Die seën van gehoorsame geloof

Jakobus 1:22-25 (1953 Vertaling)

In hierdie gedeelte keer Jakobus terug na die belangrikheid van God se Woord in die lewe van die gelowige. Hy beklemtoon dat ware geloof nie net bestaan uit die aanhoor van die Woord nie, maar uit die aktiewe uitlewing daarvan. Hierdie woorde vorm ’n kernboodskap van Jakobus se brief: geloof sonder werke is dood (Jak. 2:26).

Jakobus gee ’n duidelike opdrag: “Wees daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Die hoorder wat nie die Woord toepas nie, mislei homself deur te dink dat kennis of bloot luister na die Woord voldoende is. Dit is egter in die doen van die Woord dat geloof werklik bewys word.

Johannes (1 Joh. 1:5-7) gebruik die metafoor van lig en duisternis om gehoorsaamheid aan God te beklemtoon. Om “in die lig te wandel” beteken om ’n lewe van gehoorsaamheid, heiligheid, en waarheid te leef. Net soos Jakobus sê dat geloof sonder werke dood is (Jak. 2:26), sê Johannes dat diegene wat beweer om God te ken, maar in sonde wandel, hulself bedrieg en nie die waarheid doen nie. Dit sluit aan by Jakobus 1:22-25, wat waarsku dat bloot ‘hoorderskap’ van die Woord onvoldoende is; daar moet aksie volg.

Jakobus gebruik die beeld van ’n spieël om die gedrag van die vergeetagtige hoorder te beskryf. ’n Spieël wys jou wie jy werklik is, maar as jy jou refleksie sien en dit dadelik vergeet, is die spieël se doel nutteloos. Net so openbaar God se Woord ons werklike geestelike toestand, maar as ons nie daarop reageer nie, verloor dit sy heiligmakende krag in ons lewens.

Jakobus verwys na die “volmaakte wet van vryheid,” wat waarskynlik die evangelie van Christus en die morele wet insluit. Hierdie wet is nie ’n juk nie, maar ’n bron van ware vryheid, omdat dit ons lei om te leef volgens God se wil. Dié wat diep insien in hierdie wet en daarby bly, sal geseënd wees in wat hulle doen. Dit is ’n belofte van vreugde en vervulling vir diegene wat gehoorsaam leef volgens God se Woord.

Hierdie teks roep jou op om jou geloof prakties te leef. Moenie net Bybelverse lees of aanhoor sonder om te vra hoe jy dit kan toepas nie. Soek spesifieke maniere om gehoorsaam te wees aan God se Woord in jou daaglikse lewe, of dit nou beteken om ’n sondige gewoonte af te lê, barmhartigheid te betoon, of in jou omgang met ander Christus se liefde te weerspieël.

In jou gesinslewe is dit belangrik om nie net vir mekaar oor die Bybel te praat nie, maar ook om dit saam toe te pas. Wys jou kinders hoe gehoorsaamheid aan God se Woord lyk deur jou voorbeeld. Hoe dikwels sê ouers “Maak soos ek sê en nie soos ek doen nie” – Jakobus trek vir ons ’n groot dik rooi lyn daardeur. Dit is verkeerd. As ouers kan julle gesamentlik ’n “dader”-kultuur kweek waar die Woord aktief geleef word – soos deur gasvryheid, hulp aan ander, en wedersydse respek in die huis.

Jakobus 1:22-25 het ’n dringende boodskap vir ’n volk wat soms trots is op hul geloofstradisies. Ons moet onsself afvra of ons kultuur en lewe werklik ooreenstem met God se Woord. Waar kan ons kultuur meer en meer geheilig word? Dalk in hoe ons sport benader, dalk in hoe ons films benader, dalk in hoe ons musiek benader. Ons moet aktief werk om ’n geregtige en barmhartige gemeenskap te bou, gebaseer op Bybelse beginsels, en nie bloot roem op ons Christelike agtergrond nie. Ware geloof toon homself in dade wat ander dien en God verheerlik.

Jakobus 1:22-25 leer ons dat ware geloof prakties is. Dit is nie genoeg om bloot te hoor of selfs te verstaan nie; ons moet die Woord doen. Soos die spieël ons uiterlike toestand wys, openbaar God se Woord ons innerlike toestand en roep dit ons op tot aksie. Deur in die “volmaakte wet van vryheid” in te sien en daarby te bly, ervaar ons die volheid van God se seën.

Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)

Foto: Pexels Joel Super