Van toring tot Troon

Die Here wil dat die aarde met sy heerlikheid gevul moet wees. Die heerlikheid van die Here is die waarde en weelde van die oorvloedige ligglans van sy majesteit. God het van die begin af ʼn opdrag aan die mensdom gegee om die heerlikheid van God te bereik: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” (Genesis 1:28). Hierdie opdrag gaan nie net oor voortplanting nie, maar oor die verspreiding van God se heerlikheid deur sy beelddraers oor die hele aarde. Die doel is dat die hele skepping met die heerlikheid en kennis van die Here gevul sal wees, soos die waters die seebodem bedek (Habakuk 2:14). Hierdie opdrag plaas God se heerlikheid eerste. Die mens word geroep om na sy beeld te leef en sy heerlikheid te weerspieël en te verkondig.

Die vloek van die toring

Die mens se ongehoorsaamheid het egter hierdie voorneme verhinder (Genesis 3). Ná die sondeval lees ons ook verder in Genesis 11 van die toring van Babel. Die mensdom het daar bymekaargekom om ʼn groot toring te bou – ʼn monument vir hul eie roem. In plaas daarvan om die aarde met die heerlikheid van die Here te vul – soos God beveel het – wil hulle nou hulself verheerlik. Die optrede was ʼn daad van openlike rebellie teen God se opdrag.

Die Here handhaaf sy bedoeling en verwar die een wêreldtaal van die mense. Dit het hulle gedwing om oor die aarde te versprei, soos die Here hulle beveel het. Die taalverwarring was nie ʼn straf in die tradisionele sin nie, maar eerder ʼn korrektiewe maatreël. God se oorspronklike doel moet vervul word – om sy heerlikheid oor die hele aarde te versprei.

Seën op die tale

Die geskiedenis van Babel met betrekking tot God se bedoeling vind ʼn merkwaardige vervulling in die Nuwe Testament. Ons lees in Handelinge 2 oor die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Op Pinksterdag hoor mense van verskillende nasies en tale in hulle eie moedertaal van die evangelie. Wat by die toring van Babel verdeel is, word hier op ʼn wonderbaarlike manier deur die Heilige Gees herenig.

Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterfees is die vervulling van die Ou Testamentiese Fees van die Weke. Dit is ʼn profesie oor die werk van die Heilige Gees. In die Ou Testament was hierdie fees ʼn tyd van vreugdevolle viering waar die Israeliete die eerste vrugte van hul oes aan die Here opgedra het (Levitikus 23:15-21). Dit was ʼn teken van dankbaarheid vir God se voorsiening. Tegelykertyd is dit ʼn erkenning dat die hele oes, en alles wat hulle gehad het, van God afkomstig is. Die gebeurtenis in die Nuwe Testament dui die begin van die oes van die Koninkryk van God aan. Die eerste vrugte van die evangelie word geopenbaar in die eerste bekeerlinge wat gedoop word en deel van die Here se kerk word (Handelinge 2:41).

Die uitstorting van die Heilige Gees bevestig God se belofte – dat die Vader en die Seun die Heilige Gees sal stuur (Johannes 15:26). Dit vind plaas toe die Gees gekom het met tonge soos van vuur oor elke gelowige op Pinksterdag (Handelinge 2:3). Die Heilige Gees bewerk die geloof wat kom deur die aanhoor van die Here se Woord (Romeine 10:17). Die Heilige Gees se werk maak die mens se wil vry van die sonde in die nuwe verbond dat die heerlikheid van die Here die aarde heeltemal kan vul. Tale is dus ʼn seën van die Here sodat die Here se heerlikheid orals verkondig kan word.

Tonge soos van vuur

Die beeld van “tonge soos van vuur” dui op die heilige werking van die Heilige Gees. In hierdie gedeelte dui dit op drie verskillende sake: die liefde, lig en die openbaring van God.

In die eerste plek verteenwoordig vuur die vurige liefde wat die Heilige Gees in die harte van gelowiges aansteek. Die liefde is ʼn weerspieëling van God se liefde vir sy mense, soos Paulus in Romeine 5:5 skryf: “… en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” Die goddelike liefde dryf gelowiges om God met ywer te dien, en om tot sy eer te lewe, dit wil sê om die aarde met sy heerlikheid te vul.

