Mediaverklaring: 18 Augustus 2021
Vir onmiddellike vrystelling
Die parlement het vandag ’n komiteesitting oor die haatspraak wetsontwerp wat beïnvloed gaan word deur die Konstitusionele hof se uitspraak oor die Qwelane-saak wat indirek ’n effek op die PEPUDA-wetsontwerp uitoefen. Volgens die uitspraak is die definisie van haatspraak, soos in die bestaande PEPUDA-wet, te wyd en moet dit meer met die Grondwet belyn word. Dit is nog ’n klein oorwinning teen die PEPUDA-wetsontwerp.
Die publiek kon tot 30 Junie openbare kommentaar lewer op die wysigingswetsontwerp oor die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, oftewel PEPUDA (“Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Amendment Bill”), ook bekend as “die Gelykheidswet”. Begrond het Christen-gelowiges opgeroep om die voorgestelde wysiging van die Gelykheidswet teen te staan omdat dit as ’n gevaar vir geloofsvryheid beskou word.
“Ons is verheug oor die oorweldigende reaksie vanuit die geloofsgemeenskap wat deelgeneem het om die voorgestelde wysigings op die wetsontwerp teen te staan en wil die publiek bedank vir hul reaksie,” sê Karin Hand, projekbestuurder van Begrond. Die nuwe wysigings van die Gelykheidswet bedreig die reg op vryheid van spraak en het radikale implikasies vir vryheid van geloof vir individue sowel as geloofsgebaseerde instellings.
Begrond het in Junie kragte saamgespan met ’n inisiatief van FOR SA (Freedom of Religion South Africa) – die drukgroep wat geloofsvryheid beskerm en uitbou. Bo en behalwe die bykans 90 000 unieke reaksies op die DearSA-platform a.g.v. dié inisiatief, is daar altesaam meer as 150 000 voorleggings by die departement van justisie ingedien. Alhoewel slegs die departement weet hoeveel voorleggings ten gunste van die verandering en hoeveel daarteen was, is dit duidelik dat die oorgrote meerderheid reaksie vanuit die geloofsgemeenskap gekom het, volgens FOR SA.
“Dit is ’n reuse-oorwinning om met die eerste ronde van voorgestelde wysiging van die wetsontwerp te wys dat die publiek ernstig voel oor die saak van geloof en nie wil hê dat die regering moet inmeng met gelowiges se vryheid van geloof, of vryheid van spraak nie. Dit is egter slegs die begin van die proses en ons wil die publiek vra om nie te verslap in hulle erns om elke geleentheid te gebruik tydens die proses van wetswysiging nie,” het Hand voorts verduidelik i.v.m. die voortgesette betrokkenheid van Begrond en waarom hulle ’n waaksame oog oor die proses bly hou.
Hoe werk dit wanneer wetgewing verander wil word?
VOORSTELLING
Stap 1.1: Ministeriële Departement (PEPUDA / die Gelykheidswet se wysingingswetsontwerp is tans hier in die proses)
Daar word ’n voorgestelde wetsontwerp (vir ’n nuwe wet) of ’n voorgestelde wysingswetsontwerp (vir veranderinge tot ’n bestaande wet) deur die betrokke departement geskryf. Die departement moet die wetsontwerp aan die publiek bekend maak vir die publiek om kommentaar daarop te lewer.
Hierna volg ’n konsultasieproses waartydens die publiek geleentheid het om op die voorgestelde veranderinge te reageer. Na afloop van die tydperk, moet die departement deur elke aansoek werk en besluit watter reaksies hulle in die voorgestelde wetsontwerp gaan insluit en watter aanpassings gemaak gaan word.
Intern moet die departement dan die hersiene weergawe deur ’n proses laat gaan om te verseker dat die wetsontwerp voldoen aan o.a. die Grondwet. Vandaar gaan dit na die kabinet vir goedkeuring.
Stap 1.2: Kabinet
Indien die kabinet dit afkeur, gaan dit terug na die departement om weer hersien te word.
As die kabinet die voorgestelde wetsontwerp goedkeur, kan die departement die wetsontwerp in die parlement ter tafel lê en is dit dan die werk van die parlement om die wetsontwerp verder te vat. Dan begin die parlementêre proses loop waarna dit verwys word na albei Huise van die Parlement.
PARLEMENTÊRE STAPPE
Stap 2.1: Nasionale vergadering (NV)
Eerstens gaan die wetsontwerp na die nasionale vergadering waar dit aan ’n portefeuljekomitee geallokeer sal word. Dié komitee gaan weer deur ’n konsultasieproses waartydens die publiek weer kommentaar kan lewer. Gewoonlik is daar dan ook ’n geleentheid vir mondelinge voorleggings.
Stap 2.2: Nasionale Raad van Provinsies (NRVP)
Indien die wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering (NV) se relevante portefeuljekomitee aanvaar word, word die wetsontwerp aan die relevante komitee van die Nasionale Raad van Provinsies oorhandig. (Dit is die tweede huis van die parlement.)
Hierdie komitee sal weereens die wetsontwerp oopstel vir publieke kommentaar.
Die proses het dus ’n aantal stappe, maar dit is moeilik om te bepaal hoe lank dit gaan neem. Voortgesette deelname met elke stap is kritiek. Die departement van justisie het aangedui dat hulle die PEPUDA-wysingswetsontwerp voor die einde van vanjaar wil finaliseer om in 2022 dit in die parlement ter tafel te lê. Daar is dus haas van die regering se kant af om die wetgewing in plek te kry.
FINALISERING
Stap 3: Presidensiële handtekening
Eers nadat die wetsontwerp deur beide huise van die parlement is gaan dit na die president om in die Grondwet opgeteken te word. Hierna word die wet bekragtig.
Tweedens is dit belangrik dat die publiek die volgende in ag neem tydens enige reaksie op voorgestelde wetsveranderinge in die toekoms:
- Petisies word nie oorweeg nie en word as ’n enkele reaksie beskou.
- Unieke voorleggings met ’n individu se naam en reaksie as een getel.
- Unieke bewoording in die voorlegging om te verduidelik waarom die persoon ten gunste of daarteen gekant is, weeg swaarder.
Derdens wil Begrond graag die publiek se aandag daarop vestig dat die uitbreiding van vryheid van spraak, soos voorgestel deur PEPUDA-wetgewing, nie slegs teen Christenskap, of geloof is nie. Daar is verwarring onder sekere lede van die publiek wat ten gunste van die veranderinge is, wat nie besef dat dié verandering die vryheid van spraak as geheel gaan inperk nie, asook die vryheid van spraak téén vryheid van geloof.
Die wetgewing moet dus in konteks verstaan word as ’n algehele inperking op wat ons tot dusver as publiek kon uitleef, glo en deel, ongeag gelowig van aard of daarteen. Begrond bevestig ons verbintenis om die Christelike vryheid te mag uitleef en om hierdie vryheid ook openlik in die samelewing te verdedig.
Begrond as ʼn Christelike Navorsingsinstituut fokus daarop om deur die ontginning van Bybelse denke riglyne te bied om die samelewing op ʼn Christelike fondament uit te bou en te versterk. Begrond staan ook die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap by om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.
Karin Hand is beskikbaar vir media-onderhoude.
Mediaskakeling:
Karin Hand
Begrond Projekbestuurder
karin@begrondinstituut.co.za