Wat is ʼn Christelike gemeenskap?

Vroeër jare was ons nog daaraan gewoond om van ʼn “Christelike samelewing” te praat. Deesdae hoor ʼn mens dit maar min. Die uitdrukking is eerder met ʼn uitdrukking soos “Christene in die samelewing” vervang. Was dit ʼn té hoë ideaal? Is dit ʼn onrealistiese geloofsdroom om van ʼn Christelike samelewing te praat? Ons kry verskillende maniere waarop mense reageer op die verskynsel dat die samelewing skynbaar juis al hoe meer ónchristelik, en selfs openlik anti-christelik begin word. Die invloed van die ideologie van sekularisasie het die patroon van ʼn soort Christelike onttrekkingsimptoom na vore gebring. Dit het breedweg die volgende kenmerke:

  • ʼn Geprivatiseerde godsdiens – waar elke Christen sy godsdiensbelewing knip en plak na gelang van wat sy eie voorkeure en afkeure toelaat;
  • ʼn Verkerkliking van die samelewing – dit is ʼn terugtrekking in die kerk en van die kerk, wat beteken die breë samelewing is so half aan sy eie lot oorgelaat en waar pogings wat aangewend word om situasies te verbeter eintlik op ʼn vermyding van die wêreld neerkom;
  • ʼn Verkoop van die kerk se beeld – dit is waar baie moeite gedoen word om vir die wêreld te wys dat die kerk die nuutste modes en ideologiese giere met ʼn Bybelversie kan opvrolik; en
  • ʼn Houding van wag en bid dat die hemel aanbreek – dit is waar die aarde as hopeloos onherstelbaar prysgegee is en die hemel wat die aarde sal vervang as die enigste uitweg gesien word.

ʼn Mens sou seker nog baie voorbeelde kon byvoeg van hoe mense reageer op die feit dat die samelewing al meer vervalle raak en die Christelike belewing nie meer deel van die hoofstroom is nie.

Regte definisie

In Afrikaans word die begrippe “samelewing” en “gemeenskap” eintlik maar as wisselterme gebruik. Tog is daar Bybels en filosofies ʼn groot onderskeid tussen die twee te tref. Hoe jy die sosiale kant van die menslike lewe sien, beïnvloed eintlik hoe jy jou definisie van “samelewing” of “gemeenskap” saamstel.

Sosiale konstruktivisme

Met watter bril jy na die werklikheid kyk, bepaal wat jy sê jy sien. Daar is twee groot ideologieë wat stry oor watter een die sterkste aanhang sal hê. Die een ideologie (die neoliberale siening) voer aan dat enige samelewing uit ʼn klomp individue bestaan wat selfs kan kies watter groepe hulle saamstel of van watter groepe hulle hulself uitsluit. Hierdie manier van dink konstrueer die sosiale lewe van die mens uit enkelboublokkies, elke individuele mens. Elke mens, so neem hulle aan, kan self besluit hoe jy jou eie lewe en samelewing konstrueer of bou.

Hierdie manier van lewe kort natuurlik ʼn reëlboek oor hoe elke individu hom behoort te gedra. Daarvoor het die aanhangers van hierdie ideologie met die idee van die sosiale kontrak na vore gekom: Al die individue staan gesamentlik iets van hul vryheid af en stel ʼn owerheid aan wat hulle dan in ruil vir daardie afstanddoening beskerm. Die huidige territoriale nasiestaat-idee (ook die huidige RSA) is op hierdie manier gekonstrueer.

Die probleem is dat die verskillende groepe wat kunsmatig so gevorm word, net soos in die geval van ʼn omheinde landgoed (estate) wat uit individue bestaan wat ter wille van beskerming saambly, nie altyd ooreenkom met groepe wat natuurlik saam voorkom en nie deel uitmaak van hierdie denkkonstruksie nie. Kortom, hierdie ideologie kom daarop neer dat net enkelinge bestaan en dat hulle sélf hul eie samelewing saamstel soos en waar hulle wil. ʼn Liberale samelewing oorskat die enkeling se plek en rol in die groter geheel.

Sosialistiese denkbeelde

Die ander ideologie gaan weer van ʼn klas- (en in die RSA ook van ʼn ras-) indeling uit. Alles word aan die hand hiervan gesien: ryk teenoor arm of wit teenoor swart ensovoorts. Die vertrekpunt is dat die meerderheid, die groep, die ware stand van sake verteenwoordig. Die bekendste voorbeeld hiervan is dat daar vanuit hierdie ideologie gereeld aangedring word op ongeëwenaarde gelyke uitkomste.

Dit beteken dat almal nie maar net die geleentheid moet hê om op dieselfde voet by die wegspringplek te begin nie, maar dat daar volkome daarop aangedring word dat almal gelyk by die eindstreep aankom. Kortom kom hierdie ideologie daarop neer dat rykdom só gelyk verdeel word dat almal naderhand ewe arm is. ʼn Sosialistiese samelewing oorskat die rol en plek van die groep in individue se lewe.

