Pleingesprek deur Ernst van Zyl

Identiteitspolitiek: Ons moet waak teen die kruipende ‘veramerikanisering’ van ons politieke denke en leksikon

In sy puik 1997 opstel[i] “The West and the Rest” het Samuel Huntington geskryf:

In the post cold war world the most important distinctions among people are not ideological, political or economic. They are cultural. People and nations are attempting to answer the most basic question humans can face: who are we? And they are answering that question in the traditional way by reference to the things that mean most to them. People define themselves in terms of ancestry, religion, language, history, values, customs and institutions. They identify with cultural groups: tribes, ethnic groups, religious communities, nations and, at the broadest level, civilisations. People use politics not just to advance their interests but also todefine their identity. We know who we are only when we know who we are not and often only when we know whom we are against.

Inleiding

Die afgelope paar dekades het die Amerikaanse politiek en kultuur toenemend ons plaaslike politiek en onderbewussyn begin oorheers. Afrikaners debatteer deesdae verwoed op sosiale media oor vraagstukke soos vuurwapenregte en vryheid van spraak in Amerika. Die jeug het amper elkeen ’n sterk mening oor George Floyd en Black Lives Matter, terwyl vriendskappe in die slag bly oor hewige meningsverskille oor wie die volgende president van die VSA moet wees. Dit is duidelik dat ons gedagtegange dikwels en toenemend deur Amerikaanse kwessies oorheers word.

Verder word denke in ons intellektuele kringe toenemend gekenmerk deur verwysings na moderne Amerikaanse denkers soos Ben Shapiro, en Kanadese denkers in die Amerikaanse politieke sfeer soos Jordan Peterson. Is dit nie hoogtyd dat ons onsself afvra of ons nie besig is met ʼn gevaarlike vlak van “veramerikanisering” van ons denke en leksikon nie? Probeer ons antwoorde vind vir ander gemeenskappe se probleme, of worstel ons met ons eie vraagstukke? Is ons intense vrese oor die gevare wat “identiteitspolitiek” vir ons inhou eg en organies, of is ons besig om as onwetende huursoldate ʼn kultuurstryd te veg vir ʼn ander samelewing? Meer omstrede gestel: veg ons nie dalk ʼn tipe Viëtnam-oorlog vir die bevordering van ʼn kultuurgemeenskap wat nie eens ons s’n is nie? In hierdie stuk gaan ek probeer om hierdie tergende maar relevante vrae te beantwoord deur die nuwe politieke slagveld(e) waarin ons onsself bevind, te ontleed.

Die dekade van die 2010’s is veral gekenmerk deur ʼn sterk terugskop in die Weste, maar veral in Amerika, spesifiek teen die verskynsel van “identiteitspolitiek”. Binne hierdie politieke paradigmaskuif het die profiele van denkers, akademici en kommentators soos Ben Shapiro, Jordan Peterson, Joe Rogan, Dave Rubin, Douglas Murray en die Weinstein-broers in hoofsaaklik Amerika, maar ook in die breër Westerse denkwêreld, tot intellektuele supersterstatus gestyg. Só meteories was hulle opkoms dat hierdie groep denkers en kommentators kollektief in die Westerse diskoers die amptelike titel as die “Intellectual Dark Web” verwerf het.

Hierdie groep sogenaamde donker denkers se standpunte word hoofsaaklik gekenmerk deur ʼn teenstand van en weerstand teen, onder andere, identiteitspolitiek, politieke korrektheid, kanselleerkultuur, kulturele Marxisme, post-modernisme en post-strukturalisme. Hulle word ook algemeen beskou as een van die slagordes in wat genoem word die ”kultuurstryd” of “culture war” wat in die Weste woed. Die hoofslagvelde van hierdie kultuuroorlog sluit universiteitskampusse, skole en sosiale media in.

Identiteitspolitiek

Dit bring my by die kernvraag van my stuk: Hou die Amerikanisasie van ons politieke denke en leksikon hier in Suid-Afrika vir ons vele voordele in? Of bevat dit verskuilde lokvalle? Ek is onlangs genooi om ʼn bymekaarkoms van jong Afrikaners by te woon om met jong leiers en studente te gesels en om ʼn paar insigte oor plaaslike politiek, die toekoms en verwante kwessies met hulle te deel.

Een van die vrae wat aan die jong gehoor gestel was, was om te noem wat hulle as van die dringendste politieke kwessies beskou wat jong Afrikaners tans in die gesig staar. Dit was vir my noemenswaardig, maar nie totaal onverwags nie, om te hoor dat ʼn groot aantal van hulle “identiteitspolitiek” noem.

