Vryheid in vrouwees

Augustusmaand was Vrouemaand en dit is dalk goed om ’n bestekopname te doen. Vir Christen-vroue bring dit bepaalde uitdagings mee.

  • Aan die een kant is ons so gewoond daaraan dat daar altyd die een of ander dag of maand gevier word, dat ons gevaar loop om onnadenkend ook maar net deel van die stroom te vorm.
  • Aan die ander kant kan ons die geleentheid benut om weer vanuit Bybelse perspektief as Afrikaanse vroue na te dink oor wat dit beteken om as Christen vrou te wees.

Vermy ekstreme standpunte

Dit is altyd goed om darem eers uit te wys wat ons nié bedoel nie. Dit is deesdae veral nodig, omdat dit gereeld voorkom dat die mees onbybelse dinge voorgehou word as die waarheid en dikwels word dié ekstreme standpunte nog versier met ’n Bybel-versie wat buite konteks aangehaal word.

Vry in Jesus Christus

Die vryheid wat God sy kinders skenk het verreikende gevolge. Christen-vroue erken dat hulle in Christus vrygemaak is van die sonde, die wêreldse opstand teen God wat deur die Bose aangehits word. Vryheid is ’n geskenk van God wat Hy uitdeel aan wie Hy wil uit Sy groot genade.

Christen-vroue leef en soek hulle vryheid nie ten koste van ander mense nie, maar kan juis hulle rol en plek inneem omdat God hulle ook erfgename gemaak het: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Rom. 8:14-17.

Christen-vroue moet in hierdie tye weer duidelik vir ander mense wys juis wáárvan hulle verlos is.  Vroue word nie verlos van die Skepping nie, asof die sonde in vrouwees skuil nie. Inteendeel, vroue word verlos juis van dit wat hulle verhinder om waarlik hulle vryheid in vrouwees te ervaar. Daarom moet Christene steeds enige vorm van sondige vroueverdrukking afwys. Vroueverdrukking is enigiets wat haar probeer druk uit die rol en plek wat God vir haar aanwys.

  • Vroueverdrukking

Die praat en die doen oor vroueverdrukking verskil hemelsbreed. Almal sê graag die een of ander gevleuelde woord oor die aakligheid van onderdrukking van vroue. Ten spyte daarvan is dit ’n euwel wat steeds deur Christene uitgewys en afgewys moet word. Christen-vroue weet dat hulle deel uitmaak van God se Skepping en dat God bedoel het dat vrouwees ook moet deel vorm van hierdie beeld van God wat op aarde na vore kom.

Dit sê die Here self met die skepping van die mens: “God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.” (Gen. 1:27). Die manwees van Adam en die vrouwees van Mannin (Eva se eerste naam) is albei nodig om die ware beeld van God in die mensdom na vore te laat kom.

  • Sonde speel mense teen mekaar af

Die sondeval as opstand teen God se orde en reëlings raak hierdie aspek radikaal aan. Skielik begin die man en vrou met mekaar meeding en in teenstand en opstand teen mekaar lewe. In plaas daarvan dat manwees en vrouwees saam moet meewerk aan die bevestiging en uitdra van God se beeld op aarde, begin die teëbeeld nou na vore kom.

Die man wil sy vrou ondertoe druk en verslaaf hou. Die vrou wil haar man wegdruk en oorheers en manipuleer. Hier kom nou twee aaklige beelde na vore wat nie soos die beeld van God lyk nie, maar juis wys wat God nié wil hê nie en wie Hy nié is nie.

Simboliek in die Skepping

Alles wat God op die aarde gemaak het, dra ook ‘n diep simboliese of geestelike betekenis. So is daar in beide die manwees en die vrouwees se geskapenheid ‘n ryk simboliek. Hierdie simboliek is profeties. Dit beteken dat die Skepping ook uitbeeld wat God daarmee wil sê.

  • Simboliek van manwees

Die manwees dra in sy skepping twee diep simboliese betekenisse. Ten eerste is die man geskep om God as die Vader en Skepper se beeld te vertoon: “Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.” 1 Tim. 2:13. Die eersteling-aspek is hier baie belangrik, dit dui die eerste van ‘n reeks aan, maar ook die hoof-som van ‘n saak. Ten tweede word Adam ook simbolies gestel in die Vader-kind-verhouding, dat die mensdom van die begin af op hierdie manier aan God gebind is. So staan dit in die geslagsregister van Christus: “… die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.” Luk. 3:38.

