3 Ek was stom in stilte, ek het geswyg, ver van die goeie af; maar my smart is aangewakker.
10 Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen.
– Psalm 39: 3 en 10
Medewerkers in die koninkryk van ons Here … met ʼn hart vir die Evangelie, ʼn hart vir nood, ʼn hart vir hulp en bystand, ʼn liefdeshart … wat óók op sy eie manier soms in hom-/haarself swaarkry en om midde hierdie buitengewone omstandighede ANDER te troos met dieselfde troos waarmee ons getroos is (2 Kor. 1:4).
Dawid het dit óók besef in sy geloofsworsteling voor die Here in Psalm 39. Hy worstel oor God se wil: sy verborge, sy geopenbaarde en sy voorsienige wil – drie dinge waaroor Dawid in die geloof worstel en wat hy sukkel om te begryp. Wat spesifiek in Dawid se lewe afgespeel het op daardie stadium, weet ons nie. Maar wat ons wel wéét is dat die Here kragtens sy Woord en Gees vir ons die geloofspad aanwys oor HOE ons moet KYK na al hierdie beproewings rondom ons.
Die ou-Dawid, die worstelende-Dawid, die onsekere-Dawid sê in vers 3: Ek was stom in stilte, ek het geswyg, ver van die goeie af; (interessant: die woord “stom” in vers 3 is dieselfde Hebreeuse woord vir “stom” in vers 10, maar met ʼn ander inhoud en betekenis). Dawid word lamgelê deur sy omstandighede!
Hy vlug in homself! Hy draai na HOMSELF vir antwoorde! Hy trek terug in sy spreekwoordelike dop! Ek was stom in stilte, ek het geswyg … ek het stilgebly … ek’t in gebed stil geraak teenoor die Here … en toe word sy smart (“sy pyn”, vgl. 2020-Vertaling) aangewakker en losgemaak deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees wil hom juis nie in sy geloofsworsteling “in sak en as” los nie.
NEE! Die Here is op pad met Dawid – maar so óók met elkéén van ons! Deur sy worsteling bring die Here hom uit op ʼn geestelike geloofsplatorand (uitkykpunt) om dít wat nóú rondom hom gebeur in die regte lig te sien.
Die nuwe-Dawid, die belydende-Dawid, die blymoedige-Dawid sê in vers 10: Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen. Deur die diep geloofslaagtepunt in sy lewe lei die Gees hom tot geloofsbelydenis om dít wat nóú gebeur reg te kan hanteer.
Dawid bely drie dinge oor die Voorsienigheid van God:
- ek is stom… bedoelende: ek as kleine mens is stom, stomgeslaan deur U grootheid, O Here, want ék verstaan U nie! Ek verstaan nie altyd wat U doen en waarom U sekere dinge toelaat nie.
- ek sal nie my mond oopmaak nie… bedoelende: ék as stomgeslane en geloofsverbaasde sal nie my mond (en hart) op ʼn negatiewe manier durf oopmaak deur U aan te kla of U in die beskuldigbank te plaas ASOF dit U skuld is nie. NEE! MAAR, as ek my mond (en hart) voor U oopmaak, sal ek sê
- want U het dit gedoen… bedoelende: U het dit wat nou afspeel, deur U toelatende wil toegelaat. U het dít gedoen… U laat dít toe om op ʼn sekere manier te gebeur … met ʼn verdere doel om ons te bring tot geloofsbelydenis kragtens Christus Jesus. Niks staan buite sy raadsplan en sy (toelatende) wil nie.
Ons Here Jesus Christus is (sê Jesaja 53:7) soos ʼn skaap mishandel, Hy was stom voor sy skeerders, en Hy het nie sy mond oopgemaak nie. Deur hierdie stomme-pad het Jesus vir ons die pad van geloofsoorwinning gewys sodat ons nie moedeloos hoef te raak of perspektief hoef te verloor midde omstandighede nie. Hy lei ons van die ou- na die nuwe-Dawid om ons geloof te KAN bely: Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen.
Deur ds Gert Erasmus, Begrond medewerker.
Lees meer oor die Maandtema: Skep moed – Die Here is in ons midde – Begrond Instituut