Ek dink toe, hoe vreemd is dit nie om in ʼn vertrek vol Afrikanerjeug te sit wat, onder andere, almal ʼn gesonde vlak van kultuurtrots het, wat aktief veg om hulle kultuurerfenis te bewaar, wat aandring op hulle reg om hul taal op kampus te praat, en wat boonop gemaklik daarmee is om in die openbaar organisasies soos AfriForum en Solidariteit te ondersteun wat openlik Afrikaner-organisasies, Christelik en Afrikaans is; en tog noem hulle terselfdertyd dat hulle identiteitspolitiek as een van hul grootste bedreigings beskou.

Die meeste politieke aksies is in wese identiteitspolitiek. Wanneer jy die Universiteit Stellenbosch aanvat oor hul taalbeleid, is jy besig met identiteitspolitiek. Wanneer jy diskriminerende beleide soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) teenstaan, is jy besig met identiteitspolitiek. Wanneer jy veg vir die bewaring van jou erfenis in die vorm van standbeelde, monumente, ensovoorts, is jy besig met identiteitspolitiek. Wanneer jy haatspraak teen ʼn etniese groep beveg, beoefen jy identiteitspolitiek.

Professor Hans du Plessis het duidelik geen identiteitskrisis ervaar toe hy met die ontvangs van die N.P. van Wyk Louw Prys vir die bevordering van Afrikaans, trots verklaar het: “Afrikaans is deel van my lewe. Ek is nie lief daarvoor nie. Ek is dit!”[ii]

Dat die Amerikaners identiteitspolitiek as een van hul primêre politieke bedreigings geïdentifiseer het, is hoegenaamd nie verbasend of vreemd nie. Die Amerikaanse eksperiment het juis onder meer ’n opoffering, of ten minste afgradering, van verskeie identiteite, soos die Duitse, Franse en Ierse kulture, vereis en die aanneem of prioritisering van ’n nuwe nasionale identiteit, naamlik Amerikaans, behels. In die “vrygebore” na-1994-Suid-Afrika is ʼn soortgelyke sosiale-ingenieurswese-eksperiment aangepak waarna in die 1990’s blatant verwys is as die “Suid-Afrikaanse eksperiment”.

Die essensie van hierdie eksperiment was om hoofsaaklik deur sterk staatsgedrewe sosiale inmenging te bewerkstellig dat alle burgers van Suid-Afrika hul “Suid-Afrikaanse” identiteit hul hoofidentiteit maak. Voordat ʼn persoon byvoorbeeld wit, swart, Engels, Afrikaans, Zulu, Afrikaner, Christen, Moslem, ensovoorts is, moet hy ’n Suid-Afrikaner wees. Frederik van Zyl Slabbert het in sy boek Afrikaner Afrikaan[iii] oor die hiërargie van ʼn persoon se identiteite geskryf.

Jy kan dus vele identiteite hê. Jy kan byvoorbeeld ʼn Christen en Afrikaans wees, en ook terselfdertyd ʼn Afrikaner, Suid-Afrikaner, Transvaler, en ʼn Blou Bul-ondersteuner. Hoe hoër enige van hierdie identiteite in jou hiërargie van identiteite geplaas word, hoe nader aan die kern van jou wese is dit en hoe moeiliker en duurder is dit gevolglik vir jou om dit op te gee. Slabbert gaan selfs so vêr om te se dat ʼn mens jou kultuur soos ʼn sosiale geboortevlek vir die res van jou lewe met jou saamdra. Dit is nie iets wat jy goedsmoeds kan verwyder sonder om ʼn permanente letsel te los nie.

Vir die Suid-Afrikaanse eksperiment is die hoogste ideaal om in die eerste plek ’n Suid-Afrikaner te wees, en dus word hierdie identiteit as die hoogheiligste beskou. Die Amerikaanse kultuur is op ʼn soortgelyke fondament gebou. Dit is dus geen wonder nie dat Amerikaners identiteitspolitiek as een van hul grootste bestaansbedreigings beskou. Die neiging dat al hoe meer mense van hul ander identiteite as belangriker en meer grondliggend as hul Amerikaanse identiteit begin beskou, is presies wat die volhoubaarheid van die Amerikaanse eksperiment bedreig. Soos Samora Machel gesê het: “For the nation to live, the tribe must die.”