  • Simboliek van vrouwees

Die vrouwees dra in haar skepping ook wonderlike betekenis.

Ten eerste dat die vrouwees voltooiing in die Skepping as beeld dra. Sy beantwoord in haar vrouwees aan die profetiese uitspraak van God die Vader aan sy seun, Adam, dat Hy vir hom ‘n hulp sal skep wat by hom pas. Hierdie hulp is nie ‘n huishulp as bediende nie, maar as vervulling van God se liefdesuitspraak dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie. Die vrou-wees vervul en voltooi die liefdevolle omgee en teenwoordigheid van God in Adam se lewe. Sonder die vrou (en dus haar unieke vrouwees) sou Adam nooit kon ervaar wat God se Vaderlike nabyheid en liefde in sy volle omvang beteken nie.

Die vrouwees as simboliek van voltooiing is juis nodig sodat Adam meer volkome kan verstaan en ervaar wie God as sy Vader en Skepper is: die feit dat God haar bou uit Adam se rib en vir hom bring, juis as uitvoering van God se uitspraak dat dit nie goed is dat sy seun alleen is nie. “En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.” Gen. 2:22-23.

Die tweede simboliek van vrouwees is dat sy vashou aan God se belofte. Dit lê opgesluit in die feit dat Mannin ook Eva genoem word as sy haar tweede naam by Adam kry.  Daardeur word sy profeties genoem die moeder van al wat lewe. Sy kry die naam juis omdat Mannin na die sondeval vashou aan die belofte dat God iemand sal stuur wat die satan, die slang, se kop sal vermorsel. Daarin hou Mannin vas aan die belofte van verlosssing wat God belowe.

Deur die feit dat sy deur Adam swanger raak met hulle eerste kind, is juis haar geloofsverwagting dat die beloofde Verlosser gebore sal word in die toekoms. Sy word dus gered deurdat sy wys dat sy glo in God se belofte van ‘n Verlosser wat gebore sal word.

Sy wys daardie geloof deurdat sy nie geskei en weg van Adam af bly nie, maar dat sy in versoening met haar man in geloof verwagtend raak. Dit is presies waarna Paulus verwys as hy sê: 1 Tim 2:14  “En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.” 1 Tim 2:15  Maar sy (dit is Mannin, wat Eva genoem word) sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid. 

Om op te som: beide die manwees en die vrouwees dra die simboliek met hulle saam. Die man wys in sy manwees na die Skepper en Vader, die vrou wys in haar vrouwees na die Skepping en die kinders van God wat God wil hê.  Die manwees wys ook na die beeld van God, dit is Christus.  Die vrouwees wys ook na die beeld van God, as Christus se vrou, die Kerk.

Sin van Skepping

Christene kan dus baie sin en diepte uit hulle lewe as manwees en vrouwees put. Daar is ’n Skepper-Skepping-band om na te verwys. Verder is daar ook ’n verlossingsband om uit te wys: Christus en sy bruid. Hierdie simboliese aspekte wat in manwees en vrouwees ingeskep is deur God en waartoe Hy sy kinders verlos in Christus is baie waardevol vir Christene vandag.

Iemand wat die Bybel probeer misbruik om te bewys dat vrouens onderdruk mag word, verstaan juis nie wie God is nie. God is Skepper en Verlosser. Vroue wat in Christus glo, is verlos van enige vorm van slawerny en onderdrukking. Sy is vry om haar rol uit te leef wat God aan haar gegee het, haar aandeel in sy beeldbou.

Verloste vroue of geloste vroue?

Vroue kan op verskeie maniere verslaaf word. Hulle kan fisies, emosioneel en anders onderdruk word. Maar vrouens kan ook met leuens benadeel word. Dit is veral vandag die geval met die sogenaamde “gender-debat”. Dit is waar aan vroue voorgehou word dat hulle iets kan wees wat God hulle nie bedoel het om te wees nie. Dit is veral die radikale feminisme wat hierdie leuen uitdra. Kortliks kom dit daarop neer dat die tweedeling van manwees en vrouwees, soos hierbo uiteengesit, nie erken word nie. Net die vrouwees word as die enigste en eintlike, outentieke menswees voorgehou.

