Skep moed, Media

1  Troos, troos my volk, sê julle God.

2  Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.

3  ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ʼn grootpad vir onse God!

4  Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ʼn gelykte en die rotsagtige plekke ʼn laagte word.

5  En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.

6  ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld.

7  Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!

8  Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.

9  O Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ʼn hoë berg! O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!

10  Kyk, die Here HERE sal kom as ʼn Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.

11  Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.

-Jesaja 40:1 – 11

Die gelowige mag lewe met die troos dat vir ons sonde dubbel en dwars betaal is. Jesus se woorde aan die kruis, “dit is volbring”,  tel ons van die grond af op, hou ons vas, gee ons duidelik koers in lewe en werk. Sodat ons in alle omstandighede en op elke plek  mag hoor en weet: Hier is julle God.

Ons word self diep geraak deur die nuus wat ons oordra. Gelowiges kan eers goeie nuus oordra as hulle self daardeur aangeraak is. Die goeie nuus is: Hier is julle God.

Die werklikhede, soos weergegee in die nuus, wys die broosheid en verganklikheid van die mens. Die lewe verdor soos gras en verwelk soos ʼn blom. Wanneer die sleutelbord of kameralens hierdie werklikheid vasvang, maak dit ons, die draer van die nuus, self bang, moedeloos, onseker. Maar daar waar ons die nuusgebeure vasgvang, ook daar is ons God. Hier waar ek en jy lees, tik en verwerk, ook hier is ons God.

In elke situasie en op elke plek word ons opgetel, gedra, vasgehou, koers gegee met die troos: hier is ons God.

Deur ds Carel Jansen, Begrond medewerker

Luister hier na die bemoedigende boodskap en gebed deur ds Carel Jansen

Lees meer oor die Maandtema: Skep moed – Die Here is in ons midde – Begrond Instituut

Foto: Photo by Anete Lusina from Pexels