Die neoliberale globaliste neem hierdie sentiment ʼn trap verder en hou dus vol dat: “…for the global community to survive, the nation must die”. Die Raka waarmee ons hier te doen het, is ʼn magtige, nadersluipende, eskalerende siklus van kultuurvernietigende sentralisasie en standaardisasie. Patrick Deneen waarsku in sy boek Why Liberalism Failed[iv] soos volg: “The market – once a defined and limited space within the city – must ultimately become borderless. The logic of liberalism thus demands near-limitless expansion of the state and the market.”

Ek beskou dus liberalisme en sy kind, globalisme, as die moderne verleidelike Raka binne ons kraal: die onbeperkte groei in die mag van die staat, en multinasionale korporasies wat magtiger as state word, is hul nalatenskap. Daar is geen beter mark vir ʼn multinasionale korporasie of beter onderdane vir ʼn magshonger staat as een groot, gestandaardiseerde, homogene groep geatomiseerde individue nie.

Die standaardisasie van bevolkings is nie slegs beperk tot korporatiewe idealisme nie. In die politieke wêreld, gekenmerk deur imperialisme, is standaardisasie reeds vir eeue lank ʼn utopiese droom van magsbehepte heersers. In 1919 het Vladimir Lenin hoeka vir die Russiese fisioloog Ivan Pavlov, beter bekend as die hondemeester, versoek om hom te help om die Russiese bevolking te “standaardiseer”. Kyk maar net hoe desperaat was die Britte vir eeue lank om ons Boere eenvormig Engels te maak.

N.P. van Wyk Louw het gelukkig vir ons sterk intellektuele boererate nagelaat teen enige pogings om die mensdom te probeer standaardiseer: “’n Volk moet iets in hom hê, al is dit die fynste nuanse van ‘n openbaring van die lewe se rykheid; dit moet ‘n besondere instrument wees in die orkes van die geheel wat deur God gedirigeer word … anders … nou ja: sê nou dit was glad nie daar nie.”[v] As ons nie ʼn verskil maak of verskillend is nie, sal niemand ons eendag mis nie.  

Simbolies sien Van Wyk Louw ons Godgegewe diversiteit as volg: “Die wêreldliteratuur is ‘n volle orkes – nie ‘n dun en eensame fluit nie. Elke taal, selfs die kleinste, is ‘n aparte instrument met ‘n eie timbre. Literatuur wat in hom volmaak uitgespreek is, word ‘n onvervangbare verowering van die mens; gaan dit verlore, ly die hele mensdom skade.”[vi] Selfs die kleinste diertjie, plantjie of goggatjie is deel van God se wonderbaarlike skepping en daarom verdien elkeen sy plek wat niks anders namens hom kan volstaan nie.

ʼn Amerikaner het onlangs in kommentaar op een van my meningstukke voorgestel dat alle Afrikaners eerder maar net uit suidelike Afrika moet emigreer Amerika toe sodat hulle gemaklik kan kom bly tussen “hulle mense”, met wie hy bedoel het die Amerikaners. Hoewel dit met die eerste oogopslag ʼn onbeduidende opmerking was, het dit my tog later ernstig en krities laat nadink oor die grondslag van idees soos gemeenskap, plek en “jou mense”, asook kwessies soos emigrasie, kultuur en identiteit.

Die gevolgtrekking waartoe ek gekom het, is dat wanneer kulturele homogeniteit die water is waarin jy swem, jy waarskynlik sal sukkel om te besef of te verstaan dat ander gemeenskappe die regmatige vrees het dat hulle sal verdrink en verdwyn in jou dam. Swart Amerikaners is kultureel waarskynlik baie nader aan wit Amerikaners as wat ʼn Afrikaner aan ʼn wit Amerikaner is. Hoewel ons ganse van eenderse vere mag wees, is ons eenvoudig nie ganse van dieselfde dam nie.

Die ”Intellectual Dark Web” (IDW)

Denkers en lede van die IDW, soos Jordan Peterson, het ongetwyfeld ʼn groot positiewe impak op die politieke diskoers, veral onder jongmense, in die Weste gehad sedert hy op die politieke toneel verskyn het. Hoewel hy homself beslis bewys het as ʼn intellektuele swaargewig van ons tyd, moet ons egter altyd daarna strewe om enige denker, selfs dié wat ons bewonder, se idees, en natuurlik ook ons eie idees, krities en omvattend te benader.

