn gewigtige en aktuele vraag. Dit kan ook op verskeie maniere beantwoord word. Christenvroue wat oor hul eie rol en plek in die lewe nadink, wil egter die antwoord vind soos wat die Bybel self die rigting wys.

Om hierdie rede is dit belangrik om daartoe verbind te wees om nié ʼn onbybelse antwoord te probeer gee en dan daarna net te sê dit is die regte Bybelse siening nie. ʼn Ideologiese antwoord is nie ʼn Bybelse antwoord nie. Ideologieë kan vir die doel van hierdie argument kortliks beskryf word as ʼn stel teoretiese oortuigings wat met ʼn strakheid opereer om juis nié enige Bybelse gegewens in berekening te bring nie, of nie te wil erken dat Bybelse gegewens verdraai word nie. Twee ideologieë wat deesdae ʼn oorheersende rol in enige debat oor “vrouwees” speel, is die patriargie en die feminisme. 

Ja-man oral

  • Die patriargie is die ideologie wat enige rol van ʼn vrou in die samelewing uitsluitlik verklaar vanuit die dominerende plek wat die manfiguur as hoof van die familie speel. In die geskiedenis van die mensdom kom die patriargie in baie kulture voor en is lank ook in die Christendom as ʼn gangbare model gesien. Die patriargie moet egter as onbybelse ideologie afgewys word aangesien die vryheid wat God in Christus aan verloste vroue bied nie ernstig opgeneem word nie. ʼn Vrou mag nie deur ʼn patriargale bril gedefinieer word nie. As Christene bely ons dat vroue in Christus hul redding volkome kan beleef met die doel om die rol waarvoor hulle geskep is en waartoe hulle juis gered is, te mag beleef.

Nee-man altyd

  • Die feminisme is die ideologie wat die vrou se rol los van die man en selfs in sy radikale vorm heeltemal vervangend van die man sien. In die geskiedenis van die mensdom het die feminisme as ideologie eers die afgelope paar dekades veld gewen, veral ná die Tweede Wêreldoorlog met die globale emansipasiebeweging. As Christene bely ons dat God se werke ʼn eenheid vertoon en dat God en sy skepping nie los van mekaar gesien mag word nie. Feminisme moet op Bybelse gronde afgewys word aangesien die vryheid wat die feminis soek ten koste van die vryheid wat Christus gee, geskied. Feministiese vryheid is juis ten diepste ʼn soeke om vry te wees van Goddelike gesag in sy skepping en reddingsfasette. Feministe erken nie die gesag van Christus as Hoof van die skepping en Hoof van die nuwe mensdom nie. As Christene bely ons dat vroue in Christus verlos word van enige vorm van onderdrukking. Hierdie bevryding is nie ʼn bevryding wat daartoe lei om los van God te lewe nie, maar juis ʼn bevryding om te wees wat God jou bedoel om te wees.

Na aanleiding hiervan kan die gevaarlike vraag of daar so iets soos geslagsgelykheid mag bestaan nou in oënskou geneem word. Die vraag het twee fokuspunte: sogenaamde “geslagtelikheid” en die konsep van “gelykheid.”

Absolute gelykheid bestaan nie

Om dit vraag sinvol te hanteer, kom “gelykheid” eerste aan die beurt. Absolute gelykheid bestaan nie. Die rede daarvoor is eintlik heel logies. Om absoluut gelyk aan iets anders te wees moet dit in alle opsigte gelyk wees, ook ruimtelik en plekmatig. Absolute gelykheid van twee dinge behels altyd dat die een die ander se plek heeltemal oorneem en verdring. 

Die Bybel leer ons die volgende oor gelykheid: absolute gelykheid bestaan nie en gelykheid kan slegs in verhouding (in verband of in verbond) met God self gesien word. Gelykheid voor God is iets heeltemal anders as absolute gelykheid aan mekaar. Die eerste keer dat ons dit in die Bybel teëkom, is in Genesis 1:26 waar die Here juis met Homself oor die skepping van die mens praat: “Laat Ons mense maak na ons beeld (letterlik ‘in’ ons beeld) en na ons gelykenis …” (letterlik ‘soos’ ons gelykenis, kid-mū-tê-nū in Hebreeus). God skep die mens na sy gelyk-enis. Dit beteken dat die mens “soos God lyk,” trekke en eienskappe van God vertoon wat daarop dui dat hul eienskappe met Hom self te doen het. Hierdie trekke of eienskappe sluit baie dinge in soos byvoorbeeld dat die mens as kind van God geskep is, dat God die Vader as die Skepper aan sy skepping verbind bly, en dat God die Seun aan sy vrou (die gelowige mensdom) getrou verbind bly juis as sý vrou.

