Met die aanbreek van ’n nuwe jaar kry Orania weer die geleentheid om terug te kyk na wat al gebou is. Ons kan in die strate rondloop en om ons kyk en sien wat al bereik is. Orania kyk ook vorentoe om verder te bou aan ons gemeenskap. Hierdie ideaal gaan nie net oor fisiese geboue of infrastruktuur nie, maar gaan oor mense. Orania wil ‘n gemeenskap wees wat geskoei is op die Woord van God. Die vraag is: wat leer die Bybel ons oor bou, en hoe lyk ’n stad wat werklik op Bybelse beginsels gebou is?
Die Bybel bied talle voorbeelde van bou, soos die heropbou van Jerusalem onder leiding van Nehemia. Uit die geskiedenis leer ons belangrike lesse. Eerstens, bou begin met afhanklikheid van God. Nehemia het sy planne met gebed en vertroue op God se leiding begin (Nehemia 1:4). Geen projek sal slaag sonder hierdie fondasie van afhanklikheid van die Here nie. Tweedens, bouwerk vereis samewerking. In Jerusalem het elke gesin en familie saamgewerk om die muur te herbou – ’n beeld van ’n gemeenskap wat eenheid nastreef en saamwerk aan ’n gedeelde ideaal (Nehemia 3). Derdens, bou gaan nie net oor strukture nie, maar oor die waardes wat ’n samelewing vorm.
Jesaja herinner ons dat ’n stad God se geregtigheid moet weerspieël. Ons lees daarvan in Jesaja 1:26, “En Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin; daarna sal jy ‘n stad van geregtigheid, ‘n getroue vesting genoem word.”. En uiteindelik leer ons dat God altyd die middelpunt van bouwerk moet wees. Stede in die Bybel, soos Jerusalem, het God verheerlik, en die fokus was altyd op aanbidding en gehoorsaamheid aan Hom. Orania bely dat Jesus Christus die enigste Rots is waarop ‘n gemeenskap gebou kan word wat soos ‘n stad op ‘n berg God se genade en heerlikheid spieël.
Wanneer ons as Afrikaners sê dat ons ’n stad soos Orania bou, moet dit meer as net fisiese vooruitgang insluit. Ons ideaal moet ook die huwelik, gesin, owerheid, ekonomie, onderwys, arbeid, en kultuur en elke ander lewensterrein insluit. Die koningskap van Jesus Christus moet in elke lewensterrein erken word. Liefde tot God en ons naaste moet ons kompas wees. So moet die owerheid as ’n dienskneg van God optree en regverdig wees in sy besluite, soos Paulus in Romeine 13 leer. Ons ekonomie moet gegrond wees op eerlike handel en eerbied vir arbeid – geen plek vir uitbuiting of luiheid nie. Ons arbeid moet tot eer van God gedoen word en ander bevoordeel. Onderwys speel ook ’n sleutelrol: ons kinders moet geleer word om die wêreld vanuit ’n Bybelse beskouing te verstaan. Deuteronomium 6 beklemtoon hoe ouers en skole die Woord aan kinders moet oordra, sodat die volgende geslag wys en regverdig sal leef.
Kultuur is die belangrike boustene hoe ons hierdie stad oprig en inrig. Ons Afrikaner-tradisies, taal, en gebruike is kosbaar, dis ‘n erfenis om te bewaar, en moet altyd binne Bybelse grense beoefen word. Ons kultuur moet diep gegrond wees in ons geloof. Dit beteken dat ons trots op ons erfgoed kan wees, maar ook bereid moet wees om dit te hervorm waar dit nie met God se Woord strook nie. Kultuur wat op die waarheid gebou is, versterk ’n gemeenskap en gee dit ’n duidelike identiteit.
Die Here Jesus het gesê dat ’n huis wat op die rots gebou is, bly staan wanneer storms kom. Net so moet ons Orania bou op die rots van Sy Woord. As ons hierdie beginsels getrou toepas, kan ons nie net ’n selfstandige en florerende stad bou nie, maar ook ’n voorbeeld stel van hoe ’n gemeenskap volgens Bybelse waardes leef. Ons moet onsself afvra hoe lyk so Boerestad wat ons volgens hierdie beginsels beskryf? Wanneer ons so Afrikanerstad bou, gaan dit beskryf kan word soos ons dit hierbo beskryf? Daarom is die nuwe jaar vir ‘n nuwe bou jaar, want ons het die beloftes en bevele van die Here as ons baken na die toekoms.
Alistair van Heerden