Party lede van die IDW is nie Amerikaners nie. Hul werk worstel egter gereeld uitdruklik met Amerikaanse politieke en kulturele kwessies en gebeure. Hul gedagtes word ook disproporsioneel in die Amerikaanse kultuurstryd toegepas.

Lede van die IDW is hoofsaaklik ideologies klassieke liberale of konserwatief-liberaal, wat beteken hulle is liberaal met ʼn konserwatiewe inslag. Hulle is konserwatief wat die behoud en bewaring van die ou liberale orde betref.  Soos ek in my meningstuk “Not Everyone is a Liberal”[vii] geargumenteer het, verkies baie liberale denkers deesdae om na hulself as “klassieke liberale” te verwys in ʼn desperate poging om hulself te distansieer van hul ideologies wanaangepaste, radikale kinders wat hulself wangedra en gewelddadig veg vir die verwesenliking van die uiteindelike logiese gevolgtrekking van hul ideologie. Klassieke liberale is na my beskeie mening net liberale wat sien hoe hul ideologie onvermydelik vorder na sy tragiese eindbestemming, en dan skree “STOP!”

In die Amerikaanse konteks is die kultuurstryd, waarin die IDW een van die voorste linies is, hoofsaaklik gesentreer rondom die redding, behoud en rehabilitasie van liberalisme in die klassieke sin. Jordan Peterson argumenteer byvoorbeeld dat die individu in alle aspekte die absolute primêre eenheid van belang in politieke sake en analise moet wees, asook dat die belange van ’n kollektief nooit bo dié van die individu geplaas mag word nie. Ben Shapiro verdedig die standpunt dat die mark onbeperk en vry moet bly, selfs wanneer dit gemeenskappe vernietig of kultuurskatte of ander ontasbare goed waarop daar nie ʼn prys gesit kan word nie, verontagsaam.[viii]

In ’n onlangse meningstuk[ix] argumenteer Douglas Murray dat die konserwatiewe “kant”, veral in Amerika, te onliberaal is en dat dit meer liberale waardes en standpunte moet aanneem, soos byvoorbeeld om pro-aborsie te wees, sodat dit ondersteuning kan werf uit die geledere van liberale wat ontnugter word met die linkse kant van die politieke spektrum se toenemend onliberale neigings. Hy hou vol dat die breë konserwatiewe tent in die Westerse wêreld meer progressief-liberale lede soos Bill Maher nodig het, en minder onliberale konserwatiewes soos Patrick Deneen. Murray beweer byvoorbeeld in sy stuk die volgende: “As many as three in ten American adults are now religiously non-affiliated; fewer than half of Americans belong to a religious congregation. In such a world, the idea that a conservative movement can succeed while being intrinsically tied to religion — let alone one particular denomination — is a steer into the political wilderness.”

Ons moet dus versigtig wees om nie deur buitelandse denkers wat gereeld die regte geluide maak, totaal onkrities op ʼn dwaalspoor gelei te word nie. Ek hou vol dat ons getrou aan ons eie unieke identiteit, gemeenskap en wêrelduitkyk bewus moet bly. In ons multikulturele suidelike Afrika moet ons waak teen die versoeking om bloot die Amerikaners na te aap en te glo dat ons primêre probleem is dat “regte liberalisme” net nog nie hier probeer is nie. As ons nie kan of wil besef dat ons multikulturele Afrika-huis op ander fondamente gebou is as die monokultuur van die Amerikaanse kasteel nie, gaan ons maar net weer in dieselfde slagyster trap.  

Slot

Ons plaaslike stryd gaan juis om die rehabilitering van ʼn sin van identiteit om ons kulturele diversiteit vir die nageslag en vir die wêreld te bewaar. Identiteitspolitiek is ʼn realiteit in Afrika en is nodig vir die herlewing van ideale soos ʼn betekenisvolle gemeenskapslewe en die bewaring van kosbare kultuurskatte en kultuurgeskiedenis.

Die afbreek van elke denkbare grens, beide fisies en kultureel, wat volgens Deneen se argumente deur liberalisme vereis word, moet ons ten alle koste teenstaan. Hierdie kulturele oorlewingstryd is beslis nie beperk tot Suidelike Afrika nie, maar ons moet op ons eie konteks fokus en die bedreigings in ons eie agterplaas prioritiseer.

