In 2022 het Solidariteit Helpende Hand, in samewerking met die Begrond Instituut, ‘n belangrike riglyn saamgestel vir gemeenskapsontwikkeling genaamd “Ons hand in Sy hand.” Hierdie publikasie is daarop gemik om die diep afhanklikheid van God te erken in alle pogings om gemeenskappe op te hef en te dien. Die onderliggende uitgangspunt is duidelik: wie die gemeenskap wil dien en ontwikkel, moet besef dat ware hulp en sukses slegs moontlik is in afhanklikheid van God, wat ons in Sy hand hou.
“Ek ondersteun jou met my reddende regterhand,” sê Jesaja 41:10. Hierdie belofte van God staan sentraal in die benadering van Solidariteit Helpende Hand en sy samewerkingsvennote. Ons hand in Sy hand is nie net ‘n simbool nie, maar die werklikheid van hoe ons werk – swak, nietig, maar geseënd deur Sy krag en genade. In hierdie afhanklikheid erken ons die noodsaak van samewerking met die kerk as die geloofsgemeenskap wat deur God self gestig is.
Gemeenskapsontwikkeling is nie bloot ‘n sosiale of ekonomiese taak nie; dit is ‘n daad van gehoorsaamheid aan God, wat ons roep om in Sy Koninkryk te werk. Diegene wat dien in hierdie werk moet geroepe, toegerus en gewillig wees, en bowenal bereid om diensbaar te wees. Ons is swak, maar deur God se hand kan ons tog groot dinge vermag.
Ons hand: Hierdie verwysing dui op ons geroepenheid as Christene – om te dien en te werk in Sy Koninkryk. Ons hande is gewillig om te help, gewillig om op te tree, en gehoorsaam aan God se roeping. Ons erken ons swakheid, maar ons vind krag in Sy seën.
In Sy hand: Ons afhanklikheid van God is fundamenteel. Sonder Sy ondersteuning, Sy draende hand, sou ons pogings tevergeefs wees. Ons is afhanklik van Hom wat ons optel en dra, wat ons seën en versterk om Sy werk te doen. Hierdie afhanklikheid is nie ‘n teken van swakheid nie, maar eerder ‘n erkenning dat alle sukses en krag van God kom.
Ons hoop en bede is dat hierdie riglyn, “Ons hand in Sy hand,” groot vrug sal dra in ons land en onder ons mense, binne die breë raamwerk van die Koninkryk van God. Deur te werk in afhanklikheid van God en in samewerking met die kerk, glo ons dat ware gemeenskapsontwikkeling kan plaasvind. Mag hierdie program ‘n seën wees vir almal wat daaraan deelneem, en mag dit deur God gebruik word om Sy Koninkryk verder uit te brei.
Skrywers: Lourens Venter, Paul Maritz, Wikus Buys, Hannes Noëth, Gert Erasmus, Elsha Hermann