Daar is baie onsekerheid in die lewe, by die werk, huis of skool. Ons weet nooit hoe dinge gaan uitdraai nie. Ons pak wel graag dinge aan, maar met die wete dat daar ‘n kans is dat ons idees nie gaan werk nie. Maar met alle dinge rakende die geloof is dit ‘n ander storie. Die Here is die Een wat ons roep en stuur, en Hy bepaal en beheer ons bediening. Ons sien dit duidelik in die lewe van Jona, die profeet wat probeer vlug het van sy roeping. In Jona 1:4-16 word dit duidelik hoe God ten volle in beheer is, selfs wanneer Sy dienaars onwillig is.
Jona, oorweldig deur sy stryd met God se opdrag en die uitputting van sy reis, het in ‘n diep slaap in die onderste deel van die skip ingedommel. Hierdie slaap was nie bloot ’n gewone rus nie—dit herinner aan die slaap waarin Adam was toe God vir Eva uit hom gevorm het. Jona was totaal onbewus van die storm wat buite woed—’n storm wat deur die Here self gestuur is.
God se Ingryping
Terwyl Jona slaap, begin die matrose in vrees hul gode aanroep. Hulle, wat heidene was, besef dat hierdie storm nie iets natuurliks is nie. Te midde van hierdie chaos lê God se profeet egter in diepe onkunde. Dit is eers wanneer die skeepskaptein Jona wakker maak dat hy moet erken wie hy is en vir Wie hy eintlik vrees:
“Ek is ’n Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het.” (Jona 1:9)
Met hierdie woorde bely Jona dat die Here oor alles heers. Hy besef daar is nêrens om heen te vlug nie—die hele skepping behoort aan God. En tog is dit nie hy wat die eerste inkeer toon nie, maar die heidene op die skip. Toe hulle hoor dat Jona besig is om van die Here af weg te vlug, roep hulle ontsteld uit:
“Wat het jy gedoen!” (Jona 1:10)
Hierdie heidene, wat eers ander gode aangeroep het, begin besef dat hulle in die teenwoordigheid van die ware God is en dat Sy oordeel oor Jona ook hulle raak.
Die Here se Beheer oor die Gebeure
Die bemanning werp toe die lot om vas te stel wie verantwoordelik is vir hierdie rampspoed, en dit val op Jona. Selfs in hierdie handeling sien ons die Here se beheer. Hy gebruik die lot om Sy profeet te konfronteer met sy eie skuld.
Wanneer Jona uiteindelik erken dat hy die oorsaak van die storm is, bied hy homself aan om in die see gewerp te word. Dit is ‘n daad van oorgawe—hy weet dat hy die dood verdien. Die matrose is egter huiwerig en probeer nog steeds om hom te red, maar uiteindelik besef hulle dat dit die Here se wil is dat Jona in die see gewerp word.
Sodra Jona oorboord gaan, bedaar die storm. En dit is hier waar ‘n merkwaardige ding gebeur:
“Toe vrees die manne die HERE met ’n groot vrees, en hulle het ’n slagoffer aan die HERE gebring en geloftes gedoen.” (Jona 1:16)
Hierdie heidene, wat aan die begin van die hoofstuk nog hul eie gode aangeroep het, erken nou die Here en bring offers aan Hom. Die Here gebruik selfs Jona se ongehoorsaamheid en oordeel om Sy Naam bekend te maak onder mense wat Hom nie geken het nie.
Jona as ’n Vooruitskouing van Christus.
In hierdie gebeure sien ons ‘n heenwysing na Jesus Christus. Jesus self sê in Matteus 12:40:
“Want soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”
Soos Jona homself oorgegee het aan die oordeel wat oor hom gekom het, het Christus Homself oorgegee aan die dood vir ons sondes—maar met een groot verskil: Jona was skuldig, maar Christus was sonder sonde.
Jona se verhaal leer ons ‘n belangrike les: die enigste pad om in die wil van die Here te bly, is deur ons ten volle aan Hom oor te gee. Wanneer ons weerstand bied, is dit tot ons eie oordeel, maar wanneer ons oorgee, hou die Here ons vas en lei Hy ons bediening, ten spyte van ons tekortkominge.
Hierdie gedeelte is ‘n duidelike les vir alle gelowiges. Soos Jona uiteindelik moes leer, moet ons elkeen ook leer om nie teen God se wil stry nie, maar in volkome oorgawe Sy leiding volg.
Johann de Waal (Medewerker van Begrond)