In die tweede plek verteenwoordig die vuur lig en die openbaring van God se waarheid. Net soos vuur die duisternis verdryf, so bring die Heilige Gees lig in die harte van gelowiges. In Johannes 16:13 sê die Here Jesus die volgende oor die Heilige Gees: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” Die Heilige Gees openbaar God se wil en waarheid aan sy kinders.

In die derde plek verteenwoordig die vuur die openbaring van God se nabyheid en heiligheid. In die Bybel is vuur dikwels ʼn teken van God se verskyning, soos in die brandende doringbos (Eksodus 3:2-5) en die vuurkolom wat Israel deur die woestyn gelei het (Eksodus 13:21-22). Die “tonge soos van vuur” wat op Pinksterdag oor die dissipels verskyn het, is ʼn teken van die Heilige Gees se teenwoordigheid wat gelowiges reinig, heilig en vervul om God met brandende ywer te dien. Dit is soos om met die Heilige Gees en met vuur gedoop te wees. Hierdie ywer dryf gelowiges om die Here te loof en te getuig van sy grootheid in al die verskillende tale en kulture van die wêreld. Dit is waaroor ons in Handelinge 2:4 lees, waar die dissipels in ander tale begin praat het, “soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”

Dit is alles sodat die goeie nuus van die Here Jesus Christus, die vleesgeworde Woord, nie tot een taal of kultuur beperk is nie. Dit is bedoel vir alle volke en nasies sodat die heerlikheid van God op die hele aarde vol kan wees. Die uitstorting van die Heilige Gees vervul die beloftes van God wat strek van die Ou Testamentiese feeste tot die werk van Christus. Christus is die vervulling van Paasfees as die Lam wat geslag is vir die sondes van die wêreld, en ook van die fees van eerstelinge, waar Hy as die eersteling uit die dood opgestaan het (Kolossense 1). Ons, as deel van Sy liggaam, word by hierdie eerstelinge gereken as ʼn bewys van die nuwe lewe wat ons in Hom ontvang. Die nuwe lewe wat ons in Christus ontvang, is die werk van die Heilige Gees alleen. Só sien ons dat tale dus direk betrek is by die verskyning van God se heerlikheid.

Die heerlikheid van die Here is alomteenwoordig

Ons sien die uiteindelike vervulling van hierdie taalverskeidenheid in die boek Openbaring. In Openbaring 7:9 lees ons van ʼn groot menigte, uit elke nasie, stam, volk en taal, wat voor die troon van God staan en Hom aanbid. God se heerlikheid is só groot dat dit nie in een mens of in een taal beperk kan word nie. God wil verheerlik word in en deur die verskeidenheid tale en kulture wat Hy self geskep het. Die Here is baie ernstig daaroor dat sy heerlikheid oor die hele aarde vol moet wees, in sy volle omvang.

Die taalverwarring by die toring van Babel en die samewerking daarvan in Handelinge wys op die groter doel van God: om sy Naam te verheerlik onder al die nasies van die aarde. Hierdie taalverskeidenheid is nie ʼn hindernis vir die evangelie nie, maar eerder ʼn instrument waardeur die volheid van God se heerlikheid en wysheid aan die wêreld geopenbaar word. Aan die einde van dae gaan die son en die maan nie meer nodig wees nie, want die heerlikheid van God het die stad verlig en die Here Jesus Christus is die lamp. Die gelowiges van verskillende nasies sal in die lig van Christus wandel (Openbaring 21:23-26). Dan weet ons die taalverskeidenheid gaan ook tot ʼn einde kom soos ons in 1 Korintiërs 13:8 lees, want die Here het dan sy doel bereik om die aarde met sy heerlikheid te vul. Tale moet egter eers hul doel bereik.

