Oordenking – kinders

Ons kinders ná Covid-19

Dis duidelik dat die Covid-19-pandemie blywende gevolge gaan laat. Miskien is dit té vroeg om te sê wat al die langtermyntendense gaan wees. Dit was gou duidelik dat ons bejaardes en ons kinders veral erg ontwrig is. Miskien moet ons nie net wonder oor watter merk die pandemie op ons gaan laat nie, maar oor watter vaste handvatsel ons vir ons kinders gaan laat. Om jou kind van God te leer, ook wanneer dit sleg en swaar gaan, moet jy self glo wat jy hulle leer. Kinders hoor en sien hoe ouer mense optree. Kinders sien wat jy glo.

Wat kan en moet ons in hierdie pandemie vir ons kinders leer? Daar is baie dinge, maar ons lig drie kern-sake uit.

  • Eerstens dat die Here regeer. Die Here is die Skepper en is in beheer van die hemel en die aarde. En al was daar allerhande vreemde praatjies oor waar die virus vandaan sou kom, kan Christene aan een ding vashou: God is in beheer. Die feit dat die hele wêreld op sy kop gekeer is, verander niks aan hierdie waarheid nie. Met geloof kan die Christene steeds vas en seker sê: “God is vir ons ʼn skuilplek en ʼn bron van krag … Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud en berge in die hart van die see wankel nie.” (Ps. 46:3)

Die Here regeer, daardie vaste wete moet ons kinders in ons optrede raaksien.

  • Tweedens leer ons ons kinders dat niks toevallig oor ons kom nie. Trouens, die Here Jesus leer ons dat elke haar op ons kop getel is. Alles wat gebeur – ook die rampspoedige dinge – kom uit God se hand oor ons. Hierdie hand is ons Hemelse Vader se hand. Dit is die vastigheid waaraan Christene kan vashou. Die Here regeer en niks gebeur per toeval nie, want die Skepper is ook ons Vader, ʼn Hemelse Vader wat altyd in liefde met sy kinders werk. So leer Paulus ons: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.” (Rom. 8:28)

Niks is toevallig nie, ook nie Covid-19 nie. God laat sy liefde uiteindelik skyn in hoe Hy met sy kinders werk.

  • Die derde ding wat ons kinders by ons moet raaksien, is dat ons nie bang is nie. Hoeveel keer het die Here dit nie al vir ons gesê nie: “Moenie vrees nie.” Die Here gee sy kinders vrede en berusting. Hy doen dit deur die Heilige Gees wat in ons bly. So het die Here Jesus nadat Hy opgestaan het op sy dissipels geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees.” (Joh. 20:22) God die Heilige Gees is altyd by die kinders van God. God se nabyheid kalmeer ons.

Laat ons nie wêreld na-aap in hul vreeslike vrees nie.

Kom ons leer ons kinders tydens Covid-19: Die Here regeer. Die Here is in beheer. Die Here is by ons. Ons hoef niks te vrees nie.

Foto: Photo by Ben White on Unsplash