Die feminisme staan dan ’n vryheidsbegrip voor wat nie net op die verknegting van die man uitloop nie. Maar in die geval van die radikale feminisme op die totale vernietiging en verdwyning van manwees. Die radikale feminisme staan dus in wese ‘n “los-vrou”-gedagte voor. Vrouwees los van God as Skepper, en los van enige ander (V)er-losser behalwe sy self. Selfs die aarde word dan nie meer as Skepping gesien nie, maar as “moeder (aarde)”, of dan ook bekend onder die afgodsnaam “Gaia”. 

Die Bybelse simboliek oor manwees en vrouwees is dus nie net vervang nie maar heeltemal verwoes. Die vrou self is skepper en self verlosser en self bepaler van wat waar en werklik is.

Handhaaf vryheid

Christen-vroue moet in die huidige samelewing juis teen hierdie twee ekstreme standpunte hulleself handhaaf. Enige verdrukking of onderdrukking van die vrou in die naam van godsdiens of tradisie moet skerp en konsekwent afgewys word. Enige valse vryheid vir die vrou wat haar skeppingsdoel en simboliek bedreig en verberg, moet ook afgewys word.

Wat beteken dit prakties, in die huidige omstandighede, vir die Afrikaanse vrou?

Vroue kan hulle verlossing in Christus geniet en in daardie vryheid volledig hulle vrouwees aanvaar en ervaar. Hulle hoef nie permanent in kompetisie en ’n konflikstryd met manwees te lewe nie. Hulle kan reguit sê dat hulle gelyk is in hulle redding voor God en uniek is in hulle roeping vanaf God. Hulle het ’n unieke aandeel deur Christus en die inwoning van die Heilige Gees in die verskyning en uitstalling van die beeld van God. Hulle is mede-verlostes en mede-erfgename in die koninkryk van God. Hulle kan hulle rolle volledig beset en belewe as unieke gawe van die Here.

Daarom is dit juis in hierdie tyd so noodsaaklik dat vroue wat hulle verlossing in Christus ken en bely. Juis ook vir mans wys dat húlle ook hulle manwees-roeping moet nakom. Dit gebeur te veel deesdae dat vroue, naas hulle eie unieke rolle, ook nog baie aspekte van die man se werk en manwees moet vertolk. Dit lei tot ’n skeefgetrekte samelewing en dit gee aanleiding tot ’n diep frustrasie en ongelukkigheid by baie Christen-vroue.

Vroue is in Christus juis bemagtig om “ja” te sê vir hulle roeping. Maar om duidelik ook “nee” te sê vir die verwagting dat hulle ook manwees se rol moet vertolk. Vroue wat in Christus glo, kan vorentoe tree om met geloofsverwagting hulle roeping te vervul. Vroue mag, en moet dalk doelbewus, op sekere terreine terugtree en ophou om die mans se werk vir hulle te doen. Hierdie balansherstelling is dringend noodsaaklik.

Nuwe debat

Dit is dalk tyd om juis hieroor debat te voer: hoe herstel die samelewing die vrou se rol, deurdat die man weer sy volle rol en roeping begin opneem? Die debat behoort ook nuwe sosiale reëls te verwoord wat blyke gee dat die bedoeling van God as Skepper en Verlosser en Heiligmaker juis vir manwees én vrouwees geld.

Vrouemaand sal verbygaan, maar die geleentheid om hierdie sake aan te spreek behoort nie ongesiens verby te gaan nie. Vrouwees in vryheid is ’n wonderlike geskenk van God. Vryheid in vrou-wees behels egter ook ’n groot verantwoordelikheid. Ware gelowiges, wat werklik wil luister en doen wat God sê, sal mekaar ook help sodat elkeen self en almal saam die manwees en vrouwees soos God dit bedoel, kan vier en geniet. Dit is ware vryheid!

Foto: Photo by Noah Silliman on Unsplash