Wat is my talent werd?

Reeds vroeg in ons lewe leer ons die woord “talente” ken. Dit word deur ons ouers en onderwysers aan ons geleer. Die oproep om jou talente te gebruik, kom dikwels daarmee saam. Talente dui op die natuurlike vermoëns wat ʼn mens by geboorte ontvang, maar dit dui ook op geleenthede wat benut kan word om die vermoëns nog verder te slyp en te verfyn. Ons ken talente ook uit ʼn woord wat in die Bybel gebruik word om ʼn betaalmiddel aan te dui.

Oorspronklike betekenis van talent

Die Bybel het ons eintlik die eerste omtrent die woord “talente” geleer. Dit is dalk nodig om eers weer te kyk wat die oorspronklike Hebreeuse woord vir talente [kikâr] beteken. Basies beteken “talent”’ in die betekenis van sy oorspronklike wortelwoord drie dinge:

  1. Talent beteken ʼn sirkel, om in die rondte te dans; ʼn omringde landstreek; of dan ook ʼn ronde baan, soos ʼn atletiekbaan lyk. Die bedoeling is dat ʼn mens weer by die begin uitkom.
  2. Talent beteken ook ʼn hele ronde brood en dat daar kleiner stukkies van die hele brood gegee of geëet kan word.
  3. Talent beteken ook ʼn ronde gewig wat iets op ʼn skaal moet uitbalanseer. Iets word geweeg en die gewigswaarde word met talente op die ander skaalbak gesit om te bepaal hoeveel dit weeg. Talent het daardeur die betekenis gekry van dit wat waarde en waardebepaling is.

Hierdie oorspronklike betekenis van talente word in ons huidige, postmoderne samelewing ʼn bietjie onder die stof begrawe. Dit beteken dat ons wel die woord “talente” ken, maar dit nie meer in die oorspronklike betekenis daarvan aanwend nie. Vir Christene lê hier ʼn groot uitdaging en verrassende geleenthede in. Hoe sal dit lyk as ons as Christene weer begin lewe met die oorspronklike betekenis van “talent” in gedagte?

Hoe sal dit die samelewing beïnvloed en hoe sal dit ons gemeenskap aanraak? Om hierdie vraag te beantwoord moet ons logies eers kyk hoe die huidige samelewing talente verstaan en hoe dinge daardeur skeefgeloop het. Daarna kan ons die Bybelse betekenis as templaat bo-oor dié verstaan plaas en sien wat die verskil is. Derdens kan ons dan aan vindingryke maniere dink om die situasie reg te stel.

Twee strydende ideologieë

Daar is tans twee groot ideologieë, of dan denkraamwerke, wat die botoon in mense se denke voer. Dit bepaal ook dat hulle talente op ʼn bepaalde manier beskou.

  • Die neoliberalisme is tans die een groot krag in die samelewing. Dit behels dat mense hulleself sien as losstaande individue wat die vermoëns en talente wat hulle het, gebruik om hulleself te bevoordeel. Die idee is dan dat as almal op dié manier slegs aan hulleself aandag gee, dit naderhand daartoe sal lei dat al die mense, al die individuele persone saam, daaruit sal voordeel trek.
  • Die sosialistiese manier van dink is die groot teenhanger van die vorige denkrigting. Sosialisme en kommunisme glo vas in die absolute gelykheid van mense, tot so ʼn mate dat hulle ook mense se talente so benader. Waar die neoliberale mense toelaat om individueel bo die groep uit te styg, wil die sosialiste dit nie so doen nie.

Hulle sê die groep moet saam hanteer word. Die groep moet bepaal en eintlik domineer hoe talente gebruik moet word. In praktyk beteken dit baie keer dat die laagste gemene deler na vore kom. ʼn Mens kan dit met ʼn atletiekbeeld verduidelik: Die samelewing word dan nie gekenmerk deur individuele mense wat hoog bo-oor die hoogspringlat spring nie, maar die hoogte van die lat word gestel op die hoogte van die kortste en laagste sprong sodat die een nie bo die ander bevoordeel word nie.

Skematies kan ons dit soos volg voorstel:

Hoe lyk dié fout in die werkplek?