Deur die evangelie van Christus en die werking van die Heilige Gees word die heerlikheid van God na al die nasies versprei, wat uiteindelik tot ʼn punt kom waar al die volke voor die Here buig en sy Naam eer (Psalm 86:9, Openbaring 7:9). Die oorspronklike opdrag om die aarde te vul word vervul in die volheid van God se heerlikheid wat oor die hele aarde heers en deur alle nasies geëer en besing word. Dit kan slegs gebeur as volke, tale en nasies Christus se gehoorsaamheid en liefde vir sy Vader deel van hulle eie kultuur maak.

Belangrike afleidings

Ons kan sien dat taalverskeidenheid deel van God se doel is om Homself aan die hele mensdom bekend te maak. Deur die inwoning van die Heilige Gees word hierdie plan volbring, aangesien Hy elke gelowige toerus om die Here in hul eie taal en kultuur te verheerlik. Wanneer ons in ons eie taal en kultuur die Here aanbid, neem ons deel aan die Here se vervulling van sy Goddelike visie. Dit beteken dat wanneer ons die Here in Afrikaans aanbid, neem ons juis deel aan die Here se doel wat Hy self tot vervulling bring – om ʼn samewerkende liggaam te wees wat die rykdom van God se genade en heerlikheid in die hele geredde mensdom weerspieël.

Die vervulling van die Here se doel vind sy hoogtepunt in Christus, wat nie net die vervulling van die Ou Testamentiese feeste is nie, maar ook die middelaar is waardeur die hele skepping uiteindelik na God teruggebou word. In Hom word die toring van Babel se verdeelde nasies weer herenig. Dit gebeur nie deur mense se eie pogings nie, maar deur die Gees wat gestuur is om ons tot een liggaam te maak, wat eendag voor die troon sal staan in aanbidding van die Lam wat geslag is.

Hierdie afleiding bied belangrike insig vir die Afrikanerkultuur waarop daar kortliks uitgebrei gaan word

Om die Here in Afrikaans te ken

Die vertaling van die Bybel in verskeie tale is van kardinale belang vir die vervulling van God se doel om Homself aan die hele mensdom bekend te maak. Die Bybel is die Woord van God, en dit is van kritieke belang om toegang daartoe te hê in jou eie taal wat jy ten volle kan verstaan. Die Bybel in Afrikaans speel ʼn onmisbare rol in die geestelike lewe van Afrikaanssprekende-gelowiges.

Die belangrikheid van die Bybel in Afrikaans lê ook daarin dat dit die geloofsgemeenskap verenig in ʼn gedeelde taal wat nie net kommunikasie vergemaklik nie, maar ook die gemeenskaplike aanbidding en viering van God. Wanneer mense die Woord in hul eie taal lees en hoor, word die evangelie vir hulle lewendig op ʼn manier wat in hul daaglikse lewe aanklank vind. Dit is hoe die rykdom van God se genade en waarheid onder die Afrikaanssprekendes versprei word, en waar die Woord van God as ʼn riglyn dien vir lewens- en geloofspraktyk.

Verder is die Bybel in Afrikaans belangrik vir die behoud van die taal self, aangesien dit ʼn ankerpunt bied in die voortdurende ontwikkeling en verandering van Afrikaans. Dit dra by tot die taal se voortbestaan. Deur die Bybel in Afrikaans te lees en te gebruik, word die rykdom van Afrikaans as ʼn taal van aanbidding, studie en geestelike verdieping erken en bevestig. Die verstaan van die Bybel word alleen deur die Heilige Gees moontlik gemaak. Dit is egter ook waar dat die Heilige Gees die verstaan van die Bybel tot sy volle reg kom wanneer dit in die moedertaal gelees en beleef word, wat geestelike groei bevorder en ʼn dieper verhouding met God moontlik maak.

Die voortdurende vertaling en aanpassing van die Bybel in Afrikaans is daarom nie net ʼn hulpmiddel vir persoonlike en gemeenskaplike geloofsgroei nie, maar ook ʼn daad van gehoorsaamheid aan die Here in die kultuurbehoud en taalbevordering. Dit verseker dat toekomstige geslagte ook die Woord van God in hul moedertaal sal hê, en sodoende voortgaan om in die Here te groei en sy heerlikheid te weerspieël.