Verenig of vervang?

Terug na die vraag: Bestaan daar so iets soos absolute gelykheid? Die antwoord is nee, want dit sal die vervanging van “die ander een” insluit. God leer in die Bybel dat Hy die Skepper is, maar die skepping is nie God nie. Die Bybel leer ons dat die mens na die gelykenis van God geskep is, maar nie gelyk aan Hom is en in God se plek kom nie. Om in gelykenis soos God geskape te wees is ʼn verbondsterm. Dit beteken dat wie en wat God geskep het elkeen slegs voor sy aangesig en in sy oë sy eie plek het. Slegs die mens is na die gelykenis van God geskep. Ons keer later na die punt terug. Laat ons nou eers die vraag oor die term “geslagtelikheid” hanteer.

Twee geslagte: ʼn eenheid

Die Skrif leer duidelik dat God twee geslagte geskep[2] het (manlike mens en vroulike mens) en dat die twee geslagte bedoel is om saam die gelykenis van God uit te straal. Dit beteken dat die manlike mens (Adam) dit nie alleen kon doen nie. Die enkel- manlike mens, Adam, kan nie op sy eentjie, op sy eis, al een wees wat soos God lyk nie. God se eie-(n)aard-ige karaktereienskap kan nie deur een mens, deur een manlike mens alleen vertoon word nie. God leef in verbond met Homself in liefde, ook as Skepper.

Daarvoor skep God die vroulike mens, as mede-mens, saam met die man. Dit is nie sonder rede dat God sê “laat ONS mense maak” nie. [Betoning deur skuinsdruk dié van die outeur.] God die Vader, Seun en Heilige Gees is gelykwaardig betrokke by die skepping van die mens. God skep die mens in verband (in verbond) met Homself. Daarin lyk die mens soos Hy-Self. Die mens se gelykheid is dus nie in hom- of haarself geleë nie. 

Afgeslag deur die duiwel

Geslagtelikheid in die Bybel mag dus nie los van God verstaan word nie. Geslagtelikheid is ook nie bloot ʼn geneties liggaamlike saak nie (die chromosoom-argument in die wetenskap). Die mens is liggaam, siel en gees as manlike mens en vroulike mens geskape. Saam, as mede-mens (in verbondenheid aan God en mekaar) vertoon hulle die gelyke trek met God. Hulle lyk met ander woorde soos hul Vader.  

Absolute geslagtelike gelykheid is ʼn onding en ʼn duiwelse instrument wat gebruik word om die beeld van God in die skepping, spesifiek in die geskape mensdom, te vernietig. Die duiwel wil enige herinnering aan God, as Skepper en as Vader, as Seun en as Verlosser, as Heilige Gees en as Heiliger en Heelmaker uit die weg ruim. 

Daarvoor probeer die duiwel die mens veral van twee dinge oortuig – dat hulle gelyk is aan God deur sy plek in te neem en dat hulle gelyk is aan mekaar en mekaar se plekke moet inneem. Dit verg nie veel om in te sien dat die satan se strategie (veral deesdae met die sogenaamde “woke”-kontrakultuur) baie effektief is nie. Die kwessie van byvoorbeeld ʼn “derdegeslag-badkamer” in die winkelsentrum is in wese dus niks anders as ʼn gesprek oor die bestaan van God as Skepper en die erkenning daarvan, of nie, in die samelewing en gemeenskap.

Absolute geslagsgelykheid is ʼn truuk van die satan om die manlike mens en die vroulike mens in ʼn onwenbare stryd teen mekaar af te speel – óf die een óf die ander moet alleen bestaan.

Verder probeer die satan die mens oortuig dat die mens (veral die vroulike mens) slegs gelukkig kan wees as sy heeltemal ontkoppel en los van God en die man bestaan. Die band waarin God juis die mens geskep het (na die beeld van God, soos die gelykenis van God) word juis met hierdie leuen afgesny. Hierdeur ontstaan ʼn onbehaaglike stryd wat op geen oorwinning uitloop nie. Die mense trek skeidslyne wat God nie tref nie en soek ʼn skeidsregterstem wat nie uit die hemel praat nie.

