Skep moed – Die Here is in ons midde

“Nou dan, skep moed, Serubbábel, spreek die HERE, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare, met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie!” – Haggai 2:4-5.

As jou moed verlore is – luister wat God self sê

Hoe kry ʼn mens weer moed as jy begin moedeloos raak? Hoe skep ʼn mens weer moed as jy jou moed verloor het? Wat moet jy doen as jy dink die Here het jou begin vergeet? Hoe sal ons maak as daar nog ʼn volgende golf van Covid-19 uitbreek?

Drie keer sê die Here dit: skep moed. Vir die goewerneur Serubabel, vir die priester Josadak en vir die mense wat vanaf Babel teruggekom het. Hulle is besig om die tempel van die Here te probeer opbou.

Dit gaan swaar. Daar is min geld en goedere. Daar is baie probleme en teenstand. Hulle begin moed verloor. Die diepste van hulle vrese is dat die Here hulle permanent verlaat het.

Nou, hier – terwyl dinge so sleg gaan

Die Here spreek ons aan in ons werklike situasie. So het Hy ook in die dae van Haggai gedoen. “Nou dan, skep moed.”  Die Here is realisties. Hy is die Skepper en die alwetende. As Hy met ons praat, is dit binne die werklikheid wat ons beleef. 

Covid-19 het ons lewens verander, vir sommige onherroeplik en permanent. Sommige moes alleen agterbly nadat hulle geliefdes weens Covid oorlede is. Vir ander was dit ekonomiese gevolge, direk en indirek. Baie het in vrees begin lewe. “Nou dan” – hier te midde van hierdie werklikheid: “skep moed”. 

Die Bybel gebruik twee sulke woorde om die mens se aandag te trek op wat God doen. Die een woordjie is die bekende uitdrukking: “en kyk”. Daarmee vestig die Here ons aandag op sy voorsieninge liefde as Vader soos wat Hy dit in die toekoms vir ons uitwys. Die tweede woordjie is hierdie “nou dan” wat ook deur die profeet Haggai gesê word.

Dit beteken “nou, van hier af verder”. Die bedoeling is juis om die huidige werklikheid in verband te bring met die ewige realiteit. Die woord beteken ook tooi of om iets met ʼn ornament te versier. “Nou dan,” sê die Here, kyk hoe Ek van hier af verder hierdie einste realiteit inskakel by die volle versierde realiteit van my Vaderlike liefde.

Trotseer die teenspoed: maar hoe?

Dit het soveel meer betekenis as ʼn mens verstaan dat Serubabel se naam beteken “gesaai in Babel”.  Sy naam roep in herinnering die aaklige verhaal van die ballingskap. Dit dui op die begin in Babel. Soms gaan ʼn beproewing so lank aan dat ʼn mens amper moed wil verloor. Serubabel, gesaai in Babel, moet in hierdie omstandighede moed skep.

Wat maak hulle so moedeloos? Hul situasie lyk oorrompelend.  Hulle moet die tempel kom herbou nadat dit tot op die grond afgebreek is. Hulle poging lyk nie of dit enige vordering maak nie, en in vergelyking met die vorige tempel lyk dit maar karig en armoedig. Dit lyk nie of hulle vordering maak en ooit gaan klaarkry nie. Telkens moet hulle nuwe teëspoed en teenstand trotseer. Telkens tap dit nog verder van hulle krag.

Waaraan bind jy jouself?

Skep moed. Skep moed. Skep moed. Drie keer beveel die Here dit – in hulle moeilike werklikheid, waaraan hulle telkens herinner word waar hulle vandaan kom. Hierdie bevel om moed te skep beteken basies om uit te hou deur aan iets vas te hou.

Kry die oorhand oor die situasie. Bind jouself vas aan wat God sê. Gryp vas God se woorde. Hou dit vas en laat dit jou basis wees waarvanuit jy dink en doen. Waaraan is jy vasgebind? Aan jou probleme wat jou moedeloos maak of aan die beloftes wat God jou gee?

Die gevaar van moedeloosheid is dat ʼn mens jou roeping versaak. Dat jy ophou om te doen wat jy moet doen. Eers hou ʼn mens op om te leef deur net te probeer oorleef. Naderhand gee ʼn mens op om te probeer oorleef en die dood bekruip jou stadig maar seker.  Vrees en moedeloosheid is die vennote van die dood self. Om moed op te gee, is om die hoop op die lewe prys te gee.

Vervul jou roeping en maak jou werk klaar

Nou dan, sê die Here, skep moed – en werk. As ʼn mens moed skep, as jy uithou omdat jy vashou aan wat God sê, dan doen jy jou werk wat God jou gee. Hierdie woord “werk” beteken effektief voltooi en volledig uitvoer. Die werk wat God aan elkeen afsonderlik en aan almal saam opgedra het, kan en moet volbring word as ʼn mens moed geskep het.

Die Here weet en verwag nie dat ons dit alles uit ons eie krag kan doen nie. Juis omdat Hy weet ons kan nie dit self bewerkstellig nie, gee die Here die versekering: Ek is met julle. Die Here belowe dat die Heilige Gees in die midde van die gelowiges is wat moed skep deur wat Hy in sy Woord sê. So mooi lig God dit vir ons uit.

Die Heilige Gees in ons midde

My Gees sal bestendig in julle midde bly. Te midde van soveel onsekerhede en onstuimigheid, terwyl ʼn mens deur soveel onsekerhede omring word en deur siekte en dood bedreig word, in dié werklikheid verseker die Here ons: Ek sal deur my Gees bestendig in julle midde wees.

Hierdie woord “bestendig” wys God se vaste betroubaarheid aan. Dit beteken ook om ʼn pilaar te wees waarop gereken word dat die res van die bouwerk daardeur gedra word. Hierdie woord dui op die Heilige Gees wat gereed staan om kragtig te werk. As die Here sê: “wees sterk en werk”, dan is dit omdat God gereed staan en self aan die werk is. Hierdie profesie van Haggai is kragtig vervul in die opstanding van die Here Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees.

God staan kragtig in die midde van sy kinders se lewens, al word hulle bedreig en al voel hulle swak en geknak. Deurdat die Heilige Gees in ons woon, stasioneer God ons op die regte plek met krag om ons werk te volvoer. God bind Homself al lankal aan hierdie kragtige verlossingsoptrede.

Hy het dit vir hulle al lank gelede getoon met die uittog uit Egipte. Hoe het Hy hulle nie met krag daaruit gelei nie!  Dieselfde Here het hulle nou uit Babel teruggebring om die tempel te bou. Die tempel verkondig juis die inwoning van die Here by sy kinders op aarde. Te midde van Covid-19 se dood en verwoestingsgolf sê die Here vir ons: “Nou dan, skep moed en werk. Ek is in julle midde.”

Staan sterk en werk: God is hier aan die werk

Laat ons nou moed skep deur God te glo wat Hy hier sê. Twyfel en ongeloof sal verwoesting en ontbinding bring. Geloof en vertroue bring krag na vore, in ons eie lewe en in ons gemeenskappe. Staan sterk en doen jou werk; die Here is in ons midde.

Bemoedigende boodskappe:

Foto: Photo by LilacDragonfly from Pexels