Wat behels ʼn Christelike gemeenskap?

Die begrippe “samelewing”(society) en “gemeenskap” (community) is nie sinonieme nie. Hierdie artikel wil die idee van ʼn ware Christelike gemeenskap verder ondersoek. Wat is ʼn gemeenskap regtig volgens die Bybel? Kan Christene iets tot die debat tussen die ideologieë bydra? Sou ons (weer) van ʼn Christelike samelewing kan begin praat, of moet ons eerder (nuut) dink oor wat Christelike gemeenskap ten diepste alles behels. 

  • Gemeenskap van die heiliges

Christene bely elke Sondag die Twaalf Artikels. Ons bely onder meer die volgende: “Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.” 

  • Gemeenskap van dié Heilige

Voordat ons by die woord “gemeenskap” in die Bybel kom, moet ons net eers weer beklemtoon dat “die gemeenskap van die heiliges” altyd verstaan moet word as die verbintenis aan die “gemeenskap van die Heilige”, dit wil sê aan die gemeenskap met God Self, die Heilige God. Hierdie basis van wat ware en egte gemeenskap is, leer die Bybel ons self:

Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe – en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is – wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.” (1 Joh. 1:1-3)

God is die unieke Here. Hy is Vader, Seun en Heilige Gees.

Dit is Hy Sélf wat Hom as dié enige en unieke gemeenskap [‘echâd in Hebreeus] aanwys. God is die enige en unieke God. So sê Deut. 6:4: “Hoor, Israel, die Here onse God is ʼn enige Here …” Ook in verband met die dag van die Here sê die Skrif: “… … En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.” (Gen. 1:5). [Betoning in skuinsdruk in die twee teksaanhalings is dié van die outeur.] Verder spreek God die bekende woorde toe Hy die mens skep: “Laat Ons mense maak, na ons beeld, na ons gelykenis …” (Gen. 1:26) Let op die gebruik van die meervoudsvorm “Ons” in hierdie teks. Alle menslike gemeenskap het dus God Sélf as dié heilige gemeenskap ten grondslag.

Die gemeenskap van dié Heilige vorm juis die basis en bestaansmoontlikheid van die gemeenskap van die heiliges. Die Heilige Vader bind Hom deur sy Seun Jesus Christus en die salwing van die Heilige Gees aan sy kinders. Hy heilig hulle om te deel in sy heiligheid. “En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.” (1 Joh. 2:20) Hierdie onderskeid tussen God se heiligheid en die heiligheid van mense is wesenlik belangrik in die hantering van die definisie van wat ʼn gemeenskap behoort te wees.

[Betoning deur skuinsdruk in teksaanhalings in hierdie paragraaf hierbo is dié van die skrywer.]

Verder is dit belangrik dat die gemeenskap wat God ken en wil ken, altyd gepaard gaan met die feit van God se inwoning op die aarde by sy mense. Dit is ʼn refrein wat met reëlmaat voorkom. So sê die Here self vir Moses: “Ook moet hulle vir My ʼn heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.” (Ex. 25:8)

Die feit dat God die Heilige by sy kinders op die aarde wil woon is die kern van alle nadenke oor menslike gemeenskap. Die Bybel beskryf hierdie “gemeenskap” met baie woorde. In hierdie artikel konsentreer ons op een van die sentrale begrippe in die Ou Testament wat hierdie gedagte dra. Die Hebreeuse woord is “saamvoeg” – tot een geheel [châbar]. Dié term kom baie in die boek Exodus voor: “… en jy moet die tent saamvoeg, sodat dit een geheel is.” (Ex. 26:11) (vgl. ook Ex. 36:10,13 en16, asook 39:4)

Bind – goed saamgevoeg

Die kerngedagte van gemeenskap in die Bybel is “bind.” Die band waarmee God bind bring mee dat mense en dinge as ʼn goed saamgevoegde geheel daar uitsien. God bind deur sy Woord en Gees. Trouens, die ryk en diep idee van die verbond van die Here kan gesien word as die bindmiddel van alle ware gemeenskap. Slegs wanneer daardie binding met God, die Heilige, beleef word is hierdie samevoeging goed.

Ontbind – slegs saamgevoeg

Die Bybel gebruik hierdie woord ook om aan te dui dat die mens dikwels ná die sondeval teen God saamgroepeer. Dit is die gemeenskap van die onheiliges. Daar is talle voorbeelde hiervan in die Skrif. Een van die bekendstes is die leërs van verskillende heidenkonings wat saamgevoeg word om die gelowiges te na te kom. In die verband kan verwys word na die oorlog van Abraham teen Kedor-Laomer (Gen. 14:3) en ook na die geskiedenis van Melgisedek. Die Skrif toon deurentyd aan dat sodanige binding téén God altyd die onderspit delf en op verbreking en verwoesting afstuur.

