Enkele gedagtes oor die implikasies van Erfstad
Een oggend het Wikus Buys iets gesê wat epogmakend is. Terwyl hy besig was om sy kruiwa hier in hulle tuin in Orania na die plek te stoot waar hy besig was om gras te plant, het hy hom daaroor verwonder dat Christus sy vryheid begeer. ʼn Vryheid wat begeer word. ʼn Vryheid wat deur Christus begeer word vir hom.
Vryheid as ʼn begeerte
Net eers iets oor die bedoeling van vryheid. Die vryheid wat Christus vir ons bewerk het se bedoeling is die heerlikheid van God. Dit beteken dat Hy mense vrymaak van die mag van die Satan én die dood om God te aanbid. Ons moet aanbidding hier in sy wydste sin verstaan – ʼn hele lewe wat aan die heerlikheid van God gewy word soos Calvyn in sy Kategismus skryf.
Vryheid se bedoeling is dus nie net ʼn vryheid van vernietiging, onderdrukking en parasitering nie, maar ook ʼn vryheid tot algehele herstel. Dis ʼn vryheid tot die oorvloed van algehele oorgawe aan God. Anders gesê: Christus maak ons vry, sodat ons in en deur ons aanbidding kan word wie ons moet wees.
Dís wat ons Bruidegom, wat ons vir sy kerk losgekoop het, begeer. Dit beteken dat ons vryheid in Christus gerealiseer behoort te word in die hele werklikheid van ons lewe. Christus moet die volle loon vir sy werk ontvang.
Enigiets of iemand wat van die Here se kinders slawe maak, hulle beseer, onderdruk of op hulle parasiteer, verarm en beskadig hulle aanbidding. Dit ontneem hulle die oorvloed van Christus se werk, sodat hulle nie kan word wie hulle moet wees nie. Daarom begeer Christus die verwesenliking van ons vryheid in Hom, want Hy wil die volle implikasie van sy kruis en opstanding in ons lewens sien.
Geld dit vir die volke ook?
Om hierdie vraag te antwoord moet ons eers weet of die volke se bestaan in Christus gewortel is. Met ander woorde: is volke die wil van God?
In Erfstad op die bladsy voor die inhoudsopgawe het dr. Buys ʼn aanhaling van NGS van der Walt geplaas:
“[…] óf die konsekwensies van die Calvinistiese beginsel van volksgeroepenheid moet aanvaar word, ook op staatkundige gebied, en dan het die volk ʼn staat,
óf die standpunt van losse individue wat kontraktueel tot ʼn staatsverband georganiseer word, moet aanvaar word, en dan het die staat ʼn volk.”
Erfstad kies duidelik vir die eerste; dat Christus erfbesit op die volke het. Vanuit die Calvinistiese beginsel gesien, bestaan daar iets soos die roeping van ʼn volk. Volksroeping setel in die geloof dat volke die wil van God is, dat volke ook die verlossingswerk van Christus moet smaak en dat volke moet veg om vanuit daardie vryheid hulle volksbestaan te wy aan die heerlikheid van God. Dis ook in hierdie oorgawe dat volke se bestaan tot oorvloed ontvou. Die magtige wekroep van die hervorming, “Soli Deo Gloria”, plaas die volke onder ʼn reusagtige verpligting teenoor hulle Skepper. Ons volk het dit eens goed verstaan.
Indien ons hierdie beginsel aanvaar beteken dit dat Christus ook die vryheid van volke begeer. Dit mag nóú dalk vreemd klink om te praat van die begeerte van Christus, maar die Bybel leer ons van Christus se wil wat volbring moet word. Dit is niks anders as die begeerte van die kerk se Bruidegom nie. Gelowiges moet dus ook in volksverband op die koms van hulle Bruidegom wag.
Daarom is die vryheid van die volke die begeerte van Christus. Sonder vryheid kan die oorvloed van sy werk nie in die volkslewe gerealiseer en verwesenlik word nie.