Skeiding in skepping, skeiding in sonde

Dit is duidelik uit Genesis 1 en 2 dat God skeiding in sy skepping maak. Hy skei die lig en die duister, die dag en die nag ensovoorts. Maar, en dit is opvallend, as God die mens skep, is daar juis nie sprake van skeiding nie. In die een mens blaas God die asem van die lewe en uit die een manlike mens se rib word die vroulike mens geformeer. Die mens het ʼn intieme, onskeibare band met God die Skepper. Die Bybel leer dus baie duidelik dat die mens nie mag skei wat God saamgevoeg het nie en dat die sondeval juis skeiding tussen God en sy mense, en mense onder mekaar wil bring. 

Die mens in sy sonde wil dus skei wat God saamgevoeg het, en bymekaar bring wat God self geskei het. Wat beteken dit in die praktyk? Daar is dinge wat God self geskep het en dan van mekaar geskei het. Die donkerte, as simbool van wat sleg en euwel en boos is, is geskei van die lig, as simbool van God as lig en sy goedheid en heiligheid. 

Ons moet dus leer om te onderskei tussen skeiding in die skepping en skeiding in die sonde. Dit is teen hierdie agtergrond dat Paulus se uitspraak verstaan moet dat daar geen man en vrou in Christus is nie. Paulus sê in Galasiërs: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” Gal. 3:26-29. [Betoning in vetdruk dié van die outeur]

Die sonde dryf mense uit mekaar. Dit breek die band wat hulle met mekaar voor God behoort te hê. Skeiding in die skepping en skeiding deur die sonde moet egter fyn onderskei word. Baie mense, deesdae ook geleerde teoloë, beweer dat geloof in Christus ʼn opheffing van enige skeiding bring. Dan haal hulle die woorde van Paulus hierbo verkeerdelik aan.

Wat God egter hier leer, is dat God die Skepper nie teen sy eie skepping is nie. As God jou verlos, dan verlos Hy jou van die sondige skeiding, die gebreekte band, die verwoeste verbond. Hy herstel sy skeppingsbedoeling: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”(Ef. 2:10) [Betoning in skuinsdruk dié van die outeur]

Om as verloste mens te lewe is om die Skepper te eer, ook die eenheid en skeiding in sy skepping. Dit beteken ons mag nooit die skepping vergoddelik nie, ook nie die mensdom in sy begeerte om los van God te lewe nie. Dit beteken ons mag nie skeiding wat die sonde bring, handhaaf of goedpraat nie. Die mens is uit een bloed geskape (Hand. 17:26). Die mens (manlik en vroulik) is geskep om soos die beeld van God te lyk. Om skeiding te bring – tussen God en mens en tussen manlike mens en vroulike mens – is juis om die beeld van God aan te tas. 

Die duiwel se apartheid

Die postmoderne geslagsgelykheidsmantra is juis besig om so ʼn skeiding te bring – ʼn nuwe, duiwelse apartheid. God het die manlike mens en vroulike mens saamgevoeg om saam soos Hy te lyk, sy beeld te vertoon. As daar nou geredeneer word dat daar absolute geslagsgelykheid moet wees, loop dit uit op ʼn skeiding wat gebring word tussen die geslagte wat God juis nie só geskei het toe Hy geskape het nie.

Die man kan nie sonder die vrou bestaan om soos God te lyk nie. Die vrou kan nie van die man geskei wees om na die gelykenis van God te wees nie. Absolute geslagsgelykheid skei juis “die goddelike pakket” wat nodig is om God se beeld te vertoon.

Die sonde het die mens van God en van mekaar af weggedryf. ʼn Middelmuur van skeiding het tussen mense ontstaan, soos wat Paulus dit in Efesiërs noem: “Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het …” (Ef. 2:14-15) [Betoning in skuinsdruk dié van die outeur]

Breek die middelmuur af

Slegs deur geloof in Jesus Christus wat die Heilige Gees gee, kan hierdie middelmuur afgebreek word.  Dan kom daar helderheid oor wat God skei en wat die mens in sonde skei. God hef nie sy skepping op as Hy dit verlos nie. Hy red juis met die oog op volkome heiliging. Dit beteken dat ʼn mens verlos word juis om die rol te vervul waartoe God jou geskep het.