Vreugde gebonde

Die term tot een geheel [châbar] “saamvoeg” dra ook die nuanse van vreugde. Wanneer alles op hul plek is, kom daar ook prag en wonder na vore. Hierdie prag, wat in wese niks anders as die uitstraling van die heerlikheid van God is nie, verskaf deelnemende vreugde en blydskap. Om deur die Heilige saamgevoeg te wees, in die geheel wat God self daarstel, lei tot en vereis ʼn vreugdevolle meelewing. Om deel te wees van die gemeenskap wat God saamstel beteken ten diepste om ook jou deel te neem (te verkry) en jou deel te doen (mee te werk) in die groter geheel van die heerlikheid van God. Hierdie vreugde is ʼn geskenk van God deur sy Seun en word gewek in die lewe van sy kinders deur die Heilige Gees.

Vertel blywend

Die derde betekenis van hierdie woord “saamvoeg” – tot een geheel [châbar] beteken om oor te vertel of om verder te vertel. Dit beteken ook om te rapporteer, om ʼn verhaal op te stel, om ʼn verslag uit te bring oor die ware stand van sake en om dít wat saamgevoeg is en saamgevoeg moet wees wyer bekend te maak en om juis dan die geheel in sy volle mate na vore te laat kom. Dit is juis waarvan Paulus praat as hy sê: “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ʼn volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.” (Ef. 4:12-13)

Opsom, optelsom onder een Hoof

God bou sy eie heilige huis. Hy doen dit deurdat al die dele in ʼn pragtige geheel saamgevoeg word. Hy doen dit deur sy Seun en deur die werking van die Heilige Gees. Hiermee gee God Self uitvoering aan die doel waarmee Hy alles in die hemel en op die aarde gemaak het. Van die begin tot die einde van die Bybel wys God juis daarop dat God as Skepper en Herskepper alles in sy heilige gemeenskap onder sy Seun wil stel. Daarvan getuig Paulus as hy God se bedoeling met gemeenskap in Efesiërs 1:7-10 verkondig: “

In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig  [anakephalaiomai in Grieks] [Beklemtoning in skuinsdruk dié van die outeur]

God wys en toon sy bouplan vir gemeenskap in die lewe van die gelowiges in die gemeente van God. God wil dat die gelowiges – as die gemeenskap van die heiliges – juis ook oor die gemeenskap van die Heilige profeteer. 

Gemeente en gemeenskap

Die kerk, die gemeente, is die “vertoonlokaal”, die uitstalruimte van God se bedoeling. Die kerk moet juis hierdie ware gemeenskap verkondig, oorvertel en verkondig. Dit beteken dat die volle omvang van die bedoeling van God as heilige gemeenskap met alle menslike gemeenskappe verkondig word. Dit sluit onder meer die huwelik en die gemeentelewe in, en dit sluit ook die heiliging van die kulture van tale, volke en nasies in – tale, volke en nasies wat nie net as individue nie maar ook juis ás gemeenskappe heilig voor God se troon gestel moet word. Dit is juis waarop die laaste boek in die Bybel juis neerkom.

Die gemeenskap van God en die gemeenskap voor God en die gemeenskap met God moet deur die gemeenskap van die heiliges verkondig, bely en beleef word:

Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ʼn groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ʼn groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Op. 7:9-10) [Beklemtoning in skuinsdruk dié van die outeur]

Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword. En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.” (Op.10:10-11). [Beklemtoning in skuinsdruk dié van die outeur]

Heilige praktyk

Wat beteken al hierdie aspekte vir Christene vandag? Daar is baie toepassings. In alles moet ons weet dat ons nie moet meedoen aan iets wat gemeenskap teen God opstel of gemeenskap wat God wil eer moet teenstaan nie. Die Here bou sy huis en in die Vader se huis is baie wonings. Die gemeenskap met God moet in alles rekening hou met die bou en opbou van gemeenskappe. Ons mag nie gemeenskap hou met die kwaad nie, ons mag nie deel hê aan en saamwerk met die bose nie. Christene is uit God gebore.

Ons kom voort uit ʼn heilige gemeenskap, ons het deel aan sý heiligheid en ons moet meewerk aan die uitdra van daardie heiligheid. Dit geld vir die klein en die groot dinge wat ons doen. Dit geld ook vir gemeenskaplike kultuur – daarom moet ons as Christene saamwerk om ons gemeenskap se kultuur vir gemeenskap met God te heilig. Dit beteken ten diepste dat ons ʼn gemeenskap moet daarstel wat waardig is om God se heiligheid te eer. Dit kan alleen gedoen word deur Jesus Christus se inwoning deur die Heilige Gees. Kultuur-heiligheid is die gemeenskaplike vrug van ʼn Christelike samelewing.

Foto: Photo by Leah Kelley