Romeine 7:1-25 (1953-Vertaling)
Die nuwe jaar is hier – ’n tyd van voornemens, planne en hernude pogings om beter te doen as verlede jaar. Vir baie mense bring hierdie seisoen die gebruik mee om nuwejaarsvoornemens te maak. Sommige hou daarvan om hulle doelwitte op te skryf en gereeld terug te kyk om te sien of hulle op koers bly. Ander het al dikwels dieselfde voornemens herhaal, net om te sien dat sommige doelwitte onbereikbaar bly.
Dit kan frustrerend wees om te besef hoe dikwels ons faal. Soos Paulus sê in Romeine 7:24, kan ons selfs voel: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Paulus het hieroor gepraat vanuit sy eie worsteling met die sonde en die vlees – daardie deel van ons wat telkens die verkeerde keuse maak, selfs wanneer ons wil doen wat reg is.
Paulus gee ’n eerlike beskrywing van sy eie stryd. Hy bely dat hy telkens faal om te doen wat hy weet reg is (Romeine 7:15-23). Hoe bekend klink hierdie woorde tog vir ons! Ons het dalk doelwitte gestel vir persoonlike verbetering, geestelike groei, of die oorwinning oor sonde, maar keer op keer val ons weer terug.
Dit is hier waar die Evangelie ons hoop bring. In vers 25 verklaar Paulus met vreugde: “Aan God die dank, deur Jesus Christus, onse Here!” Die antwoord op sy klaaglied is reeds gegee: God het ons verlos deur Christus. Alhoewel ons steeds in die vlees leef en worstel met ons sonde, het Christus reeds oorwinning behaal.
In Romeine 8:1 gaan Paulus voort met een van die grootste beloftes in die Bybel: “Daar is dan nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” Hierdie waarheid verander alles. Ons staan nie meer skuldig voor God nie. Die verlossing wat Christus gebring het, is volledig. Ons het nie nodig om self ons tekortkominge reg te maak om ons status voor God te verdien nie. Hy het ons vrygespreek – nie op grond van wat ons gedoen het nie, maar op grond van wat Christus gedoen het.
Hierdie waarheid bring vryheid. Ons hoef nie meer in vrees en selfverwyt te leef nie. God se liefde en aanvaarding van ons is nie afhanklik van ons sukses of mislukkings nie. Dit is gevestig in Christus se oorwinning.
Maar dit is nie waar die goeie nuus eindig nie. In Romeine 8 beskryf Paulus die werk van die Heilige Gees in ons lewens. Deur die Gees maak God ons nuut en werk Hy aan ons heiligmaking. Paulus sê in Romeine 8:29: “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” Ons verlossing deur Christus is nie net ’n verlossing van sonde nie, maar ook ’n verlossing tot ’n nuwe lewe waarin ons meer en meer soos Christus word.
Hierdie proses is nie maklik nie. Paulus praat van die hele skepping wat sug en kreun in afwagting van volle verlossing (Romeine 8:22). Ons lewens is gevul met struikelblokke en mislukkings, maar ons weet dat God in ons werk deur sy Gees. Soos ons ons oë op Christus rig en in afhanklikheid van die Gees leef, word ons stadig maar seker herskep na die beeld van die Seun.
Soos ons hierdie nuwe jaar aanpak, kom ons onthou:
- Ons hoop en identiteit is nie gebaseer op ons voornemens of prestasies nie, maar op Christus se voltooide werk.
- Selfs in ons mislukkings werk God steeds in ons deur sy Gees. Hy maak ons nuut en herskep ons na die beeld van Christus.
- Die Heilige Gees werk in ons en bid vir ons (Romeine 8:26-27). Ons het toegang tot sy krag en leiding.
Mag ons, in hierdie nuwe jaar van uitdagings en geleenthede, met oortuiging sê: “Aan God die dank, deur Jesus Christus, onse Here!” Mag ons leef in die vryheid van geen veroordeling nie, in die sekerheid van God se verlossing, en in die hoop van sy voortdurende herskepping in ons lewens. Soos Paulus ons herinner: God maak alles nuut – insluitend ons.
Alistair van Heerden (Medewerker van Begrond)