Verbond teenoor kontrak
Oor die realisering van ons volk se vryheid in Christus boor Erfstad op ʼn kritiese punt in. Dit wys op die verskil tussen ʼn verbondsmatige handves vir ʼn gemeenskap en die sosiale kontrak van die nasiestaat. Dit is die verskil tussen die Vryheidsmanifes wat in 1955 in Kliptown aanvaar is en die hart van die Suid-Afrikaanse Grondwet vorm, asook die Grondwette van die Boererepublieke.
Oor die sosiale kontrak teenoor ʼn verbondsmatige handves staan daar op bladsy 398: “Dit beteken, filosofies gesien, dat gemeenskapslewe nie ʼn onetiese begronding kan hê nie, maar bloot ʼn menslike wilsbesluit is waar die reg op assosiasie en disassosiasie kontraktueel toegepas word. Met hierdie redenering word buite rekening gelaat dat ʼn gemeenskap, juis as gemeenskap, ʼn transendentale oorsprong kan hê, wat die wilsbesluit van die individu voorafgaan en selfs kan troef.”
Die horisontalistiese sosiale kontrak verwerp volke se verbondenheid aan God en daarom ook hulle Godgegewe verbondenheid aan mekaar. Gevolglik misken die sosiale kontrak iets soos ʼn volk se roeping tot vryheid. Volke se verband is slegs ʼn onderlinge ooreenkoms.
Erfstad toon egter aan dat dit in wese vreemd aan die Afrikaner se wordingsgeskiedenis is. Ons het nog altyd verbondsmatig aan die bestaan van volke gedink en daarom ook aan ons verbondenheid met mekaar.
Die Afrikaner het hulle band met mekaar verstaan as meer as net ʼn horisontale ooreenkoms – hulle verbondenheid met mekaar is deur God gewil. Hierdie wil van God is konkreet vergestalt in die burgerlike verbond wat met die aflegging van ‘n eed gepaard deur owerhede en burgers gepaard gegaan het. Só het ons met mekaar saam geleef. Selfs voor 1994 was daar nog iets hiervan oor.
Daarom bepleit Erfstad ʼn radikale reformasie: ʼn nuwe Afrikanerhandves met die uitgangspunt van die verbond en Christus se erfbesit op die volke. En dan? Dan is ons nie burgers van ʼn staat nie, maar burgers van ʼn gemeenskap met ons eie grond. Burgers met ʼn verkose owerheid wat ingesweer word en waar burgers met eedswering aan mekaar verbonde is – net soos die Voortrekkers en die Boere was. Dis wie ons is, ons het dit dalk net ʼn bietjie vergeet. Die herwinning van die burgerverbond is ʼn uiters kritieke boublok vir ons vryheid.
In hierdie verband staan daar op bladsy 405 die volgende: “Waar die huidige derde Afrikaner as staatsburger slegs toegewings wil beding op die Freedom Charter as gemeenskapsoktrooi, sal die huidige ontnugtering slegs verdiep.”
Erfstad roep ons op tot iets uiters radikaal. Die voorafgaande beteken gewoon: ons kan net word wie ons moet wees as ons die Freedom Charter van ’55 verwerp deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika vaarwel toe te roep. Ons sal die sosiale kontrak van die nasiestaat moet afsweer en onsself weer onder ons eie gemeenskapshandves moet insweer.
FW de Klerk het ons onder die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika ingesweer. Ons sal onsself daaronder moet uitsweer en ons weer onder ons eie gemeenskapshandves moet insweer as mense wat glo dat Christus ook die koning van volke is. Ons mag nie meer aan hierdie afgodery meedoen nie.