Klassieke liberale kan waardevolle bondgenote in vele van ons stryde wees waar ons gedeelde waardes het, maar dit is noodsaaklik om altyd in gedagte te hou dat daar ʼn behoudende, konserwatiewe, nasionalistiese (soos N.P. van Wyk Louw dit konseptualiseer het) ideologiese skeidingslyn tussen ons loop.

As Westerse Afrikane moet ons terselfdertyd baie versigtig wees om nie só in liberaal-progressiewe politieke en kulturele debatte oor Amerikaanse sake vasgevang en verstrengel te raak dat ons plaaslike perspektief verloor van die unieke politieke en kulturele slagvelde wat in ons eie deel van die wêreld vir ons voorlê nie.

As daar ʼn veldbrand naby ʼn buurdorp is, mag die as jou dalk bietjie laat hoes, maar wanneer jy te laat agterkom dat jou eie huis aan die brand is omdat jou oë op jou buurdorp gefokus was, gaan jy dakloos gelaat word weens jou eie nalatigheid.

Volgens Allister Sparks moet jongmense trots wees op hul kulturele identiteit, maar ook die waarde en bydrae van ander kulture erken en waardeer[x]. Dus is ek van mening dat, net soos ʼn militêre en ekonomiese magsewewig noodsaaklik is vir vrede in die wêreld, ʼn gesonde identiteitstrots vir elke kultuur ook noodsaaklik is vir plaaslike vreedsame naasbestaan.

Eerder as om alle kultuurverskille en identiteite te probeer uitwis of saamsmelt ter wille van ’n utopiese vredesdroom, moet ons eerder gesonde kultuurtrots en sin van identiteit in ons eie gemeenskap en onder ons buurgemeenskappe aanmoedig.

Verwyder die kulturele erfenis van enige mens, dan ontwortel jy hom. Ankerloos sal hy saam met die stroom dryf tot in ʼn grenslose oseaan, totdat hy eendag iewers deur stormagtige branders op ʼn verlate strand as dryfhout uitgespoeg word. Daar sal hy as brandhout opgetel word deur vreemdelinge.

ʼn Grafsteen is nooit groot genoeg om alles op te skryf waarvoor jy gelewe het of wat jy nog wou sê nie. Op die skrywer en digter Jan Rabie se grafsteen staan slegs: “Sonder Afrikaans is ek niks.” En daardie woorde sê vir my genoeg.

Bronnelys:


[i] Huntington, S. 1997. The west and the rest. Prospect Magazine. Beskikbaar by: https://www.prospectmagazine.co.uk/magazine/thewestandtherest.

[ii] Die Burger. 2018. FAK vereer ses vir bevordering van Afrikaans en kultuur. 29 Oktober, bl. 3.

[iii] Slabbert, F.v.Z. 1999. Afrikaner Afrikaan. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers. p. 1-30; 49-64.

[iv] Deneen, P.J. 2018. Why Liberalism Failed. Londen: Yale University Press. bl. xiv.

[v] Joubert, P.A. (ed). 1988. Gedagtes Vir Ons Tyd – Uit Die Prosa Van N.P. Van Wyk Louw. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers. p. 19.

[vi] Buys, P.J.W. 2019. Die pad na selfbestuur. Centurion: Kraal Uitgewers. p. 318.

[vii] Van Zyl, E.J. 2021. Not Everyone Is A Liberal. The Rational Standard. Beskikbaar by: https://rationalstandard.com/not-everyone-is-a-liberal/.

[viii] IDW Clips. 2018. Ben Shapiro and Tucker Carlson debate the Impact of Driverless Cars. Beskikbaar by: https://youtu.be/o5zPKxpPHFk.

[ix] Murray, D. 2022. Why is the Right so unattractive? Unherd. Beskikbaar by: https://unherd.com/2022/01/why-is-the-right-so-unattractive/.

[x] Sparks, A. 2016. Become activist citizens in this polyglot village of ours. BusinessDay. Beskikbaar by: https://www.businesslive.co.za/bd/opinion/2016-10-13-allister-sparks-become-activist-citizens-in-this-polyglot-village-of-ours/.

Die Pleingesprek word deur die Begrond Instituut vir Christelike Grondslagstudies aangebied. Met hierdie gespreksforum fasiliteer die Begrond Instituut filosofiese gesprekke wat die Afrikaner se toekoms raak. Die bedoeling is om ’n platform te voorsien waar ons in ’n gemaklike ruimte mekaar se denke kan slyp en verder stimuleer. Inhoud is geplaas met die goedkeuring van die skrywer.

Foto: Photo by Dylan Gillis on Unsplash