Saaigrond

In 2022 het Begrond die publikasie Saaigrond gedruk. Die meeste mense soek antwoorde op die dieper vrae van die lewe. Sommige dink meer intens hieroor as ander. Party mense vra hierdie vrae vir hulself, ander vra dit vir die mense om hulle. Hoe ons optree en lewe, word grootliks bepaal deur die antwoorde wat ons op hierdie lewensvrae het—of ons van hulle bewus is of nie. Dit is omdat ons dikwels onbewustelik ‘n bepaalde wêreldbeskouing het wat ons denke en gedrag beïnvloed.

Die eerste vrae wat ‘n mens al as kind begin vra, handel oor ons oorsprong:

  • Waar kom ek vandaan?
  • Waar kom die mens vandaan?
  • Hoekom bestaan ons?
  • Kan ek vry kies wat ek wil doen?
  • Is daar lewe na die dood?

Soos ons ouer word, raak ons ook bewus van godsdiens, en dit bring verdere vrae na vore:

  • Bestaan God?
  • Wie is God?
  • Is daar net een ware God?
  • Wat beteken God vir my lewe?
  • Wat is die doel van my bestaan?

Daar is ook vrae oor die aard van die werklikheid:

  • Is die fisiese dinge om ons die enigste werklikheid, of is daar ook ‘n geestelike dimensie?
  • Het die mens net ‘n liggaam, of het ons ook ‘n siel of gees?
  • As daar ‘n geestelike werklikheid is, hoe kan ons daarvan leer?

En natuurlik, as ons oor die lewe nadink, begin ons vra oor reg en verkeerd:

  • Hoe weet ons wat reg of verkeerd is?
  • Is daar ‘n hoër gesag wat ons leer wat goed en kwaad is?
  • Wat is verkeerd met die wêreld, en hoe kan ons dit beter maak?
  • Watter verantwoordelikheid het ons as Christene in hierdie wêreld?

Ons leef in ‘n wêreld vol vrae, en die antwoorde op hierdie vrae bepaal ons wêreldbeskouing. Vir die Christen is dit noodsaaklik om ‘n Bybelse wêreldbeskouing te hê—om die lewe deur die bril van God se Woord te sien. Die Bybel gee ons nie net antwoorde nie, maar rig ons hele lewe volgens God se wil.

Die Christelike Wêreldbeskouing
Hierdie boekie het ten doel om die dieper vrae van die lewe te beantwoord vanuit ‘n Bybelse perspektief. Ons wil ‘n vaste grondslag lê deur die Bybelse waarheid en wysheid, sodat ons met sekerheid kan weet hoe ons as Christene in hierdie wêreld moet leef en hoe ons ons roeping kan uitleef.

Foto: Steven Weeks op Unsplash