Indien ons in hierdie land onder die sosiale kontrak as ʼn volk ingesweer bly, het dit verreikende implikasies. Dan het die staat ʼn nasie, waarvan ons deel uitmaak. Dan het die Suid-Afrikaanse staat onder andere ook Afrikaners. Dan sit ons met staatlike burgerskap wat gemeenskapsburgerskap of volksburgerskap versmoor. Ons sal slawe bly van die Suid-Afrikanisme – ons sal slawe bly van Lord Milner se projek met ons volk.
Dan word ons volksroeping deur ander bepaal. Ons sal dan nooit weer die oorvloed van Christus se werk vir ons volkslewe kan beleef nie. Ons volksaanbidding sal beperk bly tot die kulturele ruimtes wat ons kan beding in terme van die Grondwet. Ons sal slegs die kulturele ruimtes kry wat die meerderheid ons gun, terwyl ons onder die slawerny van ʼn volksvreemde Grondwet leef.
Kulturele ruimtes en ruimtelike kultuur
Dit is op hierdie punt dat Erfstad ʼn baie belangrike bydrae tot die Afrikaner se selfbegrip maak.
Op bladsy 30 skryf dr. Buys oor ruimtelike kultuur: “Ruimtelike kultuur is iets heeltemal anders as kulturele ruimtes, naamlik dat binne verskillende kulturele ruimtes van groepe daar ook ʼn kenmerkende eienskap vorm rondom wat dié besondere kulturele groep oor ruimte en plek dink.”
Erfstad wys vanuit ʼn in-diepte navorsingstudie oor ons wordingsgeskiedenis daarop dat die Afrikaner se ruimtelike kultuur, m.a.w. hoe ons oor ruimte en plek dink, werklik uniek is. Ons het iets van Europa saam met ons gebring, maar van groter belang – ons het ook iets van Europa agtergelaat sodat ons ruimtelike kultuur werklik een is van ʼn kind van Afrika.
In kort, ons het as volk die stad gemis en is reguit na die staat. Erfstad noem dit ʼn “urbifugale kultuur”. Dit staan teenoor die “urbipitale kultuur” van die Europeërs. Hulle soek ná die stad, waar die Afrikaners wegvlug van die stad af. Vir ons bestaan die stad ter wille van die plaas, vir die Europeërs is dit omgekeerd.
Dr. Buys skryf verder: “By die Afrikaner ontwikkel die siening van die Bybelse kultuuropdrag, wat per definisie menslike arbeid insluit, in sy ruimtelike kultuur op ʼn nie-stedelike manier.” (bl. 257) “Een groot faktor in die vorming van die Afrikaner se ruimtelike kultuur was sy houding en beleid oor arbeid; […] die Afrikaner se tradisionele ruimtelike kultuur het ʼn inherente teenstrydigheid met hom saamgedra.” (bl. 255,256) Die teenstrydigheid is dat die Afrikaner baie groter ruimtes begeer het as wat hy kon bewerk of bewoon. Daarom het die Afrikaner ander volke ingespan om hulle ruimtes vir hulle te bewerk, maar daardie volke het daardie ruimtes ook bewoon en hulle eie plek daarin gevind.
Dit het alles plaasgevind binne die soeke na ʼn plek van vryheid. Dan maak Erfstad die volgende belangrike stelling: “Die Afrikaner begin egter langsamerhand die Afrikanergemeenskap met die Suid-Afrikaanse staat, die RSA, identifiseer. Dit het ʼn wesenlike invloed gelaat op die arbeidbeskouing van die derde Afrikaner veral oor die vraag hoe ruimte bewerk word.” (bl. 257) “Die spanning tussen staatsburgerskap en gemeenskapsburgerskap het aanleiding gegee tot ʼn wanbalans by die Afrikaner oor ruimte en plek.” (bl. 404)
Die punt is dat die Afrikaner ruimte vir ander volke moes maak om sy kultuurtaak te help voltooi en in sommige gevalle dit namens hom te doen, en dat die Afrikaner homself as hierdie volke se voog beskou het. In die proses om ruimte vir ander volke te maak moes die Afrikaner egter sy plek begin afstaan. Die Afrikaner wat nie van hierdie anomalie kon ontsnap nie het die volk boonop ook met die Suid-Afrikaanse staat geïdentifiseer en sodoende het ons ʼn eie plek van vrye aanbidding vir die Afrikaner afgesweer.