Hierdie siening van talente het ook ʼn groot impak op hoe bestuurders mense in die werkplek in die hedendaagse samelewing bestuur. ʼn Mens kry dus aan die een kant die kapitaliste wat hulle uitvoerende spanlede dikwels buitensporige bonusse betaal en maatskappye wat dikwels reusewinste aanteken. Maar dit is verkry ten koste van die gemeenskap of werkergetalle wat verminder is. Aan die ander kant kry ʼn mens weer dikwels stakings vanuit sosialistiese geledere wat so op gelykheid aandring dat talente en bekwaamhede nie in ag geneem word nie wat meebring dat die enjin van die hele voertuig naderhand ingee.

Om op te som: As talente in die samelewing nie Bybels hanteer word nie, kry ʼn mens twee verkeerde uitskieters. Aan die een kant kry ʼn mens individue wat hulleself bevoordeel en verryk ten koste van die groep.  Aan die ander kant kry ʼn mens die verskynsel dat die groep nie eintlik vorder nie omdat niemand bó of voor die ander een behandel mag word nie.

Wat is die regte toepassing van talente?

Hoe kom ons uit hierdie dilemma? Wat moet Christene doen en vir ander leer wat hierdie situasie, ook in die werkplek, sal verbeter? Die antwoord is eintlik eenvoudig: nie die kontrak nie, maar die verbond. Ongelukkig moet ʼn maklike antwoord egter ook verduidelik word sodat die volle implikasie daarvan verstaan kan word.

Die hele ekonomiese stelsel werk vandag met ʼn paar kernbegrippe. Een daarvan is die kontrak-idee. Die kontrak-idee hou blywende en direkte gevolge in vir hoe talente in die werkplek hanteer word.

Christene wat die Bybelse gedagte oor talente en gawes reg wil verstaan en daarvolgens wil lewe, sal die volgende punte weer ernstig opneem en in die samelewing na vore wil bring:

  • Gawes is geskenke 

Die Christen bely dat God die Skepper van alle dinge is en dat Hy die Vader van die gelowiges, sy kinders, is. God gee nie aan al sy kinders ewe veel of dieselfde talente nie. God doen dit nie omdat Hy arm is of omdat Hy nie genoeg het om uit te deel nie. Hy doen dit ook nie omdat Hy onregverdig is nie. God deel gawes en talente uit omdat Hy ʼn baie bepaalde werksplan vir sy skepping het. God wil juis hê dat mense moet saamwerk.

  • Gawes is bedoel om te deel

God wil dat die mens ten eerste saam met Hom werk. God is die Koning van alle dinge en God die Vader het sy Seun aangestel as die Een wat sy Koninkryk op die aarde moet vestig. Die Here Jesus Christus vestig sy Koninkryk op aarde deurdat Hy self het uit die hemel mens geword het. Hy het ná sy opstanding saam met die Vader ook die Heilige Gees gestuur om in mense te kom bly.

Deurdat Hy deur die Heilige Gees in mense kom bly, maak HY hulle deel van sy Koninkryk. Hy maak mense deel van sy Koninkryk en stel hulle gawes en hulle talente in diens van die uitbreiding van sy Koninkryk.

  • Gawes is aan God se plan gebind

God wil dan ook mense met mekaar laat saamwerk om saam, as mensdom wat deur geloof Sy kinders geword het, deel te neem aan die uitvoering van God se wil. God bind hierdie gawes en talente wat Hy gee aan meer as een mens. Trouens, God is so groot dat Hy self geslagte wat mekaar opvolg daardeur ook aan mekaar verbind. Die werk in God se Koninkryk is so groot dat een geslag, een mens, of een gemeenskap dit nie alleen en volledig kan vermag nie.

  • Die gebruik van gawes bring balans

God wil dus met talente ook balans in Sy skepping bring. Ons het in die begin na drie oorspronklike betekenisse van “talent” verwys. Oorspronklik beteken “talent” ronde baan of streek wat die begin insluit, ʼn ronde brood of ʼn ronde gewig vir balans.  Kom ons kyk nou hoe dit kan lyk as Christene dit in vandag se lewe reg toepas.

Deur aan die mense talente te gee wil Hy:

  1. Die ronde baan weer by die begin laat uitkom

Soos wat ʼn mens op die atletiekbaan weer by die begin uitkom, so wil God dat die talente weer by Hom uitkom. Christus is die begin en die einde. Maar sy bedoeling is nie dat die talente ongebruik weer by die begin uitkom nie. Die talente moes die werk verrig wat God daarvoor bedoel het sodat wanneer die deelnemers weer by die begin kom, Hy kan wys wat hulle met die talente bereik het.

