Pleingesprek deur Paul Maritz

In antwoord op Fanon – ’n Ondersoek na, en reaksie op radikale denke in Suid-Afrika

 “In antwoord op Fanon” is my kritiese ontleding na aanleiding van die werk van die dekoloniale denker Franz Fanon. Die oorgang van Suid-Afrika onder die beleid van apartheid na sy daaropvolgende toestand word deur die ANC en sy ideologiese vennote gedryf. 

Hierdie oorgang is tot dusver deur ’n proses van radikale transformasie aangevuur, wat op sy beurt deur rewolusionêre denke en beleide aangevuur word, en dan op hierdie radikalisme uitloop. Histories het rewolusionêre transformasie dikwels tot nasionale wanorde gelei. 

Aangesien hierdie benadering derhalwe groot risiko’s inhou, wil hierdie artikel juis dié risiko’s wat eie is aan rewolusionêre transformasie uitwys en alternatiewe voorstel. Die duidelike gevare wat hierdie beleide en denkrigtings inhou, word hopelik na vore gebring. Vervolgens dan die beproefde alternatiewe wat voorgestel word om die situasie voortaan te normaliseer.

Alhoewel Fanon reeds in 1961 op die jong ouderdom van 36 oorlede is, is sy werk steeds relevant en dalk selfs vandag meer relevant as toe dit die eerste keer gepubliseer is.  ’n Goeie voorbeeld van die toenemende populariteit van Fanon se filosofie is dat die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) in 2020 ’n virtuele boekklub aangebied het waartydens die werk van Fanon gelees en bespreek is. 

In Fanon se twee mees bekende werke Black Skins White Masks en The Wretched of the Earth, wat beide deur die EFF voorgehou is, kom sy eie beskouing en regverdiging van geweld duidelik na vore. Hy het bekendheid verwerf vir sy radikale anti-koloniale literatuur.

Franz Fanon word gesien as ’n radikalis en die feit dat die EFF Fanon as denkleier aanhang, is problematies. Met die ontleding van verskeie definisies, is dit duidelik dat radikale groepe geweld pragmaties sowel as selektief sal aanwend, maar nietemin as ’n legitieme opsie (teenoor ekstremisme) beskou. Nou kan gevra word, hoe skakel radikalisme en rewolusie met mekaar?

Rewolusie word dus verstaan as: ondergrawing van die bestaande staat, en die gepoogde vervanging daarvan met ’n nuwe, radikale orde. Nog meer, ’n radikale groep regverdig die gebruik van geweld onder bepaalde omstandighede.  Dus, radikalisme na rewolusie kan rewolusionêre oorlogvoering, wat geweld regverdig, tot gevolg hê totdat alle bestaande tekens van die vorige bedeling vernietig is – hulle inkluis.

Om Fanon te antwoord, moet die fokus vir ons as gelowiges op die Bybelse beginsels val wat in hierdie spesifieke geval relevant is, sowel as oortree word. My opinie is dat die oorhoofse idee van vordering en ontwikkeling doodnormaal is, maar dat die idee van rewolusie, en dan veral ’n gewelddadige rewolusie, nie versoen kan word met Bybelse voorskrifte nie. 

Vir die Christen wat verandering op politieke gebied teweeg wil bring, is daar baie leiding in die Bybel te vinde, maar tydens hierdie gesprek is daar veral klem gelê op gehoorsaamheid aan God se Woord en dat dít sentraal moet staan. As’t ware moet die woorde van Handelinge 4:19-20, altyd voor oë gehou word wanneer Petrus en Johannes aan die Joodse Raad die volgende sê:

“Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Die Christen sal nie probeer om radikale idees en geweld te kontekstualiseer en onder bepaalde omstandighede te regverdig nie, veral nie, soos wat Fanon voorstel, om persone van ’n ander ras- of kultuurgroep te verjaag of te vernietig nie. 

Ten slotte is dit van groot belang dat gelowiges van hierdie radikale denke kennis neem, en deurlopend en soos nodig ’n antwoord daarop bied. In die geval van Franz Fanon se werke kom dit voor asof heelparty moderne denkers poog om Fanon te kontekstualiseer, en die geweld wat hy voorstaan as metafories te probeer verstaan. Hierdie benadering behoort ten sterkste teengestaan te word, juis omdat enige persoon wat dié skrywer se werk lees, sal besef dat dit nie metafories geskryf is nie.

Die mees volledige analise van Maritz se standpunt sal eersdaags beskikbaar wees in die akademiese artikel “An analysis of transformation in South Africa post 1994”, wat eersdaags in die akademiese joernaal die Tydskrif vir Christelike Wetenskap sal verskyn. Hierdie artikel is onder leiding van dr. Jan Venter van die Noordwes-Universiteit (NWU) geskryf, en delf veral diep in die kwessie van geweld tussen rassegroepe met spesifieke verwysing na Fanon.

Die Pleingesprek word deur die Begrond Instituut vir Christelike Grondslagstudies aangebied. Met hierdie gespreksforum fasiliteer die Begrond Instituut filosofiese gesprekke wat die Afrikaner se toekoms raak. Die bedoeling is om ’n platform te voorsien waar ons in ’n gemaklike ruimte mekaar se denke kan slyp en verder stimuleer. Inhoud is geplaas met die goedkeuring van die skrywer.

Foto: Photo by Dylan Gillis on Unsplash