Dus, die Afrikaner se verslawing aan die arbeid van ander volke, ons algehele ekonomiese assimilasie met Suid-Afrika, dat ons die hele Suid-Afrikaanse landstreek met ons “urbifugale kultuur” as ons kulturele ruimte wou beset, maak dit nou vir ons moeilik om ʼn Afrikaner-republiek enigsins te verbeel of om die noodsaak daarvan te verstaan.
Die derde Afrikaner sal hoogstens stry en onderhandel vir kulturele ruimtes in Suid-Afrika, aangesien ons ruimtelike kultuur Suid-Afrikanisties geword het. Vandaar dat dr. Buys skryf: “Indien die arbeidskwessie nie deel uitmaak van die federale gesprek nie, is daar werklik geen kans dat die vierde Afrikaner republikeinse vryheid weer sal kan herwin nie.” (bl. 268) Hierby sal ons volksvryheid staan of val.
Die vierde Afrikaner se Erfstad
Volgens Erfstad kan die Afrikaner die ruimte wat God gee net as plek uit sy hand ontvang as daar weer ʼn balans tussen ruimte en plek kom. Ruimte word eers plek; dit word eers tuiste, as jy dit self bewoon en bewerk onder die erkenning van Christus se heerskappy. Met ander woorde, ruimte word plek, dit word ʼn tuiste waar ʼn volk vry van inmenging haar grond self bewoon, self bewerk en self bewaak. Tans ontgaan dit die Afrikaner weens die wanbalans tussen ruimte en plek.
Die oplossing wat Erfstad aan die hand doen is die volgende: “Die Afrikaner se plek in die Afrika-ruimte behoort nie tans sonder ʼn nuwe stad bedink te word nie. Indien die Afrikanergemeenskap die republikeinse ideaal nie permanent vaarwel toe geroep het nie, moet die vraag dus gevra word of ʼn Afrikanerstad en -streek kan deel uitmaak van die republikeinse vryheidsideaal. ʼn Westelike republikanisme, wat vir die vierde Afrikaner ruimte en plek in Afrika in balans sal bring, word as oplossing voorgestel.” (bl. 33)
Vervolgens skryf dr. Buys op bladsy 402: “Die vierde Afrikaner kan ʼn nuwe Afrikaner-beskawing bedink, anderkant die bouvalle van die Suid-Afrikanisme. Die vierde Afrikaner kan weer tot ʼn nuwe gemeenskapstigting oorgaan, waar deur eedswering aktiewe burgerskap verwoord word as deelnemende borgskap van die verbonde gemeenskap.”
Erfstad staan dus ʼn stadstaat voor met ʼn omliggende streek waarin Afrikaners hulle eie werk doen as die enigste wyse waarop die Afrikaner ruimte en plek in balans sal kan bring. Dit roep die Afrikaner op om ʼn eie stad te bou, ʼn “Boerestad” waar ons kulturele skatte nie net behoue bly nie, maar waar dit verder ontplooi word en aan ons nageslag as ʼn erfenis nagelaat sal word. Dit is die Afrikaner se pad na ware vryheid in Afrika.
Hierdie tree wat in die volksgeskiedenis gegee moet word is só enorm en radikaal dat Erfstad dan praat van die vierde Afrikaner asook die Westelike republikanisme. Die plaas sal altyd vir ons kosbaar bly, maar ons moet leer om ons eie stad te bou en ook lief te kry. Ons moet leer dat die hoogtepunt van ʼn volk se kultuur as aanbidding, saamtrek in die stad. Ons toekoms staan of val ook hierby. Ons lees nie in Openbaring van die nuwe plaas Jerusalem of die nuwe dorp Jerusalem nie, maar van die nuwe stad Jerusalem. Ons kultuurtaak loop deur ʼn stad en na ʼn stad – die Afrikaner sal moet leer om hierdie waarheid te omhels.