Dit verduidelik die gelykenis wat die Here Jesus self vertel het van die eienaar wat verskillende talente aan elkeen van sy bediendes ʼn gegee het. Almal behalwe een het die talente vermeerder en na die eienaar teruggebring. Die een wat egter niks met sy talente gedoen het nie en net dit wat die eienaar sʼn was aan die eienaar teruggegee het, is swaar gestraf.

Ons mag dus die lewe en ons werk en omgewing nie maar net op dieselfde manier aan God, aan Christus die Koning teruggee as aan die begin nie. God het ons uit genade gered en talente aan ons geskenk sonder dat ons dit by Hom gekoop of verdien het. Met die talente wil Hy hê dat ons Sy wil uitvoer.

Uit God, deur God en tot God is alle dinge. So wil die Here ook sien wat ons met die talentgeskenk wat Hy aan ons gegee het, bereik het. Ons het nie die reg om dit selfsugtig te misbruik nie. Ons het ook nie die reg dat die groepsgevoel van absolute gelykheid die talente in die stof begrawe nie.

2. Dat die ronde brood gedeel word

Deur aan ons talente te gee, wil God hê dat ons nie net aan die vestiging van Sy Koninkryk deelneem nie. Hy wil ook hê dat ons ons gawes met ander mense deel omdat ons dit in die eerste plek by Hom gekry het en Hy Homself met ons deel deur die Heilige Gees se inwoning. Die brood by die nagmaal beeld dit sekerlik die duidelikste uit. Elkeen kan en mag ʼn stukkie uit die hele ronde brood neem.

Elkeen wat glo, deel so aan Christus, die brood van die lewe, en elkeen gee die ronde brood aan die ander om ook ʼn stukkie daarvan te kry en verder aan te stuur. Dit is so ʼn kragtige beeld. God deel uit deurdat ons ons talente met ander deel. God gee aan mense verskillende talente juis omdat Hy dít wat ek dalk nodig het vir jou gegee het. Slegs in liefde en gehoorsame dankbaarheid kan iemand besef dat wat God vir my gegee het met die oog op die bevordering van ander mense gegee is.

3. Talent as balanseerwaarde gebruik

Deur talente aan ons te gee kom die volle waarde van ʼn gemeenskap wat aan God glo na vore.  God gee talente met die oog op die einddoel. Daardeur kan ʼn mens groot troos en versterking kry. Niemand se talente is oorbodig nie. Of iemand nou min of baie talente gekry het, saam maak dit as ronde gewigte die balans op van wat God uit die hele skepping en mensdom wil ontvang en na vore wil laat kom.

Ons moet mekaar se individuele talente in ag neem. Dit behels byvoorbeeld dat as ʼn mens ʼn posbeskrywing as bestuurder opstel, jy nie net die “die werk vir produksie” in ag neem nie. ʼn Mens neem ook “die mens met unieke talente” wat God gegee het om die werk te voltooi in ag.

Talente is die waarde wat God aan ons roepingswerk heg. Dit beteken dat as ons met ons roeping besig is, God aan ons die vermoë, talente, geleenthede, opleiding, toerusting en voorbereiding gee vir die uitvoering van ons Koninkrykswerk. Dit bied baie troos, maar dit bring ook groot verantwoordelikheid mee.

Die waarde van jou talentvolle werk

Die antwoord kan ons verras as ons elkeen onsself dus sou vra: Wat is my talent? As ons as Afrikaanse gemeenskap ook deur hierdie oefening gaan en vra: Wat is ons talente? Wat het God spesifiek aan ons gegee en hoekom? God gee aan elkeen met die oog op die groep. God skenk talente met die oog op die voltooiing van die werk.

Laastens gee God talente binne die verbond. Hy bind talente aan Homself en deur gelowiges wat die liggaam van Christus is. Hy bind mense se talente aan mekaar. Samewerking kry dus binne die gemeenskap ʼn ryke en nuwe betekenis. God wil geloof aan die werk sien. Die Heilige Gees deel aan elkeen en almal uit soos Hy wil.

God se werkkrag kom self na vore as talente gehoorsaam aan die Koningskap van Christus gestel word. Wat is jou talent, wat is ons talente as gemeenskap? Dit is die waarde van ons werk – ʼn plig én ʼn heerlike plesier.

Foto: Photo by Barbara Horn on Unsplash