Skep moed, kind van God

50  Dit is my vertroosting in my ellende, dat u belofte my lewend hou.

– Psalm 119:50

Ons snak na ons asem. Baie dinge maak ons tans benoud. Die Covid-19-pandemie en die kort- en langtermyngevolge het ’n neerdrukkende effek op ons. Hierdie neerdrukking kan versmorend wees. Ons kan met die derde golf so oorweldig word deur ’n warboel gedagtes en vrese dat ons bykans hoop verloor.

In Psalm 119 gee die Here ’n anker in sulke omstandighede. Hierdie anker is soos ’n baken wat duidelik uitstaan en raakgesien kan word. ʼn Mens kan dit vasgryp as jy voel jy wil ondergaan. Dít is my vertroosting binne in my ellende, sê die Psalm. Die vertroosting wat God gee, laat weer jou siel asemhaal.

Die Heilige Gees laat ons weer dit wat God se Woord sê, nuut oorweeg in ons huidige omstandighede. “U belofte hou my lewend.” God wil hier twee dinge as anker uitwys. Sy belofte is standhoudend. God se beloftes is vas en seker. God doen wat Hy sê en God kan doen wat Hy belowe. God se belofte, sy Woord, is blywend en lewend.

Dit word baie duidelik in die lewe en werk van ons Here Jesus Christus. Veral deur sy opstanding bewys God dit aan ons. Sy belofte hou ewig stand. Ons kan daarop reken. Die Heilige Gees bewerk ook so troos in ons lewe deurdat ons die belofte van die Here nuut oorweeg. Deur die geloof hou God ons self ook lewend. Ons kry deel aan wat Hy belowe.

Ons kry deel aan sy Woord wat lewend is en lewe gee. Is jy mismoedig en op die punt om heeltemal moed op te gee? Voel jy hopeloos en oorrompel? Kyk, die Here wys vandag vir jou die anker, naamlik Jesus Christus. Sy belofte aan ons.

Sy belofte is wat Hy vir ons sê Hy kan en gaan doen. Reken op God se beloftes. Dit sal jou hoop lewend hou. Die Heilige Gees skep moed in jou lewe deurdat jy God se Woord van belofte te glo.

Deur dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond

Luister na die bemoedigende boodskap en gebed deur dr. Wikus Buys

Lees meer oor die Maandtema: Skep moed – Die Here is in ons midde – Begrond Instituut

Foto: Photo by Stainless Images on Unsplash