Erfstad wys dan op Orania. Daar is reeds met hierdie roeping begin. Orania is veronderstel om die roeping te wees van ʼn Afrikanerdom wat werklik vry wil wees. As mense Erfstad verstaan sal hulle ook verstaan dat Orania nie net bloot gawe is nie, maar dat dit ook opgawe is. Ons volk moet Orania begin verstaan as haar roeping. Oraniërs moet verstaan – julle mág nie net hier wees nie; julle móét hier wees.
Christus se begeerte vir die Afrikaner
Erfstad werk dus, na my beskeie mening, nie met die premis van wat die Afrikaner sou begeer nie. Dit werk veral nie met dit wat die Afrikaner as moontlik ag nie. Wat ons as moontlik ag en waarvoor die Here ons roep staan gewoonlik nie in lyn met mekaar nie. Die vertrekpunt is dus nie ʼn wetenskaplike analise daarvan of ʼn stadstaat as republiek in die Afrikaner se kraal val nie. Die vertrekpunt is beslis nie of Orania gaan slaag nie.
Erfstad se vertrekpunt is die begeerte van Christus. Dit wat Christus vir ons wil. Ons volk se roeping tot vryheid mag beslis nie in ons begeerte gesetel wees nie. Ons moenie ons behoefte tot vryheid in onsself soek nie. Weereens, die deurslaggewende vraag is nie of die Afrikanervolk die gawe van vryheid begeer nie.
Die vraag is of ons glo dat Christus die vryheid van die Afrikanervolk begeer? Begeer Jesus Christus ons volk se vryheid, sodat ons Hom waardig kan inwag by sy wederkoms sodat ons kan word wie ons voor God se aangesig moet wees?
As jy hierdie vraag verstaan sal dit jou hele lewe verander. As die Afrikaner hierdie vraag verstaan sal sy roeping nuut word en die vierde Afrikaner sal sy stad begin bou.
Wanneer ons dus heilige erns met hierdie vraag maak sal ons verstaan dat vryheid nie net meer gawe is nie, maar dit word opgawe. Vryheid word ʼn opdrag. Die vryheid wat begeer word is ook die vryheid wat vereis word. Die vryheid wat Christus vir ons begeer, is ʼn vryheid wat Hy van ons vereis.
Christus vereis dat die Afrikaner vry sal word tot die heerlikheid van God. Mag ons volk dan vir Hom sê: Maar dit is tog onmoontlik? Mag ons vir Hom sê: Maar dit is nog nie die tyd vir vryheid nie? Mag ons sê dat Christus wat ons volk se vryheid begeer en dit ook vereis die onmoontlike kan verrig, sodat ons vryheid werklik sy heerlikheid sal wees?
Ons volksroeping kan dus nie meer wees “Ons vir jou Suid-Afrika” nie, dit moet wees “Aan God alleen die eer”. Hiertoe wys Erfstad vir ons ʼn helder pad. Hiertoe roep Erfstad ons op.
Daarom, liewe volksgenote, die Afrikaner se vryheid is inderdaad ʼn roeping wat ons in al sy nuutheid en radikaliteit slegs in die geloof kan verstaan, deur die geloof kan aanvaar en veral, slegs deur die geloof kan gehoorsaam. Dis ʼn saak van geloof. Dis ʼn saak van geloofsgehoorsaamheid.
Laat ons gehoorsaam wees aan die Een wat ons vryheid begeer en mag Hy gee dat ons eendag die woorde van die digter van Psalm 31 saam as ʼn volk kan bely: “Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan.” Ja, U het my voete weer op vrye grond laat staan – sodat U al die heerlikheid kan ontvang!
Deur Ds. Ronald Bain (Medewerker van Begrond)