Een van die sake wat die absolute gelykheidsideologie verwoes, is die Here se opdrag aan vroue om aan hul eie mans onderdanig te wees. Allerhande truuks word uitgehaal om rondom die punt hieroor te praat. Party sien dit as ʼn oorblyfsel van die patriargie, ander laat Paulus buikspreek en maak asof dit mede-onderdanigheid moet wees. Sommige hou dit as ’n mooi, maar onwerkbare ideaal voor. Hoe moet Christenvroue omgaan met die opdrag, “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here” (Ef. 5:22), wat die Here aan hulle gee?

Hoe lyk ʼn onderdanige vrou vandag?

Bestaan regte onderdanigheid[3] nog vandag vir vroue? Die woord “onderdanigheid” is al dikwels verkeerd verstaan asof dit vroue-onderdrukking regverdig en dat die vrou eintlik maar net aangesê word om al hul mans se grille en giere te verdra en met ʼn gedienstige glimlaggie altyd gereed te moet wees om die slawediens vir die Here te volvoer.

Genadiglik is dit nie wat God beveel nie. Hierdie bevel is gegee in die konteks van verlossing. God red nie mans meer as wat Hy vroue red nie. Of anders gestel, in sy redding neem God nie in ag of iemand manlik of vroulik is as Hy hulle wil verlos nie. Die Here het nie ʼn kwotastelsel as dit by sy verlossing kom nie. Alles is genade. Of jy gered word al dan nie, hang nie af van die feit of jy manlik of vroulik is nie. Dit is juis die dolk in die hart van die patriargie wat mans meer redbaar voorstel as vroue. Dit is ook waar die mat onder die feminisme uitgeruk word. God se verlossing bring jou juis in kontak met Hom. Dit vat jou nie weg van God en van ander mense af nie.

Die woord “onderdanig” hier is die Griekse woord hupotassō. Dit is onder meer as militêre term gebruik dat ʼn soldaat hom onder die gesag van die bevelvoerder moet stel en op die plek gaan staan wat hy beveel word. Die Bybel bedoel “onderdanigheid” as ʼn verbinteniswoord, as ʼn verbondsterm. ʼn Verloste vrou wat uit genade gered is omdat God dit so wil, staan onder die gesag van Christus.

Hy is haar Here en Verlosser. As Seun van God bring Hy haar na sy Vader toe. Die Vader het juis geskep dat die “twee-eenheid” van die mensdom na vore kan kom in die manlike en vroulike mens. Die Bybel leer dat die vrou simboliek in haar dra en dat die verloste Christenvrou juis in staat gestel word om hierdie simboliek sigbaar en prakties uit te leef.

Simboliese profetes

Die vrou is die simbool van die skepping. Die man dra die simboliek van die Skepper. “Want ʼn man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man.” (1 Kor. 11:7) Die tweede simboliek wat die vrou dra, is dié van bruid van Christus. Hierdie twee profetiese, simboliese optredes kan die vrou slegs beleef as sy in Christus daartoe bevry is. Sy moet op die plek gaan staan wat Christus vir haar gereed gemaak het.

Prakties gesproke beteken dit onder meer die volgende:

Sy moet so optree dat sy en ander mense, veral die man met wie sy getroud is, kan beleef en sien dat sy God erken as die Skepper en Verlosser. God is nooit los van sy skepping nie en die skepping val onder die gesag en beskerming van die Skepper. Die vrou moet dus nie in selfstandige onafhanklikheid leef nie, maar juis in ontvanklike aanhanklikheid.

Sy moet haar man as haar hoof eer, want daarmee verkondig sy die Hoofskap van Christus oor die skepping en die Skepper-wees van die Vader. Daardeur verkondig sy deur die Heilige Gees die band van liefde. Sy is haar man se heerlikheid. Die man is die heerlikheid van God die Vader. Die vrou is die heerlikheid van die Seun se vrou. Die lig en heerlikheid bly in alles die heerlikheid van God. God wil dat sy heerlikheid deur sowel die man as die vrou uitgestraal word. Hulle kan dit slegs doen as hulle die plekke inneem wat God in sy liefde aan hulle toewys.