Grootwordtaal

Moedertaalonderrig speel ʼn deurslaggewende rol in die vervulling van God se doel om sy heerlikheid oor die hele aarde te versprei. Die taalverskeidenheid wat by die toring van Babel ontstaan het, het nie net mense gedwing om oor die aarde heen te versprei nie, maar het ook verseker dat God se heerlikheid in elke unieke taal en kultuur weerklink. Dit vind sy klimaks in die Nuwe Testament, waar die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag elkeen die evangelie in hul eie moedertaal laat hoor het. Hierdie wonderwerk beklemtoon hoe belangrik dit is dat mense God in hul moedertaal kan leer ken en aanbid, aangesien dit die natuurlikste manier is waarop hulle met die Here kan kommunikeer en sy heerlikheid kan weerspieël.

Moedertaalonderrig is ook ʼn middel waardeur kultuur en geloof gekoester en oorgedra word. Die gebruik van moedertaal in onderwys verseker dat die rykdom van daardie taal en kultuur behoue bly en aan toekomstige geslagte oorgedra word. In ʼn wêreld waar Engels toenemend as ʼn wêreldtaal gebruik word, is dit van kardinale belang om te waak teen die verlies van moedertale – soos Afrikaans – aangesien dit deel is van God se skeppingsorde. Om God in jou moedertaal te kan aanbid en sy Woord te verstaan, bevorder nie net geestelike groei nie, maar dra ook by tot die vervulling van die opdrag om sy heerlikheid oor die hele aarde oor te dra, in elke taal en kultuur.

Taalimperialisme

Op grond van bogenoemde is ons téén taalimperialisme. Ons is teen een taal wat homself bó ʼn ander taal plaas, met ander woorde, ʼn taal wat verdrukking toepas. Vir die Afrikaner is die Engelse taal die taalimperialisme.

C.P. Hoogenhout het een van sy gedigte soos volg begin: “Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor; In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”

Afrikaners het ʼn geskiedenis met die Engelse imperialiste wat hulle taal op die boere probeer afdwing het. Die gevaar is nie soseer Engels nie, maar die imperialisme wat die woord vergesel. In ʼn wêreld waar Engels toenemend as ʼn wêreldtaal gebruik word, is dit belangrik om die waarde van moedertale te beskerm en te koester, veral ons eie taal. Die verskeidenheid van tale is deel van God se skeppingsorde. Om al die tale van die wêreld tot een dominante taal te probeer verminder, soos wat die toring van Babel se poging was (Genesis 11:1-9), kan gesien word as ʼn vorm van opstand en imperialisme waar die mens weer homself probeer verheerlik.

Die verengelsing van alles of enige ander taal kan hierdie gevaar dra en moet met omsigtigheid benader word. Dit is nodig om die verskeidenheid van tale te vier en te verseker dat elkeen die geleentheid het om God in hul eie taal te aanbid en hul geloof uit te leef, sonder om te voel dat hulle hul eie taal vir ʼn ander moet prysgee.

Ook nie nét Afrikaans nie

Terwyl dit belangrik is om jou eie taal en kultuur te waardeer, moet daar gewaak word teen ʼn chauvinistiese houding teenoor ander. Die idee dat één taal, soos Afrikaans, die enigste ware medium is om die Here te aanbid of om kultuur oor te dra, is teenstrydig met die Woord van die Here en die werk van Christus. Die Afrikaanse mens moet homself dus verantwoord hou teenoor die Hebreeus en Griekse tale waarin die Bybel geskryf is. Om te sê “jy praat net Afrikaans of jy bly stil” is ʼn houding wat nie God se hart vir al sy mense weerspieël nie. Ons moet eerder ander tale en kulture met respek oop en eerlik benader, en besef dat álmal – ongeag watter taal – gelykwaardig tot die verheerliking van God bydra.

Paulus skryf in 1 Korintiërs 12:12-14 oor die eenheid en verskeidenheid in die liggaam van Christus, waar elke deel sy eie unieke funksie het. Só ook moet ons besef dat elke taal ʼn unieke bydrae lewer tot die geheelbeeld van God se skepping en sy heerlikheid wat daarin verkondig word.

Geskryf deur Alistair van Heerden (medewerker van Begrond)

Foto: Kyle Genn op Unsplash