Die Here haat die sonde maar nie die sondaar nie

Efesiërs 2:1-5 (1953 Vertaling)

Ons het almal waarskynlik al gehoor in die volksmond persone wat sê, “die Here haat die sonde maar Hy is lief vir die sondaar”. Ons moet allereers verstaan. Die Here is lief vir sy skepping en dit wat Hy geskep het. Maar regdeur die Here se Woord leer ons die Here haat die sonde wat in die Here se skepping ingekom het. Hoe versoen ons dan die twee gedagtes? Hoe versoen ons die Here wat die mens goed en reg geskape het, maar die mens wat gesondig het. Haat die Here dan nou die sondaar wat sondig, of haat die Here die sonde van die sondaar?

Nou, in die lig van ons vrae hierbo, is hierdie gedagte van, die Here haat die sonde maar is lief vir die sondaar, ’n poging om ’n antwoord te gee op die vraagstuk. Die woorde wil graag verstaan hoe ’n sondaar kan staan voor die Heilige God.

Ons kry die opdrag van die Here om ons naaste lief te hê, maar daarmee word hoegenaamd nie bedoel daar is ’n liefde vir die sonde nie. Wat hierdie naasteliefde vir ons wys, is dat ons naastes aan die Here behoort en ook deur Hom geskep is. Daarom is hierdie gesegde van ons volksmond ’n poging om hierdie te verstaan. Ons het die opdrag om liefde te wys maar ook die opdrag om heilig te lewe en die sonde te haat.

Maar hoe maak ons met die sonde wat in ons self en in ander woon? Hoe verstaan ons, onsself as sondaars en ons sonde.

Ons sien hoe baie persone dikwels nie hierdie vraag wil antwoord nie. Want ons sit ’n kultuur waar ons selfs nie eers die sonde wil oordeel nie, of aan ander nie wil sê, die Here haat die sonde, nie. Omdat die persone sonde so deel maak van hulle identiteit.

Ons kan aan verskeie voorbeelde dink, soos homoseksualiteit, dronkenskap, egbreek, skuingeslagtigheid (lgbtqi+) en die lys gaan aan. Dit maak dan die onderskeid tussen sondaar en sonde moeilik. Sondes word dan goed gepraat.

Ons sien hoe persone die woorde gebruik om sonde te regverdig. Hulle wil hulself so verwyder van die sonde om sodoende die sonde te regverdig. Wat hulle wil doen is om te sê, dat die Here die sonde wat hulle doen gaan oordeel en nie hulle wat doen sonde nie.

Die manier van die woorde verstaan is vals en in stryd met die Here se Woord. Die Here haat inderdaad die sonde. Maar die Here is lief vir diegene wat na Hom toe kom in geloof in die Here Jesus Christus en wat teen die sonde stry. Die sondaars wat aan die sonde vashou, hulle word gehaat deur die Here. Die Here haat die sonde en hulle wat in daardie sonde met ’n ongelowige volharding daarin bly.

Ons lees in ons teksgedeelte. Die woorde, God haat die sonde maar is lief vir die sondaar, as dit reg gebruik en verstaan word, roep ’n diep waarheid oor God se karakter na vore. In Efesiërs 2 sien ons hoe hierdie balans tot uitdrukking kom. Ons was dood in sonde—geestelik afgesny van God en verdien Sy regverdige oordeel. God se heiligheid en geregtigheid vereis dat sonde gestraf word, want sonde vernietig Sy goeie skepping.

Maar, “God, wat ryk is in barmhartigheid,” het ons nie in hierdie toestand gelaat nie. Uit sy groot liefde het Hy ons lewend gemaak saam met Christus. God se liefde beteken nie dat Hy sonde oor die hoof sien nie. In plaas daarvan neem Christus die straf op Homself sodat ons vergifnis kan ontvang. Die kruis wys God se haat vir sonde én Sy liefde vir sondaars.

Hierdie waarheid roep ons op tot ‘n nuwe lewe: om sonde in ons eie lewe te haat en te stry teen dit, maar ook om liefde en genade aan ons naaste te betoon. Ons moet die waarheid van die Evangelie deel, met nederigheid, wetende dat ons self eens dood in sonde was, maar deur genade gered is.

Daarmee kan ons afsluit, die Here haat die sonde maar nie die sondaar wat met hulle hele hart, siel, verstand en al hulle krag in die Here Jesus Christus glo nie.

Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)

Foto: Reenablack van Pixabay