Nuwe slawerny verkeerd

Onderdanige Christenvroue is nie slawe van alle mans nie. Inteendeel, hulle weet dat God hulle van die patriargie bevry het. Onderdanige Christenvroue is nie absoluut gelyk aan alle mans nie. Hulle weet dat God sy kinders (mans en vroue gelyk) red en dat hulle verlossing in Christus deel. Hulle weet dat God aan hulle saam opdragte gee en dat elkeen afsonderlik ook sy eie opdrag (selfs jou eie lewensroeping as opdrag) van God ontvang.

Die feit dat jy ʼn ander opdrag van God ontvang en dat jy ook gesamentlike opdragte ontvang, maak niemand absoluut gelyk nie. Om op die plek te gaan staan onder die liefdevolle regering van God se Seun, wat die Hoof van alle dinge en die Hoof van sy liggaam is, is wat jou juis uniek maak. Hy bring juis vrede en balans.

Christenvroue weet dat hulle nie in alles met mans hoef mee te ding nie, want hulle opdrag is soms anders. Waar vroue deesdae in die korporatiewe wêreld juis voel dat hulle “dubbel” so hard moet werk net om dalk “gelyke” erkenning te kry, is ʼn denkfout in die huidige samelewing. Die ideologie van absolute gelykheid is so ver gedryf dat poste “geslagneutraal” saamgestel word, juis om aan te toon dat daar absolute gelykheid heers. Die korporatiewe en sakelewe – wat ook onder die Hoofskap van Christus val – behoort hulle van hierdie ideologie te bekeer.

ʼn Nuwe vroue-onderdrukking het pas na vore gekom in dié sin dat baie vroue misbruik voel juis omdat hulle “absoluut gelyk” behandel word. Dit lei tot allerlei nuwe spanning en stres wat juis nie met die verlossing strook wat Christus bring nie. ʼn Gemeenskap wat weet dat verloste mense nie absoluut gelyk is of hoef te wees nie, doen dan ook alles wat hulle kan om die manlike mens en die vroulike mens toe te laat om die verlossing van Christus ook in die werksomgewing te beleef. (Dit is miskien ʼn tema vir ʼn volgende keer.)

Onderdanige Christenvroue is verloste mense. Hulle erken die gesag van Christus en sal nie deur die absolute gelykheidsideologie weer onder ʼn nuwe slawerny van oorwerk en oorspanning gebring wil word nie. Wat dit betref, is daar nog baie werk en baie reformasie wat wag. Die eerste ding wat egter moet val, is die “afgodsboomstam” van absolute gelykheid.

Die mens is na die beeld en gelykenis van God geskape as manlike en vroulike mens. Christus herstel weer hierdie band en plek van albei. Hy gee nuwe gesamentlike en spesifieke opdragte. Christenmans en Christenvroue behoort mekaar wedersyds te help om hul opdragte te kan uitvoer.

In die Afrikaanse kultuur is daar baie mooi dinge en ongelukkig ook grillerige goggas. Die Afrikaanse vroue was van die eerstes in die Westerse wêreld om stemreg te handhaaf (sonder ʼn feministiese veldtog daaragter, maar omdat die verbond van God verstaan was). Die wurggreep wat die feminisme ook tans op die Afrikaanse Christenvrou uitoefen, moet verbreek word.

Dit kan net gebeur as daar individuele geloof in Christus is wat gesamentlik saamwerk om God se verlossing te beleef. Die noodsaak van ʼn gemeenskaplike vroue-organisasie wat die verbond van God hoog ag, wat juis ou en nuwe ideologieë die hoof kan bied en oorwin, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Vroue verlos in Christus – verenig onderdanig onder Hom. Die mans het dit bitter nodig om verlos te kan lewe.


[1] Vgl. Efesiërs 1:10.

[2] Hierdie artikel gaan nie in op die kwessie dat die sonde en effek van die sondeval die skepping beïnvloed nie. Hier word slegs die skeppingsbedoeling aangetoon. Die saak van die gevolge van die sonde is baie belangrik ten opsigte van wat as “natuurlik” geag word of nie, die sg. contra naturam-argument. Dit word hier nie verder bespreek nie. Vgl. Rom. 1:26, 11:24; 1 Kor. 11:14; 2 Pet.1:4.

[3] Ef. 5:22

Foto: Photo by Aaron Burden on Unsplash